Wat het van Moeder Maria en Jesus se broers geword?

Wat het van Moeder Maria en Jesus se broers geword? – Jan van der Watt

Christine vra:

Wat het van Moeder Maria, Josef en Jesus se broers geword? Is daar ‘n geslagsregister van Moeder Maria?

 

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel vertel ons nie veel van waar Maria vandaan kom en hoe sy dood is nie. In die buite-Bybelse apokriewe boek, die Proto-Evangelie van Jakobus  word daar wel vertel dat Maria se ouers Joachim en Anna geheet het en dit is tot vandag nog deel van die tradisie oor Maria. Wat haar ‘dood’ betref: daar is die tradisie in die Rooms-Katolieke kerk dat Maria nie dood is nie, maar lewend in die hemel opgeneem is. Sy het saam met Johannes, die dissipel van die Here na Efese in Turkye gegaan waar sy gebly het tot sy in die hemel opgeneem is.

Jesus se broers se name was Jakobus, Joses, Simon and Judas (Mk 6:3 en Mat 13:55). Ons weet nie veel van hulle nie. Judas kon volgens sommige tradisies dalk ‘n dissipel gewees het (met die naam Taddaeus). Sommige beweer selfs dat hy die Brief van Judas in die Bybel geskryf het, maar dit is nie seker nie.

Jakobus, die broer van Jesus, was die leier van die kerk in Jerusalem, maar is in ongeveer 62 nC dood. Hy is deur die Jode aangekla dat hy die wet oortree het en is toe in Jerusalem gestenig.

Wat Simon betref – die kerktradisie tel hom as ‘n halfbroer van Jesus. Volgens ‘n tradisie het Maria na die dood van Josef met Klopas getrou en Simon was hulle kind.

Omdat die Bybel egter nie vir ons direkte inligting gee nie en ons baie afhanklik is van latere geskrifte waaroor daar nie sekerheid bestaan of hulle die waarheid praat nie, moet ons die gegewens hierbo maar met versigtigheid hanteer. Dit is nie te sê dat dit so was nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Jesus se Liggaam

Jesus se Liggaam – Marius Nel

Jerrie vra:

My vraag (probleem) dan:

Die voorspelling van die koms van die Messias, as mens, word die mens as volg geskets….

1.  “….Baie mense was ontsteld oor hom, hy was so misvormd dat hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie.”  (Jes. 52:14), asook

2.  “….Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie,” (Jes. 53:2)

Volgens my mening dan, sou daar dus ‘n fisieke liggaamsgebrek, of iets dergeliks, in Jesus moes wees

(Miskien moet ek net byvoeg dat die fisiese voorkoms van Jesus, as mens, geen faktor is as dit betrekking het op die geloof in Hom as ons verlosser en Saligmaker nie)

Hierdie vraag van my het betrekking op ‘n persoonlike ervaring/belewenis wat ek gehad het, en is nie belangrik vir my geloofslewe nie.

 

Antwoord

Dr. Marius Nel antwoord:

Ek weet nie of die Skrifgedeelte noodwendig na Jesus se uiterlike voorkoms verwys nie; profesieë moet nie noodwendig letterlik opgeneem word nie. Ek meen dit verwys eerder na die feit dat sy liggaam aan ‘n kruis gebreek is, wat beteken dat Hy die dood van ‘n misdadiger gesterf het. En dat sy volksgenote Hom derhalwe sou verwerp het.

Skrywer: Dr Marius Nel




‘n Paar dinge wat jy dalk nie oor Jesus geweet het nie

‘n Paar dinge wat jy dalk nie oor Jesus geweet het nie – Stephan Joubert

1. Weet jy? …Jesus se familie het na sy hemelvaart ‘n belangrike rol in die kerk gespeel.

Volgens Markus 6:3 het Jesus vier aardse broers en twee susters gehad. Markus noem die name van sy broers: Judas, Joses, Jakobus en Simeon. Alhoewel Jesus se susters se name nie in die Bybel vermeld word nie, word hulle in die vroeë kerk as Maria en Salome geïdentifiseer. Ons weet Jesus se familie het belangrike leiersposisies in die vroeë kerk ingeneem. Jakobus, Jesus se een aardse broer, het die leier van die kerk in Jerusalem geword nadat Petrus die evangelie op ander plekke begin uitdra het (Hd 21:18). Uit buite-Bybelse gegewens weet ons Jakobus is in die jaar 62 doodgemartel omdat hy geweier het om Jesus te verloën. Volgens tradisie is hy van ‘n pilaar in die tempel afgestamp en toe met ‘n klip deur iemand doodgegooi. Beide Jakobus en Judas word ook verbind met twee briewe onder hulle naam wat in die Nuwe Testament opgeneem is. Jakobus is as leier van die kerk in Jerusalem opgevolg deur ‘n broerskind van Jesus se pa, Josef. Hierdie broerskind se naam was Simeon. Op sy beurt is Simeon in die jaar 106 na Christus doodgemaak vir sy geloof. ‘n Agterkleinkind van Josef, Jesus se aardse pa, genaamd Juda Kuriakos, het hierna as biskop van Jerusalem opgetree rondom die jaar 148-149 na Christus.

 

2.  Weet jy? …Jesus se intieme aanspreekvorm vir God gaan teen die grein in!

In Markus 14:36  lees ons dat Jesus in Getsémané, terwyl Hy bloed sweet, vir God op die intiemste wyse denkbaar aanspreek: Abba! Hierdie term tref ons dikwels in die mond van klein Joodse kindertjies aan as ‘n intieme aanspreekvorm vir hulle pa’s. Maar dit is ook die deernisvolle term waarmee dissipels gereeld na hul rabbi’s verwys het, of die manier hoe onderdane ‘n goeie koning aangespreek het. Bitter selde verwys Joodse mense na God as Abba. Dit is veels te intiem, dit is net te persoonlik. Selfs die Ou Testament noem God nie dikwels Vader nie. Indiwidue word nie hier aangemoedig om God as Vader aan te spreek nie. En tog is dit presies wat Jesus nou kom doen. In sy grootste krisisoomblik noem Hy God Abba, liefdevolle Vader…. En in die “Ons Vader” leer Hy ons om ook vir God Vader te sê; “ons Vader wat in die hemel is…”

 

3. Weet jy? Jesus se genesings gaan nie oor dankbaarheid of ondankbaarheid nie, maar oor die vraag wie Hy regtig is

In Lukas 17:11-19 lees ons hoe Jesus tien melaatse mans genees het, waarvan een ‘n Samaritaan is. Net hy het na die tyd teruggekom om te kom “dankie” sê. Vir meeste van ons is hierdie ‘n verhaal wat ons leer hoe om dankbaar te wees vir alles wat God vir ons doen. Maar dit gaan egter hier om veel meer as net dit. Weet jy, in die Bybelse tyd het mense nie om elke hoek en draai vir mekaar dankie gesê nie. Selfs in die Nuwe Testament is daar maar bitter min tekste  wat voorskryf dat ons as Christene vir mekaar moet dankie sê. In daardie tyd moes jy net dankie sê vir mense wat baie belangriker as jyself was, of vir mense met wie jy nie verder in ‘n sosiale verhouding sou staan nie. Maar vir mense van dieselfde sosiale status as jyself sê jy nooit dankie nie. Want hulle is nie belangriker as jy nie, en in die toekoms gaan jy hulle dalk weer nodig hê om iets vir jou te doen. Dus, die feit dat die nege melaatses nie terugkom om vir Jesus dankie te sê nie, wys vir ons dat hulle Hom as net maar nog ‘n geneser beskou, nie as God se Seun nie. Daarom wil hulle nie kom dankie sê nie, ingeval hulle melaatsheid later terugkeer en hulle Jesus dalk weer nodig gaan hê as ‘n geneser. Aan die ander kant, die man wat terugkom, gee aan God die eer (vers 18). Hy het besef dit is deur God se toedoen dat hy genees is (vers 15). Daarom kom hy na Jesus toe om God te eer. Die vraag is daarom nie of hy dankbaar is, of nie, maar eerder of hy vir Jesus as God se Seun sien. Ongelukkig het die ander nege mans dit nie gedoen nie. Vir hulle is Jesus sommer net ‘n doodgewone ou. Maar vir hierdie Samaritaan is Hy die Seun van God. Deur sodoende vir Jesus te eer, erken hy ook Jesus se Godheid. Terselfdertyd erken hy ook dat hy Jesus nie weer as geneser sal nodig hê nie. Hy is eens en vir altyd bevry van sy siekte.

 

4. Weet jy? Ons is nie seker hoe Jesus se kruis gelyk het nie

Nie een van die evangelieskrywers beskryf vir ons presies hoe Jesus se kruis gelyk het nie. Uit historiese inligting tot ons beskikking weet ons dat die Romeine verskillende soorte kruise gebruik het. Soms is slagoffers net aan ‘n vertikale paal vasgeslaan. Ander kere is hulle aan ‘n T-vormige kruis vasgemaak. En dan was daar ook nog die kruis wat gelyk het soos die voorstelling wat die meeste van ons in ons kop het oor Jesus se kruis, naamlik ‘n dwarsbalk wat bo-op ‘n vertikale paal gemonteer is. Soms is slagoffers onderstebo gekruisig. Verder weet ons ook dat mense soms net met toue aan die kruis vasgemaak is en dat hulle vir weke daar gehang het. Spykers is gewoonlik gebruik om mense aan die kruise vas te hou. Meestal is 22 sentimeter lange spykers deur die gekruisigdes se polse gekap, asook deur hulle voete.

Dikwels is gekruisigdes verplig om hulle kruis na die plek van teregstelling toe te dra. Die populêre idee dat dit net die dwarsbalk van die kruis sou wees, en nie die hele kruis nie, is nie korrek nie. In sommige gevalle het gekruisigdes wel net die dwarsbalk van hulle kruis gedra, maar uit historiese material tot ons beskikking blyk dit dat vele veroordeeldes ook hulle ganse kruis na die plek van teregstelling toe moes sleep.

Interessant genoeg, gee nie een van die evangelies aan ons ‘n presiese beskrywing van hoe Jesus se kruis regtig gelyk het nie. Markus en Matteus verwys selfs nie eens na spykers wat deur Jesus se liggaam gekap is nie. Volgens Lukas 24:39-40 toon Jesus wel na sy opstanding sy hande en voete aan die dissipels. Of Hy hierdeur sy spykermerke aan die dissipels vertoon, word nie deur Lukas vermeld nie. Maar ons sou tog kon aflei dat Jesus deur hierdie gebaar wys dat sowel sy polse (en nie sy handpalms soos wat die meeste skilderye voorgee nie) en sy voete aan die kruis vasgespyker is.

Die vroeë kerkleiers kort na die tyd van die Nuwe Testament was nie seker hoe Jesus gekruisig is nie. Justinus die Martelaar meen dat Jesus se liggaam bo op ‘n T-vormige kruis geplaas is, so ook die kerkvader, Barnabas. Die eerste kerkvader wat die kruis van Jesus voorstel soos wat ons dit vandag algemeen in kunstenaarsvoortellings sien, is Iraneus teen die einde van die tweede eeu. Wat ons wel weet, is dat Jesus sy eie kruis na Golgota toe moes dra (Simon van Sirene moes later hand bysit), en waarskynlik nie net die dwarsbalk nie. Jesus is ook aan die kruis deur sy hande en voete vasgespyker. Behalwe dat dit inderdaad‘n kruis kon wees soos die een wat deur kunstenaarsvoorstellings in ons koppe ingeprent is, kon Jesus se kruis ook ‘n T-vormige kruis wees, of bloot net ‘n vertikale paal wat in die grond geplant is. Aangesien kruisigings die mees grusame vorm van teregstelling in daardie tyd was, en aangesien dit vir die vroeë Christene geweldig traumaties was dat hulle Here aan ‘n vloekhout moes sterf (Gal 3), was dit vir hulle veels te moeilik om enige detail rondom die manier van Jesus se kruisiging aan ons deur te gee.

 

Skrywer: Dr Stephan Joubert

 




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Jan van der Watt

Christine vra:

Daar word telkens verwys na “Die dissipel vir wie Jesus baie lief was”. Waarom sou u sê word die dissipel se naam nooit genoem nie? Groete, Christine

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die beskrywing ‘die dissipel vir wie Jesus lief was’ kom uit die Johannesevangelie en verwys na een van die dissipels van Jesus wat nie by die naam genoem word nie. By die maaltyd was hy die een wat naby Jesus gelê het en gevra het wie Jesus gaan verraai (Johannes 13:23-25). Hy is ook die een wat saam met die moeder van Jesus by die kruis staan en wat die opdrag kry om vir Jesus se moeder te sorg (19:26-27). Volgens 20:2-10 was hy ook voor Petrus by die graf van Jesus en het daar tot geloof gekom. Verder was dit ook hy wat Jesus herken het toe Hy aan die oewer van die meer gestaan en met hulle gepraat het (21:7). Volgens 21:20-23 hoor hy ‘n gesprek tussen Jesus en Petrus waaruit die gerug ontstaan dat hy nie sou sterf nie. Hoewel dit nie so eksplisiet genoem word nie, is hy waarskynlik die een waarvan gesê word dat hy getuig en die dinge (die Evangelie) neergeskryf het (21:24). Die verwysing na die ‘ander dissipel (18:15-16) mag ook dalk na hom verwys.

Op grond van die verband tussen die geliefde dissipel en die outeurskap in 21:34 is daar geargumenteer dat die naamlose dissipel een van die Twaalf moes wees en dat dit Johannes, die seun van Sebedeus, moet wees, aangesien die belangrike dissipel van die Here nie elders in die Evangelie by die naam genoem word nie (sien tog 21:2). In die algemeen is die siening deur die eeue aanvaar – die geliefde dissipel was Johannes, een van die Twaalf.

Daar is egter ook ander opinies, soos mens kan verwag. Party mense identifiseer die dissipel vir wie Jesus baie lief was met Lasarus (Johannes 11), omdat daar staan dat Jesus Lasarus en sy susters liefgehad het. Ander beweer weer dat die geliefde dissipel nie werklik na een van die Twaalf verwys nie, maar dat dit in die verhaal eintlik ‘n ‘ideale dissipel’ is, ja, ‘n beskrywing van hoe ‘n dissipel eintlik moet wees. Regtig was daar nie so ‘n ideale volgeling van Jesus nie.

Tog lyk die beste slotsom om te sê dat die geliefde dissipel waarskynlik Johannes, een van die Twaalf was.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt