Die sewe seëls (Openb. 6:1-8:1) as boodskap van hoop aan gelowiges

Die sewe seëls (Openb. 6:1-8:1) as boodskap van hoop aan gelowiges

1.   Inleiding:

Die oopmaak van die sewe seëls het al vele gelowiges se hare regop laat staan.  Op die oog af is daar bitter min positief hierin te sien.  Tog bied hierdie gedeelte ‘n ongelooflike troos aan gelowiges te midde van die chaos wat in die geskiedenis aan’t ontvou is. 

2.   Die hoop in die eerste vyf seëls (Openb. 6:1-11):

Wanneer die Lam die eerste vier seëls oopmaak, kry ons eintlik ‘n skrikwekkende prentjie.  Die wêreldgeskiedenis ontvou in oorlog en vernietiging voor die oë van Johannes.  Dit lei tot grootskaalse hongersnood en dood.  En skynbaar word geen onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges getref nie.  Voor die voet word mense geraak deur die magslus en vernietiging in hierdie wêreld. 

So, waar is die hoop in die eerste seëls?  Die hoop lê in die oopmaak van die vyfde seël.  Terwyl die eerste vier seëls vernietiging belowe, wys God vir Johannes ‘n groter en sterker belofte as die vyfde seël oopgemaak word.  Johannes sien die siele van die gelowiges wat gely het vir hulle geloof.  Hulle is lewendig.  Meer nog: hulle is onder die altaar in die hemelse tempel.  Hulle is dus aan die voete van God self.  Hulle word getroos deur God.  Die versekering dat hulle reeds aan die verlossing deel het, word gegee in die feit dat hulle elkeen ‘n lang wit kleed ontvang.  Hierdie klere is die teken van hulle reinheid en verlossing (vgl. Openb. 7:14; 22:14).  Gelowiges kan dus weet: al word hulle deur die mense van hierdie wêreld vernietig, selfs doodgemaak, is hulle steeds veilig in die hande van God.  Die toekoms mag miskien nie met roosblare besaai wees nie, maar God is in die toekoms.  Hy is die toekoms en lewe vir gelowiges.

3.   Die hoop van die sesde seël (Openb. 6:12-7:17):

Wanneer die sesde seël oopgemaak word, kry ons ‘n blik op die eindtyd.  Die bekende wêreld word tot ‘n einde gebring wanneer hierdie seël voor Johannes ontvou.  Dit is ‘n dag van oordeel en vernietiging.  Die teks van Johannes 6:12-17 is gevul met talle beelde oor die laaste dag: ‘n aardbewing, sterre wat uit die hemel val, die hemel en aarde soos ons dit ken wat verdwyn, berge en eilande wat geskud word.   Vers 17 sluit af met die pynlike uitroep van die wêreld op hierdie dag: “Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?” 

Die vraag sou oop kon bly vir elke mens om self te antwoord.  As ons egter die vraag oop sou los, sou dit selfs gelowiges met vrees vir die oordeelsdag vul.  Johannes se idee was egter nooit om gelowiges bang te maak nie.  Hy wou hulle juis hoop gee in die aangesig van die moeilike tye wat vir hulle voorlê.  Hy los dus nooit sy lesers met ‘n oop, onbeantwoorde, vraag nie.  Sy antwoord kom in Openbaring 7.  Hier hoor Johannes van die 144 000 wat eers gemerk moet word voordat die oordeel van Openbaring 6:12-17 finaal aanbreek.  Die getal 144 000 is ‘n simboliese getal wat verwys na die totale getal gelowiges van die ou verbond (12 stamme as verteenwoordigers) en die totale getal gelowiges van die nuwe verbond (12 apostels as verteenwoordigers).  Dat dit die volle getal is, word aangedui deur die volgende som: 12 X 12 X 1000.  Die getaal 1000 is die volledige getal.  Hierdie is die mense wat deur God gemerk is om beskerm te word in die eindtyd.  Hulle sal nie deur die oordeel getref word nie.  Dat dit al die gelowiges verteenwoordig word bevestig in Openbaring 7:9.  Hier sien Johannes wat die engel bedoel het met die 144 000 (wat hy gehoor het).  Hy sien ‘n ontelbare menigte.  Wie is hierdie ontelbare menigte?  Vers 14 gee die antwoord: “Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.”  Elkeen wie se sondes deur Christus afgewas is, het deel aan hierdie hoopvolle verlossing. 

4.   Die hoop van die agtste seël (Openb. 8:1):

Die agtste seël is vir baie mense ‘n tameletjie.  Daar is vele verduidelikings daarvoor (vgl. Du Rand 2007: 291-292).  Die waarskynlikste antwoord is dat ons hier te doen het met ‘n liturgiese stilte in afwagting op die gebede van die gelowiges wat net hierna (Openb. 8:2-5) op die altaar uitgegiet sal word.  Dit was algemene gebruik om in die tempel stilte te hê voordat die brandoffer op die altaar geplaas is.  Ons het dus hier te doen met ‘n heilige stilte in die teenwoordigheid van God.  Die gebede van gelowiges word dan in hierdie heilige oomblik voor God gebring.  Gebedstyd word offertyd.  En dit is heilige tyd.  Wat ‘n troos om te weet dat God elke gelowige se gebed so belangrik ag dat Hy ‘n heilige stilte aanvra om elkeen aan te hoor. 

 

Skrywer: Ds Fanie Rudolph