Die Heilige Gees

Die Heilige Gees – Francois Malan

Chris vra:

Hoe werk die Heilige Gees en wat is die funksie van die Heilige Gees?

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Die Heilige Gees is God, die Gees van God wat vir Christus en die verlossingswerk van Christus aan die kruis in ons harte bring en ons in gemeenskap met Christus laat lewe. Lees wat Johannes 16:5-11 sê van die werk van die Heilige Gees: Hy oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel:

1.    Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde en roep ons tot berou daaroor – die vernaamste sonde is ongeloof in God se openbaring deur Christus, die verwerping van die evangelie, die goeie tyding oor Christus se verlossing vir ons. Die verwerping van God se liefdesdaad  (vergelyk  Johannes 3:16) beteken dat ek nie uit sy liefde wil lewe nie.

2.    Hy wys vir ons hoe om van ons sonde verlos te word deur te glo in Christus wat vir ons sonde gesterf het en deur God opgewek is uit die dood. Daarmee het God Christus se offer vir ons aanvaar. Die Heilige Gees lei ons om te glo dat my sonde vergewe is voor God en dat Hy my aangeneem het as sy kind (vergelyk Romeine 8:16).

3.    Die Heilige Gees oortuig ons van die oordeel van God wat aan die kruis voltrek is, dat die Satan daar oorwin is (vergelyk Johannes 12:31). Die Heilige Gees is die krag van God wat vir my die krag gee om nee te sê vir die versoekings van die Satan en van my eie hart.

Dit doen die Heilige Gees deur ons te bereik met die prediking van die Woord (in die kerk, deur die Bybel, deur die getuienis van mense, deur ons kennis van die Woord van God), beslag te lê op ons en ons in te lyf in die liggaam van Christus, sy kerk. As die Heilige Gees Christus aan ons preek, bring Hy Christus in ons harte en laat ons in Christus wees. Hy bewerk in ons die geloof in Christus (vergelyk Romeine 8:9-11). Maar in ons bly Hy God, die grote God voor wie ons slegs in dankbaarheid kan buig, die Here wat ons in alle waarheid lei (Johannes 16:13), ook in wat ons dink en beplan.

Hy lei ons om God lief te hê, en mekaar lief te hê. Deur Hom bly ons in God se liefde en God se liefde in ons (1 Johannes 4:11-16).

 

Outeur: Dr Francois Malan

 

 

 

 




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (7)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (7)

Galasiërs 6:1-10 Verdere vermanings

Paulus nader nou die einde van sy brief en soos sy gewoonte was, maak hy nou ‘n paar losstaande opmerkings. In hierdie geval bestaan dit uit ‘n klomp losstaande vermanings. Dit sluit egter nou aan by die voorafgaande aangesien dit alles te doen het met die vraag hoe die lewe van iemand wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, in die praktyk lyk. ‘n Mens sou die reeks vermanings in twee kon deel.

Al die vermanings in die eerste gedeelte (6:1-6) handel oor twee sake: Dat iemand onder beheer van die Heilige Gees lewe, kan ‘n mens sien uit sy/haar liefdevolle meelewing met ander en uit die bereidheid tot selfkritiek. Hoe lyk dít in die praktyk?

  • As ‘n gelowige ‘n ander gelowige “uitvang” dat hy/sy sonde doen (Paulus bedoel waarskynlik een van die praktyke van die sondige natuur wat in 5:19-21 genoem word.) behoort so ‘n gelowige nie daardie medegelowige te veroordeel nie. Iemand wat die Heilige Gees in sy/haar hart het, sal eerder so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp (6:1).
  • ‘n Gelowige wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, sal help om ‘n medegelowige se laste te dra. Die laste waarvan Paulus hier praat verwys na enigiets wat vir ‘n medegelowige die lewe moeilik maak.
  • Iemand wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, is bereid om homself/haarself krities te bekyk. Volgens 6:3-4 moet ‘n mens die volgende vrae aan jouself stel: Dink ek nie miskien dat ek belangriker is as wat ek werklik is nie? Is my doen en late werklik goed – nie as ek dit met ander mense s’n vergelyk nie, maar goed in die ware sin van die woord?
  • Gelowiges moet hulle geestelike leiers ondersteun. Hier dink Paulus waarskynlik aan finansiële ondersteuning van die mense wat op daardie stadium in die Christelike gemeentes verantwoordelik was vir die verdieping van lidmate se kennis en meelewing. Omdat dit so baie van hulle tyd in beslag geneem het, het hulle nie tyd gehad om aan te gaan met hulle gewone werk nie. Daarom moes die gemeentes vir hulle sorg.

In die tweede gedeelte (6:7-9) keer Paulus meer direk terug na die probleem in Galasië. Hy gebruik ‘n bekende beeld: dit wat jy plant, kom later op. Net so is dit op geestelike gebied! Die gelowiges wat hulleself (soos die Galasiërs oorweeg om te doen!) oorgee aan die sondige natuur, sal dood en verderf oes. Wie hulleself egter oorgee aan die Gees, sal die ewige lewe oes.

In 6:11 voeg Paulus nog ‘n kort opmerking by wat ongelukkig dikwels verkeerd gebruik word. Hy sê dat ‘n mens aan almal moet goed doen, veral aan die medegelowiges. Ongelukkig verstaan gelowiges dit soms so asof hier staan dat hulle net aan medegelowiges moet goed doen. Dis nie waar nie. Omdat gelowiges gedurig kontak met medegelowiges het, is dit vanselfsprekend dat ‘n mens van hulle nood bewus sal wees en hulle tot ‘n groot mate die fokuspunt van ons barmhartigheid sal wees. Tog mag dit nooit die ander uitsluit nie.

Galasiërs 6:11-18 Laaste waarskuwing en groet

6:11: In daardie tyd het die mense gewoonlik gebruik gemaak van professionele skrywers of sekretarisse (So iemand is ‘n amanuensis genoem) aan wie hulle dan hulle briewe gedikteer het. Paulus het ook dié gebruik gevolg. (In Romeine 16:22 kry ‘n mens selfs die naam van een van die sekretarisse wat Paulus se brief neergeskryf het.) Hoekom skryf Paulus self die laaste paar reëls van die Galasiërbrief? Dit was destyds die gebruik om self die laaste paar reëls van die brief wat jy gedikteer het te skryf om so die egtheid van jou brief te bevestig. Omdat die mense aan wie die brief geskryf is jou handskrif geken het, het hulle geweet dat die brief inderdaad van jou af kom en nie ‘n vervalsing was nie.

Hoekom skryf Paulus sulke groot letters? Hieroor stem geleerdes nie saam nie. Daar kan verskeie redes wees: 1. Paulus vestig net die aandag op die groot verskil tussen sy handskrif en die kleiner (netjieser?) handskrif van die sekretaris wat ‘n professionele skrywer was. 2. Die oorsaak kon oogprobleme of een of ander siekte gewees het. 3. Op dié manier wil Paulus beklemtoon hoe belangrik dit wat hy nou gaan skryf (vgl. 6:12-16), is. Dit is moeilik om ‘n keuse te maak, maar dit lyk of die derde moontlikheid die beste keuse is.

6:12-16: In hierdie gedeelte gee Paulus ‘n kort opsomming van alles wat hy in die Galasiërbrief wou sê. In dié kort opsomming haal hy die essensie van verlossing en Christenwees uit. ‘n Mens kan dit as volg opsom:

  • Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van ‘n mens se sonde te kry op grond van enige menslike prestasie (soos byvoorbeeld die besnydenis). Mense wat so dink, roem op menslike prestasies, maar dit is uiteindelik niks werd nie.
  • Die enigste manier om vryspraak van ‘n mens se sonde te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Dan kan mense nooit roem of trots wees op dit wat hulle reggekry het nie, maar wel op dit wat Christus gedoen het – veral die feit dat hy vir hulle gekruisig is. Omdat Hy aan die kruis gesterf het, het die sondige wêreld sy houvas op hulle verloor. Daarom kan hulle sê dat die wêreld vir hulle dood is.
  • As ‘n mens dít begryp, sal ‘n mens ook dadelik besef dat dit geen nut het om die hele tyd te stry oor die rol van menslike prestasie (byvoorbeeld besnydenis) in iemand se verlossing nie. Die heel belangrikste saak is dat mense wat in Jesus Christus glo, in God se oë reeds nuut is.
  • Die mense wat in Christus glo, is die nuwe volk van God. Daarom kan Paulus sulke mense tereg die ware Israel (God se Israel) noem alhoewel hulle glad nie Jode van geboorte is nie. Om deel van die ware Israel te word, is dit nodig om aan slegs een vereiste te voldoen, naamlik opregte geloof in Christus. Niks anders mag ooit as vereiste gestel word nie. Mense wat volgens hierdie beginsel leef, sal deur God geseën word.

6:17: Die littekens waarvan Paulus hier praat, verwys na die tekens van die fisiese lyding wat hy ter wille van Christus moes verduur tydens sy pogings om die evangelie wêreldwyd te verkondig. In 2 Kor. 11:23-27 noem hy ‘n hele reeks van sulke ontberings.

6:18: Soos wat Paulus se gewoonte is, sluit hy ook hierdie brief af met ‘n Christelike seëngroet. Heel gepas, beklemtoon hy God se genade. Die dwaalleer in Galasië het juis soveel veld gewen omdat hulle te min begrip vir God se genade gehad het!

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (6)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (6)

Galasiërs 5:1-12 Moenie julle vryheid prysgee nie!

Hierdie gedeelte vorm die hoogtepunt van die reeks argumente waarmee Paulus in 3:1 begin het nie. Dit is nie ‘n verder bykomstige argument nie, maar eerder die afsluiting van al die sy argumente tot dusver. Op grond van alles wat hy tot sover gedikteer het (vgl. 6:11) doen hy nou ‘n baie dringende oproep op die gelowiges in Galasië: Moenie swig voor die dwaalleer en so die vryheid wat julle in Christus het, verloor nie!

In 5:1 som hy die essensie van die Christelike godsdiens in een woord op: vryheid. Net soos vandag het mense destyds op allerhande maniere gestrewe na ware vryheid. Sommige Grieke het byvoorbeeld gedink dat ware vryheid beteken het dat ‘n mens kan doen net wat jy wil. Dit is egter nie waar nie. Paulus wys hier dat die mense se ewige strewe na vryheid slegs bereik kan word deur in ‘n verhouding tot God te staan te kom. Dit is slegs moontlik deur Jesus Christus.

Omdat Paulus besef hoe aantreklik die dwaalleer vir die gelowiges in Galasië lyk, waarsku hy hulle dringend om af te sien van hulle planne. Hulle mag hulle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie (5:1). Dit beteken dat hulle nie moet terugval na ‘n soort godsdiens wat op die oog af Christelik is nie, maar wat in wese geestelike slawerny is nie. In 5:2-4 spel hy vir hulle die ontsettende konsekwensies uit: As hulle sou toegee aan die dwaalleer, beteken dit dat hulle hulle band met Christus verbreek en die genade van God verbeur. Dit is baie kras woorde wat Paulus hier gebruik, maar dit is nodig dat hy dit doen. Dit waarvoor die gelowiges in Galasië wou swig, was nie maar net ‘n onskuldige aanpassing aan die evangelie nie. Dit was ten diepste ‘n valse evangelie omdat die fondament van die evangelie, God se genade, aantas.

In 5:5 lig Paulus ‘n verdere wonderlike kenmerk van Christenwees uit: ‘n Christen is ‘n toekomsmens – iemand wat uit hoop lewe. In Afrikaans druk die woord “hoop” gewoonlik onsekerheid uit. As iemand sê hy/sy hoop dit gaan reën, is hulle nie seker of dit gaan reën nie. In die Bybel word die woord “hoop” egter heeltemal anders gebruik, want dit druk absolute sekerheid uit. Paulus sê gelowiges kan met 100% sekerheid vorentoe kyk na die oordeelsdag, want hulle weet dat hulle vrygespreek sal word. Die rede vir dié sekerheid lê nie in hulleself nie, maar in God. Die wat in Jesus Christus glo, is reeds vrysgespreek van hulle sonde (vgl. 1:16). Dit sal by die oordeelsdag finaal bevestig word. Intussen is die werking van die Gees is bevestiging van hierdie sekerheid.

In 5:6 beklemtoon Paulus dat gelowiges nie net toekomsmense is nie, maar ook aksiemense. Omdat hulle in Christus Jesus is (aan Hom verbonde is), is geloof vir hulle nooit blote breingimnastiek nie. Inteendeel, dit gaan deur liefde tot dade oor. Dit gaan nie hier oor geloof én dade of soos dit baie keer verstaan word nie: glo eers en doen dan later (dikwels nog met die idee dat die doen so ‘n bietjie minder belangrik as die dade is!). Vir Paulus is dit één gebeurtenis: Dit wat saak maak, is nie die besny of nie besny-kwessie nie, maar glo-doen in Christus se liefde.

In 5:7-12 loods Paulus weer ‘n direkte aanval op die dwaalleraars. Hulle het verhoed dat die gelowiges in Galasië by die waarheid bly (5:7), hulle ongehoorsaam gemaak (5:8); hulle dwaalleer was besig om soos suurdeeg alles te deursuur; hulle het selfs beweer dat Paulus ook ten gunste van die besnydenis was (5:11). Daarom spreek hy die hoop uit dat God hulle mag straf (5:10). Die verkeerde optrede van die dwaalleraars wys watter geweldige verantwoordelike taak ons op ons skouers neem as ons vir ander gelowiges probeer leiding gee. As ‘n mens dit probeer doen, moet jy eers baie seker maak dat jy inderdaad die evangelie self reg verstaan en nie besig is om ander mense die afgrond in te help nie.

Galasiërs 5:13-15 Die groot gevaar!

Tot sover in die Galasiërbrief het Paulus op een gedagte bly hamer: Deur die doen van die wet kan ‘n mens nie vryspraak vir jou sonde kry nie. Die enigste manier om vryspraak te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Hy het oor en oor beklemtoon dat gelowiges vry van die wet is. Hulle hoef nie meer naarstigtelik die wet na te kom in die hoop dat God hulle sal vryspreek nie. Inteendeel, God gee vryspraak as ‘n geskenk aan die wat in Jesus glo.

Paulus besef egter baie goed dat mense hierdie gedagte heeltemal verkeerd kan verstaan. Gelowiges sou byvoorbeeld kon redeneer: As ons dan vry van die wet is soos Paulus hier sê, kan ons mos maar leef soos ons wil – solank ons maar net in Jesus glo. Dit is teen hierdie groot gevaar dat Paulus in 5:13-15 waarsku: Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie. Omdat alle mense – ook gelowiges! – hier op aarde nog onderworpe is aan hulle sondige menslike natuur, is die groot gevaar dat hulle sal toelaat dat hulle sondige natuur op loop sal sit met die geestelike vryheid wat hulle in Christus gekry het. Dit is egter totaal verkeerd omdat dit op ‘n groot misverstand berus. Christelike vryheid is nie net vryheid van (die wet nie), maar ook vryheid tot. Dit sê Paulus op ‘n aangrypende manier in 5:13: maar dien mekaar in liefde. Christelike vryheid moet gerig word op die naaste en gevoed word deur liefde. In die Afrikaanse vertaling gaan daar iets van die skok-effek van die Grieks verlore, want wat Paulus eintlik hier sê, is dat Christelike vryheid van mense slawe van die liefde maak. As ‘n mens dit reg verstaan, kan ‘n mens nooit ‘n houding hê van “ek maak wat ek wil nie”.

In 5:14 wys Paulus ook daarop dat Christelike vryheid nie noodwendig teenoor die wet van God staan nie. Hy haal ‘n vers uit Levitikus 19:18 aan waarin die beginsel van die liefde (wat hy so pas in 5:13 genoem het) ook genoem word. Die groot verskil tussen hom en die dwaalleraars in Galasië was egter watter rol aan die wet van God toegeken word. As ‘n mens (soos die dwaalleraars) sou dink dat die stiptelike nakom van die wet jou in ‘n beter posisie by God plaas, slaan jy die bal heeltemal mis. Aan die ander kant: As ‘n mens die dieper beginsel van opregte liefde agter die wet raaksien en dit as die maatstaf vir die praktiese uitleef van jou Christelike vryheid gebruik, verstaan jy die wet reg.

Galasiërs 5:16-26 Oorlog in julle binneste

Hierdie gedeelte is sekerlik die bekendste gedeelte in die hele Galasiërbrief. ‘n Mens moet egter versigtig wees om net hierdie stukkie te lees sonder om kennis te neem van dit wat Paulus in die res van sy brief sê. Daar is ten minste twee belangrike sake wat hy in die voorafgaande gedeeltes noem wat onontbeerlik is as ‘n mens 5:16-26 reg wil verstaan:

1. Geen mens kan vryspraak van sy/haar sonde kry deur goeie dade te doen nie. Die enigste manier om vryspraak vir ‘n mens se sonde te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Aan dié wat in Hom glo, skenk God uit genade vryspraak van hulle sonde.

2. As ‘n mens in Christus glo, is jy geestelik vry. Dit beteken dat jy nie lang lyste moets en moenies het wat jy hoef na te kom nie. Om 5:13-26 reg te verstaan, moet ‘n mens dus oppas om nie daarvan ‘n lys moets en moenies te maak wat nagekom moet word om ‘n mens se verhouding met God reg te stel nie. Dit werk op ‘n ander manier: Omdat gelowiges se verhouding met God reeds reggestel is omdat hulle in Jesus glo en hulle dus geestelik vry is, moet hulle ernstig daarna streef om ons vryheid reg te gebruik.

Die vraag waaroor dit nou gaan is: Hoe leef iemand wat deur geloof in Jesus Christus vryspraak van sy/haar sonde gekry het? Paulus se antwoord hierop is kort en kragtig: deur die Gees van God (5:16). Om die antwoord reg te verstaan, moet ‘n mens die geestelike stryd in ‘n mens se eie binneste raaksien. In 5:16-19 beskryf Paulus die geestelike stryd wat daar in die lewe van elke gelowige woed. (Let wel: dit gaan hier spesifiek oor gelowiges en nie oor ongelowiges nie.) Aan die een kant is daar die gelowige se sondige natuur, dit wil sê ‘n mens se natuurlike instink om eerder die verkeerde as die goeie te doen en veral om alles wat jy doen so te doen dat dit uiteindelik jouself bevoordeel. Aan die ander kant is daar die Gees van God wat elke gelowige in sy/haar hart het en wat lynreg teenoor die sondige natuur te staan kom – amper soos twee gevegslinies in ‘n oorlog teenoor mekaar opgestel word. Prakties beteken dit dat ‘n gelowige as’t ware verskeurd is tussen sy/haar sondige natuur en die Gees. Aan die een kant voel ‘n mens lus om toe te gee aan jou sondige natuur en aan die ander kant wil jy luister na dit wat die Gees in jou hart vir jou voorsê. Die punt is egter dat ‘n gelowige oomblik vir oomblik die regte keuse moet maak. Daarom maak Paulus twee keer die oproep: Laat lei julle deur die Gees van God.

In 5:19-5:26 illustreer Paulus nou prakties wat hy bedoel deur twee lysies te maak van die soort dinge wat in ‘n mens se lewe na vore kom – afhangende van wie die geestelike oorlog in die gelowige se binneste wen. In die destydse wêreld het mense (ook in die heidendom) gereeld gebruik gemaak van sulke lyste van goeie en slegte praktyke. Dit was ook gewild onder die Jode. In die Christendom kom dit ook baie gereeld voor. Benewens Galasiërs 5:19-23 is ander voorbeelde hiervan ook in die Nuwe Testament is te vind. Vergelyk Markus 7:21-22; Romeine 1:29-31; 1 Korintiërs 6:9-10; 13:13; 2 Korintiërs 6:6; 12:20; Kolossense 3:5,8; 1 Timoteus 1:9-10; 4:12; 6:11; 2 Timoteus 2:22; 3:2-5 en 2 Petrus 1:5-7. Alhoewel daar baie oorvleueling tussen die verskillende lyste is, stem hulle nooit presies ooreen nie. Die doel was egter nie om ‘n volledige lys te gee nie; eerder om ‘n illustrasie van goeie en slegte dade te wees. ‘n Mens moet dus versigtig wees om enigeen van die lyste (byvoorbeeld die vrug van die Gees in 5:22-23) te hanteer asof dit ‘n volledige lys is.

