Is God en Allah een?

Is God en Allah een? – Jan van der Watt

Juliana vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ‘n god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ‘n profeet maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Muslims “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Oor die ware God is daar opmerkings elders in www.bybelkennis.co.za. Ek wil graag fokus op waarom daar in Islam ook na die aartsvaders en Jesus verwys word. Mohammed, wat verantwoordelik was vir die opskrifstelling van die Koran, het in sy jonger lewe direkte kontak met beide die Jode en die Christene gehad. Hy was byvoorbeeld saam met sy oom na Jerusalem en het daar met die Joodse godsdienste en hulle geskrifte (die Ou Testament) in aanraking gekom. Hy het dit as waar aanvaar. Toe die Jode hom later verwerp, het hy die Joodse godsdiens verwerp, maar nie die eerste boeke van die Ou Testament nie. Dit het deel van sy kennis gebly. Hy was ook positief teenoor die Christene. Toe hy eenmaal, toe hy nog jonger was, vir sy lewe moes vlug, het hy by Christene (in Afrika) veiligheid gevind. Hulle het toe vir hom gesorg. Daar het hy van sy kennis van die Jesus en die Christendom opgetel wat by hom gebly het. Toe die Koran op skrif gestel is, is die inligting uit die eerste vyf boeke van die Ou Testament en inligting oor Jesus in die Koran opgeneem. Daarom kry ons tot vandag toe nog hierdie inligting in Islam.

Dit moet egter nie verwar word met die God wat aanbid word nie. Toe beide die Jode en die Christene hulle rug om Mohammed en sy openbarings gedraai het, het hy bewustelik na Mekka gegaan en die naam van die lokale god aldaar vir sy godsdiens oorgeneem. Dit het ook die mense saamgebind. Omdat hy die eerste vyf boeke van die Ou Testament geken het, is daar ooreenkomste tussen die god van die Koran met die beeld van God wat ons in die eerste vyf boeke van die Ou Testament het. Omdat die res van die Ou Testament en die Nuwe Testament nie by Mohammed ‘n sterk rol gespeel het nie, kom die ander eienskappe van God in die res van die Bybel nie voor nie, wat beteken dat die beeld van God asook die manier waarop ons God moet dien in dit Koran en in die Bybel verskil. Veral die feit dat die Christendom se redding deur Jesus kom en dit belangrik is om te weet en te bely dat Hy God en mens is wat uit die dood opgestaan het, maak die redding heeltemal verskillend. Hoewel Jesus in Islam erken word as profeet (Mohammed het mos by die Christene gehoor daar is iemand soos Jesus) bly Hy maar net ‘n gewone mens. Dit alleen maak die twee godsdienste al onherroeplik verskillend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Groot Geloofswoordeboek: Mensvormige spreke oor God

Die Groot Geloofswoordeboek: Mensvormige spreke oor God

Mensvormige spreke oor God/AntropomorfismesOnveranderlikheid/Veranderlikheid van God

(*God, *Liefde)

Mensevormige spreke oor God

Een van die verskynsels in die Bybel wat altyd besondere aandag getrek het, is die menslike of liewer mensvormige manier waar­op daar in die Bybel oor God gepraat word.   Daar word verwys na God se:

liggaamsdele: gesig, oë, neus, mond, ore, lippe, arms, han­de en voete

emosies: liefde, geduld, vreugde, behae, blydskap, jaloesie, toorn en haat

dade: sien, hoor, praat, fluit, rus, ruik, loop en lag

 

Met sommige hiervan het ons gewoonlik nie veel probleme nie, soos sy liefde, geduld en met die feit dat Hy kan hoor en sien en praat. Maar met ander het ons wel. Fluit en ruik God reg­tig? Kan Hy berou hê oor iets? Het Hy regtig oë en ‘n neus en lippe? Is dit nie te menslik oor God gedink nie?

Dit het aanleiding gegee tot baie spekulasie. Sommige het ge­meen dit is maar net die vroeë Bybelskrywers wat nog nie alles mooi verstaan het nie, maar later, veral in die Nuwe Testament, sou daar dan nie meer so mensvormig oor God gepraat word nie. Maar dit werk nie so nie. Daar is nie in hierdie opsig ‘n verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe nie.

‘n Ander teorie was weer dat die Bybelskrywers maar net op so ‘n menslike manier oor God gepraat het omdat ons nie sou kon verstaan as hulle oor Hom praat soos Hy werklik is nie. Dit sou te hoog vir ons gewees het. Hulle het maar net ons menslike onbe-grip tegemoetgekom en ons moet baie dankbaar daarvoor wees.

Wat nogal snaaks is, is dat hierdie teoloë dan skynbaar wel goed geweet het hoe God werklik is. Volgens hulle sou Hy die ewige syn (bestaan) wees, onveranderlik, in sigself genoegsaam, sonder enige behoeftes, onsigbaar, hoog verhewe, ewig.

Wat het hier gebeur? Hulle het die lewende God wat betrokke was by mense heeltemal anders verstaan, en wel as ‘n veraf, on­be­trokke wese wat in abstrakte terme beskryf moet word. Daar is geen rede om nie die Bybelskrywers ernstig te neem as hulle so in menslike terme oor God praat nie. Hulle het God goed geken. Hy is die God wat omgee, wat ‘n verhouding met sy volk opgebou het en naby hulle geleef het. Omdat die mens be­­doel is om sy beeld te wees, is dit ook volkome sinvol dat ons in mensvormige terme oor Hom kan praat. Hoor, sien en voel, het alles met kommunikasie te doen. En God is by uitstek die Een wat kom­munikeer. En dit is onmoontlik om te dink aan ‘n God wat by ons lewe betrokke is, wat vir ons omgee, maar wat sonder emosie is. ‘n Emosielose wese is ‘n kille klip.

Natuurlik voel dit vir ons vreemd om te dink aan God se neus en sy ore en sy mond. Maar solank ons onthou dat Hy nie ge­skape is nie en dus nie ‘n geskape mond en neus en ore het nie, dus nie ‘n mond en neus en ore soos ons nie, kan daar niks verkeerd mee wees om in hierdie terme oor Hom te praat nie.

Ons het natuurlik geen probleem met sy emosies soos liefde en geduld nie, maar wel met die feit dat ons telkens in die Bybel lees dat Hy sy plan verander. In al die gevalle wat in die volgen­de paragraaf genoem gaan word, het die 1953-vertaling nog gelui dat God “berou” gehad het oor wat Hy gedoen of gesê het. Maar “be­rou” is soseer met “berou oor sonde” geassosieer dat dit liewer in 1983 vervang is met ander woorde. Ons lees nou dat Hy ‘n be­paal­de oordeel wat Hy uitgespreek het, nie sal deurvoer nie, of dat Hy afsien van sy voorneme om iets te doen. Ons lees ook dat Hy bedroef is oor sekere dinge wat Hy gedoen het.

Hier volg ‘n aantal voorbeelde: bedroef (Gen 6:6-7; 1 Sam 15:11, 35); van sy voorneme afsien (Am 7:3; Jona 3:10); sy voorneme nie verder voer nie (2 Sam 24:16); die straf herroep wat Hy aangekondig het (Jer 26:13).

 

Onveranderlikheid/Veranderlikheid van God

Baie mense het groot huiwering om van die veranderlikheid van God te praat omdat hulle meen dat God juis onveranderlik is en in elk geval nooit sy planne verander nie. Daar is selfs mense wat oortuig is dat God lank voordat Hy alles geskep het, alles wat ooit sal gebeur vooraf presies bepaal het, en ook wat alle mense ooit sal doen. (*Voorsienigheid) Maar dan sal hulle natuurlik probleme hê met die baie tekste wat daarna verwys dat God afsien van ‘n plan wat Hy gehad het of ‘n oordeel wat Hy uitgespreek het. Hulle sal ook probleme hê met uitsprake wat impliseer dat God nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie.

 

Miskien

Oor en oor hoor ons die woord “miskien” uit die mond van die Here wanneer Hy vir Jeremia sê: “Miskien sal Israel luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3; kyk ook na Jer 36:3, 7; Eks 13:17). Elders lees ons dat die Here verwag het Israel sou “soet druiwe dra”, maar teen sy verwagting in het dit dan nie gebeur nie (Jes 5:2, 4), en ook dat Hy later sal besluit wat Hy sal doen, wat tog impliseer dat Hy dit nie vooraf besluit het nie (Eks 33:5).

Maar mense probeer van hierdie tekste af wegkom. Meestal is hulle oortuig dat hierdie tekste tog iets anders bedoel as wat daar duidelik staan. Dit sou maar net so “vreemd” ge­formuleer gewees het omdat ons nie sou kon verstaan het as dit reg geformuleer was nie. Ons verstand sou dan te beperk wees.

Dit is egter nie duidelik waarom ons nie sou kon verstaan het as dit “reg” geformuleer was nie. Die “regte” woorde by Jeremia 26:3 sou eenvoudig kon gewees het: “Ek weet lankal of hulle hulle sal bekeer of nie, want Ek het dit self vooruit bepaal, maar Ek sê maar net nie vir jou nie, Jeremia, sodat jy eers moet wag en sien.” En in die geval van God se teleurstelling dat Israel nie soet druiwe gedra het nie, sou die “regte” woorde tog eenvoudig kon gewees het: “Dit is presies wat Ek verwag het dat julle sal doen; trouens, natuurlik kon julle ook nie anders gedoen het nie, want Ek het lank tevore al bepaal dat julle so ontrou aan My sal wees.” Dit lyk my nie te moeilik om te verstaan nie.

Wat natuurlik wel te moeilik is om te verstaan, is dat die Here die volk so kwalik neem dat hulle aan Hom ontrou is en hulle later selfs daaroor in ballingskap laat gaan terwyl Hy dan vooraf sou be­paal het dat hulle dit sal doen.

Ons kom nie maklik weg van die feit dat die Here sy planne kan verander en nie altyd vooraf weet wat gaan gebeur nie, dit wil sê as ons die duidelike woorde van die Bybel ernstig opneem. Die werklike probleem met die gedagte van die veranderlik­heid van God is dat dit klink of ‘n mens nie op God kan reken nie, of sy “môre- en aandpraatjies nie ooreenkom nie”, of Hy onbetroubaar is. Die teendeel is egter waar.

 

“Onveranderlike veranderlikheid”

Dis lekker om in dié verband te kyk na die verhaal van Jona. Jona kry van die Here die opdrag om in Nineve te gaan preek. Hy moet die Here se besluit gaan aankondig: oor 40 dae gaan die Here hulle verwoes oor hulle sonde. Die stad reageer daarop met ‘n radikale bekering. En die Here ver­ander sy besluit: Hy spaar hulle (3:10).

Jona is diep ontsteld daaroor. Dis belangrik om mooi te kyk na sy beskuldiging aan die Here. Hy sê hy het geweet die Here gaan so maak, want die Here maak altyd so: Hy sien maklik af van die straf wat Hy aangekondig het (4:2). Hy is dus glad nie verbaas nie. Hy ken die Here so. Die Here verander maklik sy plan.

Kan ‘n mens dan op die Here reken? Ja, juis! Jona kon daarop ge­reken het dat die Here die straf gaan terugtrek as die Ninevie­te hulle bekeer. Die Here doen dit graag. Ver daarvandaan dat ‘n mens dus onseker word oor Hom, weet jy presies waar jy met Hom aan of af is: Hy is genadig en geduldig, Hy vergewe graag.

God is getrou en konsekwent in sy veranderlikheid. Dit het niks met willekeur en onsekerheid te doen nie. Daar is ‘n vaste patroon in sy veranderlikheid: Hy trek die straf terug as daar bekering kom.

God se veranderlikheid is ongelooflike genade. Jy kan ook daar­op reken. Bekeer jou en Hy vergewe jou alles. ‘n Mens sou ook kon sê Hy is onveranderlik in sy veranderlikheid. Hy sal nooit anders doen as om sy oordeel terug te trek en jou te vergewe as jy jou bekeer nie. Dit beteken: Hy is getrou.

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Liefde

(*God)

“Liefde” is een van die kernwoorde van die Bybel, maar miskien juis daarom een van die mees misbruikte woorde. In ons samele­wing word dinge liefde genoem wat eerder onverantwoordelike en ongebreidelde hartstog is.

Jesus som die ganse Ou Testament op in twee gebooie, en albei is liefdesgebooie. Liefde is dus die kern van die Here se wil vir ons lewe. Waarom? Omdat *God self liefde is, en ons as sy *beeld geskape is. As ons sy beeld moet wees of vertoon, moet iets van sy wese, dit is sy liefde, in ons lewe na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde ‘n replika van Syne moet wees nie. Hy is die Skep­per. Ons is maar net skepsels. Hy is oneindig meer as ons. Maar dit beteken wel dat iets van sy liefde in ons sigbaar moet word. Ons praat van ‘n analogie, ‘n gedeeltelike ooreenkoms tussen sy liefde en ons s’n.

Maar dit beteken dat ons eers sal moet vra hoe sy liefde lyk, en dan daaruit aflei hoe ons moet liefhê. Wat verstaan die By­belskrywers onder sy liefde?

 

God se liefde

God se liefde is ‘n onverdiende liefde. Ons het nie verdien om geskape te word om sy vreugde met Hom te deel nie. Ons het nog baie minder verdien om verlos te word. God se liefde is dus ‘n liefde na onder, na sy minderes.

Maar dit beteken nie dat Hy net in die algemeen “na onder” liefhet nie. Sy liefde gaan juis uit na dié van ons wat nog verder agter of “onder” is: die armes, siekes, gebreklikes, verdruktes. Een van sy bekendste Name in die Ou Testament is “die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge”; dit is die men­se wat geen regte gehad het nie. Hy kies ‘n minderwaardige sla­we­vol­kie wat omtrent geen kultuur gehad het nie en geen rol ge­speel het in hul omgewing nie. Waarom? Vir Israel sê Moses: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet, het Hy jou bevry” (Deut 7:7-8).

Die Here het nie helde nodig nie. Hy is self die held. Hy kan armes help omdat Hy self ryk is.

Daarom is sy liefde vry. Hy het ons nie lief omdat Hy ons nodig het nie. Hy het ons nie lief omdat ons waarde het vir Hom nie. Trouens, Hy het ons lief ondanks die hoë risiko wat Hy met ons loop. Hy het ons lief … net omdat Hy Hy is, net omdat Hy liefde is (1 Joh 4:8, 16). God motiveer self sy liefde vir ons.

God se liefde is ook skeppende liefde. God het ons geskep as sy beeld; dus het Hy ons geskep met die vermoë om te kan liefhê. En al het ons deur ons sonde hierdie vermoë verloor, gee Hy dit aan ons terug. God is self die oorsprong van alle ware liefde. “Liefde kom van God” (1 Joh 4:7) – ook ons liefde. Ons moet dit by Hom kry. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Daarom is liefde deel van die vrug van die Gees. Die Gees stel ons in staat om lief te hê (Gal 5:22-23).

Dit is ‘n paar opmerkings oor sy liefde. En omdat ons sy beeld is, moet sy liefde op een of ander manier in ons na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde identies aan Syne moet wees nie. Dit kan nie. Hy is oneindig meer as ons. Ons is net sy beeld, en ‘n beeld is nie identies aan die een wat afgebeeld word nie.

Kom ons onderskei tussen die liefde tussen Hom en ons, en die liefde tussen ons en ander mense.

 

Liefde tussen Hom en ons

Wat die liefde tussen Hom en ons betref, is daar ‘n groot verskil tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom. Hy motiveer self sy liefde vir ons, maar ons motiveer nie self ons liefde vir Hom nie. Hy het ons nie lief omdat ons soveel werd is vir Hom nie of omdat Hy ons nodig het nie. Maar ons liefde vir Hom is anders. Ons het Hom juis lief oor wie en wat Hy is, oor Hy so wonderlik is. Ons motiveer nie ons liefde vir Hom nie. Hy motiveer dit. Hy motiveer dus sy liefde vir ons én ons liefde vir Hom. Johannes skryf: die liefde is uit God.

 

Liefde tussen mense

En nou ons liefde vir ander mense. As ons dit self moet mo­tiveer, sal dit maar sleg gaan. Ek sal maklik ‘n hele paar “goeie” redes kan uitdink waarom ek nie sekere mense hoef lief te hê nie. Ek sal my­self waarskynlik net sovêr kry om dié lief te hê wat vir my waarde het. En dit sal my liefde iets anders maak as wat dit moet wees.

