Genesis 20 – Herrie van Rooy

Jan vra:

Genesis 20 sluit af met die vers: Want die Here het die moederskoot van die huis van Abimeleg geheel en al toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
Abimeleg laat haal vir Sara om sy vrou te wees omdat sy dan die “suster” van Abraham sou wees. God laat dit egter nie toe nie en Abimeleg stuur haar terug met ‘n klomp vee en sy kry self 1000 sikkels silwer.
Op sigwaarde lyk die voorval met Sara kortstondig maar met in ag neming van die “geslote moederskote” ter wille van Sara moes die proses reeds ‘n geruime tyd geduur het.
Was beide Abraham en Sara nie al op afgeleefde ouderdomme tydens die gebeurtenis nie?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Dit is ‘n interessante vraag, juis oor die probleem van die kronologie in Genesis. Dit mag bv wees dat die verhale in Genesis nie kronologies georden is nie, sodat hierdie episode nie noodwendig afspeel na dit wat daarvoor afgespeel het nie en ook nie noodwendig net voor die volgende hoofstuk met die geboorte van Isak nie. Dit gebeur ook dat gebeure so beskryf word dat dit lyk of dit vinnig gegaan het, terwyl dit inderdaad oor ‘n periode kon afgespeel het.

Daar is drie verhale in Genesis wat baie dieselfde besonderhede het. In Genesis 12 gaan Abraham na Egipte n speel ‘n soortgelyke toneel af, wel oor ‘n korter periode. Hier is dit Abraham in Gerar en in Genesis 26 Isak in Gerar, met dieselfde verhaal.

Dit lyk dus of daar drie sulke episodes was, twee met Abraham en een met Isak. Die een in Genesis 21 duur duidelik ‘n langer periode as die ander twee. Tensy dit iets is wat vroeër in Abraham se lewe gebeur het en om een of ander onbekende rede hier geplaas is in Genesis, is dit inderdaad volgens die beskrywing duidelik dat Abraham en Sara toe al oud was en dat die gebeure tog ‘n tydjie moes gebeur het, seker so drie tot ses maande, voordat die mense besef het dat geen vrou swanger  word nie. Dit hoef dus nie jare te wees nie, maar tog ‘n redelike tyd. Dat Sara op ‘n hoë ouderdom nog aantreklik was, is een van die dinge in Genesis wat nie so maklik verstaan kan word nie, behalwe as ‘n mens aanvaar dat die kronologie soms deurmekaar geraak het.

Dit sou ook kon wees dat die drie episodes se besonderhede vermeng geraak het, wat dit kronologies nog moeiliker maak.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Vrae uit Genesis – Marius Nel

Johan vra:

Vraag 1
Waar het Abel sy vrou gekry as hulle maar net op die oomblik 3 persone was?
Vraag 2
Hoeveel skeppinngsverhale is daar in die Bybel ?
Vraag 3
Was daar dinosourusse op die aarde en het hulle gelewe in Adam se tyd?
Vraag 4
In die woord sê dit dat jou naam voor die grondlegging van die aarde in die Boek
van die lewe geskrywe is. Verduidelik asb.

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

Vraag 1

Waar het Abel sy vrou gekry as hulle maar net op die oomblik 3 persone was?

Genesis 1-11 skryf oergeskiedenis met min ekstra inligting. Die teks dui nie aan met wie Abel getrou het nie; wel dat hy getrou het.

Vraag 2
Hoeveel skeppinngsverhale is daar in die Bybel ?

Sommige geleerdes meen dat Gen 1:1-2:4a ‘n aparte skeppingsverhaal is van die verhaal wat in Gen 2:4b begin. ‘n Mens kan dit egter ook as een verhaal lees.

Vraag 3
Was daar dinosourusse op die aarde en het hulle gelewe in Adam se tyd?

Die Bybel dui dit nie aan nie. Onthou dat die Bybel vir ons die weg na saligheid aandui en nie gegee is om ons nuuskierigheid oor allerlei wetenskaplike en historiese vraagstukke te bevredig nie.

Vraag 4
In die woord sê dit dat jou naam voor die grondlegging van die aarde in die Boek van die lewe geskrywe is. Verduidelik asb.

Ek meen dit verwys na God se voorkennis. Omdat Hy buite tyd en ruimte bestaan wat ons lewe kenmerk, sien Hy alles asof dit in een oomblik is. En daarom weet Hy wat ons lewensdae behels en ook of ons vir Hom gaan kies.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur?

Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur? – Adrio König

4.7 Het alles presies só gebeur?

Dit lyk of die twee skeppingsverhale nie noukeurige beskrywings is van hoe God alles geskep het nie. ’n Hele paar trekke van die verhale wys in hierdie rigting. “Adam” en “Eva” is Hebreeuse name terwyl Hebreeus maar ’n jong taal was. Eers van Genesis 12 af is sprake van Abraham uit wie God dan Israel laat voortkom het. Eers daarna kon Hebreeus ontstaan het.

Wat die eerste verhaal betref, is die spesifieke vaste, herhalende struktuur ook opvallend, en net so die skepping in een week. Dit kom nooit weer in die Bybel voor nie, ook nie die spesifieke volgorde waarin die dinge geskep is nie, en dit alles terwyl daar baie ander verwysings en selfs breedvoerige besprekings van die skepping is. Dink maar net aan Psalm 74, 104, Job 38.

 

’n Mens sou kon oorweeg dat die skrywer die model van die werk gebruik terwille van die simboliek van werk. God het gewerk toe Hy geskep het. Daarom eindig die verhaal ook met die Sabbat. Ná die werk het Hy gerus, as ’n voorbeeld vir die volk om die Sabbat te hou.

 

Dit is ook duidelik dat beide verhale met ’n baie beperkte, verkleinde begrip van ruimte en tyd werk. Wat die ruimte betref, het ons ’n baie klein heelal met die sterre wat kleinerige liggies is wat nie te ver bokant die aarde nie, aan die vaste blou koepel hang. Wat die tyd betref, is die voorstelling dat die skepping nie té lank gelede kon plaasgevind het nie. Die geslagsregisters wat deel van Genesis 1-11 is, kom maar op ’n paar duisend jaar uit.

 

Net soos die skeppingsvoorstellings, deel die Bybelskrywers hierdie voorstellings met die ander godsdienste. Ook in hierdie opsig wou hulle dus nie ’n eie bedrae lewer nie. Hulle vertel van die skepping in die terme wat tot hulle beskikking is. Dit alles word bevestig deur die feit dat daar verskillende skeppingsvoorstellings is, en wat nog belangriker is, dat daar van dieselfde dinge geskryf word dat hulle op verskillende maniere geskep is. Dink maar net aan die gewelf, die ligte, die see diere en die diere op aarde in Genesis 1. In elke geval het God beveel dat hulle moet bestaan én het Hy hulle gemaak/geskep. Verder het ons elders gelees Hy het die hemelliggame deur sy woord geskep én met sy hande. En ook dat Hy die fondamente van die aarde en die hemelkoepel met sy hande gemaak het, maar ook deur sy woord tot stand gebring het. Dit kan net beteken dat die skrywers nie in die eerste plek wou beskryf presies hoe alles geskep is nie. En dit volg duidelik uit die skeppingsgedeeltes. Hulle gebruik dieselfde skeppings-voorstellings wat die ander godsdienste gebruik. Hulle suiwer wel hier en daar voorstellings uit wat nie pas by die verhouding tussen God en die skepping nie (stryd, geboorte). Maar vir die res is dit ook nie nodig om ander voorstellings te gebruik nie omdat niemand twyfel dat alles geskep is nie, en die godsdienste dieselfde voorstellings gedeel het. Die vraag was net: Wie het geskep? En die antwoord is duidelik in die Bybel: Israel se God is die enigste ware God, en daarom spreek dit eintlik vanself dat Hy die Skepper is. Hierdie agtergrond sal ons help om oor vorms van evolusie na te dink.

 

Maar ons kry ook skeppingsverhale elders in die Bybel. Volgende keer kyk ons na die psalms, die profete en die wysheidsliteratuur.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 2

Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 2 – Adrio König

4.5 Genesis 2 – ’n verbondsverhaal?

Die verhouding tussen Genesis 1 en Genesis 2

Ons het in Genesis 1 en Genesis 2 twee verskillende verhale oor die skepping. Eintlik is die eerste verhaal nie net Genesis 1 nie, maar Genesis 1:1-2:4a, en die tweede verhaal begin dan by Genesis 2:4b. ’n Mens merk dadelik dat dit ’n ander verhaal is. In Genesis 1 is van “God” gepraat, in Genesis 2 van “die Here God”. Verder begin die eerste verhaal met die skepping van “die hemel en aarde”, maar die tweede verhaal met die skepping van “die aarde en die hemel”.

 

Strukture: Die twee verhale het ook heeltemal verskillende strukture en oogmerke. Ons het gesien hoe netjies sistematies en simmetries Genesis 1 saamgestel is. Dis byna strak en styf. ’n Mens kan vooraf voorspel watter sinnetjies by die volgende skeppingsdaad gebruik sal word. Dis presies op die derde en weer op die sesde dae dat daar twee skeppingswerke beskryf word. En die dinge wat op die drie dae van die tweede helfte van die week geskep is, het direk verband met dié op die drie dae van die week.

 

Die tweede verhaal lyk heeltemal anders. Dis ’n vrye en spontane verhaal. Daar is geen besondere vaste struktuur in nie. Die verhaal kan soms lang ompaaie loop soos die uitbreiding oor die rivier wat buite die tuin in vier groot riviere verdeel, iets wat eintlik niks met die verhaal self te doen het nie (2:11-14).

 

Oogmerke: Terwyl ons wil kyk na die verskillende oogmerke van die twee verhale, moet ons egter eers onthou dat een saak dieselfde gebly het. God is in beide verhale die inisiatiefnemer. Soos in die eerste verhaal is Hy die Skepper en die Een wat alles besluit en bepaal en doen. Verder het Genesis 2 egter heeltemal ’n ander oogmerk. Genesis 1 gaan oor die hele skepping. Al die dinge wat bestaan, word gelys en sistematies en presies beskryf. Genesis 2 gaan spesifiek oor die mens. Natuurlik word die skepping van ’n hele paar ander dinge ook genoem, maar al dié besonderhede word net gegee omdat dit met die mens in verband staan. Die Here God plant die tuin vir die mens, die vrugtebome is vir die mens om te eet, die diere word geskep en na die mens gebring sodat hy moet name gee, en die vrou word gemaak omdat die mens nie alleen kan regkom nie.

 

Terwyl die mens dus in Genesis 1 die toppunt en hoogtepunt van die skepping is, staan die mens in Genesis 2 in die sentrum. Maar intussen beklemtoon beide verhale twee besondere verhoudings waarin die mens staan: met die diere, en met God. In Genesis 1 word die mens op dieselfde dag as die landdiere gemaak en kry ook plante as voedsel. In Genesis 2 word mens én dier uit grond gemaak en ’n “lewende wese” genoem (2:7, 19). Maar aan die ander kant word die mens ook duidelik van die diere onderskei en in ’n unieke verhouding met God geplaas. In die eerste verhaal word al die ander dinge sonder meer geskep, maar oor die mens se skepping neem God eers ’n besluit (1:26) voor Hy die mens skep (1:27). Verder skep Hy dan die mens as sy beeld, wat inderdaad ’n besondere verhouding is. Daarna kyk ons in die hoofstuk oor die mens.

 

Volgens die tweede verhaal skep God die mens wel net soos die dier uit grond, en word beide “lewende wese” genoem, maar ons lees net van die mens dat Hy “lewensasem in sy neus blaas”. Dit impliseer ’n verhouding wat Hy nie met die diere het nie. Verder word hierdie unieke verhouding God-mens dan beklemtoon deurdat God alles terwille van die mens doen: die tuin, die vrugtebome, die diere, die vrou. Sy besondere sorg vir die mens spreek duidelik.

 

Is Genesis 2 nie in wese ’n verbondsverhaal nie? God gaan bevelend-sorgend met die mens om en gee hom verantwoordelikhede (2:15-16). Die besondere Naam wat hier vir Hom gebruik word, wys in dieselfde rigting. “Die Here God” is meer as net “God”. “Die Here” is die vertaling van “Jahwe” (vroeër is van Jehova gepraat) wat eintlik Jagwe uitgespreek word. Dit is die Naam van God, maar heel spesifiek sy verbondsnaam. Dit is die Naam wat Hy later aan Moses openbaar (Eks 3:14).

 

Terloops, “God” is nie ’n naam nie, dit wil sê ’n eienaam soos Sarie of Jan nie. Dis ’n soortnaam soos “mens”. Tegnies beteken dit dat iemand wat “God” as stopwoord gebruik, nie die Naam van God oneerbiedig gebruik nie. Hy gebruik wel die woord “God” oneerbiedig. God se Naam is Jahwe wat ongelukkig in omtrent alle Westerse vertalings met “Here” (“Lord”) vertaal is.

 

Die NJB (New Jerusalem Bible) is ’n heerlike uitsondering wat sy Naam transkribeer (Yahweh), en sommige Afrika-vertalings ook. Sal ons ooit so ’n vertaling kry wat ons sal help om weer te besef God het ’n Naam. Here is ’n titel. Die NLV (Nuwe Lewende Vertaling) het dit tog darem weer soos die 1953-vertaling met vier hoofletters vertaal (HERE) om dit te onderskei van “Here” wat ’n vertaling is van die Hebreeus Adonai, wat baas of eienaar beteken.

 

Maar juis om hierdie rede veroorsaak die 1983-vertaling groot verwarring. Die 1953-vertaling het dikwels verwys na “die Here Here” (veral in die profete oa Jes 28:16; 30:15; 61:1) wat eintlik iets beteken soos: Jahwe wat my eienaar (besitter, Heer) is. Maar dis toe heeltemal verduister toe 1983 dit vertaal met “die Here my God”.

 

Maar in beginsel het hierdie Westerse vertaling Here meegebring dat ons die gevoel verloor het dat God ’n eienaam het. “Here” is ’n titel, nie ’n eienaam nie. Die aanhef van die Tien Gebooie moet eintlik lui: “Ek is jou God Jahwe.” En die derde gebod: “Jy mag die Naam van jou God, die naam Jahwe, nie misbruik nie.”

 

Arbeid ’n gevolg van die sonde?

’n Paar ander sake kom na vore in die tweede skeppingsverhaal. Daar is onder ons die gedagte dat arbeid/werk ’n deel van die straf op die sonde is. God sê immers ná die sonde van Adam en Eva vir Adam: “Met swaarkry sal jy uit die aarde ’n bestaan maak … Die aarde sal vir jou dorings en distels laat uitspruit” (Gen 3:17-19). Maar dit is nie die volle prentjie nie. Reeds in Genesis 2:15 lees ons: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.” Werk was dus van die begin deel van die mens se lewe.

 

Wat is dan die verskil? Die werk ná die sonde was vermoeiende werk, frustrerende werk (dorings en distels!), maar die werk vóór die sonde was vervullende werk. En dis vandag nog so. Dis nie die werk as sodanig wat ’n mens moeg maak nie, dis die sonde in die werk, die frustrasie, die spanning weens óórwerk, oneerlikheid, oormatige kompetisie, te min rus.

 

Daar is nog ’n interessante woord in Genesis 2:15. Ons lees: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon.” NJB lees: “Yahweh God took the man and settled him in the garden of Eden to cultivate and take care of it.” Die Hebreeuse woord beteken eintlik “tot rus bring”. Die mens sou dus rus vind  in sy werk. Hy was tuis in sy werk. En so ’n werk is ’n voorreg en ’n genot.

 

In die volgende artikel gaan ons van die Here se sorg vir die mens lees.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König