Wanneer is Jesus gekruisig?

Wanneer is Jesus gekruisig – Jan van der Watt

Tania vra:

Wanneer presies is Jesus gekruisig volgens ons jaarkalender? Ek verstaan dit was in Nissa 15, maar in watter maand is dit op ons gewonde kalender?

Sy gee die verdere bykomende inligting:

  • Op die veertiende dag van Nisan, die derde uur volgens Joodse tyd (9 uur in die oggend volgens ons tyd) is ons Pasgalam, Jesus Christus, aan die kruis vasgespyker. Dit was presies dieselfde tyd van die dag wat die pasgalammers by die tempel geslag is. Eenduisend-vyfhonderd jaar na die instelling van die Pasga in Eksodus 12, is ons Pasgalam, Jesus Christus, vir ons geslag (sien 1 Korintiërs 5: 7). Sy bloed bedek nie net ons sondes nie – dit wis ons sondes uit!
  • Die bloed van ʼn lam moes aan die deurposte en bodrumpel van die huise van die Israeliete gesmeer word – dan sou God hulle oorslaan (Eng: “pass over”) en sou sy oordeel hulle nie tref nie. Die Israeliete moes deur die met bloed bestrykte deur hul huise binnegaan en binne die beskerming van die bloed bly om hulle verlossing deelagtig te word. Daarom sê Jesus in Johannes 10: 9 “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word ..”
  • Nog ʼn vereiste met die oorspronklike instel van die Pasga in Eksodus 12 was dat geen uitlander of onbesnedene die Pasga kon gebruik nie (Eksodus 12: 43 & 48). Vandag is die wat in Christus is weens hulle geloof in Hom ” .. nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2: 19). Daarom kwalifiseer ons as wedergeborenes om aan te sit by die Pasgamaal!

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Nisan is die eerste maand van die Hebreeuse kalender wat met ons Maart-April ooreenstem (die maand op ons kalender kan dus wissel). In die antieke tyd was daar verskeie kalenders. Daar was ʼn kalender wat met die son gewerk het (die dag begin as die son opkom) en daar was kalenders wat op gelyke manier met die maan gewerk het. Die Jode se kalender het met die maan se verskynings gewerk terwyl die Romeine byvoorbeeld die son gebruik het as basis vir hulle berekenings.

Die Joodse maande het begin met die verskyning van die klein sekelmaantjie as die son sak (dag van die nuwe maan). Die maanmaand is ongeveer 29-30 dae en gevolglik is die maanjaar ongeveer 11 dae minder as die sonjaar. Dit lei daartoe dat die eerste maand van die Joodse jaar (dit is Nisan) soms in Maart en soms in April val, afhangende van die verskyning van die maan. “Maart-April” (Nisan) is natuurlik die begin van die lente en is die ‘terugkeer van die jaar” genoem – 1 Konings 20:26, 2 Kronieke 36:10 – met die gevolg dat Nisan die eerste maand van die jaar was. Die paasfees word 14 dae na die verskyning van die sekelmaan gehou, met ander woorde as dit volmaan gedurende die maand Nisan is (Eksodus 12:2-6).  Selfs in ons tyd word paasfees nie altyd op dieselfde kalendertyd gevier nie (soms is ons Paasfees vroeër en soms later), want ons pas ons viering van die paasfees  by die Joodse kalender aan.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie?

Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie? – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het niemand Jesus herken nadat Hy opgestaan het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier word waarskynlik onder andere verwys na die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:13 en verder, waar die volgelinge van Jesus hom aanvanklik nie herken nie. Laat ons eers by die ander punt begin. Daar is baie verhale in die Bybel waar Jesus dadelik herken is. Lees maar Johannes 20 waar daar vertel word hoe Jesus aan die dissipels verskyn en hulle hom dadelik herken. Tomas twyfel glad nie dat dit die Here is as hy Hom sien nie. In Lukas 24:13vv word Jesus aanvanklik nie herken nie, hoewel ‘n paar verse verder (Luk 24:36vv) Hy aan meer van sy dissipels verskyn en hulle herken hom dadelik, hoewel hulle dink dit is ‘n gees – hulle het nie besef Jesus het opgestaan nie. As ons oor Jesus na sy opstanding praat, moet ons een ding onthou: Jesus het nie meer sy gewone menslike liggaam nie – Hy het opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam. Daarom kon Hy deur deure loop (Johannes 20:19) en onverwags aan mense verskyn. Tog het sy liggaam ook nog die gewone kwaliteite van ‘n mens gehad, want Hy kon eet en ander mense kon nog aan Hom vat. Dus: sy verheerlikte liggaam was wel nog ‘n liggaam met die kwaliteite van ons liggaam, maar dit was ook anders, soos die buitengewone dinge wat Jesus gedoen het wys. Wat die manne van Emmaus betref wat Hom nie herken het nie – die teks sê dat God hulle vir ‘n tyd weerhou het om Jesus te herken (Luk 24:16).

 

Outeur: Prof Jan Van der Watt




Ter helle neergedaal – was Jesus in die hel?

Ter helle neergedaal – was Jesus in die hel? – Fanie Rudolph

Inleiding:

Ons bely elke Sondag dat ons glo in Jesus wat “ter helle neergedaal” het.  Wat sê ons hiermee?  Was Jesus regtig in die hel?

Ter helle neergedaal:

Die woorde “ter helle neergedaal” wat ons Sondae as deel van ons geloofsbelydenis herhaal, kom self nie in die Bybel voor ten opsigte van Jesus nie.  Jesus het wel “helse smarte” gely.  Sy hele lydensweg word hierin opgesom (vgl. Jesaja 53:5; Matteus 26:38; Hebreërs 5:7).  Die diepte van sy lyding was die Godverlatenheid wat Hy op Golgota beleef het (Matteus 27:46).  Om geen toegang tot God te hê nie, is ‘n ervaring van die hel.  Jesus het hierdie lyding namens ons verduur, sodat ons daarvan bevry kan word.  Dit was sy volkome offer om ons met God te versoen (2 Korintiërs 5:21).

Die algemene denke was dit iemand wat sterf, se siel na die doderyk toe gaan.  Daar wag dit dan op die oordeelsdag.  Ons lees veral oor hierdie lyding in die hel by die boek Henog.  Die Nuwe Testament skrywers, en veral Johannes in Openbaring, bring egter die gedagte na vore dat gelowiges by God in die hemel is, en nie in die doderyk wag nie (vgl. Openbaring 6:9-11; 20:1-6).  Die ongelowiges word by die wederkoms “opgewek” vir die oordeel (Openbaring 20:11-15).  Daarna word hulle in die hel gegooi (Openbaring 20:15).

Was Jesus in die hel?

Daar is geen bewyse vanuit die Bybel dat Jesus regtig in die hel was nie.  Die Bybel sê slegs dat Jesus dood was, en dat Hy vir drie dae in die graf was.  Wat met sy gees in daardie tyd gebeur het, is die Bybel stil oor.  Daar was wel ‘n gevoel dat ‘n mens se siel vir drie dae na jou dood by die liggaam gebly het, waarna dit die liggaam verlaat het en na die doderyk gegaan het.  In die lig hiervan is dit duidelik dat niemand rondom Jesus verwag het dat Hy êrens anders as in die graf was nie.

Die Bybel maak geen verklaring oor waar Jesus na sy dood was nie.  Die algemene afleiding onder mense in Jesus se tyd sou wees dat Hy in die doderyk was.  Dit is egter nie vir die skrywers van die Nuwe Testament ter sake nie.  Wat belangriker was, is om te weet dat die dood Hom nie kon vashou nie.  Hy het dan die sleutels van die dood en die doderyk (Openbaring 1:18).  Deur self deur die dood (en die doderyk) te gaan, het Hy vir ons ‘n deurgang bewerk.  Die dood kan ons ook nie meer vashou nie, want Jesus sluit die deur na die lewe vir ons oop.

Wat van 1 Petrus 3:19?

Hierdie vers word deur baie mense aangegee as bewys dat Jesus in die hel was.  Tog was die teks nie aanvanklik so verstaan nie.  As ‘n mens 1 Petrus 3:18-22 chronologies lees, vind jy dat vers 19 volg na Jesus se sterwe en opstanding.  Sy preek is dus nie in die hel gelewer nie, maar aan mense wat gesterf het, wie “in die gevangenis” was.  Die gevangenis verwys moontlik na die doderyk.  In vers 20-21 word hierdie preek in verband gebring met Noag se preek voor die sondvloed.  Dit wil voorkom asof die mense in die gevangenis die mense is wat nie na Noag wou luister nie (vgl. vers 20).  Sommige verklaarders reken selfs dat Jesus se Gees deur Noag met die mense in die gevangenis praat.  Vers 19 stel dit egter duidelik dat Christus self sy oorwinning aangekondig het.  En aangesien Jesus waarskynlik die preek na sy opstanding lewer, vind dit nie plaas terwyl Hy in die graf is nie.  Sy tyd in die graf was bloot om sy oorwinning oor die dood en die doderyk te verklaar.

Vir hulle wat nie gehoorsaam was nie, bring Christus dan die boodskap van sy oorwinning (vgl. vers 19).  Hierdie is nie ‘n bekeringsboodskap nie.  In die doderyk is bekend gemaak dat daar verlossing en oorwinning is vir dié wat geglo het, en veroordeling vir hulle wat nie wou glo nie.  Die kern van 1 Petrus 3:18-21 is die verlossing en hoop omdat Christus oorwin het.

Gevolgtrekking:

Die Bybel sê nie vir ons of Jesus in die hel was of nie.  Dit is eintlik nie ter sake nie.  Ons kan aanvaar dat Jesus nie daarnatoe hoef te gegaan het nie.  Die oorwinning oor die duiwel het nie in die hel plaasgevind nie, maar in die hemel en aan die kruis (Openbaring 12:7-12).  Die “ter helle neergedaal” wat ons bely, verwys na die “helse smarte” wat Jesus tydens sy lyding moes deurmaak, so erg dat Hy geheel en al van God verlate gevoel het (Matteus 27:46).

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Was Jesus volkome mens voor sy doop?

Was Jesus volkome mens voor sy doop? – Jan van der Watt

Die volgende stelling is gemaak: Jesus het slegs as volkome mens na die aarde toe gekom. Hy was nie in staat om wonderwerke te kon doen, alvorens Hy nie gedoop is nie. Met Sy doop het die Heilige Gees Hom bekragtig en daarna kon Jesus eers wonderwerke doen. My vraag is : Hoe bekragtig God Homself? Is hierdie soort stelling nie lynreg teen wat ons glo en spesifiek dan ook in teenstelling met die Kerk se belydenis nie?

Antwoord:

Jesus se doop speel ‘n belangrike rol in sy lewe. Dit dui die beginpunt van sy openbare bediening aan en daar word verder gesê dat die Gees toe op hom neergedaal het soos ‘n duif (Matteus 3:16; Johannes 1:32). Van toe af het Hy begin om te preek en wonders te doen. Voor die tyd (en dit was ongeveer 30 jaar) het Jesus geen wonders gedoen wat ons van weet nie. Die vraag is nou of Jesus wonders kon doen voor die tyd en of hy maar net ‘n gewone mens was tot met sy doop?

Daar was groepe (die Gnostici) wat van die tweede eeu na Christus af beweer het dat Jesus ‘n gewone mens was tot met sy doop, toe die Gees gekry het (wat Hom Christus gemaak het) en met sy kruisiging weer teug verander het na die gewone mens Jesus toe Hy die ‘Gees gegee het’. Die standpunt is egter deur die vroeë kerk as dwaalleer verwerp. Jesus het nie eers geword wat Hy was toe die Gees met sy doop op Hom gekom het nie. Hy was dit vir altyd. In Johannes 1 word hy God genoem, selfs voor die skepping. Hy ‘word’ dit nie eers later nie.

Maar wat dan nou van die Gees met Jesus se doop? Soos met die ou profete en konings het hulle openbare bediening begin met die ‘salwing van die Gees’. Dit was die teken dat God spesiaal by hulle is. In Jesus se geval word daar met die doop bevestig dat God met Jesus is en dat dit wat Hy doen deel van die werk van God se Gees is.

Outeur: Prof Jan van der Watt