Indien die gelowige swig voor sy sondige natuur en hom/haar nie laat lei deur die Heilige Gees nie, sal allerlei praktyke van die sondige natuur in sy/haar lewe na vore kom. In 5:19-21 gee Paulus ‘n lys wat sulke praktyke illustreer. Dit lyk nie of hy doelbewus ‘n bepaalde patroon in sy lys gebruik nie. Wat wel opvallend is, is dat hy aan die begin en aan die einde van sy lys in die algemeen ‘n klomp sondige praktyke noem wat vir enige mens (selfs heidene met hoër morele standaarde) teen die bors sou stuit, terwyl hy in die middel van sy lys konsentreer op sondige praktyke wat hoogty gevier het onder die gelowiges in Galasië – juis as gevolg van die teenwoordigheid van die dwaalleraars. Voorbeelde van die meer algemene sondige praktyke is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery … dronkenskap en uitspattigheid. Voorbeelde van sondige praktyke wat die twis in Galasië weerspieël, is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns. Op dié manier wys Paulus weer eens vir hulle dat die dwaalleer presies die teenoorgestelde regkry as wat dit bedoel: Dit maak nie mense geestelik vry nie, maar slawe van hulle sondige natuur.

In 5:22-23 wys Paulus hoe die lewe van ‘n gelowige sal lyk wat werklik onder beheer van die Heilige Gees lewe. In sy/haar lewe sal die vrug van die Gees sigbaar word. As ‘n mens hierdie lys met die lys van die praktyke van die sondige natuur vergelyk is daar opvallende verskille. Daar is veral twee sake wat uitstaan:

  • Die praktyke (meervoud!) van die sondige natuur bestaan uit ‘n klomp onaangename goed wat feitlik almal verbind kan word aan skielike opwellings van emosies of sondige luste. Aan die ander kant bestaan die vrug (enkelvoud!) van die Gees uit ‘n klomp sake wat op ‘n stil en rustige manier in ‘n mens se lewe te voorskyn kom.
  • Die praktyke van die sondige natuur spruit voort uit mense se beheptheid met hulleself, hulle soeke na selfbelang en eiegeregtigheid. Daarteenoor is die vrug van die Gees ‘n gawe wat God deur sy Gees aan gelowiges gee wat naby aan Hom leef. Dit beteken natuurlik nie dat ‘n mens rustig agteroor kan sit en wag dat dié sake vanself te voorskyn moet tree nie. ‘n Mens moet self ook daadwerklik daarna strewe. Tog is dit nie ons pogings wat die deurslag gee nie, maar die feit dat ons aan Christus Jesus behoort (5:24) en ons sondige natuur daarom saam met Hom gekruisig is.
  • Paulus noem spesifiek dat die vrug van die Gees nie teen die wet is nie (5:23c). Dit bevestig dat daar niks met die wet as sodanig fout is nie. Die probleem ontstaan wanneer mense God se wet begin sien as ‘n manier om vryspraak van hulle sonde te verdien.
Geleerdes is nie eenstemmig oor die vraag of daar ‘n doelbewuste patroon in die lys in 5:22-23 is nie. Die meeste deel dit op in drie groepe van drie, maar dit bly moeilik om presies te sê wat elke groep van die ander groepe onderskei. Wat egter met groter sekerheid gesê kan word, is dat die een wat heel eerste in die lys staan (liefde) klaarblyklik die meeste klem kry. ‘n Mens sou selfs kon sê dat die ander agt almal voortspruit uit die liefde. (Vgl. ook 5:14.).

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (5)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (5)

Galasiërs 4:1-7: Mondig en onmondig

Paulus se vyfde argument sluit tot ‘n groot mate aan by dit wat hy in 3:21-29 gesê het. Die voorbeeld wat hy gebruik, is maklik om te verstaan: Gestel ‘n pa het in sy testament bepaal dat sy seun sy plaas kan erf, maar die pa gaan dood voordat die seun mondig is.

In so ‘n geval bepaal die testament gewoonlik dat die seun eers self wettiglik baas van die plaas word as hy ‘n sekere ouderdom bereik, sê nou maar by sy mondigwording. Tot en met daardie ouderdom, behoort die plaas reeds aan die seun, maar dit is nog syne in die volle sin van die woord nie. Ander mense bestuur dit vir hom. Die punt wat Paulus beklemtoon, is dit: Die datum wat die pa bepaal het, is vir die seun “‘n tyd van vrywording” (vgl. 4:2). In 4:3-5 pas Paulus dié voorbeeld dan op die wêreldgeskiedenis toe. Net soos die pa in die testament gemaak het, het God vir die mensdom ‘n datum van vrywording bepaal, naamlik toe Jesus na die wêreld gestuur is. Hy is uit ‘n vrou gebore (Hy was ‘n mens) en was aan die wet onderworpe (Hy was ‘n Jood) en het gekom om die vrywording te bewerkstellig. Dit het Hy reggekry deurdat Hy mense deur sy dood kom loskoop het (4:5) soos wat slawe destyds losgekoop kon word. Die wonderlike gevolg hiervan was dat hulle op grond daarvan deur God aangeneem is as sy kinders (4:5). (Net soos vandag is aangenome kinders destyds as ‘n ouer se ware kinders in die volste sin van die woord beskou.)

Vóór Jesus se koms was die mensdom slawe van wettiese godsdienstige reëls (4:3). Dit beteken dat hulle uitgelewer was aan allerlei vorme van godsdiens waardeur hulle probeer het om self hulle verlossing te verdien. Hiermee wil Paulus sê: Dit is glad nie meer nodig om self ‘n mens se verlossing te probeer verdien nie. Die tyd van vrywording het aangebreek toe Jesus gekom het. Wat egter onverstaanbaar is, is dat mense so graag terughinker na daardie vroeëre tyd. Dit is wat die Galasiërs gedoen het en dit was ‘n baie groot fout. In die woorde van Paulus se voorbeeld het hulle geestelik “onmondig” gebly.

In 4:6-7 noem Paulus een van die wonderlike voorregte waarin alle gelowiges kan deel omdat hulle God se aangenome kinders is: God stuur die Gees van sy Seun (d.w.s. die Heilige Gees) in hulle harte. Dit is nie iets spesiaals wat net met sekere gelowiges gebeur nie; God gee die Heilige Gees aan elke gelowige. Wat doen die Heilige Gees in hulle harte? Volgens 4:6 roep Hy in hulle uit: “Abba!” Dit beteken Vader! Die Heilige Gees oortuig mense dat hulle God se kinders is en help hulle om dit in die praktyk te ervaar, byvoorbeeld deur dit hulle eie gebedslewe te ervaar.

Galasiërs 4:8-20: Paulus se besorgdheid oor die Galasiërs

In hierdie gedeelte probeer Paulus nog steeds om die gelowiges in Galasië te oortuig om die valse leer te laat staan en na die waarheid terug te keer. Nou probeer hy dit egter op ‘n ander manier doen. In plaas daarvan om logiese argumente te gebruik (soos wat hy in 3:1-4:7 gedoen het) doen hy nou ‘n roerende emosievolle oproep op hulle. Dit bestaan uit twee dele:

  • In 4:8-11 probeer hy by hulle tuisbring hoe totaal onverstaanbaar hulle optrede is. Hulle was slawe van nikswerd afgode en het toe die wonderlike voorreg van geestelike vryheid gesmaak toe hulle tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het. Nou wil hulle weer hulle nuutgevonde geestelike vryheid vir ‘n ander soort slawerny gaan verruil – ‘n slawerny aan die Joodse wet! Vir Paulus is dit niks anders as slawerny aan ‘n klomp minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls nie! In plaas daarvan om hulle geloof in Christus uit te leef, moes hulle nou voortdurend konsentreer om tred te hou met besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare. Hier verwys Paulus na die Joodse godsdienstige feeskalender wat gebeure soos die Joodse Sabbat, Nuwemaansfeeste en die Joodse Paasfees ingesluit het. Nie alleen moes die feeste op ‘n spesifieke manier gevier word nie; volgens die Joodse interpretasie moes hulle ook op die presiese regte datums gevier word. (Soms het die Jode hewig onder mekaar verskil oor die datum waarop ‘n spesifieke godsdienstige fees gevier moes word.)
  • In 4:12-16 herinner Paulus die Galasiërs daaraan hoe goedgesind hulle vroeër teenoor hom opgetree het toe hy hulle besoek het. Alhoewel hy siek was toe hy by hulle aangekom het (4:13) het hulle hom uiters vriendelik ontvang. In daardie tyd was die mense geneig om baie maklik siektes aan die bose geeste toe te skrywe en het hulle dus kontak met siek mense probeer vermy – veral as dit vreemde mense was. Tog het die Galasiërs (wat vir Paulus op daardie stadium die eerste keer ontmoet het – vgl. 4:13) nie so opgetree nie. Hulle het hom ontvang asof hy Christus Jesus self was – natuurlik as gevolg van die bevrydende boodskap wat hy aan hulle kom verkondig het. Paulus verwyt hulle dat hulle goedgesindheid nou skielik opgedroog het (4:16).

Hiervoor moet die dwaalleraars natuurlik die skuld kry (vgl. 4:17-20). Hulle het besef hulle sal die Galasiërs makliker kan oortuig om die dwaalleer te aanvaar as hulle vir Paulus so ‘n bietjie “swart smeer”. Op dié manier het hulle dit reggekry om ‘n wig tussen Paulus en sy gemeentes in Galasië in te dryf. Hulle bedoelings was egter nie goed nie. Al wat hulle wou regkry, was om die Galasiërs so ver te kry om hulleself vir die valse leer te beywer (4:17). Inderdaad! ‘n Valse evangelie bring onvermydelik tweespalt in enige gemeente.

Galasiërs 4:21-21: Hagar en Sara

Die laaste argument  wat Paulus gebruik om die gelowiges in Galasië te oortuig om terug te keer na die ware evangelie is ‘n allegoriese argument. Destyds was allegorie een van die maniere wat gebruik is om die betekenis van die Ou Testament te verduidelik. Paulus het die uitlegtegniek waarskynlik aangeleer toe hy nog ‘n Skrifgeleerde was. Dit het basies daarop neergekom dat ‘n mens ‘n verhaal uit die Ou Testament neem en dan probeer om dieper betekenis agter die gebeure te ontdek wat dan die ware geestelike betekenis van die gebeure sou wees.

In hierdie geval neem Paulus die bekende gebeure in Genesis 16 en 21: Toe Sara nie kon kinders hê, het Abraham ‘n kind (Ismael) by Sara se slavin, Hagar, gehad. Later het Sara toe ook ‘n seun (Isak) gehad nadat die Here vir hulle vooraf so ‘n belofte gegee het. Sara het later by Abraham aangedring om vir Hagar en Ismael weg te jaag. Volgens Paulus is daar ‘n dieper, geestelike betekenis agter hierdie gebeure wat van toepassing is op die groot probleem wat hy met die gemeentes in Galasië het. Wat vir hom belangrik is in die verhaal, is die feit dat Hagar ‘n slavin was terwyl Sara vry was. Dié twee gedagtes maak hy dan van toepassing op die probleem in Galasië. Om die dieper geestelike betekenis agter Hagar te verduidelik, verbind hy haar eers met Sinaiberg. By Sinai het God ‘n verbond met die Joodse volk gesluit en aan hulle die wet (wat vir die dwaalleraars so verskriklik belangrik was) gegee. Dan verbind hy weer Sinaiberg aan die huidige Jerusalem, die “hoofstad” van die Joodse godsdiens. Dit was na alle waarskynlikheid ook die plek waarvandaan die dwaalleraars wat in Galasië doenig was, gekom het. Vir Paulus is die belangrikste gedagte dat die Joodse godsdiens en ook die dwaalleer wat in Galasië verkondig word, niks anders is as ‘n vorm van geestelike slawerny is nie. As ‘n mens probeer om jou verlossing te verdien deur die wet stiptelik na te kom, word die wet jou baas, as’t ware ‘n tiran wat jou in sy mag kry.

Volgens Paulus is daar egter ook ‘n dieper geestelike betekenis agter Sara. Sy staan vir geestelike vryheid – iets wat ‘n mens nie met Jerusalem, die “hoofstad” van die Joodse godsdiens kan assosieer nie, maar wel met die hemelse Jerusalem. Vir Paulus is dit juis die geestelike moeder van die mense wat werklik in Jesus glo en nie op die wet vertrou nie. Daarom doen hy ‘n dringende oproep op die Galasiërs in 4:28: Hulle moet besef dat hulle soos Isak en nie soos Ismael is nie. Hulle is geestelik vry en mag daarom nie toelaat dat die dwaalleraars hulle slawe van die wet maak nie. Soos Sara haar slavin en die se seun weggejaag het (vgl. Genesis 21:10), moet hulle ook die dwaalleraars wegjaag (4:30).

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie