Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]

Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]

Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee.  Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)!  Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.

Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee.  Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)!  Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.

Met liefde vir God en die medemens: Paulus beskou die manier waarop die Korintiërs gawes gaan gee, al dan nie, as ‘n toetssteen van hulle liefde (8:8), vir sowel God as vir hulle medemens.  Hoewel Paulus hierdie argument gebruik om die Korintiërs tot aksie aan te spoor, gaan dit hier oor meer as net aanmoediging.  ‘n Fundamentele teologiese uitgangspunt is ter sprake.  Liefde vir God word immers vergestalt, nie alleen in diens aan God nie (en Paulus beskryf die fondsinsameling wel as sodanig: leitourgia), maar ook in liefde vir die medemens wat bewys word (9:13) in praktiese dienslewering (diakonia) ten bate van die medemens.  In Paulus se hele teologiese beredenering word die manier waarop die Korintiërs hulle gawes gaan gee (al dan nie) dus werklik ‘n toets van hul liefde.  Sou hulle met die regte gesindheid gawes (volgens hul vermoëns) gee, bewys dit dat hulle God en hulle medegelowiges wel liefhet en wil dien.  Sou hulle vanweë verkeerde gesindhede nie wil gee nie, bewys dit presies die teenoorgestelde.

Met toewyding aan God (bo toewyding aan die saak):  Paulus merk op dat die Masedoniërs sy verwagtinge oortref het deur eers hulleself aan God te gee, en daarna ook aan homself; en dat dit inderdaad is hoe God wil hê dit moet wees (8:5).  Hiermee bedoel Paulus dat dit reg is dat hulle eerstens toegewyd aan God is, en dat hulle gehoorsaamheid en toewyding aan hom as hulle apostel, spesifiek ten opsigte van die saak van die fondsinsameling, daaruit voortvloei.  Sy hele teologiese uiteensetting van die saak van die gee van bydraes, sodat God eintlik as die oorsprong, verloop en doel daarvan beskryf word (vgl. 2 Kor. 9:6-15), maak dit ook duidelik dat die hele saak allereers oor God gaan.  Eers dan gaan dit ook oor die ander redes waarom hulle bydraes moet gee, soos byvoorbeeld dat die gelowiges in Judea se nood daardeur verrig sal word.  Paulus wil die gelowiges se oë en harte allereers op God rig, om te besef dat Hy ook ten opsigte van ‘n saak soos die geldelike bydraes van gelowiges, die oorsprong en doel daarvan is, en dat Hy ‘n groot invloed het op die manier waarop dit behoort te geskied.  Sy genade onderspan alles.  Gevolglik moet gelowiges se toewyding die regte prioriteitsorde vertoon: eerstens ‘n toewyding aan God Self, die oorsprong, doel en Here oor die verloop van die saak; en daarna ‘n toewyding aan die saak (waarvoor die bydraes gegee word).  As bydraes dus op so ‘n wyse gegee word dat dit eintlik vir God gedoen word (uit toewyding aan Hom), dan sal die motiewe en gesindhede van die gewer dienooreenkomstig gerig wees op die diens aan en verheerliking van God, bo alle ander moontlike uitkomste.

Volgens ‘n voorneme in die hart: Elkeen moet persoonlik en met erns by homself nadink, en dan ‘n bepaalde voorneme maak oor wat hy bereid is om (met vrymoedigheid, vreugde en vryheid) te gee (9:7).  Dit moet elkeen doen sodat hy kan gee sonder ‘n teësinnigheid wat met spyt gepaardgaan, of vanweë ‘n verpligting.  Paulus skryf nie voor hoeveel elkeen behoort te gee nie, maar bevorder wel die beginsel dat die hoeveelheid (hetsy te min of te veel) nie daartoe moet lei dat die gewer ‘n verkeerde gesindheid jeens sy gawe ontwikkel nie. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [1]

Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [1]

Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee.  Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)!  Vier van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, en nog drie word in ‘n tweede artikel genoem. 

Met watter gesindheid moes die Korintiërs bydraes gee vir die fonds vir die arm gelowiges in Judea?  (Wat kan ons as moderne gelowiges daaruit leer rakende ons eie gesindhede jeens bydraes?)

Met blydskap:  Die Masedoniërs het ten spyte van hul armoede oorvloedige blydskap gehad (8:2), tot so ‘n mate dat dit oorgeloop het in ‘n ryke uitdrukking van vrygewigheid teenoor die armes in Judea.  Die rykdom van hul bydrae is egter nie gesetel in die grootte van die bedrag wat hulle bygedra het nie, maar in die innerlike rykdom van die een wat ‘n gesindheid van vrygewigheid openbaar.  Die Masedoniërs het nie gegee omdat hulle daartoe verplig gevoel het of omdat dit van hulle afgepers was nie (vgl. 9:7, 5), maar omdat dit werklik vir hulle ‘n vreugde was om te gee, al was hulle self arm.  God het sulke blymoedige gewers lief (9:7).  Daar is by Hom ‘n besondere toegeneentheid tot die een wat gee sonder spyt en sonder dat hy verplig word, maar eerder omdat dit hom vreugde verskaf om dit te doen. 

Vrywillig:  Paulus sou verkies dat daar uit eie beweging en vrywillig bygedra moet word tot ‘n saak.  Dit was die gesindheid wat die Masedoniërs geopenbaar het (8:4).  Hy het nie eers nodig gehad om hulle te vra om aan die fondsinsameling deel te neem nie. Hulle het self by hom daarop aangedring.  Paulus noem dit spesifiek om die Korintiërs te beskaam oor hulle eie traagheid (om hulle sodoende tot aksie te motiveer).  Die ideaal bly egter dat daar vrywillig bygedra moet word, en nie onder dwang nie. 

Die vrywilligheid van die gewer (gesindheid van “goeie wil”, 8:12) is vir Paulus so belangrik dat dit, tesame met ‘n gawe volgens vermoë, genoem word as een van die voorwaardes word waarop God die gawe aanneem – ‘n aanduiding daarvan dat die gesindheid van die gewer belangriker is as die (grootte van) die gawe wat hy gee.

Om hierdie rede weerhou Paulus hom ook daarvan om vanuit sy gesag as apostel die gemeente te beveel om die fondsinsameling af te handel, en hoe hulle dit moet doen (8:8), maar bied hy sy aansporings eerder aan in die vorm van raad wat hulle belange op die hart dra (8:10).  ‘n Bevel dwing immers gehoorsaamheid af, ten spyte van die gesindheid van die gehoorsame, wat heel moontlik een van teensin of gedwongenheid (9:7) kan wees.  Paulus verkies dat die Korintiërs se gesindheid reg moet wees en dat hulle sal bydra, nie omdat hulle so beveel is nie, maar omdat hulle wil.

Na aanleiding van vermoë:  Soos hierbo genoem, is een van die voorwaardes op grond waarvan God ‘n gawe aanneemlik vind (al dan nie), of die gawe gegee is na aanleiding van die vermoë van die gewer, tesame met die gesindheid waarin dit gegee is (8:11-12).  Indien iemand gee volgens wat hy het (en met goeie wil), neem God die gawe aan.  Die implikasie hiervan is dus, aan die een kant, dat God nie van iemand verwag om meer te gee as wat hy kan bekostig nie, of om homself te laat gebrek ly sodat hy ander kan help nie (8:13).  Hy verwag dus nie van gelowiges om bo vermoë by te dra nie (hoewel Hy dit nie verbied nie), slegs dat daar volgens vermoë bygedra sal word.  Aan die ander kant impliseer dit ook dat daar ‘n verband behoort te wees tussen die (ruimheid van) die bydrae en die vermoë van die gewer, sodat daar met reg ‘n skaduwee gewerp word oor gawes benede die vermoë van die gewer.  Dit sou immers die vergestalting van ‘n verkeerde gesindheid, naamlik suinigheid, hebsug, ongeloof of iets dergeliks wees.  Daarom sou dit onvanpas en onaanvaarbaar vir God wees as ‘n vermoënde persoon ‘n niksseggende bydrae maak vanuit sy oorvloed.  Die Masedoniërs word juis vir die teenoorgestelde aangeprys.  Hulle het ruim bygedra ten spyte van hul eie armoede (8:1-5).  In dieselfde asem sou dit dus ook onvanpas wees vir ‘n onvermoënde persoon om ‘n bydrae te maak wat, selfs vir sy beperkte vermoë, vir hom niksseggend sou wees.  Paulus se beginsel is dus dat daar ‘n verband behoort te wees tussen die gawe en die vermoë van die gewer, hoewel hy nêrens ‘n poging aanwend om hierdie verband te kwantifiseer (soos byvoorbeeld in terme van ‘n “tiende”) nie.

Met die gesindheid van Christus, naamlik van selfverloëning en selfopoffering ten bate van ander:  Die selfverloënende en selfopofferende optrede van Christus, wat homself tot mensheid verneder het en laat oorlewer het om gekruisig te word ten bate van die gelowiges, is die belangrikste voorbeeld vir gelowiges om na te streef en na te leef (8:9).  Aangesien Hy Homself op hierdie wyse “verarm” het sodat die gelowiges daardeur “verryk” kon word, behoort gelowiges dieselfde gesindheid te openbaar en ook opofferings te maak ten bate van andere. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Bestuurders daarvan moet omsigtig optree

Paulus oor gelowiges se bydraes – Bestuurders daarvan moet omsigtig optree

Dikwels wanneer gelowiges bydraes vir bepaalde sake gee, is daar ‘n bemiddelaar of bestuurder van die fondse nodig om dit uiteindelik te besorg aan die doel waarvoor dit gegee is.  So het die Korintiërs ook bydraes gegee vir die verligting van die arm gelowiges in Judea se nood, en Paulus het opgetree as ‘n tussentydse bemiddelaar en bestuurder van hierdie fonds.  Uit 2 Korintiërs 8-9 is dit duidelik dat Paulus onder sulke omstandighede ‘n beginsel van groot omsigtigheid voorgestaan het.

Dikwels wanneer gelowiges bydraes vir bepaalde sake gee, is daar ‘n bemiddelaar of bestuurder van die fondse nodig om dit uiteindelik te besorg aan die doel waarvoor dit gegee is.  So het die Korintiërs ook bydraes gegee vir die verligting van die arm gelowiges in Judea se nood, en Paulus het opgetree as ‘n tussentydse bemiddelaar en bestuurder van hierdie fonds.  Uit 2 Korintiërs 8-9 is dit duidelik dat Paulus onder sulke omstandighede ‘n beginsel van groot omsigtigheid voorgestaan het.

Dit was vir Paulus van die grootste belang om die hele fondsinsamelingspoging met omsigtigheid en bo verdenking te bestuur.  Hy wil die saak so hanteer dat die moontlikheid van oneerlikheid of bedrog nooit eers ter sprake kan kom nie.  Gevolglik stuur hy ‘n afvaardiging na Korinte (8:16-24) om die gemeente te gaan bystaan met die insameling van  die fondse.  Die afvaardiging bestaan uit Titus en nog twee gelowiges, een wat meer bekend was synde ‘n afgevaardigde van die gemeentes self te wees (8:18-19), en een wat minder bekend was maar tog deur Paulus betroubaar geag is (8:22).  Deur hierdie afvaardiging, insluitende die gemeentes se eie verteenwoordiger van hulle keuse, saam met homself verantwoordelik te maak vir die hantering van die ingesamelde fondse, bewys Paulus sy versigtigheid en sy openheid rondom die saak, sodat hy beslis nie verdink kan word van verkeerde motiewe ten opsigte van die gemeentes se geld nie (8:20). 

Paulus se gewete is skoon voor die Here, hy weet hy tree reg op voor Hom.  Wat dit aanbetref is die afvaardiging dus eintlik onnodig.  Maar Paulus besef dat hy ook korrek moet optree in die oë van die mense (8:21), daarom tref hy die nodige maatreëls om te verseker dat die fonds in alle opsigte “korrek” hanteer word.

Binne die konteks waar Paulus die afvaardiging as omsigtigheidsmaatreël aankondig, maak hy ruim gebruik van teologiese beskrywings vir die insameling.  Dit bewys sy bewustheid van die teologiese aard van die insameling.  Die fonds was in Paulus se oë as’t ware “geheilig”: God s’n in alle opsigte.

Die oorsprong, doel en aard van die fondsinsameling was vir hom ten nouste verbonde aan God Self.  Dit geskied vanweë God se inisiatief, deur middel van gawes wat oorspronklik van Hom ontvang is, onder sy wakende oog, tot sy diens en eer (vgl. 9:6-15), ensovoorts.  Gevolglik moes dit korrek aangepak en uitgevoer word deur die menslike agente wat daarby betrokke was.  Die evangelie maak nie net ‘n appél op die verloop van die hantering van hierdie fonds nie, die hantering van hierdie fonds sou uiteindelik ook reflekteer op die evangelie en die eer van God, om nie eers te praat van  die refleksie wat dit op Paulus se persoonlike eer sou hê nie.  Gevolglik wou Paulus toesien dat daardie refleksie, ten opsigte van die eer van alle betrokke partye, positief sou wees, en hy het geweet dit noop hom (en sy medewerkers in hierdie saak) tot uiterste omsigtigheid en verantwoordelikheid.  As bemiddelaar en bestuurder van ‘n “geheiligde” fonds, het hy dus dienooreenkomstig opgetree. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs

Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs

Paulus skryf 2 Kor. 8-9 vanuit Masedonië aan die Korintiërs om hulle aan te spoor om die fondsinsameling, wat reeds vroeër in die gemeente begin is (1 Kor. 16:1-6; 2 Kor. 8:1, 6; 9:4), nou weer op dreef te kry en te voltooi, voor Paulus se aankoms in Korinte (2 Kor. 9:3-5). Om hulle hiertoe te motiveer, gebruik hy agt aansporings. Lees gerus hier wat sy eerste sewe aansporings was.

1.    Die voorbeeld van die Masedoniërs moet hulle daartoe aanmoedig (8:1-7).  Paulus doen ‘n beroep op hulle eer deur ‘n vriendelike wedywering tussen die gemeentes in Masedonië en Agaje in te stel.  Die Masedoniërs het ruim bygedra ten spyte van hul armoede.  Die Korintiërs is (in die algemeen) welaf, en het dus die vermoë om die Masedoniërs in hierdie opsig te oortref.  Die Masedoniërs se ywer en vrywilligheid om aan die projek deel te neem dien ook as voorbeeld vir die Korintiërs, wat traag geraak het ten opsigte van die projek.  Om hulle eer te beskerm, moet hulle liewer nou opskud en die insameling afhandel, en soveel te meer ywerig en vrygewig wees in die insameling, sodat hulle nie die loef afsteek by die Masedoniërs nie.

2.    Verwant aan die vorige punt, deur nog ‘n beroep op hulle eer, wys Paulus die Korintiërs ook daarop dat hy reeds met hulle ywer vir die saak, gespog het by die Masedoniërs (9:1-5).  Dit is (ten minste gedeeltelik) vanweë die Masedoniërs se indrukke van die Korintiërs se gereedheid om by te dra, dat hulleself daartoe aangespoor is.  Gevolglik mag die Korintiërs, van wie die gereedheid om by te dra alreeds ander daartoe gemotiveer het, nie nou agterweë bly nie!  Om hulle eer te beskerm, moet die Korintiërs sorg dat hulle die beeld wat Paulus van hulle oorgedra het, gestand doen.  Anders sal sowel hulle as hyself in die skande gesteek word.  Die afvaardiging wat hy na hulle toe stuur (9:3-5), sal help dat hulle so ‘n verleentheid kan vermy.

3.    Die fondsinsameling is ‘n toets van die Korintiërs se liefde (8:8).  Sou hulle die insameling suksesvol afhandel, met die regte gesindheid, sal dit hulle liefde (vir Christus en hulle medegelowiges) bevestig.  Paulus gee dus nie ‘n opdrag dat die Korintiërs die fondsinsameling moet afhandel nie.  Hy herinner hulle egter daaraan dat hulle keuse in die verband, boekdele gaan spreek oor die mate waarin hulle liefde uitleef.

4.    Paulus wys die Korintiërs ook daarop dat hulle Christus, van Wie hulle bely dat Hy “ons Here” is, se voorbeeld van selfopoffering moet náleef (8:9), deur guns aan ander te bewys.  ‘n Goeie geleentheid hiervoor is om ‘n bydrae te maak vir die arm gelowiges in Judea.  Om sodanige guns aan andere te bewys en hulle te “verryk”, behels om jouself in die proses te “verarm”.  Hierin is die voorbeeld van Christus dus die standaard waartoe hulle moet streef en  motivering om tot aksie oor te gaan.  Hy het immers deur sy menswording en gevolglike kruisiging (“verarming”), in belang van die gelowiges opgetree sodat hulle daardeur die ewige lewe en al die ander gawes van God ontvang (“verryking”).

5.    ‘n Voorneme wat onvervuld bly, is van geen waarde nie.  Gevolglik gee Paulus die raad aan die Korintiërs (8:10-11) om hul bereidwilligheid gestalte te laat kry deur tot aksie oor te gaan en die poging, waarmee hulle wel reeds begin het, nou af te handel.  Dit behoort hulle te doen sodat hulle “bereidwilligheid om gewillig te wees” voltooi kan word en nie net ‘n betekenislose voorneme bly nie.

Die Korintiërs se hulpverlening word in 9:13 ook beskryf as ‘n bewys  van diens.  Dit is iets meer as ‘n voorneme tot diens – hulle moet hulle diens aan hul medegelowiges (en aan God – 8:12) prakties illustreer deur tot die daad oor te gaan.

6.    Ewewig: die oorvloed van sommige is die voorsiening van God vir die gebrek van andere (8:13-15).  Tans bevind die Korintiërs hulle in ‘n situasie van oorvloed sodat hulle dié wat gebrek ly kan help.  Die voorsiening van God aan sy mense is (ten minste gedeeltelik) daarin geleë dat sowel die wat meer het as die wat minder het, almal genoeg het.  Dit natuurlik mits die gelowiges gewillig is om hulle besondere gawes (in die breë sin van die woord) met mekaar te deel.  Daarom behoort die Korintiërs, wat deur die genade van God tans (finansiële) oorvloed geniet, vanuit hul oorvloed by te dra tot die verligting van die Judese gelowiges se armoede.  Op wederkerige wyse kan die Judeërs dan weer vanuit hulle oorvloed (op watter terrein ookal) gawes met die Korintiërs deel waar hulle gebrek ly (vgl. Rom. 15:27).

7.    Net soos die Masedoniërs se ywer en vrywillige inisiatief die Korintiërs moet aanmoedig, so ook die ywer en inisiatief van Titus (8:16-17), wat nie net Paulus se versoek om met die insameling te help, verwelkom het nie, maar ook met groot ywer uit eie beweging na hulle wou gaan.  As die Korintiërs nou maar net op dié wyse sal meewerk aan die fondsinsameling…

Lees gerus die volgende artikel, wat Paulus se agste aansporing uiteensit.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter