Is God ’n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13)

Is God ‘n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Met die eerste lees van hierdie gelykenis lyk dit asof Jesus ten gunste is van die oneerlike optrede van hierdie bestuurder.  As ‘n mens vinnig deurlees, wil dit selfs voorkom asof Jesus mense aanmoedig om so met geld om te gaan.  Kan dit regtig die geval wees, veral in ‘n boek waar rykdom en uitbuitery sterk veroordeel word?

2. Jesus se gebruik van gelykenisse:

Jesus het baie in gelykenisse gepraat.  So het Hy die mense belangrike lesse oor die lewe, en veral oor die koninkryk van God (vgl. Matteus 13), vertel.  Deur hierdie lesse aan die alledaagse lewe te koppel, wys Hy sy dissipels dat hierdie lesse in die lewe sin maak.

3. ‘n Oneerlike bestuurder:

Waar meeste van die gelykenisse reguit is (met óf ‘n sterk “nee”, óf ‘n sterk “ja” as antwoord), kom Jesus hier met ‘n “ja” na vore wat eintlik ‘n “nee” moet wees.  Die oneerlike bestuurder sorg vir homself deur ander mense om te koop (met sy baas se geld), sodat hulle vir hom kan sorg as hy dalk afgedank word (Lukas 16:4).  Die skandes in die gelykenis kring verder uit wanneer die baas dit agterkom en uiteindelik die oneerlike bestuurder prys vir sy oneerlikheid (Lukas 16:8).  Die toneel klink amper heel hedendaags.  Ons hoor en sien dit daagliks in die lewe.  Dit is hierdie gebeure wat amper die idee skep dat Jesus die oneerlikhede goedkeur.

Jesus se verklaring in vers 9 bring die gelykenis in ‘n heel ander lig.  Dit is amper asof Jesus met sarkasme reageer op die optrede van die bestuurder en sy baas.  En Hy trek hierdie sarkasme deur na die alledaagse lewe.  As jy net daarop ingestel is om na jouself te kyk, sê Jesus by implikasie, dan is hierdie die manier waarop jy mag optree.  Dan maak etiek en God se wil mos nie vir jou saak nie.  En ja, die mense van hierdie wêreld wat dieselfde dinge doen, gaan waarskynlik vir jou sorg as jy in die moeilikheid land.  Jy het immers vir hulle gesorg om jou eie bas te red.  Hulle sal jou wel in hulle “ewige wonings” ontvang.  Hulle ewige wonings verskil egter sterk van God se ewige woning.  Dit is ‘n ewige woning van verderf, nie van God se heerlikheid en lewe nie.  Lukas se sterk ingesteldheid teen die rykes kom ook hier na vore in die sin dat Jesus die “oneerlike mammon” (geld) as die wortel van die kwaad alhier uitlig.  Tog moet ons erken dat Jesus (en Lukas) ‘n punt beet het.  Geld word al te maklik misbruik om mense om te koop of te beïnvloed.  Mense se gierigheid en selfgerigtheid kom duidelik na vore in die wyse waarop hulle met geld omgaan.

4. ‘n Betroubare God:

In vers 10-12 stel Jesus die gelykenis in die regte perspektief.  Dit gaan oor betroubaarheid.  God (en ander mense) vertrou ons met sekere dinge.  As ons nie eers betroubaar kan wees in die klein dingetjies wat nie ewigheidswaarde het nie (lees geld), hoe kan ons vertrou word met die groot dinge, die geestelike en ewige dinge?  Hoe kan ons as God se bestuurders optree (vgl. Genesis 1:26-27), as ons nie eers ons eie self betroubaar en eerlik kan bestuur nie?  As ons onsself, geld en ons besittings aanbid, kan ons nie genoeg aandag gee aan God, wie ons eintlik moet aanbid, nie.

In ‘n samelewing waar korrupsie en bedrog en omkopery hoogty vier, is hierdie uiteindelik ‘n belangrike gelykenis om in die oog te hou.  As gelowiges kan ons nie onsself uitverkoop aan die gierigheid en verkeerde praktyke van hierdie wêreld nie.  Ons het ‘n taak en roeping om deurentyd te soek na God se wil vir ons lewens.  En die etiese waardes van sy koninkryk gaan nie oor my belange en begeertes nie, maar oor God se etiek en wil.

