Kerk toe gaan is tog belangrik (Hebreërs 10:19-25)

Kerk toe gaan is tog belangrik (Hebreërs 10:19-25) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Ons hoor talle oproepe van mense dat die samekomste van gemeente nie belangrik is nie.  Waar in die Bybel staan dit immers dat ons die eredienste en ander gemeentelike aktiwiteite moet bywoon?  En wat is ons beter af nadat ons ‘n erediens bygewoon het?  Hebreërs 10:19-25 werp lig op die belangrike rol van die erediens in die gemeentelewe.  Miskien moet ons net probeer om meer daarby uit te kom eerder as om eredienste te vermy.

2. Die konteks vir die skrywer se oproep:

In Hebreërs 4:14-10:18 het die skrywer omvattend verwys na die volkome offer van Jesus Christus vir ons sondes.  Dit is in die lig van Christus se volmaakte en volkome offer dat Hy gelowiges oproep om mekaar te help, te ondersteun, en mekaar aan te spoor om hierdie offer van Christus vas te gryp en uit te leef.  Dit is ‘n “omdat God…, laat ons…” redenasie.

3. Kerk-wees gaan oor ons, nie oor my nie:

Die redes hoekom mense gewoonlik nie by die kerk betrokke wil wees nie, gaan gewoonlik oor iets wat hulle persoonlik ongelukkig maak.  In min gevalle gaan dit oor swak verkondiging of valse lering.  In ‘n verbruikersbewuste samelewing wil ek net my behoeftes bevredig, en soek ek net na dit wat my tevrede stel.

Die Hebreërskrywer vestig in hierdie gedeelte ons aandag opnuut op die feit dat kerk gaan oor ons en veral oor God.  God het sy deel reeds gedoen deur die volmaakte offer van Christus waaroor die skrywer breedvoerig uitgewy het in sy brief.  Dit is hierdie volmaakte offer wat juis vir ons die deur oopmaak om by God uit te kom (Hebreërs 10:19-20).  In die lig hiervan kom die oproep tot gelowiges (en let op die voortdurende gebruik van ons:

  • Laat ons na God toe kom (Hebreërs 10:22). Natuurlik kan jy (en moet jy) dit in jou huis doen. In die erediens het jy egter te doen met ‘n spesiale ontmoeting met God (saam met ander gelowiges). Hoekom so ‘n spesiale geleentheid laat verbygaan?
  • Laat ons vashou aan die hoop (Hebreërs 10:23). Gelowiges het hoop nodig om in hierdie lewe te bestaan. Daardie hoop kom van God af. Die skrywer het dit reeds bewys (Hebreërs 4:14-10:18). Die hoop is egter nie bedoel vir elkeen om vas te gryp en dan in sy hoekie te gaan sit en dit te geniet nie. Gelowiges moet na mekaar omsien. Die saamwees van die gemeente is die plek waar ons dit goed kan doen. Hoe? Die skrywer gee ook die antwoord:
  • Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (Hebreërs 10:24). Ons moet mekaar nie net help nie. Ons moet mekaar motiveer, opbeur, reghelp, tot liefde bring. En dit kan ons net doen as ons tyd saam deurbring. Watter beter plek as die samekoms van die gemeente?

Wanneer die skrywer dan in vers 25 by sy oplossing kom, het hy alles reeds gemotiveer.  Bogenoemde is oorgenoeg rede om elke samekoms van die gemeente te wil bywoon.  Boonop is die oproep dringender “namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”  Want sien, die lewe vir gelowiges raak al hoe moeiliker.  Die keuses raak al hoe onduideliker.  Die versoekings en vervolgings druk al hoe swaarder.  Ons het mekaar in sulke tye besonderlik nodig om staande te kan bly.  Dan is dit goed om te weet daar is ander wat dieselfde stryd stry, wat dieselfde lyding ly, wat dieselfde hoop het.  Trouens, wie bogenoemde besef, sal nie net self die samekomste wil bywoon nie.  Hy of sy sal ook moeite doen om ander te motiveer om die samekomste van die gemeente by te woon.  Wie sal nou sulke goeie nuus net vir homself wil hou?

Laastens: die skrywer motiveer nie sy mense om deel te wees van die gemeenskap om iets te kry nie.  Telkens is die oproep tot hulle om iets aktief te doen.  Hulle moet God nader.  Hulle moet styf vashou aan die hoop.  Hulle moet na mekaar omsien.  Hulle moet mekaar motiveer om die eredienste by te woon.  Die samekoms maak sin as ons met ‘n gesindheid van gee eerder as ontvang daar instap.

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

Die woord “kerk” word gebruik vir die mense van God asook vir die geboue waar hulle bymekaar kom.

Die woord gaan terug op ʼn Griekse woord wat “vergadering” of “byeenkoms” beteken. Daar waar mense dus vergader, of dit net twee of drie is, om God te dien, is die kerk. Aanvanklik het Christene sommer in huise bymekaar gekom, maar deur die eeue het die kerke al hoe groter geword. Soos die kerkgeboue groter geword het, het die kerklike strukture ook groter geword. Die “kerk” het ʼn magtige instansie geword, veral in Europa. Deesdae is dit nie meer so in Europa nie. Die kerk groei nou die sterkste in dele soos Suid-Amerika, Afrika en Asië.

Tog is en bly die hart van die kerk mense wat bymekaar kom om God te dien. Hulle organiseer hulleself dikwels op ʼn ordelike manier met leiers soos ouderlinge en diakens. Die kerk as instansie verwag dan ook dat almal wat aan die kerk behoort by die kerk betrokke sal wees. Jongmense moet leer wat God wil hê hulle moet weet, lidmate moet mekaar en ander help en hulle moet sorg dat hulle goeie boodskap by ander uitkom. Die lidmate moet soos ʼn groot familie wees, daarom noem hulle mekaar ook “broers” en “susters”. ʼn Ander naam vir die kerk is die liggaam van Jesus (1 Korintiërs 12). Met ander woorde, daar waar Jesus is, is die kerk ook. Dit beteken dat die kerk die plek in die wêreld is waar Jesus teenwoordig is. Tog is dit ook so dat nie almal wat aan die kerk behoort noodwendig Christene is nie. Daar mag mense daar sit wat nie die Here van die kerk ken nie. Die kerk moet dus gedurig seker maak dat hulle regtig die Here se liggaam op aarde is en bly.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy