Het die skeppingsverhaal en sondeval werklik gebeur. – Jan van der Watt

Oor hierdie vraag is daar heelwat artikels in Bybelkennis.co.za en die gegewens hoef nie weer herhaal te word nie. Reaksie op die vraag kan dus gerus daar nagegaan word. Tog sou net een of twee opmerkings oor waarom mense so stry oor of die skeppingsverhaal regtig gebeur het en of Jona in die vis was (lees ook die artikel hieroor op Bybelkennis.co.za). Dit is belangrik om te onthou dat verskillende literatuurtipes op verskillende maniere kommunikeer. As jy bv. nie weet ‘n grappie ‘n grappie is nie, mag jy jou bloedig vererg. Of as jy dink ‘n gedig moet presies letterlik verstaan word, kan dit jou dalk aan die wonder sit, veral as daar staan dat jou meisie se oë sterre is en haar mond heuning! Daarom moet ons seker maak dat ons weet wat se soort literatuur ons lees as ons dele van die Bybel lees. Daar is byvoorbeeld gelykenisse, wonders, psalms, wysheidsliteratuur, briewe, geskiedenis en so kan ons aangaan.

As ons dus besluit die skeppingsverhaal in Genesis 1 is letterlike geskiedenis dan moes alles in ses dae en net so gebeur het. As mens egter dink dit is ‘n gedig wat die waarhede van die skepping weergee hoef alles nie net so te gebeur het nie. ‘n Gedig probeer mos nie presiese geskiedenis te vertel nie, maar wil die waarhede op ‘n mooi manier oordra. So sal Genesis dat op ‘n mooi manier wil vertel hoe wonderlike en sistematies die skepping is en dat dit uit die hand en deur die krag van God kom.

Dieselfde geld vir Jona. As Jona presiese geskiedenis wil weergee, moes daar ‘n vis gewees het wat hom ingesluk het en dan moet mens ook bespiegel hoe hy aan die lewe gebly het. Oordeel mens dat dit ‘n mooi simboliese beskrywing is wat die boodskap wil weergee hoe Jona verder en verder van God af weggeneem word en so besef hoe nodig hy God regtig het, dat lê die klem meer op die boodskap. Lees Jona 2 mooi en kyk wat jy dink dit presies is.

Die betekenis van die gedeeltes is dus direk afhanklik van watter tipe literatuur mens dink dit is. So word die betekenis van die teks  dikwels al bepaal voor ons nog begin lees!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die skeppingsverhaal – Herrie van Rooy

Jakob vra:

Die erkende, gewone interpretasie van die Skeppingsverhaal hou nog altyd heelwat verskillende strydpunte in tussen mense wat dit letterlik (bv. 6 dae) of nie, vertolk, en selfs ook met evolusie, en ook die erfsonde spruit hieruit voort.

Hierdie uitleg lyk vir my meer aanvaarbaar.

Antwoord:

Prof Herrie van Rooy antwoord soos volg:

GENESIS 1

Die eerste 11 hoofstukke van Genesis  kan genoem word die proloog tot die Woord van  God wat Hy aan Sy mensdom rig.Dit is onmoontlik  om God se bemoeienis met die volk Israel, en daarmee die mensdom,  te verstaan as jy nie die voorskou van hierdie eerste hoofstukke gehad het nie.

Met Abraham  begin die verhaal van God en Sy Mense!

God probeer nie in Genesis 1 om ‘n wetenskaplike of historiese  weergawe van die skepping van die heelal te gee nie.

Genesis 1  gaan in die eerste plek  oor God:   Wie is God?

# Wie ?,  is hierdie skepper?

#   Let op  dat in hfst 1  in die Hebreeus  God se naam  ‘Elohim’  gebruik word.

Dit word meestal  vertaal as  ‘Almagtige God’,  of  ‘God die Skepper’.

*  Hy  skep en  beheer die  “groot en magtige gode”  van daardie tyd:

… die son en maan ….

#   In hfst 2  word God se naam  ‘Jaweh’  gebruik.   Dit is hoe die volk Israel Hom ken.  Dit is ook die naam wat gebruik word wanneer daar ‘n verhouding met God ter sprake is.  Afrikaans:  Die HERE  God.

Syfers:     Sy naam verskyn 35 x in die eerste 31  verse)

3 = God se getal,  7 = die volkome, perfekte getal:

 

In hoofstuk 1 kry ons:

– 3 x  SKEP God uit niks: 1; v3-skep lig, 2; v16-son &maan,

3; 21-seediere

– 3 x  MAAK  God  iets: 1; v6,7-maak gewelf, 2;  v25 land-diere,

3;  v26 die mens. (v27-geskep as beeld- vergl 2:7)

– 3 x  NOEM (gee naam) GOD iets: 1; v5-noem dag & nag,

2; v8 noem gewelf, 3; v10-aarde & see.

– 3 x SEëN God iets:

**7 x sien God dat dit goed is: v’e,

4(1),  10(2),  12(3),  18(4),  21(5),  25(6),  31(7),

**7  net 7 woorde, in die oorspronklike Hebreeus, in die  eerste en die

laaste 3 sinne van hierdie hoofstuk.

 

Kom ons kyk  in die breë  watter beeld hier geskep word:

  • God is ewig: Voor alles ….  was Hy reeds daar:

Hy wat  is … wat was ….  en wat sal wees!

Alpha en Omega ….  ewig

  • Dit beeld die almag van God uit:

Dit lyk so maklik!  Hy spreek net!  “Toe het God gesê:”

….. en die HEELAL was daar!

  • Dit beeld Sy heerskappy uit:

ALLES  se bestaan is aan Hom te danke!  ‘1:1’

  • Hy verander die chaos in orde, ….  deur ‘n woord te sê. ‘1:2’
  • Hy verdryf die Boosheid: ‘dit was  donker op die diep waters’:

                        ‘laat daar LIG  wees’    … wat die duister  verdryf!

 

Let Op:  In die eerste 3 dae tem God die magte wat by die mens vrees inboesem:  duisternis,  watermassa(Bose), en onherbergsaamheid.

In die laaste 3 dae  vul Hy die aarde met lewe.

 

Vers 1:   ‘Begin’   van Wat?  …… ?

God se verhaal van lewe saam met Sy mense!

Dis  die begin,   maar GOD  was alreeds daar …..  Hy is …!

Vers 2:   “…donker, diep waters…”  daar waar die bose magte woon”

“…. maar die Gees van God sweef oor die waters …”

Hoekom? …..?              … die waters is onder Sy beheer!!

Vers 3:   Dit is ‘n Koninklike  BEVEL  van die Koning van die Heelal!

Dit word onmiddelik  gehoorsaam deur dit wat Hy geskep het!

Wat is hierdie lig? …  Vergl:

2Kor 4:5,6(236);  Joh 1:1-8(122);   Joh 12:35,36(141);

Mat 4:12-17(8);  Openb 21:23,24.

Vers 5:  God gee name: Dag en Nag.  Om naam  te gee beteken jy

oefen gesag uit, heers daaroor,  dis jou eiendom.

Vers 14:  Hier  “skep”  God  TYD!

LET OP!  God noem nie Son en Maan by name nie!  Die vroeë

volke het geglo die son en maan gee lig,  EN DUS LEWE!

Hulle is beskou en aanbid as gode.

Vers 31: God beskou Sy skepping:

Hy beoordeel ALLES:  dit is  BAIE GOED!

GENESIS 2

VOORAF:

Hoofstuk 1 van Genesis,  is die hoofstuk oor die Skeppende God.

In hoofstuk 2,   toon God vir ons wat die verhoudings onderling in hierdie skepping is.

Hierdie hoofstuk beeld verhoudings uit.

Die hoof boodskap van die Bybel is juis ‘n verhaal van die verhouding tussen God en sy mensdom, en ook van mense onderling …..  vertikale en horisontale  verhoudings!

 

God skep ‘n tuin met alles wat mooi en nodig is vir lewe,  in oorvloed.

Wat ‘n  WONDERLIKE WOONPLEK vir mens en dier!

God het  ALLES  VOORSIEN:

Alles en almal  kan hier leef en gelukkig wees!

 

Vers 7:  Die mens is deel van die aarde:  ‘uit stof v/d aarde geVORM’

Soos ‘n kunstenaar  ‘n beeld uit klei vorm.

‘… lewensasem in sy neus geblaas,  sodat die mens ‘n

 LEWENDE WESE  geword het’.

Die diere, voëls en vissse was ook LEWEND!

Wat is die verskil?           Is dit die Heilige Gees?

(wind, asem en gees is dieselfde woord in Hebreeus!)

Mét God se Gees, dan júís  beeld van God?

Johannes 3,6;  53 & NLV,  “Wat uit die menslike liggaam gebore is,  is menslik,  en wat uit die Gees gebore is, is gees.”

 

Vers 9:   Die 2 bome:

God het vrugte en sade aangewys as mense se voedsel.

Bome se vrugte is mense se aangewese voedsel.

Maar,   van een boom  mag hulle nie eet nie!

Die boom van kennis van goed en kwaad.

Wat beteken dit?

Om te ken=ken baie goed/intiem

belewenis daarvan gehad,

baie intiem daarby betrokke gewees

Sien 4:1, OV; “En die mens het sy vrou, Eva  beken,  en sy het swanger geword …..”

 

…kennis van goed en kwaad … ‘  beteken dus om dit baie goed/intiem te ken, dit te beleef, daarby betrokke te wees.

Dan word die eet van hierdie boom se vrugte, simbool van baie meer as “om net ‘n appel te eet”!

 

Dink ook aan die           ‘Boom van die Lewe’:  In die middel van die tuin.

Maklik om by uit te kom …..   NIE VERBODE NIE!

HOEKOM NIE??!                       Sien: Openb 22:1

Vers 20-24:

Skepping v/d vrou:   Sy is “gemaak”   nie geskep!

Die beeld wat weergegee word,  is NIE  dat die vrou die man se

gelyke is nie:  Sy  is hulp vir hom om sy taak uit te voer.

Sy maak van hom volledig mens.

Sy is sy  “counterpart” ,  sy ander helfte.

Hulle het verskillende eienskappe vir verskillende take.

Één,  één,   is hulle of  man of vrou,

Tesame is hulle volledig mens.

Hierdie “tweede”   skepping van die mens  is nog dieselfde “skepping”  wat ons in 1:26-28.

Let daar op dat   DIE MENS (één) hier geskep word!

Maar dan word van   HULLE gepraat! 27,28!

Hier in hfst 1,  word die MENSHEID (Adahm)   geskep.

 

GENESIS   3

Hoe lank het Adam en Eva in die tuin van Eden gewoon?

(Eden beteken “delight”  di . plesier, genot,  vreugde)

 

‘n Maand?   Een jaar?   1,000 jaar?  Langer?

Dit moes ‘n aansienlike tyd wees, om al die name te kon gee, en ook saam met God te lewe. (Saam met God te wandel). Set is gebore nadat Adam en Eva uit die tuin verdryf is. Hy is gebore toe Adam 130 jaar oud was. As hy gebore is na Abel se dood, was die vrblyf in die tuin op die meeste ongeveer 100 jaar, maar die Bybel gee nie regtig gegewens hieroor nie.

 

Alles in die tuin was vir die mens se lewe,  vreugde  en blydskap;  die bome, vrugte,  oorvloed lewegewende water,  en die teenwoordigheid en lewe saam met God.  Gen. 2:8,9.

Dit  was die  ideale verhouding tussen God en sy mense: ‘n Lewe,  in liefde, vrede en onskuld, in die pragtigste tuin wat oorloop van oorvloed en  Belofte!

Vergelyk huierdie tuin met die Nuwe Jerusalem in Openbaring 21. God eindig met sy mensdom waar Hy met hulle begin het. Die oorspronklike mens is terug by sy God soos in die begin!

 

Die mens word aangestel as heerser oor die aarde,

en om daar voorberei te word vir die ewigheid. 

 

God skep ‘n toets vir die mens se liefde,  deur  ander opsies moontlik te maak waardeur die mens se liefde bevestig kan  word.

Daarom is die mens nie willose robotte nie.

Sonder ‘n alternatiewe keuse sou die mens robotagtig slegs navolger en slaaf van God wees.

God skep juis vir Hom mense na sy beeld wat werklik deur vrywillige keuse kies om God lief te hê,  selfs tot die dood !  Vry,  niks en niemand se slawe nie.

Liefde gedy juis in vryheid!

 

Job, onder andere, vertel hoe die Verleier, die Aanklaer,  mense se liefde en gehoorsaamheid vir en aan God toets.

 

God skep ook die Verleier, die Aanklaer, die Satan, die slang,  die Dier uit die aarde,  die  Bose Trio.

 

Oorwinning oor die versoekings van die  Bose,  is juis bewys van die mens se liefde vir God.

Die stryd wat die Bose voer om die mens se liefde te wen,  loop soos ‘n draad deur die geskiedenis van die mensdom in die Bybel.

Paulus sê in Efes 6 ons stryd is nie teen vlees en bloed nie,  maar teen die bose magte en geeste, en vir hierdie stryd het ons die wapenrusting van God nodig.

 

God self verlei niemand nie. Waarom sal Hy satan se werk doen?

Jesus sê ‘n koninkryk wat in homself verdeeld is,  gaan tot niet.

Ons vind die verleier telkens in Israel se geskiedenis,

by Jesus in die woestyn,

by die skrifgeleerdes wat die Messias nie herken nie,

maar Hom laat kruisig!.

Hierdie geveg tussen God en die bose

speel ‘n groot rol in die Openbaring-boek van Johannes.

In hierdie smeltkroes van die aardse lewe word die mens voorberei en gelouter

vir die ewige lewe saam met God in sy wonderlike heelal.

 

“JY IS HIER GEPLAAS OM VIR DIE EWIGHEID VOOR TE BEREI!”

Rick Warren.

 

Die lewe van die mens in hierdie tuin was ‘n lewe vol vreugde en liefde saam met God. Daar was geen spanning in hierdie verhouding nie: geen skuldgevoelens nie.  Maar die mens se liefde teenoor God is ook nooit  onder druk geplaas nie.

Die mens het net liefde en die goeie geken.  Die kwaad het hy nog nie geken nie!

 

Die mens was onskuldig en sonder sonde;  hulle het geen bedekking nodig gehad nie, want  hulle had niks om van te vlug, of om voor skaam te wees,  of om oor skuldig te voel nie:

Tot dié dag waarop die versoeker twyfel kom saai: Die slang was   listiger  as al die wilde diere …  en het vir die vrou gevra:  “Het God  werklik  gesê julle mag van   geen boom  in die tuin eet nie.”    Gen.3 1-7. (Let op hoe verleidelik: ‘n lokval word gestel!)

Die inligting dat dit ‘n slang  was, is nie so belangrik as dat hy  listig  (slim, uitgeslape, oorredend, verleidelik)  was nie!

 

Vergelyk: NLV(nuwe lewende vertaling): “Het God  regtig  gesê julle mag  niks  van die vrugte in die tuin eet nie?”

Sien ook: Aanval op Job,  Joh.8:39-44,  2Kor.11:3, 14,  Openb.12:7-9, 20:1-3.

 

Satan oordryf en verdraai God se opdrag om twyfel te saai.

 

(Vergelyk  vandag  se toepassing van hierdie manier om twyfel te saai!)

 

Die Mens het voor sy eerste versoeking gekom:

Met alles so pragtig en  oorvloedig heerlik, alles wat ‘n mens se hart begeer tot sy beskikking …..  en met die vryheid van keuse,  was die mens werklik in die paradys;  en dan nog voortdurend saam met God.

 

Listigheid bring die versoeking:  ” …. het God regtig gesê? ….”  (hoekom sou God dan só sê?)

Dit bring:  …. nuuskierigheid, …… twyfel.

(God se opdrag was ondubbelsinnig: Eet …dan sal jy  sekerlik  sterf! Gen 2:17)

Maar die mens bly lewe! Wat sterf dan?

 

Nuuskierigheid en twyfel laat Adam en Eva die verkeerde keuse maak: Hulle kies teen God, teen Sy bevel:  Hulle is ongehoorsaam.

 

Gen 3:22,  ” Toe het die Here God gesê: ‘Die mens het nou soos een van ons geword deurdat hy alles ken. As hy nou net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie.

(nou raak hierdie boom van die lewe se eienskap belangrik, want die mens het  VIR  die bose gekies)

 

Dit verbreek die volmaakte verhouding met God …..  en die mens se onskuld!

 

Die mens se diepste wese is hierdeur be-invloed, hy het in die mag van die bose beland deur sy ongehoorsaamheid.  Ef 2:1-3.

Die mens het hier  die geestelike dood gesterf.

Die Lewe met God in Eden,  word streng beskerm.   1:23,24.

 

Mense kan die Lewe  slegs deur ‘n  wedergeboorte, weer terugkry:

‘n geboorte van Bo,

‘n geestelike geboorte,

Joh 3.

 

Vers  14-19:  Hierdie deel is in gedig-vorm: Dit is veelseggend.  As God of sy profete in die Skrif  sy gedagtes meedeel, word dit in prosa-vorm gedoen.  Dit is net wanneer Sy gevoelens meegedeel word,  dat die digvorm  weergegee word.

 

Let op:  Die aarde word vervloek,  maar die mens word gestraf!

Hierdie klink alles reg vir my.

Hoofstuk 2  word na die mens gekyk in terme van twee verhoudings:

  1. Die mens se verhouding tot die aarde (“uit die stof van die aarde”)

Die mens is  DEEL  van die aarde=  baie nou verwant.

  1. Die man en vrou is deel van mekaar! Nog nouer verwant!

Adam beteken:  (van die) grond,  en Eva,  (van die) Lewe.

  1. In 1:26,27   word die mens in sy verhouding tot God geskep:

Sy verteenwoordiger,  nog meer: sy BEELD,

dws as jy die mens sien,   kan jy dink dat dit is God!

(onthou hoe ons in Openbaring dieselfde beeld/

gebeurtenis  uit verskillende hoeke sien!?)

Slegs Één  is die  EWEBEELD  van God:   Hebr.1:3

 

Vers 25:   KAAL:   Onskuldig,   sonder sonde,  of die vlek van sonde.

Die Bybel verwys ook na die gelowiges se  WIT  klere; simbolies.

Later word die eerste offerdier geslag om vir hulle velklere aan te trek!

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy




Verskillende skeppingsverhale

Verskillende skeppingsverhale – Marius Nel

Erika vra:

In Genesis 1 en Genesis 2 word twee verskillende skeppingsverhale uitgebeeld. Kan u verduidelik asb?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Hier is die teologiese antwoord op die vraag:

 

OERVERHALE (GENESIS 1-11)

Hier begin Israel se teologiese geskiedenis van die wêreld. Dit vorm die komplekse omgewing waarin Israel se geloof en lewe verstaan moet word.

Daar is twee kritiese probleme wat al lankal bespreek word:

1. Israel gebruik materiaal wat hulle elders leen: jy vind hier parallelle tekste wat ouer as die Bybelse teks is en in groot kultiese sentra van politieke wêreldmagte ontstaan het. Hier dien dit as ‘n wyse om Israelitiese bestaan en godsdiens te fundeer, te legitimeer en te orden. Vir lank is na sodanige inligting verwys as “mite” in navolging van Gunkel, waarmee nie na ‘n leuen verwys word nie maar eerder na funderende poëtiese vertellings wat die basiese selfbegrip van ‘n samelewing en sy bestaansrede verduidelik (Joseph Campbell).

2. In oerverhale het navorsers verskeie tradisies uitgewys, wat te doen het met die Godsname, Elohim en JHWH. Hieruit formuleer Julius Wellhausen die hipotese van ‘n Priesterlike skrywer asook bydraes deur die Elohis en Jahwis.

Karen Armstrong verduidelik dit so: In die agtste eeu het Israel nog nie sy godsdiens verinnerlik nie. Godsdiens was blote uiterlike rituele. Nou leef die Koninkryk van Juda in die suide in wat vandag as die Wesoewer bekend staan, met die hoofstad in Jerusalem; terwyl die sterker Koninkryk van Israel in die noorde heers. Die Adam-en-Evaverhaal ontstaan in die agste eeu in die suide, verwys na God as JHWH en ons verwys na die skrywer as J. In dieselfde tyd skryf iemand in die noorde ook ‘n soortgelyke weergawe van Israel se geskiedenis neer maar gebruik die meer formele naam vir God, Elohim. Ons verwys na hom as E. In albei gevalle is dit hofverhale wat dien om die koninklike annale aan te vul. Nadat die noordelike ryk in 722 vC vernietig is deur die Assiriërs, word die twee dokumente gekombineer in die JE-vertelling, wat die vroegste stratum van die Bybel vorm.

J en E interpreteer die geskiedenis van Israel radikaal verskillend omdat hulle vir verskillende redes die verhale oorvertel. Later geslagte het telkens dié verhale weer oorvertel en in terme van hulle eie situasie geïnterpreteer. Die JE-verhale is heel waarskynlik by kultiese byeenkomste gebruik. Sedert 1200 het die konfederasie van stamme by heiligdomme in die Kanaänitiese hooglande byeengekom, by Silo, Jerusalem, Hebron, Bet-El, Sigem en Gilgal, waar hulle die verbond hernu het wat hulle aan mekaar bind.

Teen 1850 v.C. het Abraham na die Beloofde land vertrek en teen 1200 het Josua die land verower.

J beskou Abraham as iemand wat in die suide van die land leef en die primêre held van Israel is. J het min tyd vir Moses wat baie meer gewild in die noorde was en een van die belangrikste eksponente van E.

E dra niks by tot Genesis 1-11 nie maar voeg baie by tot die partiargverhale as Israel se geskiedenis vir hom begin.

In die skeppingsverhale is P en J se vertellings langs mekaar geplaas, in 1:1-2:4a en 2:4b-3:24. In die lang vloedverhaal is die twee vermeng, met 6:5-8; 7:1-12; 8:20-22 as basis vir J se bydrae en 6:9-22; 7:13-16; 8:14-19; 9:1-17a as artikulasie van P. Wat belangrik is, is dat die finale weergawe van die verhaal kompleks maar ook volledig is. Die voorgeskiedenis is nie werklik belangrik om die teks te verstaan nie omdat die teologiese interpretasie van die finale vorm die eintlike waarde daarvan vorm.

Tog is dit interessant dat die bronneteorie wat E, J en P in die Tetrateug uitwys, ons in staat gestel het om verskille in die Godsbeeld en -beskouing van die onderskeie bronne op te merk:

?         J se God is antropomorfies, sodat hy saam met Adam en Eva in die aand rondloop en by Abraham gaan eet. In Eks 33 vra Moses om JHWH te sien, wat JHWH dan ook toelaat: 21Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. 22Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. 23Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

?         P se God openbaar Hom weer deur natuurverskynsels: in vuur en deur ‘n aardbewing op Sinai, en op die woestynpad in ‘n wolkkolom wat skadu in die dag verskaf en ‘n vuurkolom wat lig in die nag gee. Hy stel belang in orde en grense: sy skepping bestaan daaruit dat Hy grense tussen substansies stel. P se belangstelling lê by Aäron se nageslag, en die tabernakel/tempel-gebaseerde godsdienstige stelsel van offers.

?         E se God is verhewe en onkenbaar. Niemand kan Hom sien en bly leef nie.  Hy is ver van mense, en kommunikeer deur middel van drome en visioene.

?         Die Deuteronomis se God was weer die Een wat eksakte eise aan sy volk stel.

Die narratiewe bronne, J. E, P en D, het elkeen ‘n wetsversameling wat daaraan gekoppel is. Die Verbondsversameling van Eksodus 20:19-23:33 (vgl. Eks 24:7) word met J of Everbind, terwyl die Heiligheidskode van Lev 17-26 sy naam ontleen aan Lev 19:2: “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig. ” Alhoewel dit heel moontlik nie deur die Priesterlike skrywer neergepen is nie, reflekteer dit die Priester se teologie. Die Deteronomis se wetsversameling kom in Deut 12-26 voor.

Vroeër is die bronne met groot sekerheid gedateer. J is beskou as die vroegste versameling, en in die tyd van Dawid en Salomo geplaas, in die tiende eeu v.C. Hierop volg die werk van E wat met die Noordelike Ryk verband hou. D is weer verbind aan die hervormingswerk van koning Josia in die laat sewende eeu, en P is in die sesde eeu v.C. geplaas.

Vandag is daar nie meer soveel sekerheid oor die datering of opvolging van die bronne nie, en sommige geleerdes trek selfs sommige van die bronne in twyfel. Hulle sien raak dat dit moeilik is om E van J te onderskei, dat albei vroeg in die Tora voorkom en dat dit onmoontlik raak om vanaf Eksodus tussen J en E te onderskei. Daarom praat hulle eerder van JE as ‘n vroeë narratiewe bron wat verskeie tradisies inkorporeer. Klem word ook vandag daarop geplaas dat ‘n bron nie ‘n enkele skrywer verteenwoordig nie, maar veel eerder ‘n lang historiese periode binne ‘n spesifieke skool of groep of tradisie. Daarom is dit beter om te praat van strome van tradisie wat van mekaar verskil in terme van hulle basiese veronderstellings, eerder as van bronne deur enkele outeurs war ‘n spesifieke periode en lokaliteit veronderstel.

Tog is daar duidelike verskille tussen die strome van tradisies wat dit wel moontlik maak om onderskeie bronne te mag onderskei. Om een voorbeeld te noem, die Deuteronomis se idee van Israel se heiligheid verskil van die Priester se idee. Bronnekritiek bly ‘n nuttige hulpmiddel om die Pentateug te verstaan.

Hoe het die verskillende bronne van die Pentateug bymekaar gekom om ‘n koherente boek te vorm? Navorsers praat van R, ‘n redakteur of span van redakteurs, wat die verskillende bronne saamgevoeg het, waarskynlik oor ‘n periode en in verskillende stadia. Nie alle tradisies van Israel is waarskynlik oorgelewer nie; ‘n keuse is gemaak. Op grond waarvan die redakteurs hulle keuse gemaak het, en wat die ordeningsbeginsel was wat hulle gebruik het, is ook nie aan ons bekend nie.

Wat wel beklemtoon moet word, is dat die finale redaksie van die boek nie ‘n suiwer konsekwente werk opgelewer het met ‘n spesifieke perspektief nie, soos ons van moderne werke verwag wat meer as een skrywer het. Jy vind hier eerder verskeie stemme en perspektiewe.

Die werk is moontlik voltooi tydens die Babiloniese ballingskap van Juda (586-538 v.C.) of kort hierna in die Persiese periode. Die Pentateug het ‘n belangrike rol in Jode se geskiedenis begin speel, omdat hulle besig was om hulle identiteit te verloor. Die Pentateug het hulle identiteit histories verbind aan JHWH se betrokkenheid by Israel.

Die doel van die vertelling is om aan te dui hoe God alles skep, insluitende alle nasies, maar dan een volk uitsonder en met hulle ‘n besondere pad begin stap.

Die Antieke-Nabye-Ooste het nie nog so ‘n werk opgelewer nie, ‘n werk wat so ‘n lang stuk geskiedenis in soveel genres en bronne bevat nie.

Die vraag is: moet ons op die onderskeie bronne konsentreer, tot die mate wat dit moontlik is om bronne te onderskei? Of moet ons op die finale redaksionele werk ons aandag vestig?

Die mees verantwoordelike wyse om die teks te interpreteer, is om raak te sien dat dit uit bronne bestaan wat vir onderskeie redes inligting saamgebring het, maar dat die finale produk benut is om sin in Israel se ervaring van die sinloosheid van die ballingskap in te dra.

Die maklikste onderskeid om te maak is tussenvertellings en die geslagsregisters wat voorkom in hfste 5, 10, 11. Die geslagsregisters is die wyse waarop jou verbintenis aan ander mense en groepe bewys word: hier hoort ek, is ek gewortel en gewettig. Hierin lê netwerke van mag en lojaliteit wat vir die antieke mens identiteitsvormend was.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Skeppingsverhale

Skeppingsverhale

Louis Fourie vra die volgende vraag:

‘n Vriend van een van my seuns studeer vir pastoor in die AGS. Hy sê dat aan hulle vertel is – ek weet nie of dit in ‘n handboek voorkom of nie – dat daar ook ‘n Babiloniese skeppingsverhaal bestaan het wat nog voor Genesis geskryf is, wat ook vertel van ‘n Skepper wat alles in sewe dae geskep het. Nou het ek al vantevore verneem dat die sogenaamde Mosaïese boeke in Babilon neergeskryf is tydens die ballingskap. Volgens wat ek hierbo na verwys, lyk dit of die Israeliete die Babiloniese verhaal oorgeneem het. Wat is die geval?

Antwoord:

Ja, die verwysing is korrek. Daar bestaan skeppingsverhale wat uit Babilon kom en gebaseer is op mites van ʼn stryd tussen die gode wat tot die wêreld gelei het soos ons dit ken. Maar daar is ʼn baie groot verskil tussen die Bybelse skeppingsvoorstellings en Babiloniese mites, waarvan die belangrikste is dat die Bybel slegs van een God weet, dat Hy die Skepper is en dat Hy skep deur te spreek. Daar is nie ooreenkomste tussen die twee tipes verhale nie.

Sommige Bybelwetenskaplikes beweer dat die Pentateug (eerste vyf boeke, wat vir Jode ook die meeste gesag dra) tydens die ballingskap finaal op skrif gestel is. Hulle ontken nie dat die verhale en wette vir eeue reeds gefunksioneer het nie, mondeling sowel as skriftelik om normatief vir gelowiges van die Verenigde Ryk en ook later vir die Suidelike Ryk (en tot mindere mate vir die Noordelike Ryk) te wees. Die verhale is weer ʼn keer oorvertel en geherinterpreteer met die oog op die enorme uitdagings wat die ballingskap aan Jode gestel het, wanneer hulle hul tempel, koning en land verloor. Die verhale is egter baie ouer en dateer uit die periode voor en tydens die lewe van Moses.

Het omliggende volke se verhale ʼn invloed op die Ou Testament uitgeoefen? Die antwoord is nie klinkklaar nie omdat sodanige ooreenkomste nie uitgewys kan word nie. Die meeste wat ons kan sê, is dat Israel die wêreld met hulle buurvolke gedeel het en alhoewel daar nie so iets soos globalisme was nie, het idees tog moontlik oor grense beweeg en mekaar beïnvloed.

Hoop dit werp lig op jou navraag!

 

Skrywer:  Dr Marius Nel