Maar “die liefde is uit God”. Die Gees gee my die liefde wat ek vir ander moet hê. Dit beteken dat God ook my liefde vir an­der mo­tiveer. Hy motiveer dus alle vorme van liefde, van ware liefde: sy liefde vir ons, ons liefde vir Hom én ons liefde vir ander mense.

Watter ooreenkoms of analogie moet daar dan wees tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom en vir ander? Ons lees im­mers: “Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2).

 

Soorte liefde

In Grieks is daar minstens vier verskillende woorde vir liefde: eros, filia, storge, agape.

Eros word meestal in verband met seksuele liefde gebruik, maar dis nie altyd so nie. Dit is ook die liefde vir die eie, die liefde wat tot groot heldedade lei, soos om jou liggaam te gee om verbrand te word (1 Kor 13:3, 1953-vertaling). As dit liefde vir die eie volk is, word dit gewoonlik nasionalisme genoem. Hierdie liefde kan inderdaad ook op ander persone gerig wees, maar die eintlike motief is die voordeel wat die ander vir my kan hê. Ander word nie ter wille van hulleself liefgehê nie, maar ter wille van die waarde wat hulle vir die eie kan hê. Dis ‘n liefde vir ander wat die ander gebruik.

 

Filia is ‘n hoër, edeler vorm van liefde. Dit dui op ‘n warm, intieme verhouding. Dit word soms met “vriendskap” vertaal. Maar dit kan kwyn as die een wat liefhet, nie meer vreugde in die geliefde vind nie.

Storge is familieliefde, die liefde van ouers en kinders, en broers en susters, en ander familie onderling.

Agape is ‘n woord wat selde in die Griekse literatuur gebruik is. Dit is ‘n woord waarop die Christene beslag gelê het en in ‘n unieke betekenis gebruik het. Dit word gebruik vir God se lief­de vir ons, en ons liefde vir Hom en vir mekaar. Dit het ‘n an­der betekenis as byvoorbeeld filia. Dit kom mooi uit in die ge­sprek tussen Jesus en Petrus (Joh 21:15 ev). Jesus vra vir Petrus of hy Hom liefhet (en gebruik die werkwoord vir agape), en Petrus antwoord dat hy wel vir Jesus liefhet (maar gebruik die werk­woord vir filia). Dit gaan in agape dus om ‘n ander soort liefde as filia. Hy erken daarmee dat hy nie die soort liefde het wat Jesus vra nie.

 

Liefde: omgee, offer

Anders as in die geval van die ander vorme van liefde gaan dit in die liefde wat agape genoem word om die ander persoon. Jy het die ander persoon lief ter wille van die voordeel van die ander een, en ongeag die nadeel vir jou. Dit maak nie saak wie of wat die ander een is nie. Dit maak ook nie saak hoe die ander een op jou liefde reageer nie. Dit is hoe God liefhet. Hy laat reën op regverdiges én onregverdiges, op goeies én slegtes (Matt 5:43 ev). Ons moet ons vyande liefhê soos Hy ons liefgehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev). Jy het dus nie die ander een lief ter wille van die waarde wat die ander een vir jou het nie, maar ongeag die hou­ding of gesindheid van die ander een. Daar word gesê dat God waarde­blind is en dat ons dit ook moet wees. Hy motiveer immers sy liefde vir ons, en net so motiveer Hy ook ons liefde vir ander. Dié wat ons moet liefhê, hoef nie ons liefde werd te wees nie. Ons was ook nie God se liefde werd nie.

Maar daar is ‘n ander sin waarin die een wat ons moet liefhê, inderdaad tel. God het nie net in die algemeen alle mense lief nie. Hy “trek sekeres voor”. Hy is mos die God van die on­belangrike vol­kie Israel. Hy is die God van die weduwees, wees­kinders en vreem­de­linge, dié wat verwaarloos is in Israel. Jesus eet saam met die tollenaars en sondaars, dié wat nie in tel was nie. Hy werk in Galilea waar “niks aangegaan het” nie. Hy kies vissers en tollenaars as sy dissipels, mense wat op geen manier getel het in die godsdienstige lewe van Israel nie.

“Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2). Ons moet uitsoekerig wees in ons liefde, die onbelangrikes, dié wat niks het nie, in nood is, onaanvaarbaar en selfs aanstootlik is.

En liefhê beteken: bereidheid om te offer wat nodig is. Dit is wat God in Jesus gedoen het. Hy het nie gevra watter voordeel dit vir Hom sou inhou nie, maar wat ons nodig gehad het. Hy het nie ge­wag tot ons Hom vra of tot ons ons bekeer nie, Hy het geoffer wat ons nodig gehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev).

Natuurlik vra liefde ‘n antwoord: wederliefde. Natuurlik vra God dit van ons, en vra ons dit van ander. Maar liefde wag nie tot jy seker is jy gaan ‘n antwoord kry nie.

Dit alles maak *selfliefde in sy wese sonde.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Koninkryk van God • Satan/Duiwel Bose geeste/magteChaosmagte Eksorsisme (Duiweluitdrywing)

Eintlik lyk dit na ‘n vreemde samevoeging in een bespreking: die koninkryk van God en die duiwel! Maar daar is ‘n baie be­lang­rike verband tussen hierdie begrippe. Hulle staan presies teenoor mekaar. Daarom kan ‘n mens nie die een sonder die an­der verstaan nie. Die koninkryk van God kom juis wanneer Jesus die duiwels uitdryf. Daarom hierdie vreemde kombinasie van begrippe.

Teenoor die koninkryk van God staan die duiwel. Onder die “duiwel” sluit ons twee groepe wesens in: die chaosmagte waar­van ons eintlik net in die Ou Testament lees, en die duiwel/Satan en die bose magte waarvan ons min in die Ou Testament lees, en wat eintlik eers in die Nuwe Testament sterk na vore kom.

 

Chaosmagte

Die chaosmagte speel ‘n belangrike rol in die Ou Testament, veral in die vroeë geskiedenis. Dink maar net aan Rahab, Levia­tan, Behe­mot, die seemonsters (Ps 74:13-14; 89:11; Jes 51:9-10; Job 40:10 ev; 40:20 ev, waar “seekoei” ‘n vertaling van Behemot is, en “krokodil” van Leviatan). Seekoei en krokodil word as ver­teen­woor­digers van hierdie magte gesien omdat dit see­mon­sters was. Dit beteken dat ook die see self gesien is as ‘n bedreiging. Ons lees telkens dat God die see moes inperk agter grense of selfs tralies (Job 38:8-11; Ps 104:6-9).

‘n Mens kry die ongewone gedagte in die vroeë Ou Testament dat God alreeds by die skepping teen die chaosmonsters ge­veg en hulle oorwin het. In Genesis 1 is daar nog spore van hierdie oor­tuiging dat hierdie magte van die begin af God se skepping be­dreig het en dat Hy sy skepping teen hulle moes beveilig. Daar­om lees ons telkens dat Hy sy skepping teen bedreiging beskerm. Hy skei die duisternis van die lig, die nag van die dag, die water bo die firmament van die water onder, en die see van die land (Gen 1:4, 7, 9, 14, 17). So beskerm Hy die lig, die dag, die aarde en die land as die woonplek van die mense. Die duister­nis, die nag, die waters daarbo en die see is bedreigings. En dit is met hierdie dinge wat die chaosmonsters vereenselwig word.

Hierdie magte speel nie meer in die Nuwe Testament ‘n rol nie. Daar word skynbaar ook nie in die Bybel ‘n direkte verband tussen hulle en die duiwel gelê nie. Hulle word net hier saam met die duiwel behandel omdat hulle ook boos is en teenstanders van God is wat sy skepping bedreig.

 

Satan/Duiwel

In die Ou Testament kom die woord “dui­wel” net ‘n paar keer voor (Deut 32:17; Ps 106:37 waar ons van “veld­duiwels” lees) en speel nie enige noemenswaardige rol nie.

Die vroeë dele van die Ou Testament ken ook nie die woord “Sa­tan” nie. Die skrywer van Openbaring identifiseer wel die slang van die tuin van Eden met hom (Op 12:9), maar dit gebeur nog nie in die Ou Testament nie. “Satan” kom net drie keer in die Ou Tes­ta­ment voor (Job 1 en 2; Sag 3; 1 Kron 21:1). Anders as in die Nu­we Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat die skepping en veral die mense probeer vernietig, is hy in die Ou Testa­ment ‘n onskuldige figuur. (*Toelating) Hy tree op as deel van die hemelse hofhouding wat in diens van God staan en sy bevele uitvoer. Hy het skynbaar die besondere funksie van ‘n soort publieke aanklaer wat mense dophou en kyk of hulle eer­lik is in hul diens aan die Here. Daarom kom rapporteer hy oor Job wanneer die engele voor die Here verskyn. Hy meen daar is bymotiewe by Job. Hy dink Job dien die Here net omdat die Here hom so seën. Die Here stem dan in dat hy Job op die proef stel, en hy voer die ooreenkoms wat hy en die Here bereik het, stiptelik uit, en later ook ‘n tweede keer (Job 1:6 ev; 2:1 ev).

Die implikasie is dat hy ‘n plek in die hemel het soos een van die engele, en dat hy sy werk getrou doen.

Hierdie rustige samewerking tussen die Here en Satan is ook die agtergrond van 1 Kronieke 21:1. Daar is baie geskryf oor die vreemde verskynsel dat ons in 2 Samuel 24:1 lees dat die Here Dawid aanhits om die volk te tel, maar in 1 Kronieke 21 dat Satan hom aanhits. Maar in die lig van wat ons in Job gekry het, is dit nie vreemd dat die Here en Satan saamwerk en dat die een skrywer kan sê dis die Here en die volgende een dis Satan nie. Die Here het Satan gebruik in sy diens.

Dit is natuurlik ‘n totaal ander prentjie as die een in die Nuwe Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat Jesus probeer verlei, die mense se lewens verwoes en selfs die natuur probeer vernietig.

Die implikasie hiervan is dat daar iewers iets dramaties moes gebeur het wat die Satan se karakter totaal verander het van ‘n gehoorsame dienskneg van God tot sy verbete teenstander. Ons kry nie baie verwysings daarna in die Bybel nie, en veral Esegiël 26-28 handel nie daaroor nie. Dit gaan oor die stad Tirus en oor sy koning.

 

Satan uit die hemel gedryf

Daar is egter wel in die Nuwe Tes­tament twee verwysings. Wan­neer die dissipels terugkeer van ‘n sending waarop Jesus hulle gestuur het en triomfantelik vertel dat selfs die duiwels hulle aan hulle onderwerp, hoor ons uit Jesus se mond: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” (Luk 10:18). ‘n Mens kan dit maklik in verband bring met sy posisie onder die engele soos ons dit in Job gekry het. Iewers in die verlede is hy dus uitgegooi uit die posisie wat hy onder die engele in die hemel gehad het.

Dit kom ooreen met die beskrywing van ‘n oorlog in die he­mel (Op 12), wat skynbaar ook lank tevore plaasgevind het. Die draak wil die kind verslind, maar die kind word deur God in be­sker­ming geneem. Dan kom die oorlog in die hemel waarin Mi­gael en sy engele die draak en sy engele verslaan. Hulle word uit die hemel op die aarde neergegooi. Uitdruklik word hier daarna verwys dat die draak/duiwel/Satan die gelowiges aanhoudend by God aan­gekla het. Net soos in Job gaan dit dus nog steeds om die Satan as aanklaer, maar die toon van hierdie uitspraak is anders as dié in Job. Dit is negatief, beskuldigend.

Hierdie verwysings laat duidelik deurkom dat die verhouding tussen die Here en Satan ná Job skeefgeloop het, dat hy in opstand gekom het en daarom uit die hemel uitgegooi is. En die gevolg is sy verbete stryd om die mense te vernietig gedurende die aardse bediening van Jesus. Trouens, hy probeer ook die natuur vernietig. Dis opvallend dat die woestyn sy blyplek is, dié deel van die aarde wat alreeds vernietig is. Jesus word ook deur die Gees die woestyn ingelei om deur Satan versoek te word (Matt 4:1 ev).

Uit Openbaring 12 is dit ook duidelik dat dit nie net om een wese, Satan, gaan nie, maar om engele saam met hom. Dit is die bose magte waarvan ons dikwels in die Evangelies lees.

 

Skrywer: Prof Adrio König