Lig in Genesis 1:3

Lig in Genesis 1:3 – Francois Malan

Theodor vra:

 ‘Lig’ in Gen 1:3 Hieroor is al baie besin en geskryf. Met die vele vertolkings is ek veral waaksaam teen monopolisering en verabsolutering. Hoe kan ons egter weet of ons afleidings geldig is? (Elke ketter het sy letter?) Ek probeer “die verhouding tussen God en mens” as kontekstuele raamwerk gebruik vir vertolking.

Help asseblief met dié voorbeeld. Lig in Gen 1:3 kan aanvullend ‘n verwysing/aankondiging wees oor God se openbaringe. Lig maak sigbaar _ letterlik en figuurlik. So gesien kan Gen 1:4 ook dui op onderskeid tussen ‘openbaringe’ en ‘nie-openbaringe’. God se openbaringe is waar en getrou sonder om allesomvattend te wees. Vir my dui dit ook op God se openbaringe as bron vir “die klein wit kol van my wete” (Opperman: Man met Flits) Suksesvolle verbandsoeking kan bydra tot meer aanvaarding van geldigheid. Joh 8:12 kry uit hierdie invalshoek die nuanse dat Jesus “die Goddelike mensgeworde openbaring is, van God se liefdevolle en genadige heilsplan vir die mens”. Help asseblief om rigting te gee aan my verdere verkenning en verbandsoeking.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Terwyl die skrywer van Genesis die voorgeskiedenis van die mensheid beskryf, het latere Bybelskrywers, bv. Johannes, die eerste elf hoofstukke van Genesis as oergeskiedenis gebruik, met eksemplariese betekenis. So word bv. Adam se sonde (Rom.5:14), Kain se broedermoord (1 Joh 3:12) en Noag se redding (Mat.24:37-39; Hebr.11:7) voorbeelde van God se handelinge met die mens. Vir Genesis is dit voorgeskiedenis wat die roeping van Abraham voorafgaan, vgl. Gen.6:4 se ‘voortyd’ (NAV ou tyd) in Hebreeus ‘olam, die onafsienbare tyd, ‘n ver perspektief op die rand van die ewigheid. Genesis wil egte geskiedenis gee, met kronologie en al, van die aartsvaders se ouderdomme.

So word ‘lig’ in Gen 1:3-5 nie as ‘n emanasie van God beskryf nie, maar as ‘n skepping van God. In Openbaring 21:22-24 word die nuwe Jerusalem wel as beeld van die hemel beskryf sonder ‘n tempel, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam (van Openb 5:6) is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe… In Openbaring kom die lig van die heerlikheid van God af, sonder son en maan, soos op Genesis 1:3-5 se lig op die eerste skeppingsdag, voor die skepping van die son en die maan op die vierde dag (vgl. Eseg.43:2).

            In Genesis word lig egter nie as ‘n uitdrukking van God se wese gesien nie, maar as sy eerste skeppingswerk in ‘n reeks, soos die skepping van die aarde en die see, van plante, die son en maan elkeen met sy eie taak as tekens van dag en nag, visse, voëls en diere, wat alles voorberei word as woning vir die mens, wat na die beeld van God geskep word om God se aarde te bewerk en oor die diere te heers (Gen 1:26-28).

            Dit is so anders as Israel se bure, die antieke Midde-Ooste se wêreldbeeld met die son as god (Re in Egipte; Sjamasj van Babilonië; en in die Weste Helios van die Grieke en Sol invictus van die Romeine) en die maan as god (in Babilonië die vader van Sjamasj, deur Abram vereer voor sy roeping; Thoth in Egipte; Selene in Griekeland, en die Romeinse Luna). Teenoor sy bure se afgode, spreek God ‘n woord, en lig, en die die res van die skepping verskyn op die bevel van God se skeppende woord.

Die Evangelie volgens Johannes volg Genesis 1:1-3 met sy eerste vyf verse (Jn 1:1-5). Johannes identifiseer die skeppende Woord van God met Jesus, die Seun van God, self God, wat God se openbaring van Homself aan die mens is (Jn 1:18); en die Gees van God wat skeppend oor die waters gesweef het, met die Heilige Gees deur wie die mens weergebore (van Bo gebore, Jn 3:5-8 ) word om ‘n mens te oortuig van sonde, geregtigheid (dat die mens se verhouding met God reggemaak word deur die offer van sy geliefde Seun, Jn 1:29; 3:16) en oordeel (oor die mense wat nie in Christus glo nie; Jn 16:7-11).

            Van Jesus as die Woord van God sê Johannes 1:4 dat die Woord nie slegs die Middelaar  by die skepping is nie, maar ook by die voortbestaan en onderhouding van die skepping steeds God se Middelaar bly. Daarom omsluit die woorde ‘in Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense’ die lewe en lig vir die mens in die skepping sowel as in die nuwe skepping. Johannes beklemtoon die tweede aspek, nl. die herskepping, aangesien dit te doen het met die verlossingswerk van die Woord/Seun van God vir die mensdom. Maar die nuwe skepping veronderstel die oorspronklike skeppende werk deur die Woord en sy doel met die skepping.         

            Joh 1:5 se stelling oor die lig wat skyn in die duisternis wat dit nie kan oorweldig nie, omvat die geskiedenis en die tyd van die Evangelis. Die lig het in die oer-duisternis van Gen 1:2 geskyn, en voortgegaan om te skyn te midde van die duisternis van die mens wat in sonde geval het. Met die lewe van Jesus op aarde, die Woord van God wat mens geword het (Jn 1:14), het die lig met groter helderheid geskyn. En met die koms van die Heilige Gees om as God in elke gelowige te kom woon, skyn die lig in die lewe van die mense wat deur die Gees aan Jesus se dood en opstanding verbind is, en daarom saam met die Seun van God, kinders van God kan wees. Dit is dié mense wat die lig van die evangelie glo en aanvaar (vgl. Joh 1:12; Rom 8:9-17).

            Joh 1:9 sê: die ware lig, wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hier word ‘lig’ as ‘n metafoor gebruik (Lk 11:34-36; Efes.1:18). Hier is die Woord van God self die Lig wat die bestaan van elke mense verlig – positief lei die verligting tot verlossing en ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God; en negatief lei dit tot die oordeel oor die mense wat die lig haat en nie na die lig toe kom nie, sodat hulle lewe nie aan die kaak gestel sal word nie (vgl. 3:17-21). Die stelling raak die beperkte tyd wat Jesus in Palestina opgetree het, sowel as die voortgaande verhouding van die Woord van God met die mens en die wêreld.

Joh 8:12 se ‘Ek is die lig vir die wêreld’ begin met ‘n belangrike segging ‘Ek is’ (in Grieks ego Ek, eimi Ek is) wat verwys na God se selfbenaming in Eksodus 3:14 aan Moses  om vir die volk te sê ‘Ek is’ het hom na hulle gestuur (van die woorde af kom die naam Jahweh wat die Jode nie wou uitspreek nie om die Naam van die Here nie te onteer nie, Eks 20:7. Daarom het die Masorete, wat in 7e-11e eeu na Christus die Hebreeuse teks van die Ou Testament, wat sonder vokale geskryf was, van vokale voorsien het, die vokale van adonai Here onder die JHWH geskryf, wat aanleiding gegee het tot die foutiewe uitspraak Jehovah (NAV Here; OAV HERE).

                Die woorde van Jesus word uitgespreek tydens die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte deur die woestyn jaarliks herdenk (vgl. Jn 7:2; Deutr 16:13-15). Die tempel was elke nag verlig met ‘n menigte lampe as herinnering aan die wolk wat snags soos ‘n vuur oor die tabernakel geword het (Eks 14:19-25; 40:38) en op die sewende dag het die rabbi’s ‘n fakkeldans uitgevoer. Anders as ‘n lampverligte tempel, simbool van die teenwoordigheid van die Here wat hulle verlos het en weer sal verlos uit die onderdrukking van die Romeine, sê Jesus vir die volk wat deurnag feesvier, dans en sing in die lig van hulle fakkels: Ek is die lig vir die wêreld! (vgl. Ps 27:1 Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?)

            Joh 8:12 lui: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.’ Soos Israel die wolkkolom gevolg het uit die land van hulle slawerny, deur die woestyn na die beloofde land (Num.9:15-23), roep Jesus mense om Hom te volg as sy dissipels, leerlinge. Deur Jesus, die Lig vir die Wêreld, te volg gee aan die gelowige die sekerheid dat hy/sy die gevare en valstrikke van die duisternis sal vermy; met die belofte dat hy/sy die ‘lig wat lewe gee’ volg – bevry uit die ryk van die dood tot die lewe in die koninkryk van die lig (vgl. Jn 11:25,26). Die pad van die gelowige lei na heerlikheid via Golgota (vgl. Jn 12:24-26).

‘Die klein wit kol van my wete’ – loop saam met die wonderlike belofte dat die Gees van God in ons kom woon om ons te lei, te sterk en te bewaar, die Gees van die waarheid wat by ons kom bly en in ons is, wat ons aan God verbind (Jn 14:15-20).  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Lig in Genesis 1

Lig in Genesis 1 – Marius Nel

Annalize vra:

Genesis 1. Die Skepping: Na watter lig verwys die Bybel toe God sê: “Laat daar lig wees”, want die son, maan en sterre is eers later gemaak.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Meeste Ou Testamentici beskou die verwysing na lig voordat die son en maan geskep word, as deel van ‘n polemiek met mense wat die son en maan aanbid het. In Israel kry ons ook dié verskynsel; gaan kyk gerus hoe Esegiël vertel hoe Judese priesters voor die son en maan buig. Nou sê Genesis 1 dat God eers lig gemaak het. Hy is die Bron van lig. En dié lig word dan later weerkaats deur sterre wat Hy skep. Jy kan nie die son aanbid nie, omdat dit nie die bron van lig is nie. Israel se God is die Bron, en Hy alleen behoort aanbid te word.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die ouderdom van die aarde

Die ouderdom van die aarde – Coen Slabber

Anton vra:

Hoe oud is die aarde? Hoe waar is die “gap-teorie”? Is daar ‘n lang tydperk wat afgespeel het tussen Genesis 1:1 en Genesis 1:2?

Antwoord:

Geskryf deur Coen Slabber na ʼn onderhoud met Dr Louw Alberts

Hoe oud is die aarde?

Daar is mense wat glo dat die aarde tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is. Hulle aanvaar die ses dae vermeld in Genesis 1 is ses gewone dae elk 24 uur lank. Daarna is die geslagsregisters in die Ou Testament gebruik om die datum van die skepping te bereken. Hulle glo dat Genesis 1 geskiedkundige inligting aan ons oordra. Maar daar was geen mens teenwoordig wat die gebeure kon neerskryf nie. God was die enigste getuie  wat teenwoordig was en Hy het dit in ‘n openbaring aan Adam of Moses of iemand anders bekend gemaak.

Wetenskaplikes het egter bevind dat daar bewyse is dat die aarde heelwat ouer is – tussen 4,5 en 4,6 biljoen jare oud. Omdat God Hom ook in die natuur openbaar, kan hierdie bevindings nie sommer geïgnoreer word nie. Hierdie siening van ‘n “ou aarde” berus veral op geologiese (insluitend fossiele) en radiometriese data (die gebruik van radio-isotope).

 

Hoe waar is die gapingsteorie?

Baie wetenskaplikes aanvaar die wetenskaplike bevindings sonder om die verband met die Genesis 1 verhaal te probeer verduidelik. Ander wil nie Genesis 1 sommer van die tafel af vee nie. Hulle gee die volgende verduidelikings om die twee sienings (ou en nuwe aarde) te probeer versoen:

(a)    Die dae was nie gewone dae soos ons dit ken nie – hulle was baie langer as 24 uur. Ons dae is slegs beelde van God se skeppingsdae.

(b)   Die raamwerk-interpretasie.  Hiervolgens is die gebruik van die sewe dae ‘n raamwerk om die voltooide skeppingswerk voor te stel. Die dae is dus simbolies. Voorstanders wys op die parallellisme tussen dag 1 tot 3 en dag 4 tot 6: Dag 1 praat van lig en dag vier van ligdraers; dag 2 praat van waters en die hemelkoepel en dag 5 van inwoners van die see en voëls wat vlieg in die hemelruim; dag 3 praat van land en dag ses van landbewoners.

(c)    Die gapingsteorie. Daar is wetenskaplikes wat beweer dat Genesis 1:1 – 2 verwys na ‘n tydperk voor die skeppingsdae. Hierdie lang tydperke waarvan die geoloë praat, kan in die periode tussen verse 1 en 2 ingepas word – dit wil sê voor die ses skeppingsdae. Die ses skeppingsdae  verwys dus nie na die oorspronklike skepping nie, maar na die herstel of herskepping van die aarde.

Hierdie is nie ‘n nuwe twispunt nie. Augustinus het reeds gesê dat dit baie moeilik vir die menslike verstand is om die doel van die skrywer met hierdie ses dae te verstaan. Hy wys daarop dat die eerste drie dae nie gewone dae was nie, want daar was geen son nie. Hy het geglo dat die skepping onmiddellik plaasgevind het, maar oor ses dae geopenbaar is, waarskynlik aan die skrywer van Genesis 1.

Vir my is die primêre boodskap van Genesis 1 dat daar net een Skeppergod is.

 

Outeur: Dr Coen Slabber