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Die vyand van God (die duiwel oftewel Satan)

Die vyand van God (die duiwel oftewel Satan)

Die Bybel erken onomwonde dat soos God daar is, is daar ook bose magte wat Hom teenstaan.

Die leier van die bose magte dra die naam van Satan of die duiwel. Algemeen word aanvaar dat die duiwel ʼn engel is wat rebels geraak het teen God. ʼn Klomp engele het in die rebellie agter hom aangeloop. En hulle is ʼn klomp vegters. Om elke hoek en draai probeer hulle God en sy mense seermaak. Satan se hoofdoel, sê Openbaring (Openbaring 2-3), is om God te probeer onttroon en sy plek te vat. Hy wil probeer keer dat mense God aanbid sodat hulle hom eerder moet aanbid.

Voor die duiwel teen God gedraai het, was hy die aanklaer van mense by God (Sagaria 3:1- 10; Job 1-2). Hy het ook nie op hom laat wag om mense te probeer verlei om dinge teen God te doen nie. Kyk maar wat het hy met Adam en Eva gedoen. Daarom is van sy name in die Bybel die versoeker/verleier; die ou slang, Beëlsebul, die prins van die demone, of van die magte in die lug, god of heerser van hierdie wêreld. Hy het sonde in die wêreld ingebring (2 Korintiërs 11:3) en spesialiseer in moord en leuens (Johannes 8:44). Hy wil gedurig gelowiges mislei. Hy kom soms onskuldig voor (soos ʼn engel van die lig), maar dit is alles bedrog – hy is soos ʼn brullende leeu wat mense wil verskeur (1 Petrus 5:8).

Jesus het egter die duiwel oorwin en elke gelowige deel in die oorwinning van Jesus. As ons naby Jesus bly hoef ons glad nie vir die duiwel bang te wees nie

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Die Drie-eenheid)

God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Die Drie-eenheid)

Eers in die vierde eeu het die Christendom staatsgodsdiens geword.

Tot op daardie stadium was die Christendom nie eers deur die staat erken as godsdiens nie; nee, hulle is eerder vervolg. Dit was eers toe Keiser Konstantyn van die Romeinse Ryk ʼn Christen geword het dat die Christendom as staatsgodsdiens verklaar is. Dit was ʼn vinnige verandering: van ʼn nie-erkende godsdiens na die godsdiens van almal in die Romeinse Ryk… Die mense in die Ryk, wat die Christendom nie geken het nie, wou toe natuurlik weet wie díe God is wat hulle moes aanbid. By die Sinode van Nicea (in Turkye) het die Christene toe verduidelik wat hulle oor Jesus glo. By ʼn latere sinode het hulle ook oor die Heilige Gees as God gepraat. Die uiteensettings het as die Drie-eenheidsleer bekend geword.

Daar is onomwonde verklaar dat Christene in net een God glo. Tog is daar drie persone, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees wat die een God uitmaak. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God. Die Vader is egter nie die Seun nie, en die Seun ook nie die Vader nie. Net so moet die Gees van die Vader en die Seun onderskei word. Die Gees is in die Vader en die Seun. Tog is die Seun en die Gees nie minder of anders God as die Vader nie. Die Drie is onderskeibaar maar tog een.

Dit is moeilik om te verstaan, maar ʼn mens kan God nie altyd verstaan nie. Hy is te groot om mooi in die hokkies van ons breine in te pas, anders was Hy nie God nie. Party mense het die Drie-eenheidsleer so verduidelik. Dit is soos ʼn kers: daar is was, ʼn pit en ʼn vlammetjie, maar dit is tog net een kers. Ander het weer gesê dat dit een God is wat verskillende “maskers” opsit, naamlik, as die Vader, die Seun en die Gees. Al die verduidelikings het maar hulle probleme. Uiteindelik moet ʼn mens maar net aanvaar dat Jesus en die Gees soos die Vader God is. Verklaar sal ʼn mens sekerlik nie kan nie, want ʼn mens kan God nooit regtig verklaar nie. Onthou Hy is God en ons is net mense

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy