Gaan die Jode en die Moslems hel toe?

Gaan die Jode en die Moslems Hel toe? – Kobus Kok

Saartjie Bester vra:

Ek weet dat die enigste weg na God is deur Jesus, maar is dit werklik so dat God die Jode en Moslems sommer net in die Hel sal laat beland? Dis dan die grootste meerderheid van alle nasies?

Antwoord:

Gaan die Jode en die Moslems hel toe?

Sjoe, watter uitdagende vraag, Saartjie! Ek onthou toe ek ‘n seuntjie was, kon ek gewoon nie verstaan hoe dit werk dat God so lief vir die Jode was en hoe hy hulle uitgekies het, gered het, telkens vergewe het en dan skielik besluit hulle is nie meer sy kinders nie. Dit was vir my ook nog altyd moeilik om te verstaan. In my hart is ek baie lief vir die Jode en kry ek hulle dikwels so jammer as ek kyk na dit wat die wêreld met hulle maak.

So met die tyd, toe ek teologie studeer het, het ek al meer begin verstaan hoe die Bybel oor die saak dink. Die Bybel is tog vol van die tekens van die genadige, liefdevolle God. Dit is hierdie God wat ‘n leier soos Moses kies en die volk uit slawerny red. Dit is dieselfde God wat in Jona die mense van Nineve ‘n tweede kans gee toe hulle eintlik verwoes moes word. Selfs nie eers Jona het kans gesien om die liefdevolle hart van God aan die mense te openbaar nie, maar God het ander planne gehad. Hy het ‘n plan en ‘n hart vir mense. Dit is hierdie selfde God wat lief is vir Dawid, wat hom uithaal agter die lammers en hom die herder van Israel maak. Kort daarna in 2 Samuel 11 maak Dawid die fout van sy lewe, vermoor Batseba se man en slaap met haar. Die kindjie wat sy kry gaan tragies dood. Maar dan omskep God alles en die einste Batseba gee geboorte aan koning Salomo. Dawid se mees dwase besluit word omskep as die God van liefde en tweede kanse die wyse Salomo gebore laat word. Dit is hoe ek vir God leer ken in die Ou Testament. God is regverdig en hy straf, maar hy is ook oneindig liefdevol en Dawid skryf Psalm op Psalm waarin hy die grootheid en majesteit van hierdie God besing.

In die Nuwe Testament dieselfde. Volgens Paulus en Johannes is dit God wat die verkeerde mense lief het, vir my en vir jou. Dit is hy wat na ons toe kom toe ons nog vyande van Hom was en toe ons hom nie liefgehad het nie – toe ons op ons lelikste was het hy Sy liedevolle hand uitgestrek en ons na sy vaderhart getrek soos ‘n pa wat uitreik na sy kind (vgl. Romeine, Johannes 3:16).

Ongelukkig is ons telkens soos die kinders wat God se hand wegstoot, wat Hóm verwerp. In ons doen en late is ons diegene wat teen hom besluit. Soos ‘n vader wat in sy hart huil as sy kind hom verwerp, net so kan ek myself indink dat God huil oor die manier waarop ons hom wegstoot. Tog bly sy hande en sy hart oop. Iemand het eenmaal gesê: “If God feels far away, guess who moved?” Ongeloof is nie God se skuld nie. Dit is ons skuld. Richard Hays, ‘n bekende Nuwe Testamentiese geleerde, skryf dat met die koms van Jesus het daar ‘n reuse magnetiese veld die wêreld binne gekom. Mense word daarna óf aan die positiewe kant óf aan die negatiewe kant daarvan geposisioneer.

By bybelkennis.co.za gaan dit oor hoe die Bybel oor bepaalde sake dink. As ek die Bybel reg verstaan, deur die bril van die Nuwe Testament, is dit volgens iemand soos Johannes baie duidelik dat daar net een weg is na die God van die heelal, en dit is deur Jesus (vgl. Johannes 14:6). Johannes sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Vir Johannes is daar buite Jesus geen redding nie en in sy evangelie is diegene wat Jesus verwerp, nie kinders van God nie (vgl. Johannes 8:44).

Miskien is dit die heel veiligste indien ons die vraag of Jode en Moslems en  ander nou hel toe gaan of nie eerder oorlaat aan die God van die Skepping. Omdat God, Gód is, en nie ‘n mens is nie, staan ek persoonlik in nederigheid voor Hom en vertrou Hom vir sy oordeel sonder om een oomblik te twyfel oor sy wysheid. As jong seun het so ‘n vraag my baie gepla, maar nou pla dit my nie meer nie omdat ek met my hele hart glo dat die God van die kosmos vol liefde, regverdig, genadig en volkome wys is, meer as wat ek kan bid of dink. Daarom rus ek in die wete dat Hy weet wat Hy doen. Sy karakter is onbetwisbaar…

Intussen lê die appèl op my en jou om die evangelie te versprei, juis omdat ons glo dat die evangelie, die boodskap van redding, bestem is om die almal te bereik en omdat dit Jesus se laaste opdrag in Matteus 28:19 was: “ 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Jesus se laaste woorde sien ek die liefde en die gerigtheid van God in aksie eerder as die oordeel. Dit moet uiteindelik ook ons hart en gesindheid wees!

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Die Openbaring van Petrus (2)

Die Openbaring van Petrus (2)

Hoe lyk dit in die hel? Omdat daar in die Nuwe Testament nie veel detail oor die hel gegee word nie, het Christene later verhale uitgedink waarin baie meer detail oor die hel gegee word. Sulke boeke word “apokalipse” genoem. Een van die bekende Nuwe-Testamentiese apokalipse is Die Openbaring van Petrus (nie regtig deur Petrus geskryf nie!).

Die uittreksel hieronder wys hoe die hel in hierdie boek beskryf word.

21Maar reg oorkant daardie plek het ek nog ‘n plek gesien, ‘n donker, droewige plek. Dit is die plek waar mense gestraf word. Die mense wat daar gestraf word en die engele wat hulle gestraf het, het almal donker klere aangehad, net so donker soos die lug daar was.

22Party van die mense wat daar was, het aan hulle tonge gehang. Dit is die mense wat afskuwelike dinge gesê het oor mense wie se lewe reg was. Onder hulle is vuur gemaak wat hulle gebrand en gepynig het.

23Daar was ook ‘n groot meer vol brandende slyk. Binne-in die brandende slyk was mense wie se lewe op aarde net vir ‘n tyd reg was. Engele wie se werk dit was om hulle te straf, was oor hulle aangestel. 24Daar was ook ander mense, vrouens wat aan hulle hare opgehang was bokant die kokende slyk. Dit is die vrouens wat hulleself mooi gemaak het om met mans te gaan seks hê. Die mans wat met hulle seks gehad het en hulleself onrein gemaak het, was ook daar. Hulle was aan hulle voete opgehang en hulle koppe was binne-in die slyk. Hulle het geskreeu: “Ons het nooit gedink ons sal in hierdie plek kom nie!”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Daar waar die duiwel bly (die hel)

Daar waar die duiwel bly (die hel)

Waar is die hel? Niemand weet nie, maar ons weet wel wat die hel is. Die Nuwe Testament het verskillende woorde wat vir ons help om mooi te verstaan wat met die doderyk en onderwêreld bedoel word. Partymaal krap mense die woorde en gedagtes deurmekaar en dan sit ʼn mens met ʼn deurmekaarspul

  • Daar is die doderyk (Griekse woord = hades; Hebreeus = sheol). Dit is waar mense wat dood is, heengaan. Jesus is byvoorbeeld ook doderyk toe volgens 1 Petrus 3:19-20. Sondae bely ons in die geloofsbelydenis dat Jesus “ter helle” neergedaal het. Dit beteken nie dat Jesus in die hel was waar mense vir hulle sonde gestraf word nie. Nee, dit beteken dat Hy in die doderyk was. Soms praat mense daarvan as die hel en dan maak dit ʼn mens deurmekaar. Hulle moet eerder van doderyk praat. Dit word ook die “gevangenis” genoem – die doderyk word soos ʼn gevangenis voorgestel, omdat as jy eers daar is, jy nie kan uitkom nie. Behalwe natuurlik as iemand die sleutel het… en Jesus het dit. Daarom weet ons Hy gaan ons uit die dood laat opstaan. Ons gaan uit die gevangenis uitstap.
  • Dan is daar die hel (Grieks = gehenna) waar mense vir hulle sondes gaan betaal. Dit is die nare plek waar niemand wil land nie. Die Nuwe Testament brei nie eintlik uit oor wat alles daar gaan gebeur nie, behalwe dat beelde van vuur gebruik word. Dit gaan iets verskrikliks wees. Mense wat nie aan God behoort nie gaan daar vir ewig sonder Hom in hulle boosheid gestraf word.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy