Was daar reuse in die ou tyd? – Fanie Snyman

Jan vra:

Op ‘n program “Hoe verklaar mens dit” van RSG voorlaaste Sondag beweer ‘n paleontoloog prof/dr? Jurie van den Heever dat die bestaan van reuse soos beskryf in die Ou Testment liefs met ‘n knippie sout bejeen moet word. Goliat het waarskynlik aan ‘n ongeneeslike siekte gely  wat hom so uitermate groot laat word het. Hy was waarskynlik as gevolg daarvan bysiende vandaar die feit dat iemand hom moes lei. Dit het hom ook dubbel laat sien  – “jy kom na my toe met stokke” alhoewel Dawid net ‘n enkele staf by hom kon gehad het.

Verder is beweer dat die fotos van uitgrawings van skelette gemanupileer is om groterige kopbene ens te wys.

Die storie van die Boek sê Goliat was ‘n dapper vegter. Op welke manier sou dit moontlik wees  om die Goliat verhaal asook die van die reuse van Genesis 6 te verifieer?

 

Antwoord

Prof Fanie Snyman antwoord

Hiermee my antwoord op die vraag oor die reuse in die Ou Testament.

Die verhaal van Dawid en Goliat bly een van die immergroen verhale van heldhaftige optrede in die Ou Testament. Immers, die onwaarskynlike gebeur hier. Dawid, ‘n jong en aantreklike man met weinig militêre ervaring, oorwin die reus Goliat selfs sonder ‘n swaard (I Sam 17:50) met net ‘n enkele klip uit sy slingervel. Die oorwinning wat ‘n enkeling (Dawid) behaal word dan ook ‘n simboliese oorwinning oor die Filistyne as kollektiewe vyand. Die insident word dan ‘n belangrike moment in die opgang wat Dawid maak as toekomstige koning van die verenigde ryk van Juda en Israel.

Goliat word in ekstreme kleure geteken. Geweldig lank (3 meter!), groot met ‘n wapenrusting van 75 kg wat hom haas onoorwinlik maak. Die klem val egter op Dawid, veel meer as op Goliat. Daarom moet ons versigtig wees om meer uit die teks te haal as wat die teks vir ons bied.

Genesis 6:1-4 staan nie in verband met Goliat se lengte en aanduiding as reus nie. Genesis 1-11 staan bekend as die sogenaamde voorgeskiedenis dus die gedeelte wil geen akkurate historiese feite aan die lesers meedeel nie. Die gedeelte moet eerder verstaan word in die konteks van die toenemende afvalligheid van mense wat die sondvloed genoodsaak het.

Daar bestaan geen argeologiese bewyse vir die bestaan van sulke “reuse” uit die voortyd nie.

Skrywer:  Prof Fanie Snyman




Soms weet ons nie

. —Thomas Brooks

Soms weet ons nie

Lees weer Genesis 6:1 – 4.

Scot McKnight sê dat toe hy hierdie gedeelte die eerste keer gelees het, het hy gewonder wat op aarde gaan hier aan. Ons lees hier van reuse. Dit is interessant dat die NIV praat van Nephilim – hulle vertaal nie die Hebreeus nie.

 

Ons kry ook ander verwysings na reuse in die Bybel. Toe die verkenners terugkom om verslag oor Kanaän te doen sê hulle: Ons het daar ook die reuse gesien (Numeri 13:33). Goliat was ook ‘n reus. Meeste Ou Testamentici vertaal Nephilin met “die gevallenes.” Sommige sien hulle as gevalle engele.

McKnight sê dat ons hier met baie spekulasie te doen het. Nou het ons twee keuses:

  • Raai wat dit beteken – reuse, gevalle engele … spekuleer.
  • Erken ons nie weet nie.

Soms weet ons nie en om nie te weet nie, is beter as spekulasie.




Reuse in die Bybel

Reuse in die Bybel – Marius Nel

Elmarie Potgieter vra:

In Genesis voor die Sondvloed lees ons oor die hemelwesens wat afgekom het aarde toe en uit hulle is Reuse gebore. Daarna het die Sondvloed gebeur en dus almal is dood. My vraag is, later in die Bybel lees ons van Dawid en Goliat, waar Goliat gesê is as ‘n Reus. Hoe het daardie Reus dan ontstaan, of was sy voorkoms slegs as Reus omdat Dawid bietjie kleiner was?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Ek dink jy is reg. Die gebruik in die Bybel om na ‘n reus te verwys, is idiomaties van aard, nes ons vandag na iemand verwys wat baie groot en lomp is.

Dankie vir jou vraag!

 

Outeur: Dr Marius Nel