God is nie met my nie

God is nie met my nie – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Hoe kan `n mens wat baie hardkoppig is en vas glo dat God nie met hom is nie, maak nie saak hoe hard hy bid nie, help? Dan moet ek by sê hy sê net daarna God gaan in elk geval nie my gebed verhoor nie. Hoe kan `n mens so persoon betrek? Hy gaan ook nie kerk toe nie omrede net skynheiliges gaan kerk toe gee.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n baie tipiese beskrywing wat ons baie kry. Dit is alles behalwe uniek. Iemand wat godsdienstig grootgeword het, nou nie meer veel belangstel nie, maar nog in ‘n huis bly waar godsdiens aktief beoefen word, reageer gewoonlik so.

Eers moet gesê word dat die probleem by die persoon self en sy geloof lê. Die argumente (en daar is meer as wat in die brief genoem word) is sekondêr. Dit word maar net gebruik om ‘n argument met redes op te bou. Al die ander (P)persone is skuldig, God wat nie hoor nie, Christene wat skynheilig is, ens, behalwe hyself. As ‘n mens dit besef, kan jy die probleem op die regte plek begin aanspreek. Dit help nie om so persoon te dwing of te probeer oortuig nie. Maar wat kan ‘n mens dan doen.

Daar is nie ‘n resep nie, want situasies verskil. Tog kan ‘n paar algemene opmerkings gemaak word.

  • Hanteer hom simpatiek sonder om te veroordeel of te beskuldig. Dit is die laaste ding wat nodig is, aangesien dit die persoon net meer op die verdediging plaas.
  • Liefde en positiewe getuienis (gedrag) is die beste salf vir so ‘n seerplek.
  • Moenie argumenteer nie (gee sy punte toe en sy jy begryp hy voel so en dat jy ook kan insien dat daar redes is waarom hy kan dink Christene is skynheilig. Dit sal die angel bietjie uit sy argumente neem), maar toon begrip.

Uiteindelik is dit net die Heilige Gees wat hom kan oortuig. Dit beteken dat jy maar dikwels op jou knieë die saak aan die Here moet opdra.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Waar lees ons van Jabes se gebed?

Waar lees ons van Jabes se gebed? – Kobus Kok

G Watkins vra:

Waar in die Bybel vind ons die Jabes gebed? By voorbaat dankie

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Waar lees ons van Jabes se gebed?

Jabes se gebed vind ons in 1 Kronieke 4:10 op ‘n heel vreemde plek – so tussen ‘n reeks geslagsregisters van die stam Juda. Indien mens dit in daardie konteks sien, val dit dadelik op dat dit sommer uit plek uit lyk en juis om hierdie rede is dit vir ons so mooi – dit staan gewis uit.

Die seuns van Juda was: Peres, Gesron, Karmi, Gur en Sobal. 2Sobal se seun Reaja was die vader van Jagat, en Jagat die vader van Agumai en Lahad. Hulle is die Soranergeslagte. 3Die seuns van Etam was Jisreël, Jisma en Jidbas. Die naam van hulle suster was Selelponi. 4Penuel was die vader van Gedor, en Eser die vader van Gusa. Hulle het voortgekom uit Gur, die oudste seun van Efrata, vader van Betlehem. 5Asgur, vader van Tekoa, het twee vrouens gehad, Gela en Naära. 6Naära het vir hom Agussam, Gefer, Temni en Agastari in die wêreld gebring. Hulle was die seuns van Naära. 7Gela se seuns was Seret, Sogar en Etnan. 8Kos was die voorvader van Anub en Sobeba en van die geslagte van Agargel seun van Harum. 9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.”10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde:

 

“Stort u seën oor my uit,

vergroot my grondgebied,

neem my onder u beskerming

en weerhou onheil van my

sodat geen smart my tref nie.”

God het laat gebeur wat hy gevra het.

11Kelub broer van Suga was die vader van Megir. Dié was die vader van Eston. 12Eston was die vader van Bet-Rafa, Paseag en Teginna vader van Ir-Nagas. Hulle is die mense van Reka.

13Die seuns van Kenas was Otniël en Seraja, en die seuns van Otniël was Gatat 14en Meonotai, wat die vader was van Ofra. Seraja was die vader van Joab, stigter van Vakmansdal; hulle was vakmanne. 15Die seuns van Kaleb seun van Jefunne was Iru, Ela en Naäm. Die seun van Ela was Kenas. 16Die seuns van Jehallelel was Sif, Sifa, Tireja en Asarel. 17Die seuns van Esra was Jeter, Mered, Efer…………

Vir my is dit so mooi dat Jabes se eie ma beskryf hoe sy hom met smart in die lewe gebring het en dan word sy naam vir altyd “smart” . Kan jy dit glo? Hoe moes die arme mens gevoel het? Maar dan sien ons hoe Jabes hom tot God wend en hy teen dit ingaan wat mense oor hom spreek, teen die etiket wat mense om sy lewe geplak het, teen die grense wat mense vir hom gestel het en die God van moontlikhede aanroep.

En dan doen God presies dit. Hy verander sy smart, Hy verbreek die staalkaste wat mense om Jabes geplaas het en Hy verhoor sy smeekgebed, verbreed sy grense en stort sy seën op Jabes uit en weerhou onheil van hom sodat dit wat mense elke keer oor hom gespreek het as hulle sy naam noem, smart, hom nie sal tref nie. En God het dit gedoen, Hy het Jabes se gebed verhoor…


Die naam Jabes herinner aan die Hebreeuse woord vir “met smart”.

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Jesus se modelgebed

Jesus se modelgebed – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Toe Jesus se dissipels Hom vra om hulle te leer bid, gee Hy vir hulle die Ons Vader as model.  Wat maak hierdie gebed so besonders dat Jesus juis dit as model voorhou?

2. Here, leer ons bid:

Binne die konteks van die dissipels se versoek gee die Ons Vader ‘n struktuur waarbinne ons met God in gesprek kan tree.  Dit bevat al die elemente wat nodig is vir sinvolle kommunikasie met God.  Helmut Thielicke het dit genoem die gebed wat die wêreld omspan.

2.1. Ons Vader wat in die hemel is

Die God tot wie ons bid, is meer as net ‘n veraf, onbereikbare, magtige god.  Hy is die enigste lewende God, die Almagtige.  Meer nog: Hy is ons Vader.  Ons mag Hom selfs Vader noem, omdat ons deur Christus kinders van God is.  Hierdie Vader is in die hemel.  Dit bevestig dat Hy die ewige Koning is wat op sy troon in die hemel regeer.  Deur dit te bid, erken ons sy Koningskap oor alles en almal.

2.2. Laat U Naam geheilig word

Ons kan God nie heilig maak nie.  Hy is heilig.  Totaal anders as enigiemand of enigiets in die skepping.  Ons lewe maak eintlik nie ‘n duit verskil in wie God is nie.  Ons bid dus nie hierdie woorde om God te laat beter voel of lyk nie.  Wat ons uiteindelik vra, is dat God ons sal help om die heiligheid van sy Naam te erken in ons aanbidding, en om dit so te leef dat die wêreld bewus sal wees van die heiligheid van God. Mag ons lewe erkenning gee aan die Heilige se onpeilbare heiligheid.

2.3. Laat U koninkryk kom

Jesus se eerste woorde was: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 4:17).  In Jesus het God se koninkryk sigbaar tussen mense beweeg.  Hy het God se koninkryk tasbaar naby aan mense gebring.  Tog is die volheid van die heerlikheid van God se koninkryk nog nie heeltemal sigbaar nie.  Ons moet bid dat God se koninkryk in sy volheid sal kom, dit is, ons bid vir die wederkoms van Jesus wanneer alles volmaak en wonderlik sal word.  Ons bid ook dat God ons intussen sal help om sy koninkryk sigbaar te maak tot dan.

2.4. Laat U wil geskied…

Waaroor gaan dit in gebed?  Ons gebede is baie keer net daarop ingestel om iets by God te kry.  Ons bid om te vra.  Dit is al kommunikasie met God wat ons ken.  Jesus het egter die voorbeeld vir ons gestel toe Hy gebid het in Getsemane: “Laat nogtans nie my wil geskied nie, maar U wil.” (vgl. Matteus 26:39, 42).  Dit is ook die essensie van hierdie sinnetjie.  Ons moet onsself onderwerp aan die wil van God vir ons lewens.  Ons moet hoor wat God wil hê, en minder bekommerd wees oor wat ons wil hê.  Dan sal ons dalk oper wees om ook God se wil raak te sien wat in en deur ons wil werk.

2.5. Gee ons vandag ons daaglikse brood

Die wonderlike is dat God ook in ons daaglikse, menslike behoeftes wil voorsien.  Jesus bevestig dit as Hy hierdie woorde insluit in sy gebeds-les aan sy dissipels.  Meer nog: met hierdie woorde erken ons dat ons selfs vir hierdie basiese behoeftes van God afhanklik is.  Jy mag miskien self hard gewerk het vir jou besittings.  Maar uiteindelik is God die Een wat aan jou die krag gegee het om te kan werk en te kan koop en te kan eet.

2.6. Vergeef ons ons oortredings…

Ons moet ons onvolmaaktheid voor God erken.  Meer: ons moet voor God bely dat ons onsself nie kan red uit ons onvolmaaktheid nie.  Ons enigste hoop is God.  Gelukkig het Hy dit vir ons gedoen deur Jesus se sterwe aan die kruis.  Nou kan ons met vrymoedigheid voor God se genadetroon kom staan (Hebreërs 4:16).  Ons mag bid om vergifnis omdat Jesus reeds die prys betaal het.  Belangrik is dat ons ook self sal vergewe.  Ons moet die vergifnis wat ons ontvang het, laat deursuur na die samelewing.  Ons kan eintlik nie anders nie as om te vergewe, omdat ons reeds so baie vergewe is.

2.7. Laat ons nie in versoeking kom nie…

Ons moet hier onthou dat ons nie bid dat God ons nie sal versoek nie.  Jakobus sê self dat God nie ‘n versoeker is nie (Jakobus 1:13).  Maarten Luther het gesê ons bid veral vir drie dinge met hierdie woorde:

  • Bewaring teen die gevaar van binne: ons soek baie keer die probleem vir sonde by ander mense, terwyl versoekings van binne onsself kom. Paulus het dit ook erken (Romeine 7:19-20).
  • Bewaring teen die gevaar van buite: Dit kan enigiets wees wat met my gebeur en my aandag van God wegvat.
  • Bewaring teen die gevaar van onder: ons moet bid dat God ons van die mag van die Bose sal bewaar. Dit is immers net deur sy krag dat ons die Bose kan oorwin.

Leesstof oor die Ons Vader:

  • Die gebed wat die wêreld omspan – Helmut Thielicke
  • Soos Jesus ons leer bid het – Coenie Burger (Lux Verbi)
  • Ons Vader weet – Johan Cilliers (Lux Verbi)

Outeur: Dr Fanie Rudolph




Jesus en gebed

Jesus en gebed – Fanie Rudolph

Inleiding:

Wat het Jesus te sê gehad oor gebed?  Watter praktiese riglyne kan ons vanuit die lewe van Jesus uit die Bybel kry oor gebed?  Hoe kan ons gebed sinvol, en Bybels, inrig?

Jesus oor gebed:

Jesus het vir sy dissipels ‘n modelgebed gegee (Matteus. 6:9-13).  Volgens Lukas het sy dissipels hiervoor gevra nadat hulle Jesus self gesien bid het (Lukas 11:1).  In hierdie pragtige gebed kry ons die geleentheid om God aan te roep en te loof (Matteus 6:9), onsself onder sy beheer te stel terwyl ons erken dat Hy oor alles gesag het (Matteus 6:10), ons kan ons daaglikse behoeftes voor sy voete kom neerlê (Matteus 6:11), ons kan ons berou en belydenis oor sonde aan Hom doen (Matteus 6:12) en bid dat Hy ons bewaar daarteen om weer terug te val, dit is, sy beskerming oor ons lewe (Matteus 6:13).  Verder het Jesus sy dissipels daarop gewys dat gebed nie ‘n spogsessie is nie (Matteus 6:5-8).  God word nie beïndruk deur ons taalgebruik nie, maar deur ons opregtheid.  Hy word ook nie beïndruk deur ons goeie gebedstaal of -houding of ons vrymoedigheid om voor ander mense te bid nie (Lukas 18:9-13).  Gebed is binnekamertyd (Matteus 6:6).  Dit is tyd tussen my en God, die detail waarvan niemand hoef te weet nie.  God weet, en Hy ken my gesindheid (Matteus 6:6b).  Dit is wat die verskil maak. 

Jesus het ook by ‘n hele paar geleenthede dit duidelik gemaak dat ons mag (en moet) bid sonder ophou (Matteus 7:7-12; Lukas 11:5-13; 18:8).  Ander gebedsriglyne wat Jesus gee, is:

  •          Ons moet bid vir ons vyande, in plaas van om hulle dood te wens (Matteus 5:44; Markus 11:25).  Soos Jesus vir sy vyande aan die kruis gebid het, moet ons bid vir ons vyande (Lukas 23:34).  So vertoon ons onsself anders as die wêreld. 
  •          Wanneer ons gelowig bid, sal die Vader ook ons gebed verhoor (Matteus 21:22; Markus 11:22-24).  Dit lyk dalk of minder gelowige (ongelowige) gebede nie verhoor sal word nie.  Tog weet ons die man aan die kruis se (twyfelende) gebed is met groot sekerheid deur Jesus beantwoord (Lukas 23:42-43).
  •          Ons gebede moet nie selfsugtig wees nie, maar gerig wees op die verheerliking van die Naam van God (Johannes 14:13-14).  Ons kan nie net ons gerief-lysie voor die voete van God lê en dan antwoorde verwag nie.  Gelowig bid gaan oor sake van die geloof en verlossing. 
  •          Dit is ook belangrik dat gelowiges die eindtyd biddend ingaan.  Dit is slegs deur die krag van God (waarvoor gebid moet word) dat gelowiges die swaar tye sal kan hanteer (Lukas 21:36).

Jesus en gebed:

Die evangelies beskryf talle geleenthede waar Jesus self besig is om te bid.  Ons lees meestal dat Jesus Homself afgesonder het in gebed (Matteus 14:23; Markus 1:35; 6:46; Lukas 5:16).  Hierdie geleenthede bevestig dat stil tye in die binnekamer vir Jesus baie belangrik was.  Dit is ook insiggewend dat hierdie stil tye telkens kom na ‘n baie besige dag, asof Jesus weet sy energie is getap en Hy het die Vader se krag nodig.  Jesus bevestig ook hiermee hoe belangrik dit vir Hom is om sy taak op aarde in noue kontak met sy Vader aan te pak.  Met die verheerliking op die berg het Jesus vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om alleen te gaan bid (Lukas 9:28vv). 

Jesus het egter ook in die openbaar gebid.  Trouens, in Matteus 11:25-26 praat Hy in gebed met sy Vader terwyl Hy eintlik besig is om sy dissipels te leer.  Hierdie openbare gebede van Jesus was vol lof vir God, vir Wie Hy is en vir wat Hy gedoen het.  Die bekendste “openbare gebed” van Jesus is wanneer Hy hardop vir sy dissipels bid in Johannes 17.  Met hierdie pragtige gebed (bekend as die hoëpriesterlike gebed) dra Jesus sy dissipels en hulle toekoms in die Hand van God oor.  Hy bid vir hulle werk, hulle behoeftes, die bekeerlinge wat sou volg, en dat elkeen in sy heerlikheid mag deel.  Hierdie gebed begin ook met ‘n lofprysing wat God se grootheid en almagtige beskikking besing (Johannes 17:1-5).

Aangrypend is Jesus se gebede aan die kruis.  Hy het self die voorbeeld gestel deur self sy vyande te vergeef (Lukas 23:34).  En dan was daar die pynlike gebed van Godverlatenheid wat Hy uitgeroep het (Matteus 27:46).  Daarmee het Hy die Godverlatenheid van menige gelowige deur die eeue verwoord.

Samevatting:

Ons sien dat gebed ‘n integrale deel van Jesus se lewe was.  Hy het hierdie kontak met sy Vader gekoester en gereeld opgesoek.  Hy het ook moeite gedoen om sy dissipels te leer waaroor gebed gaan.  Deur sy voorbeeld moet hulle (en ons) dieselfde passie vir gebed ontwikkel 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph