Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Die Griekse word sarks word in baie betekenisse gebruik:
Liggaam – die fisiese liggaam (vgl. 1 Tim 3:16 NAV vertaal dit met ‘mens’)
Mense – as fisiese wesens (vgl. Joh 1:14)
Menslik – die menslike natuur, met klem op die fisiese aspekte (vgl. Hebr.12:9 NAV aardse)
Menslike natuur – tipiese menslike redenering en begeertes (vgl. Gal.5:19 NASV sondige natuur)
Fisiese natuur van mense (vgl. Gal 4:23 NAV volgens die loop van die natuur)
Lewe – fisiese lewe (vgl. Hebr 5:7 NAV aardse lewe)
In Efesiërs 5 gebruik Paulus die Griekse word sarks, wat in die Ou Afrikaanse Vertaling met ‘vlees’ vertaal is – die Hollandse woord vir die Afrikaanse vleis, omdat die mense nie ‘vleis’ wou sê nie, wat te plat klink.
Ef 5:29 brei uit op die manier waarop ‘n mens jou eie liggaam voed en versorg, wat dan beteken dat dit ook die manier is waarop jy jou vrou of man in liefde behoort te voed en te versorg – soos Christus dit met sy kerk doen, wat sy liggaam is (die beeld wat nog verder uitbrei op 1 Kor 10:17 en 1 Kor 12:12-30 se beeld van die kerk as die liggaam van Christus waarin die lede vir mekaar versorg. In Ef 2:22,23 word Jesus voorgestel as die hoof van die liggaam waaroor Hy met liefde regeer).
Jou vraag verder: ‘Dan sê Paulus ons is lede van Sy liggaam, en vlees van Sy bene’
– die aanhaling uit Genesis 2:23 kom nie in die oudste manuskripte van Efesiërs sedert 200 n.C. voor nie (daarom het die NAV dit uitgelaat), en is eers in die sesde eeu n.C. in die teks ingevoeg (en is in die OAV nog behou). In Gen. 2:23 verwys Adam na die skepping van die vrou uit een van sy ribbebene om die intieme eenheid tussen hom en sy vrou aan te dui.
‘Dan volg hy met: Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees.’
–Hier haal Paulus aan uit die skrywer van Genesis se kommentaar in Gen 2:24, om die
‘Hoe bring Paulus die twee goeters bymekaar, asb?’
–In Ef.5:32 bring hy dit juis bymekaar met: ‘Hierin (met die twee metafore van die
eenheid die liggame van man en vrou, en die eenheid van al die lede van die geestelike liggaam van Christus) lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die gemeente. Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy eie vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man onderdanig wees.’ So is die intieme liefdesband tussen man en vrou ‘n getuienis voor die wêreld van die intieme verhouding tussen Christus en sy gemeente – Hy wat sy lewe vir ons afgelê het om ons in volle heerlikheid by Hom te kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Ef 5:27).
Skrywer: Prof Francois Malan
Efesiërs (4) – Francois Malan
2.6 Geestelike oorlog teen die magte van die bose (6:10-20)
Hierdie gedeelte som die temas van die brief op in ‘n vergelyking met die wapenrusting van die Here en sy Gesalfde, wat optrek om sy volk uit die ballingskap in Babilonië te verlos, soos beskrywe in Jesaja 11:4-5; 59:17 en ook 49:2; 52:7 en met die Romeinse soldaat se toerusting in gedagte.
2.6.1 Word sterk in en deur die Here (6:10-13; 3:16)
Dit is die Here Jesus wat ons versterk (in Christus Jesus 2:6; Christus in ons; in liefde 4:17; in die Here 5:8; 6:1), volgens die werking van sy liefde, sy magtige sterkte in ons (1:19-23; 3:17-19).
Die gelowiges verkry die krag van God deur God se volle wapenrusting aan te trek (die nuwe mens in 4:24). Soos ‘n voetsoldaat ten volle toegerus moet wees vir ‘n veldslag, moet die gelowige ten volle afhanklik wees van God se sterkte, God se eie wapenrusting, wat Hy aan ons verskaf, naamlik Homself (om soos Hy te wees, 4:24; 5:1; Jesaja-tekse).
Die rede waarom gelowiges in die krag van die Here moet lewe, is dat hulle staande kan bly (4:14-16), weerstand kan bied teen die duiwel se listige aanslae (4:22,27-31). Ons is in ‘n man-tot-man-stryd gewikkel met die duiwel en sy trawante, wat die wêreld en ons self probeer inneem en teen God mobiliseer (maar vir wie Christus oorwin het, 1:20-22).
As die gelowiges ten volle voorbereid en bewapen is met die wapenrusting waarmee die Here hulle beklee het, sal hulle ook op dae van spesiale aanvalle weerstand kan bied en staande kan bly.
2.6.2 Staan vas! met God se volle wapenrusting beklee (6:14-17)
Die opdrag om vas te staan word gegee saam met ‘n verwysing na die gawes wat God voorsien om in die stryd teen die vyand vas te staan:
- gereedheid om die waarheid van die evangelie uit te leef (1:13; 4:15,21,25; 5:9; Jes.11:5), en die duiwel geen vatkans te gee nie (4:27) word vergelyk met die leervoorskoot wat die Romeinse soldaat aantrek om sy bobene te beskerm,
- God se geregtigheid, om soos Hy, en volgens sy wil, reg op te tree teenoor ander (4:24; 5:1,9; Jes.59:17; 11:5) word vergelyk met ‘n soldaat se brons borsplaat wat sy hart beskerm teen pyle en die vyand se swaard,
- geskoei met bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig en uit te leef (2:14-18; Jes.52:7; 40:9-11),
- geloof in die Here en sy beskerming (1:13,15,19; 3:12,17; 4:5,13; geloof as gawe van God 2:8 en 6:23; Spr.30:5) as die skild teen die brandende pyle van die bose se misleiding, versoekings en vervolgings (5:6) word vergelyk met die groot skild wat die soldaat se hele liggaam beskerm teen swaarde en brandende pyle,
- God se verlossing (2:5-8; Jes.59:17), waarmee Hy die gelowiges uit die mag van sonde en dood verlos het, en in die ryk van Christus oorgeplaas het, as die helm wat die gelowiges moet opsit om hulle denke te beskerm teen dwaling en sondige begeertes (4:22; 5:6), word vergelyk met die soldaat se brons helm wat van sy kop tot sy wange beskerm,
- die woord van God (evangelie) is die swaard waarmee die Gees die gelowige toerus om die bose aan te val deur getuienis en verkondiging van God se verlossing en oordeel (Jes.11:4), wat vergelyk word met die kort swaard van die soldaat vir man-tot-man-geveg.
2.6.3 Waak en bid (6:18-20)
Voortdurende afhanklikheid van God in gebed is noodsaaklik om vas te staan in die stryd teen die magte van die duisternis wat nie in dié bedeling eindig nie. Bid daarom altyd tot God, gelei deur die Gees (2:18; 5:18), met elke soort gebed en smeking, waak met alle volharding om nie te verslap nie, tree in vir alle mede-gelowiges (1:15; 2:14-18) en vir Paulus (3:7-9), die evangelie se gesant in boeie, om dit vrymoedig te verkondig, selfs voor die keiser tot wie hy geappelleer het (Hand.9:15; 25:12).
Slot en seën (6:21-24)
Paulus beveel sy medewerker Tigikus by hulle aan. Hy bring waarskynlik die brief na hulle toe (soos ook die brief aan die Kolossense, Kol.4:7-8).
Hy sluit die brief met ‘n gebed dat die vrede (2:14-18) en liefde met geloof (3:17-19) van die Vader en van Christus deur hulle na ander toe sal vloei, en dat God se genade (1:6,7; 2:5,7,8; 4:7) en onsterflikheid (1 Kor.15:42), die seëninge van die nuwe bedeling, met almal sal wees wat ons Here Jesus Christus liefhet, deur aan Hom toegewy te wees in ‘n persoonlike verhouding.
Skrywer: Prof Francois Malan
Efesiërs (3) – Francois Malan
2. Die nuwe mensheid in die aardse lewe (4:1-6:20)
2.1 Eenheid, verskeidenheid, volwassenheid in die liggaam van Christus (4:1-16)
Gelowiges moet die vrede tussen Jode en nie-Jode handhaaf. Christus het dié vrede aan die kruis verwerf. God se Gees werk aan ons om die eenheid onder gelowiges te skep, sodat hulle mekaar se swakhede en mislukkings in liefde sal dra, in nederigheid, bedagsaamheid en geduld met ander. God het ons geroep om as één nuwe mensheid in gemeenskap met Christus te lewe, gegrondves op die eenheid van één God, één Here en één Gees (4:1-6).
Christus wat uit die hemel neergedaal het om mens te word, het opgevaar bo al die hemele om die heelal te vul met sy liefdesheerskappy. Hy gee verskillende genadegawes aan elke gelowige vir sy/haar bepaalde diens om die gemeente in die liefde op te bou. Hy gee verskillende dienaars om elke lid toe te rus vir sy/haar voortgaande werk. Sy kerk groei deurdat elke lid sy deel doen aan die opbou van die eenheid van die geloof in Christus, aan kennis van die Seun van God, en aan stabiele volwassenheid, wat gemeet word aan Christus as ons maatstaf. Dit word gedoen deur die waarheid in liefde te verkondig, en in alle aspekte te groei in gemeenskap met Christus. Hy is ons hoof, die bron en einddoel van die kerk se ontwikkeling. Hy bereik sy doel met die kerk deur die liefde van elke lid vir ander lede en ander mense (4:7-16).
2.2 Lewe volgens die nuwe mensheid – nie volgens die oue nie (4:17-24)
Paulus doen ‘n beroep op sy lesers, op gesag van die Here. Hulle het Christus leer ken en is onderrig in die waarheid, wat deur Jesus beliggaam word. Hulle moet hulle ou self aflê, wat hulle met sy misleidende begeertes verlei het, die nuwe self aantrek, wat volgens God se regverdigheid en heiligheid gemaak is, en God steeds toelaat om die manier, motivering en rigting van hulle denke te vernuwe.
2.3 Praktiese uitlewing van eenheid in liefde om God te behaag (4:25-5:2).
Lê al die euwels af wat die eenheid van God se volk versteur: lieg, steel, kwaadword, elke vorm van kwaad; trek die deugde aan wat die lewe van die gemeenskap bevorder: praat die waarheid, werk hard, wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, vergewe mekaar, praat opbouend, doen alles uit Christus se liefde, deur die Gees wat die liefde van God in ons werk.
2.4 Uit die duister van ongeloof tot kinders van die lig (5:3-14)
Die selfsugtige hebsug, van seksuele onsedelikheid en inhaligheid, lei tot die toorn van God en uitsluiting uit sy koninkryk. Blye danksegging aan God, deur elke optrede van kinders van die lig, erken sy vrygewigheid, ontmasker die vrugtelose dade van die duisternis en verander ongelowiges tot kinders van die lig.
2.5 Om sorgvuldig in die gemeenskap en die Christelike gesin te lewe (5:15-6:9)
Om God in dié gevalle wêreld te behaag, moet gelowiges nie dwaas wees nie, maar steeds wyslik bereken wat die wil van Christus ons Here behels, en dit doen:
- nie dronk word van wyn en benewel deur losbandigheid nie, maar steeds ontvanklik wees om deur die Gees vervul te word,
- meer soos Christus te word, wat mekaar met blydskap leer om Christus te loof, en God die Vader voortdurend vir alles te dank,
- en jou aan Christus te onderwerp, deur jou aan jou aangewese leier te onderwerp:
- ovroue gewilliglik aan hulle liefhebbende mans,
- okinders aan hulle ouers vir ‘n vol lewe,
- oslawe/diensknegte ywerig en heelhartig aan hulle meesters soos aan die Here wat hulle sal beloon, omdat ons in die teenwoordigheid van Christus ons hoof, verlosser en regter leef.
- omans word vermaan om hulle vroue lief te hê en te versorg, geheel aan hulle volle welsyn toegewy, soos Christus homself vir ons oorgegee het en vir ons sorg. Die liefdeseenheid van man en vrou openbaar Christus se liefde vir sy kerk in die wêreld.
- ovaders moet vriendelike en geduldige opvoeders wees, wat hulle kinders lojaliteit teenoor Christus as Here leer.
- omeesters word herinner dat hulle aan Christus verantwoordelik is vir hulle behandeling van hulle slawe/diensknegte.
Skrywer: Prof Francois Malan
|