Suurdeeg in die Bybel

Suurdeeg in die Bybel – Francois Malan

Johan vra:

Wat is die simboliese betekenis van suurdeeg in die Bybel?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Eksodus 12:15,19 (vgl. 13:7) word die Paasfees ingestel voor Israel die woestyn intrek. Ongesuurde brood moes geëet word, weens die gistende en verouderende werking van suurdeeg op die deeg, wat die brood gouer laat sleg word. Alles wat sleg word, moet gelos word, want die Israeliete moet as ‘n nuwe volk uit Egipte trek, wat op ‘n nuwe manier moet gaan lewe volgens die wil en wet van die Here wat hulle by Sinai kry (Eks.20:1-17). So was dit ook later by alle offers wat gebring word ‘n vereiste (Lev 6:17).

In 1 Korintiërs 5:1-8 gebruik Paulus ook die simbool van die Paasfees met ongesuurde brode as teken van reinheid. Daar word die suurdeeg as gistende werking wat die hele deeg deursuur beeld van onsedelikheid en ander sondes wat in die gemeente geduld word en soos suurdeeg die gemeente laat sleg word. Ongesuurde brood word simbool van reinheid en waarheid, soos gelowiges behoort te lewe.

In Galasiërs 5:2-12 gebruik die beeld van suurdeeg wat deurwerk as simbool van die valse leer wat begin posvat in die gemeentes, nl. dat jy met goeie werke jou verlossing kan verdien, en dat jy besny moet word om gered te kan word.

So gebruik Jesus ook die beeld van suurdeeg in Matteus 16:6,12 (vgl. Markus 8:15) om sy volgelinge teen die Fariseërs en die Sadduseërs se valse leer oor God en oor Jesus te waarsku. Hy sê dit is huigelary (Lukas 12:1). In Matteus 23:13-28 word die Fariseërs se huigelary uitgespel. Maar die twee groepe se verwerping van God se Messias wat Hy gestuur het en van Jesus se verlossing wat Hy verkondig het, is hulle grootste sonde.

Maar in Matteus 13:33 (vgl. Lukas 13:21) gebruik Jesus die werking van suurdeeg om die hele deeg te deursuur as beeld van die koninkryk van die hemel wat ongemerk deurwerk in die lewens van mense wat hulle al meer aan die koningskap van Jesus oor hulle lewe oorgee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Suurdeeg

Suurdeeg – Marius Nel

Sonja vra:

Dankie vir die geleentheid om vrae te kan vrae wat kwel. Ek is besig met Exodus en waar die Here vir Moses vra om die Tabernakel te bou ens. My vraag spesifiek is wat is die rede vir die beklemtoning van dat daar offers moet wees van ONGESUURDE BRODE? Wat is die betekening/bedoeling van ONGESUURDE BRODE? Baie dankie

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Suurdeeg het vir Israel (en sommige van die omringende volke) die assosiasie van sondigheid en veral onreinheid gehad. Om onrein te wees, het veroorsaak dat jy nie voor die heilige God kon verskyn nie.

Daarom die opdrag met die uittog uit Egipte: verwyder alle suurdeeg uit julle midde, as simbool dat Israel van sondigheid en onheiligheid ontslae moes raak, wat in ‘n assosiasie met Egipte bestaan het.

Suurdeeg is verkry deur ‘n stuk brood of aartappel in ‘n donker, klam plek te hou totdat dit muf, en dan die muf binne deeg te plaas sodat dit kan rys. Sien u die assosiasie met onreinheid?

Daarom die reëling dat brood voor die Allerheiligste geplaas moet word, maar dat dit sonder suurdeeg gebak moet word.

Outeur: Dr Marius Nel