Nuwe Bladbaas vir Bybelkennis.co.za

Dit was vir die span van Bybelkennis.co.za ‘n groot hartseer dat dr Coen Slabber, die bladbaas (administrateur) van die begin van die webblad se bestaan af, ons ontval het.

Dr Johan Voges, emeritus predikant van die Ned Geref Gemeente Lynnwood, het egter goedgunstiglik ingewillig om die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za oor te neem. Die Bybelkennisspan sien daarna uit om met hom saam te werk. Wie meer oor hom wil weet kan gerus na sy lewensloop kyk wat elders op die webblad verskyn. Biografie




Prof Hermie van Zyl

Hermie van ZylWeb

Lewensloop: Hermie van Zyl

Hermias Cornelius van Zyl (geb 6 Junie 1947) matrikuleer in 1965 aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria. Hy studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria en behaal die grade BA, BD en DD.

Hy dien vir vier jaar (1975-78) as predikant van die NG Kerk Farrarmere, Benoni. Daarna is hy vir ses jaar (1979-84) dosent in Nuwe Testament aan Unisa, Pretoria. In 1985 aanvaar hy ‘n pos as senior lektor in Nuwe Testament by die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. In 1987 word hy professor, en in 1988 hoof van die dept Nuwe Testament. Van 2003-2008 dien hy as dekaan van die Fakulteit. Hierna word hy vir vyf jaar op kontrakbasis aangestel, as hoof van die dept Nuwe Testament. In hierdie tyd is hy ook hoofredakteur van Acta Theologica, geakkrediteerde tydskrif van die Fakulteit. Hy emeriteer aan die einde van 2013, maar gaan steeds voort as navorsingsgenoot van die dept Nuwe Testament.

Van 1989-1995 was hy redakteur van Neotestamentica, vaktydskrif van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van SA, en van 1995-2000 voorsitter van die redaksieraad van Neotestamentica. Hy was betrokke by verskeie publikasies van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), naamlik die Verwysingsbybel: 1983-Vertaling (voltooi 1998); Die Afrikaanse Bybel vir Dowes (ook bekend as Die Bybel vir Almal) (voltooi 2007); en Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling (verskyn 2014). Hy is tans ook brontaal-kontroleur vir English Bible for the Deaf, nog ‘n projek van die BSA. Hy was ook medewerker aan die volgende publikasies van Christelike Uitgewersmaatskappy: Die Bybellennium: ‘n Eenvolume-kommentaar (bekroon met die Andrew Murrayprys in 2000); die hersiening van die Nuwe Lewende Vertaling (2011); die Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans (2012); en Die Bybel: Parallelle Nuwe Testament (2014). In 1996 bring hy ‘n navorsingstyd van drie maande deur aan De Katholieke Universiteit Leuven, België. Hy is lid van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika, sowel as van die internasionale vakvereniging, The Society of Biblical Literature.

Hy is tans Voorsitter van die Streekskomitee (Bloemfontein) van die BSA, en dien ook op die Raad van Direkteure van die BSA. Hy was programleier van Die Bybel in Perspektief, ‘n program oor die verstaan van die Bybel, by die streekradiostasie van Bloemfontein, Radio Rosestad, en skryf gereeld in die rubriek Woord en Perspektief van Volksblad.

Hy is getroud met Amanda, en hulle is die ouers van drie kinders (Debbie, Wikus en Nico) en die grootouers van drie kleinkinders, Bianca, Arend en Rossouw.




Prof Daan Pienaar

Prof Daan Pienaar

Daan Pienaar is emeritus professor van die Departement Bybel- en Godsdienskunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het ‘n doktersgraad in Semitiese Tale aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.  Die titel van sy proefskrif was: Die dinastie van die Omriede in die lig van die Argeologie. Sy belangstellingsveld is Bybelse Argeologie. Hy het aan verskeie oorsese inrigtings navorsing gedoen en gereeld deelgeneem aan opgrawingsekspedisies  in Israel.

 




Prof Marius Nel

Prof Marius Nel

Marius_Nel

Marius Nel BA (Admissie), BD, BA (Hons Wysbegeerte), DTh (Praktiese Teologie, Unisa), DD (Kerkgeskiedenis, UP), MDiv (Ou Testament, UP), PhD (Ou Testament, Pretoria) is pastoor van die AGS Krugersdorp-Sentraal vir die afgelope twintig jaar, dosent en departementshoof aan Auckland Park Teologiese Seminarium in Kerkgeskiedenis en mede-professor by die Skool vir Bybelwetenskappe en Bybelse Tale, Fakulteit Teologie, NWU

Spesialiseringsterreine:

  • Apokaliptiek in die Ou Testament
  • Wysheid in Ou Testament
  • Geskiedenis van AGS
  • Geskiedenis van leerstelling van genesing in die kerk
  • Jeug en erediens

Outeur of medewerker van 30 publikasies en 35 wetenskaplike artikels.

Medewerker aan Die Boodskap, Multivertalingbybel en Nuwe Lewende Vertaling

Ontvanger van die Andrew Murrayprys op 8 Mei 2004 vir bydraes tot Die Bybel A-Z  en die ATKV se Afrikoon-toekenning op 12 Augustus 2005 vir bydraes tot Bybelvertaling en gemeenskapswerk

Deelgeneem aan 12 nasionale en 8 internasionale konferensies as spreker

Lopende navorsing:

  • Sosio-ekonomiese situasie wat aanleiding tot apokaliptiek gee
  • Geweld in wysheids- en apokaliptiese tekste
  • Demonisering kerkhistories beskou
  • Praktyk en funksies van eunug in antieke tye
  • Pinksterbeweging se hantering van Ou Testamentiese tekste in ‘n formulering van eskatologie

Funksies in vakverenigings:

  • Lid van die Ou Testamentiese Werksgemeenskap van SA
  • Lid van die Kerkhistoriese Werksgemeenskap van SA
  • Lid van Society of Biblical Literature
  • Lid van European Association of Biblical Literature
  • Paneellid van RSG-program “Die Bybel in ons lewe” van 2004 tot 2006
  • Verantwoordelik vir weeklikse boekresensies op e-kerk vanaf Januarie 2004