Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die Hemel voorstel?

HOE MOET GELOWIGES HULLE BESTAAN IN DIE HEMEL VOORSTEL?

Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die hemel – die sogenaamde tussentoestand, tussen dood en opstanding – voorstel? Dit sal ‘n tyd wees waar die verlossing van alles wat belemmerend op die verhouding met God en naaste ingewerk het, gevier kan word, waar verdere groei kan plaasvind, en waar mens verder kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Dis geen plek en tyd vir verveling nie.

Hoe moet mens die hemelse bestaanswyse voorstel?

Die hemelse bestaanswyse moet onderskei word van die opstanding. Die hemel is die sogenaamde tussentoestand – tussen ons dood en die einde van die wêreld. Laasgenoemde hou in: die eindoordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde.

Maar oor hierdie onderskeid stem teoloë nie saam nie. Want die Bybel is nie baie duidelik hieroor nie. Die Bybel praat baie meer oor die transformasie van hierdie sondige bedeling as oor ons bestaan in die hemel. Dit praat oor die opstanding(sliggaam), die koms van God se koninkryk, en die nuwe hemel en aarde. Daarom sê sommige: Ons hemelse bestaan is niks anders nie as die begin van ons bestaan in die nuwe hemel en aarde. Christus dien hier as voorbeeld: Hy het gesterf, en na drie dae opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam.

Die teenargument is egter: Nog net Christus het so opgestaan. Hy is die eersteling uit die dood en verteenwoordig ons verheerlikte bestaan tans by die Vader. Na die dood deel gelowiges weliswaar voorlopig hierin, want ons is by Christus. Maar God se koninkryk moet eers finaal kom voordat gelowiges beklee word met verheerlikte liggame.

Indien ons aansluit by laasgenoemde siening, waarin bestaan ons lewe in die hemel dan?

1.         Teoloë is dit eens dat menswees, Bybels gesien, ‘n eenheid van gees, siel, en liggaam is. Die dood is dus nie ‘n skeiding van siel en liggaam met die liggaam wat vergaan en die onsterflike siel wat na God terugkeer nie. Nee, die dood is ‘n afbraak van ons totale menswees – gees, siel en liggaam. Ons kan wel sê dat dit wat essensieel ek is, deur God bewaar word in die dood. Paulus sê immers (Filippense 1:23): “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees.” Dis daardie “ek” -die volle mens – wat die hemel saam met Christus bewoon.

2.         Ons hemelse bestaanswyse is verder ‘n verloste bestaan. Die hemel is dus veral ‘n verlossingsbegrip. Dikwels, by die dood van iemand wat lank gely het, sê ons: sy/haar dood was ‘n verlossing. Bybels gesien nie ‘n verlossing van die aardse, liggaamlike bestaan, asof dit iets sleg is nie. Daar was inderdaad in die antieke tyd so ‘n standpunt, die gnostiek genoem, wat gesê het dat ons siele gevange gehou word deur ons aardse liggame. Slegs deur kennis kan ons ontkom aan die aardse, met die dood as finale verlossing.

Nee, die hemel is nie ‘n verlossing in hierdie sin nie, maar wel: verlossing van die broosheid, gebrokenheid, lyding en sonde wat die lewe kenmerk. Daarom staan Christus sentraal in die hemel. Daar is geen hemel sonder Christus nie. Die hemelse bestaanswyse het dus twee kante: Enersyds word ons bevry van dit wat altyd gekeer het dat ons voluit mens na God se bedoeling kan wees. Die Hebreërboek praat daarom van die uitstaande Sabbatsrus. Ons rus dan van dit wat ons afgerem en moeg gemaak het. Andersyds: Dan kan die lewe wat God in ons begin het tot volle ontplooiing kom. Dis die lewe in geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is. Dit waaraan God gebou het tydens ons aardse lewe, breek dan in sy volle glorie deur.

3.         Die hemelse bestaan is nie vervelig nie. Baie keer wonder mense: Maar wat gaan ons heeldag doen in die hemel? Teoloë is dit al meer eens dat daar in die hemel steeds ruimte vir verdere arbeid en ontwikkeling sal wees – ‘n verinniging van wat God reeds in ons begin het. Mens kan jou indink dat die moordenaar aan die kruis ‘n paar dinge sal wil regmaak met God en sy naaste. Of dat iemand wat as klein kindjie gesterf het, die wonder van sy of haar kindskap van God verder wil ontdek. Of dat mense wat met allerlei gestremdhede geworstel het, hulle nuutgevonde vryheid sal wil eksploiteer. Ja, daar sal nie een van ons wees wat nie behoefte sal hê aan verdere groei nie. En die hemel is die ideale plek daarvoor. Daar sal ons voluit kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Want dít is die uiteindelike doel van God: die nuwe hemel en aarde. Punt is: die hemel is nie ‘n vervelige plek nie.

Is bogenoemde te spekulatief? Wel, die Bybel nooi ons uit om saam te dink oor waarheen God met ons oppad is, ook oor ons hemelse bestaanswyse. Want dit is ons bestemming, ten minste as ons aan Christus behoort. Solank mens net binne die bane bly wat die Bybel vir ons aanwys, kan mens maar seker bietjie gelowig spekuleer.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl 

 




Die Openbaring van Petrus (1)

Die Openbaring van Petrus (1)

Hoe lyk dit in die hemel? Omdat daar in die Nuwe Testament nie veel detail oor die hemel gegee word nie, het Christene later verhale uitgedink waarin baie meer detail oor die hemel gegee word.

Sulke boeke word “apokalipse” genoem. Een van die bekende Nuwe-Testamentiese apokalipse is Die Openbaring van Petrus (nie regtig deur Petrus geskryf nie!). Die uittreksel hieronder wys hoe die hemel in hierdie boek beskryf word.

4Die Here Jesus het verder gesê: “Kom ons gaan na die berg toe om te gaan bid.” 5Ons twaalf dissipels het saam met Hom gegaan en Hom gesmeek om vir ons een van sy volgelinge te wys wie se lewe reg was, maar wat al dood was. Ons wou graag sien hoe hulle lyk en dan moed skep sodat ons die mense wat na ons luister, kon aanmoedig. 6Toe, terwyl ons nog besig was om te bid, het daar skielik twee mans voor die Here gestaan! Ons kon nie na hulle kyk nie, 7want hulle gesigte het geskitter soos ‘n sonstraal, hulle klere het geblink soos iets wat geen mens nog ooit gesien het nie! Ja, geen mens kan beskryf of begryp hoe wonderlik hulle aangetrek was en hoe pragtig hulle gesigte was nie! 8Toe ons hulle sien, was ons verbaas, want hulle lywe was witter as die witste sneeu en rooier as die rooiste roos. 9Die rooi en die wit kleure het gemeng en was so mooi dat ek eenvoudig net nie kan verduidelik hoe mooi dit was nie! 10Hulle hare was gekrul en baie mooi. Dit het pragtig om hulle gesigte en oor hulle skouers gehang, soos ‘n krans wat gevleg is van nardusbloeisels en blomme van allerhande kleure of soos ‘n reënboog in die lug. Ja, hulle het pragtig gelyk! 11Toe ons sien hoe mooi hulle lyk, was ons verbaas, want hulle het sommer skielik net verskyn.

12Ek het na die Here toe gegaan en vir Hom gevra: “Wie is hierdie twee mense?” 13Hy het vir my gesê: “Dit is twee van my volgelinge wie se lewe reg was toe hulle op aarde was. Julle wou mos gesien het hoe hulle lyk.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)

Die hemel is die plek waar God is. Die mense in die Bybelse tyd het gesê dat God bo is – in die hemel. Ons bly hier op aarde en onder die aarde is die doderyk. Hoe verder jy dus van bo af onder toe beweeg, hoe verder beweeg jy weg van God af. So het hulle dit vir hulleself voorgestel.

As die Bybel nou wil vertel wat met ons gaan gebeur as die Here weer kom, word daar gesê dat ons hemel toe gaan. Dit is maar ʼn ander manier om te sê dat ons vir altyd by en saam met God gaan wees. Kyk na die volgende drie beskrywings in die Bybel:

  • 1 Tessalonisense 4:15-17: hier word gesê dat Jesus op die wolke sal verskyn en ons sal kom haal. Hy sal ons dan saamvat, die hemel in. Dit is ʼn ander manier om te sê dat gelowiges vir altyd sal wees waar God is.
  • 2 Petrus 3:10-13: hier word gesê dat die ou hemel en aarde vernietig sal word. Daar sal ʼn nuwe hemel en aarde in die plek daarvan kom. Dit beteken God sal nog in die hemel wees en die mense op aarde, met die verskil dat die mense God se wil nou volledig op aarde sal doen. Op die manier sal Hy tussen die mense wees.
  • Openbaring 21: Hierdie hoofstuk vertel hoe die ou hemel en aarde sal verdwyn en ʼn nuwe hemel en aarde tot stand sal kom. En dan sal daar iets groots gebeur: die skeiding tussen hemel en aarde sal verdwyn, want die hemel sal soos ʼn nuwe Jerusalem op die aarde neersak. So sal hemel en aarde een word. God sal dus tussen die mense kom bly.
Die drie beelde verskil, maar in al drie is daar ʼn goue draad: God sal by ons wees en ons sal by Hom wees. Daar sal nie meer sonde en boosheid wees nie. So gaan die hemel wees. Hoe wonderlik dit gaan wees kan ons ons nie nou voorstel nie. Openbaring probeer met die beeld van ʼn goue stad vir ons verduidelik dat dit iets uit ʼn ander wêreld gaan wees, ja, iets heeltemal onvoorstelbaar. Hoe dit gaan wees, is ons nie heeltemal van seker nie, maar dat dit absoluut wonderlik gaan wees, daarvan kan ons seker wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy