Die Jode se formasie tydens die uittog uit Egipte

Die Jode se formasie tydens die uittog uit Egipte – Marius Nel

Christo vra:

Daar word beweer dat die Jode se uittog uit Egipte in ‘n kruis formasie was. Is dit so of nie?

Antwoord:

Prof. Marius Nel antwoord:

Geen dokumentêre bewyse bestaan oor hoe die eksodus-groep se formasie gelyk het nie. Die enigste geskrewe beskrywing kom in die Bybel voor, in Eksodus 12:34-40; 13:18, 20-22 en geen beskrywing van die formasie waarin die volk getrek het, kom hierin voor nie. Nadat die volk by Sinai was, vertel Numeri 10:12-28 wel in watter volgorde hulle getref het en waar die tent van samekoms in die prosessie gedra is.

 

 Skrywer: Prof Marius Nel

 




Tref God onderskeid?

Tref God onderskeid? – Marius Nel

Rita Strauss vra:

Wanneer God in Eksodus 11:7 sê dat hy onderskeid tref tussen Egiptenaar en Israeliet, moet ons dit ook verstaan dat HY onderskeid tref tussen gelowig en ongelowig? Ek meen kan ek die afleiding maak dat ons as gelowiges ook in die alledaagse anders deur God behandel word as die ongelowiges? God het tog die Israeliete die rampe gespaar, kan ek daarom ook myself God se beskerming toeëien op grond van my kindskap? Ek weet tog ook dat ons nie lyding sal vryspring nie, dit maak Jesus tog ook duidelik in Sy gesprekke met die dissipels. Hoe moet mens hierdie woorde wat as God se eie woorde weergegee word, verstaan??

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het ‘n geldige vraag. Ek meen die onderskeid tussen Israeliet en Egiptenaar het in die eerste plek te make met die onderskeid tussen God se volk en die volk wat God se volk onderdruk. En daarom kan die belofte nie net so van toepassing gemaak word op moderne gelowiges se situasie nie. Feit is: nie almal in Israel was getrou aan die Here nie, soos die woestynverhale duidelik demonstreer.

Die nuwe Israel het ook beloftes ontvang, maar dit is op ‘n ander lees geskoei, op grond van ons geloof in Jesus Christus.

Dankie vir die vraag.

 

Outeur: Dr Marius Nel