144 000 – Vraag

144 000

Jan Smith vra:

Openbaring 7 en 14: Hoofstuk 7:4: En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van Israel. Hoofstuk 14:3: …en niemand kon die lied leer nie behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is. Vers 4: Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Hierdie twee groepe is waarskynlik dieselfde voortspruitend uit die twaalf stamme van Israel. Hulle het egter ‘n besondere eienskap: Hulle is maagdelik rein en is gekoop uit die mense as eerstelinge van God. Hulle staan op die berg Sion met die Naam van die Vader en Jesus op hulle voorhoofde geskrywe en onder begeleiding van siters sing hulle ‘n nuwe lied. Verder is daar geen melding van die mense nie. Het u dalk enige idee wie hulle sou wees en in watter konteks ons hulle met die res van Openbaring moet/kan plaas. Baie dankie. 

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Eers moet daar ʼn opmerking oor die 144,000 gemaak word. Dit is ʼn simboliese getal, waarvoor Openbaring natuurlik baie bekend is. Dit word gewoonlik so verklaar:

  • 10 is die getal van volkomenheid/volmaaktheid. In die Joodse en die Griekse wêreld was die getal as getal van volmaaktheid gesien.
  • 10x10x10 = 1000: Die maalteken in simboliese getalle beteken intensivering. Die drie maal dui op ʼn kubus (vierkantige blokkie waarvan die sye presies dieselfde lengte het). Ou antieke heiligdomme is dikwels as kubusse gebou om volmaaktheid aan te dui.
  • 3×4 = 12: 4 is die getal van die wêreld (die wêreld het vier hoeke) en 3 die getal van die geestelike wêreld. 3×4 beteken dus daar waar die wêreld en God (die geestelike) intensief met mekaar te doen het – dit is natuurlik die mense wat met God in ʼn intensiewe verhouding staan. Daarom is daar 12 stamme in Israel en 12 dissipels as pilare van die kerk.
  • 12×12=144: 12 stamme uit die Ou Testament en 12 dissipels uit die Nuwe Testament maak al die mense van God uit.

144,000 is dus 144×1000: dit dui met ander woorde op al die mense van God (12×12) soos God dit perfek beplan het (10x10x10). 144,000 is dus die simboliese getal van al die mense van God volgens die perfekte beplanning en wil van God.

In Openbaring 7 en 14 word daar dus na die kerk van God in sy volheid en volmaaktheid verwys as hulle die 144,000 genoem word. 

b) Wie is die mense wat hulle nie besoedel nie en wat beteken dit? Die geleerdes verskil baie oor wat presies hier bedoel word met die reinheid, maar die basiese boodskap blyk te wees dat mense alles opoffer om die Lam te volg.

c) Wat hoor ʼn mens van hulle in die res van Openbaring? Inderdaad word die 144,000 net in Openbaring 7 en 14 gebruik. In die res van Openbaring word daar ander beelde vir die kerk gebruik, soos bruid (Openbaring 19:7) of groot menigte (Openbaring 7:9), ens. 144,000 is dus een van die beelde wat van die gelowiges gebruik word; ander beelde praat van dieselfde groep mense – elke beeld vertel egter vir ons iets unieks van die kerk. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Jesus as die Lam van God in Openbaring

Jesus as die Lam van God in Openbaring

Inleiding:

Jesus word regdeur Openbaring met verskillende name aangespreek (byna 30 name of titels!).  Die Naam wat egter die meeste gebruik word, is Lam van God (28 keer!).  Hierdie Naam gelaai met simboliek aangaande die persoon van Jesus. 

Die betekenis van die lam:

Die beeld van die lam kan ons waarskynlik terugvoer na die lam wat geslag moes word tydens die Joodse Paasfees.  Die bloed van die lam is dan aan die deurkosyne geverf as herinnering aan die dag toe God die Israeliete se huise verbygegaan het in Egipte (vgl. Eksodus 12:28).  Later het hierdie verlossingsfees ook saamgevloei met die sonde-offer en het die Paaslam ook as sonde-offer gegeld. 

Behalwe vir die gebruik van die lam as offer, word lammers oor die algemeen as hulpeloos, swak, saggeaard en onskuldig geteken (vgl. Psalm 23).  In Jesaja 53 kry ons die interessante verwysing na ‘n lam wat onskuldig ter slagting gelei word, ‘n gedeelte wat later (in die Nuwe Testament) sterk Messiaans geïnterpreteer is.  

 

Jesus as die Lam van God:

Jesus word op 5 plekke in die Nuwe Testament (uitgesluit Openbaring) as Lam beskryf (Johannes 1:29, 36; Handelinge 8:32; 1 Korintiërs 5:7; 1 Petrus 1:19).  In elkeen van hierdie gevalle word Jesus geteken as die Offerlam wat deur sy sterwe verlossing gebring het vir die wêreld.  Die Nuwe Testament-skrywers gebruik waarskynlik ‘n kombinasie van die Paaslam en die lam van Jesaja 53 om Jesus se verlossing te beskryf. 

Hierteenoor is die Lam van God die oorheersende benaming vir Jesus in Openbaring.  In Openbaring word Jesus as Lam egter nie geteken as die lydende Messias nie.  Jesus as die Lam van God is deurentyd die Oorwinnaar.  Hy word telkens geteken in oorwinnende (en lewende) beskrywings.  Waar Hy in stryd met die Bose kom, is die fokus deurentyd op die Lam wat as Oorwinnaar uit die stryd tree (vgl. Openbaring 12:11; 17:14).  Jesus as die Lam van God word met simboliese beelde as die apokaliptiese Oorwinnaar beskryf. 

Die oorwinning van die Lam, en die gepaardgaande oorlog, is verrassend anders as ‘n gewone oorlog.  Die Lam van God voer oorlog aan die kruis.  Alhoewel die kruis self nooit in Openbaring aan die orde kom nie, sinspeel talle tekste oor die Lam van God op die kruis (vgl. Openbaring 5:6, 7:14, 12:11, 22:14).  Die Lam van God wen nie wanneer sy vyande se bloed vloei nie, maar wanneer sy eie bloed vloei (Openbaring 12:11).   Hy oorwin deur self geslag te word (Openbaring 5:5-6).  Hierdie oorwinning van die Lam het die duisendjarige vrederyk in die hemel ingelei.  Dit bring ook ewige verlossing mee vir dié wat hulle klere laat was in die bloed van die Lam. 

Openbaring se beskrywing van die Jesus as die Lam van God word sterker hoe verder ‘n mens in die boek in beweeg.  Hiermee saam word die Lam van God al hoe sterker met God vereenselwig soos wat ‘n mens deur Openbaring beweeg.  In Openbaring 5:11-12 word die Lam van God besing met lofprysinge wat gelyk is aan dit waarmee God self in Openbaring 4 besing is.  Teen die tyd dat ons Openbaring 22 bereik (in God se nuwe wêreld) verdwyn die onderskeid tussen God en die Lam byna heeltemal.  In Openbaring 22:3 lees ons van die troon van God en van die Lam.  Dan sê Johannes, asof terloops: “…en sy dienaars sal Hom dien.”  Alhoewel dit die troon van God en van die Lam is, is daar uiteindelik net een God wat gedien kan word. 

Hierdie kragtige beskrywing van die Lam van God kom eintlik nie as ‘n verrassing nie.  Johannes het immers reeds die verheerlikte Christus in Openbaring 1:9-20 gesien, in sy volle heerlikheid.  Die res van Openbaring bevestig bloot wat Hy oor die Christus leer ken het hier op aarde: die Lam van God as Oorwinnaar, ewige Koning, en God. 

 

Skrywer: Dr Fanie Rudolph

 




God kom wys vir ons wie Hy is en wat ons moet glo (Openbaring)

God kom wys vir ons wie Hy is en wat ons moet glo (Openbaring)

Niemand het God nog ooit gesien nie. Die Bybel sê n’ mens sal sowaar dood neerslaan as jy God sommer so sal sien. God is net te groot en heilig.

Nou sê die Bybel dat mense soos Abraham en Moses God wel vlugtig gesien het, Moses net so skuins van agter af. Ten spyte hiervan sê die Bybel niemand het God gesien nie … en dis reg. Niemand het God nog so gesien dat hy of sy God regtig kon leer ken soos Hy is nie. Niemand was nog ooit so naby aan God dat die persoon vir ons kan vertel wat God dink of voel nie.

Nee, so het niemand God nog gesien nie … behalwe Jesus, sy Seun. Hy was by God van die begin af (Johannes 1:18). Hy het God gesien, regtig gesien, soos Hy is. Jesus weet wat God dink, wat Hy van ons wil hê, hoe Hy oor ons voel.

As ons dus wil weet hoe God is, moet ons na Jesus gaan kyk en na Hom gaan luister. Ons kan God nie sommer uitdink of sommer uit ons eie gaan sê hoe Hy is nie. Ons moet by Jesus gaan hoor. Hy sal die gordyn vir ons kan wegtrek en vir ons kan vertel.  Dit noem ons openbaring.

Ons het dus n’ openbaringsgodsdiens. Ons skryf nie voor hoe God is nie, maar gaan eerder luister… by Jesus. En waar hoor ons Jesus praat? In die Bybel natuurlik. Lees daarom jou Bybel. Dan sal jy sommer baie meer van God sien.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy