Genesis 2 en 3

Genesis 2 en 3 – Marius Nel

Adri Swart vra:

Wat se Genesis 2 & 3 vir ons, vir vandag? Kan ons iets hieruit nog gebruik vandag? Is die “straf” wat God oor die mens en sy nageslag uitgespreek het, nog van toepassing na die verlossing van Jesus, solank as wat ons op aarde leef? Wat beteken die “straf” in hedendaagse taal, maw as ons daardie stuk in vandag se taalgebruik oor skryf, hoe sal dit lees? (gedeelte waar God vir Adams gesê het hul moet hard werk en Evas sal hunker na Adams en swaar kinders hê).

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Ek meen die verhaal in Genesis 2 en 3 is van toepassing ook op ons omdat dit vertel hoe die eerste mens ongehoorsaam aan God was en hoe ons steeds ongehoorsaam is, hoe God straf maar steeds tegelykertyd genadig is en kies om met ongehoorsame mense ʼn pad te loop. Die gevolge van sonde is ook nog met ons en sal met ons bly tot die aanbreek van die nuwe aarde. Intussen het God se genade nuwe kleure bygekry, met Jesus wat in ons plek sterf, maar solank ons op aarde leef, sal die vloek van sonde steeds met ons wees, soos uiteindelik gedemonstreer as die dood ons wegneem. God se genade is egter so groot dat hy selfs die straf gebruik om sy doel te bereik, soos wanneer hy die dood aan Hom diensbaar maak – om sy kinders te haal om by Hom te wees.

Outeur: Dr Marius Nel




Sonde wat in my voortleef en waarvan ek nie kan loskom nie

Sonde wat in my voortleef en waarvan ek nie kan loskom nie – Kobus Kok

Erna vra:

Kan ons vergewing van sonde verwag as – ons dit bely maar dan nog doelbewus voortgaan in die sonde met die verweer dat ek nie daarmee kan breek nie en dit dan ag as sonde wat teen my wil in my oorgebly het?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

In ‘n vorige artikel, waarin ek gepraat het oor wat sonde tot die dood of onvergeeflike sonde is, het ek baie nou by hierdie tema aangesluit deur te verwys na 1 Johannes se siening daarvan. In kort kom dit daarop neer dat opsetlike, doelbewuste sonde teen God daaruit bestaan dat ek keer op keer teen God kies en met my optrede en my bestaanstoestand my rug op Hom draai. Momentele sonde is nie sonde tot die dood nie, omdat 1 Johannes dit duidelik stel dat God getrou is en ons vergeef. 1 Johannes argumenteer ook dat ‘n Christen nie kan sondig nie, omdat hy/sy gewoon net nie meer wil of kan nie. Jy kan of wil dit nie doen nie omdat jy lief vir God is en eerder naby aan Hom wil leef.

Maar dan gebeur dit soms dat ons deur God bewus gemaak word van iets wat verkeerd is in ons lewe. So sal God byvoorbeeld vir iemand wys dat hy/sy ʼn probleem het met aggressie. Hoe meer God in jou lewe met jou werk hoe meer kom jy agter dat die probleempie ʼn reuse probleem is in God se oë en intussen chop almal by die huis of in die kantoor af. Een dag breek jy voor God met jou wese en jy smeek hom om jou aggressie probleem weg te neem en om jou te vergewe vir jou sonde. Aanvanklik gaan alles goed vir een week, en toe kom daardie uitbarsting weer, en weer… Jy besef jy is doelbewus besig om te sondig maar die aggressie probleem is so diep deel van jou dat dit gewoon net nie wil uitkom nie. Dikwels lê die probleem op ʼn diep psigologiese vlak en moet ander kwessies eers genees word.

Die vraag vanuit ʼn gelowige perspektief is egter, wat as ek iets doen wat ek weet verkeerd is, maar ek kan nie dit regkry op daarvan los te kom nie.

Indien mens op hierdie punt van desperaatheid gekom het, verstaan mens dalk vir die eerste keer wat die Bybel bedoel as dit praat van die mag van sonde. Volgens die Kolossense brief is ons almal vasgevang deur die mag van die duisternis – daardie mag wat eintlik net vernietiging bring. Gelukkig het God oorlog verklaar teen die duisternis en die Lig van God is baie sterker. Daarom weet ons dat ons nie langer vasgevang is en onder die beheer van die duisternis is nie. Ons is verlostes en word al meer verlos soos die Lig ons lewe deurdrenk.

Indien God wel vir jou bewus gemaak het dat dit wat jy doen sonde is, en jy sukkel om daarvan los te kom, moet jy weet dat daar geen manier is waarop jy self daarvan los kan kom nie. In jou verhouding met God en jou gereelde wandeling in en naby die Lig sal jy saam met God hierdie reis van genesing moet loop. Dikwels bring ons sonde vernietiging en dood in ons lewe. Iets soos aggressie verwoes verhoudings en maak nie net ander seer nie maar ook onsself. Alkoholisme maak seer. Ongesonde seksuele verhoudings buite God se wil maak seer. Dit weet ons almal wat die paadjie van die lewe geloop het. Jy moet dus in die eerste plek nie net fokus op die feit dat dit wat jy doen verkeerd is en dat jy nou op een of ander moralistiese wyse die regte ding moet doen nie. Jy moet, in die eerste plek, die Vaderhart van God oor die saak begryp – jy moet verstaan hoekom dit wat jy doen sleg is en wat die effek daarvan op jou geestelike, emosionele en fisiese lewe is. Wat kom steel dit van jou lewe? Vanuit jou al groter en dieper wordende intieme verhouding met God sal Hy die Lig daarop werp en in die proses sal hy jou denke en jou lewe kom herskep.

Dikwels veg mens lank in hierdie oorlog teen sulke dinge, maar ek kan jou waarborg dat God jou denke met tyd sal vernuwe en daardie vrot gedeelte in jou lewe sal kom genees.

Koop gerus die boek van Dr. Stephan Joubert met die titel: Beheer God jou denke? Daarin help hy mens om te verstaan hoe jou denkprosesse werk en hoe mens nuwe denkpatrone moet skep en die gewoontepatrone kan breek.

Onthou die volgende vers: Jakobus 1:13

Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees?

Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees? – Kobus Kok

Benita Kotze vra:

Wat word bedoel as daar gesê word: “jy doen sonde teen die Heilige Gees”, welke sonde as onvergeeflik beskou word.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Doen jy onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees?

Benita, prof Jan van der Watt het alreeds iets hieroor geskryf op die webblad, maar ek sal graag ook kortliks vir jou wil verduidelik wat hierby bedoel word deur te verwys na ‘n teks wat mense dikwels aanhaal en wat hulle baie deurmekaar maak. In 1 Johannes 5:16 lees ons die volgende:

16As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. 17Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.

Ons lees ook in 1 Johannes 3:9

9Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Die maklikste om dit mee te verduidelik is deur middel van ‘n rugby metafoor. Indien jy vir die Springbokke speel teen die All Blacks is dit jou volle intensie om te wen, elke bal deur die pale te skop en geen foute te maak nie. Net so kan en wil ‘n Christen nie meer speel vir die duiwel se span nie omdat jy nou aan God se span behoort. Soms gebeur dit dat ons die bal van die lewe skeef aangee en foute maak, maar dit is wat dit is, momentele foute en ons stop sommer dadelik daarmee en maak reg, ons verval nie daarin nie. Johannes sê in 1 Johannes 7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak .

Mense wat naby aan God leef weet wanneer hulle verkeerd optree en wanneer dit hulle verhouding  met God seermaak. Daarom keer hulle vinnig terug na God se hartkamer wat altyd vir hulle oopstaan soos ‘n liefdevolle Vader. 1 Johannes 1:8 sê immers dat alle mense droogmaak, maar God vergewe die wat terugdraai na Hom: 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Momentele sonde, daar waar jy die bal van die lewe aanslaan of iemand hoog tekkel, dit is nie sonde tot die dood nie. Sonde tot die dood is wanneer jy die God van lewe verwerp en met jou ganse wese en jou menswees keer op keer teen God kies – wanneer jy jou hart vir God sluit en hom verwerp. Dit is sonde teen die Heilige Gees en sonde tot die dood omdat jy die God van lewe verwerp en ook jou naam uit die boek van die lewe uitskryf. Sonde teen die Heilige Gees is dus ‘n bestaanstoestand waarin ek teen die Lig en die Lewe kies met my wese en doelbewus God se stem en die inspraak van sy Gees verwerp.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok

 

 




Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde…

Wie weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde… – Kobus Kok

Juul vra:

Ek het ‘n inleiding oor Jakobus 4: 13 – 17.  Ek het die Bybelgedeelte, maar soek nog voorstudie materiaal.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Jakobus 4:13-17 is ʼn baie interessante teks en geskryf deur Jakobus die broer van Jesus Christus en belangrike leier in die vroeë Jerusalem gemeente. Die antieke mense het na hom verwys as besonders gelowig en hy het so baie gebid dat sy knieë soos die van ʼn kameel gelyk het.

In die Ou vertaling lui Jakobus 4:13-17 soos volg:

Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak- julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe?

Dit is tog maar ʼn

damp

wat vir ʼn

kort tydjie verskyn

en daarna

verdwyn.

In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.

Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.

 

Teenoor die selfversekerheid van dié wat vertrou op hulself en wat seker is van hul eie sukses in die toekoms, bring Jakobus die lesers weer terug aarde toe. Hy herinner hulle aan die vlugtigheid van hulle bestaan en gebruik tekenende woorde wat kunstig gekies is soos:

damp,

kort tydjie,

verdwyn

Hy herinner hulle dus aan hulle voorlopigheid, hulle broosheid en om vir ʼn slag eerlik te wees oor die realiteit. Eintlik het hulle weg gehardloop vir die realiteit en gejaag na wind sonder om te besef waaroor dit alles gaan en in wie hulle werklik hulle vertroue moet stel.

Daarteenoor reoriënteer hy die leser tot God, soos sonneblomme wat hulle gesig moet terugdraai na die son wat lewe gee. Hierdie reoriëntasie moet die leser reoriënteer – nie net tot God nie, maar ook tot ʼn nuwe manier van lewe. So ʼn lewe sal in die eerste plek gefokus wees en afhanklik wees in alles van God, omdat so iemand sal besef dat God die ware bron van lewe is en dat alles wat hulle besit van Hom af kom. Eintlik is alles net te danke aan Sy voorsienigheid. Juis om hierdie rede is die roem in jou eie vermoë nie net arrogant nie, maar ook ʼn bewys  van jou naïwiteit, naamlik dat jy dink dat die toekoms in jou hande is en dat jy die een is wat moontlikhede skep. Jakobus herinner ons daaraan dat God die een is wat alles moontlik maak.

Indien mens dan al hierdie dinge weet en jy doen  nog steeds nie die goeie nie, dan is jy ongehoorsaam en ongehoorsaamheid aan God se wil is mos sonde. Indien jy in jou selfvoldaanheid en grootpratery dus roem in jou eie vermoë wys dit eintlik iets van jou manier van dink, naamlik dat jy nie besef dat God die bron is van alles nie. Jy dink dus dat jy nog die voertuig van jou eie lewe kan en moet bestuur, terwyl Jakobus ons herinner dat Hy eintlik die bestuurder van ons lewe moet wees.

Ons kan dus aflei dat afhanklikheid die sleutel is wat gehoorsaamheid aktiveer.

 

Bronne wat jy kan lees om die teks oop te sluit is die volgende:

Martin, R. Word Biblical Commentary Vol. 48, James. Word Books (Hardcover)

Mens bestel dit sommer vinnig by amazon.com. Gaan gerus na:

http://www.amazon.com/Word-Biblical.Commentary-Vol-James/dp/o849902479.

Outeur: Dr Kobus Kok