Wat beteken goddelike wesens? – Jan van der Watt

Kobus vra:

Ek wil graag weet wat ‘gode in Psalm 82:6 en Johannes 10:34 beteken. Is ons goddelike wesens?’(Ek glo nie ons is goddelike wesens nie want Psalm 86:10 en Jesaja 45:18 sê daar is geen ander God en Psalm 8:6 sê God het ons minder as ‘n goddelike wese gemaak).

Antwoord

Prof Jan van die Watt antoord:

Kobus is reg, die gedeeltes sê nie dat mense gode is of word nie. In Ps 82:6-7 lyk dit meer na die omgekeerde, naamlik of wesens wat as gode gesien is, mense word. Geleerdes stem nie presies ooreen met wat in Ps 82 bedoel word nie en daar word nie hier op verder ingegaan nie.

Johannes 10:34 haal Ps 82:6 aan, maar gebruik dit in ’n baie spesifieke konteks waar Jesus met die Jode argumenteer. Ons lees in 10:33-37: ‘33“Dis nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ’n gewone mens is, jou as God voordoen.” 34Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? 35God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie’.

Jesus is hier in ‘n tipiese ‘Joodse argument’ betrokke. In Jesus se tyd was ‘strydgesprekke’ een van die mees algemene maniere waarop gewone Jode kon sien watter van hulle rabbi’s of geleerdes die waarheid beet het – natuurlik die een wat die argument wen. Ons sien Jesus dikwels in sulke gesprekke, byvoorbeeld in Mat 22:34-40 (vgl. Luk 10:25-26) waar ‘n wetsgeleerde Hom probeer ‘vastrek’. In Joh 10 het Jesus sopas gesê dat Hy en die Vader EEN is (Joh 10:30) en die Jode wou Hom stenig (v. 31) omdat Jesus Homself op die manier godslasterlik ‘as God sou voordoen’ (v. 33). Die Jode is natuurlik reg, naamlik dat dit godslastering volgens hulle wet is om jou as die enige God voor te doen (vgl. die eerste twee gebooie van die Wet).

In hierdie ‘strydgesprek’ kom Jesus met ‘n teenargument wat gaan oor die gebruik van die woord ‘god’.  Hy haal hulle ‘Wet’ (= Skrif) aan (Ps 82:6) wat almal sal erken die waarheid is en wys vir hulle dat die woord ‘gode’ ook wyer gebruik kan word as net vir die enige God. As die woord ‘god’ gebruik word, kan dit wel vir die enige God gebruik word, maar dit kan ook vir ander wesens gebruik word wat naby hierdie God staan, soos Ps 82:6 sê. Die punt is dat Hy vir hulle wys dat die woord ‘god’ dus ook ‘n wyer betekenis kan hê, soos mens in die Skrif self sien (Ps. 82:6). Om te sê iemand is god hoef nie noodwendig net na die enige God te verwys nie.

In Joh 10: 36-37 pas Jesus dan sy argument toe: “Ek het gesê: ‘Ek is die Seun van God’? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie”. Hy beweer nie Hy is die enige God nie, maar die ‘Seun van God’. Hy is dus geen bereiging vir die enige God nie en moet ook nie met die enige God verwar word nie. In die term Seun van God word die Seun en God duidelik van mekaar onderskei. Die tweede punt wat Hy maak is dat Hy wel baie naby aan God is – wat hulle doen is dieselfde (sien ook 10:28-30). In die sin is hulle EEN en sou dit volgens Ps 82:6 nie verkeerd wees om die term god ook van Hom te gebruik nie.

Interessant genoeg sê Ps 82:6 dat die ‘gode’ se groot probleem was dat hulle nie soos God regverdig geoordeel het nie. Hulle verdien dus nie hulle posisie nie en gaan soos gewone mense hanteer word. Jesus doen egter presies wat God doen en daarom bewys Hy dat Hy aan God se kant staan.

Die feit dat die Seun nie God die Vader is nie, maar tog goddelik (wat beteken dat die term god ook vir Hom gebruik kan word) word bevestig in Joh 1:1 waar Jesus (die Woord) beskryf word ‘as God, maar ook as by God’. Mens kan tog nie ‘n persoon wees en ook tegelyk teenoor daardie persoon staan nie (dit is wat die Griekse woord ‘by’ impliseer). Hier word van Jesus gesê dat Hy van God die Vader onderskei moet word (Hy is by Hom) maar dat Hy ook in sy optrede en karaktertrekke ooreenstem met die Vader as die een wat Hom stuur om in die wêreld te kom wys hoe lyk God die Vader (1:18).   

Skrywer Prof Jan van der Watt




Die hemelse Hof

Die hemelse Hof – Marius Nel

Willie Esterhuizen vra

 

My vraag handel oor Job 1:6. Die hemelwesens het voor God verskyn en dit blyk die grondtaal verwys na hemelwesens ook as seuns van God . Maar satan staan tussen hulle . My vrae is 1. Het Satan dan toegang tot die hemel gehad gedurende die tyd van die aardsvaders? 2.Hoekom het God hoegenaamd met hom gepraat?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die antwoord op die vraag word bepaal deur hoe ‘n mens na die tekening van die hemelse hof kyk. Die antieke mens het die hof beskou as ‘n troonkamer soos op aarde, waar verteenwoordigers voor die koning saamkom asook amptenare wat die besluite van die koning uitvoer. Een van die amptenare in die hemelse hof, volgens die Jobskrywer, is die aanklaer, die een wat regverdiges se swak punte voor die Regter bring. Hasatan beteken letterlik “die teenstander.” Let op dat die lidwoord gebruik word sodat die verwysing nie na Satan (as ‘n eienaam) is nie. En in die tekening het die teenstander of aanklaer toegang tot die troon van God. Wat die verband tussen dié figuur en Satan in die Nuwe Testament is, is nie duidelik uit die Jobboek nie.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe

Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe – Gustav Claassen

Koos vra:

Ek wil graag meer weet aangande die hemelwesens: hoe lyk hulle? Kon die dogters in Genesis 6 nie sien dat daar n verskil tussen hulle en die mans was nie? Het ons enige ander inligting?

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Genesis 6:1-4, is seker een van die moeilikste gedeeltes in die Bybel. Daar word van hemelwesens gepraat wat na die aarde gekom het, en met vrouens op die aarde getrou het. Die kinders wat uit hierdie verhoudings gebore is, was so groot soos reuse (nephilim). Dus, inderdaad ‘n vreemde gedeelte en baie is al geskryf oor hierdie gedeelte.

As agtergrond waarteen ons die teks moet verstaan ‘n paar opmerkings: Die boek Genesis, alhoewel dit eerste in die Bybel staan en vertel van die begin van die hemel en aarde, is nie die oudste boek in die Bybel nie. Genesis, word gedateer tussen 600 en 500 v C, in die tyd van die ballingskap. Gedurende hierdie tydperk maak die Jode die eerste keer kontak met die kultuur, filosofieë, godsdienste en ander oortuigings van die Perse, Assiriërs en Grieke.

In die kontak met die Perse, Assiriërs, Grieke en talle ander volkere het Israel ook kennis gemaak met hulle gode, verhale oor hierdie gode, en ook verhale oor die skepping van die aarde. So is daar byvoorbeeld die baie bekende Assiriese skeppingsverhaal, die Enuma Elish, wat in baie opsigte ooreenkom met die skeppingsverhaal van die Bybel. In die ander buite Bybelse skeppingsverhale is daar ook vertellings van gode wat by aardse vroue kinders verwek het, kinders wat bekend gestaan het as godmense, mensgode, of reuse.

So het die Ugaritiese god, El, by aardse vroue kinders verwek. Die Griekse god Zeus het Herakles verwek by Alkmene, die vrou van Amfitrio. Herakles, was reusagtig groot en baie sterk, ‘n soort godmens. Hulle was die manne van naam, reuse, godmense wat vir ewig lewe, wat nie sal doodgaan nie. Hulle is of gode, of halfgode, en gode leef vir ewig. Die belangrike ding om hier raak te sien is die verwysing na die “manne van naam” wat ewig sou leef. In hierdie wêreld het die Jode probeer om hulle geloof in hulle God te verwoord.

Die verteller van Genesis vertel sy mense die verhaal van die skepping van die hemel en die aarde. In die skeppingsverhaal wil die verteller dit baie duidelik stel: God alleen het geskep en is daarom alleen God, en God alleen lewe vir ewig. Verder vertel die skeppingsverhaal ‘n verhaal van die mens se opstand teen God. Adam en Eva, het in volmaakte omstandighede gelewe. Maar dan eet die mens van die boom van kennis. Hierdie oortreding van die mens het die mens die ewige lewe gekos.

God sê dan (Gen 2): as hulle tog nie ook die hand uitsteek na die boom van die lewe nie. Om te verseker dat dit nie gebeur nie beveel God hulle om die tuin te verlaat. Genesis vertel dan dat sedert dié dag is die mens op soek na die ewige lewe. Die mens wil soos God word wat nie alleen alles kan ken nie, maar ook vir altyd kan lewe. En doen die mens alles in sy vermoë om die ewige lewe te verkry. Om die toppunt van hierdie menslike soeke te illustreer, gebruik die verteller bekende verhale van godmense, en hoe die reuse tot stand gekom het. Hoe dat ‘n god uit die hemel na die aarde gekom het, en die een of ander vrou op die aarde verlei. En hoe daar uit die verbintenis ‘n halfgod-halfmens gebore word: ‘n mens, maar tog ‘n god. Dus: ‘n mens wat vir altyd kan lewe, die ewige lewe het!

Die verteller van Genesis sinspeel met sy verhaal oor die gode- en mensevermenging op die soeke van die mens na die ewige lewe. Die mens, sal as God hom die boom van die lewe ontsê, self ‘n plan maak. In Genesis 11 sou die mens weer op ‘n ander manier probeer om ‘n plan te maak, ons lees: “die mens wil ‘n toring bou om tot by God te kom, om in die hemel te kom, om God te word”.

God sien die opstand van die mens teen Hom raak, hierdie plan van die mens om soos God te wil word, om ewig te wil lewe. Die opstand van die mens teen God kos hom die ewige lewe. Maar God maak hierdie plan ongedaan. Sterflik sal die mens bly. Die mens sal nooit kan God word nie, sy lewensasem wat hy van God ontvang het sal van hom weggeneem word. Hy sal voortaan net 120 jaar lank bly leef. Die klem val hier nie op die 120 jaar nie, maar op die begrensdheid van die menslike lewe.

Om hierdie soeke van die mens, om die ewige lewe terug te kry, bloot te lê, gebruik die verteller bekende verhale soos mense wat met gode trou en so vir ewig kan lewe. God, sê die verteller, sien die mens se plan raak, en bring dit tot ‘n einde. Met God wat ‘n einde maak aan hierdie strewe van die mens, sê die verteller verder: God is sterker en magtiger as al die ander gode van wie hierdie verhale vertel is, want Hy sien deur hulle, hy bring hulle ook tot ‘n einde.

Hierdie verhaal sê dat ons nie onsself kan red nie. Dat God aan ons lewens grense stel. Alleen God kan aan ons die ewige lewe gee. En Hy gee dit aan ons deur Jesus Christus wat na ons toe kom en in ons plek die pad na die kruis toe stap.

 

Skrywer: Dr Gustav Claasen




Hemelwesens

Hemelwesens – Marius Nel

Danie vra:

Ek wil graag weet wat is die verskil tussen – Engele , Gerubs , Wesens wat in die Bybel van gepraat word.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Die Ou Testament verwys na verskillende hemelse wesens en gee selfs vir sommige van hulle name, maar bied nie enige beskrywing of verduideliking aan nie. Daarom is die beste antwoord op dié goeie vraag: ons weet nie want ons bron van inligting oor die wesens sê niks verder nie.

Outeur: Dr Marius Nel