Die Vrymesselaars – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan iemand my meer vertel van die Vrymesselaars? Is dit van die duiwel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Aangesien die Bybelkennis-webblad meer gerig is op die verstaan van die Bybel en verwante teologiese aangeleenthede, verwys ek die vraagsteller graag na onderstaande inligting op die internet waar daar uitvoerige uiteensettings oor die Vrymesselaarbeweging te vinde is.

Op Wikipedia se webblaaie kan omvattende artikels oor die Vrymesselaars geraadpleeg word, in Engels en in Afrikaans. Die Engelse een is meer volledig as die Afrikaanse een.

https://en.wikipedia.org/wiki/Freemasonry

https://af.wikipedia.org/wiki/Vrymesselary

Op Bybelkennis se webblad (www.Bybelkennis.co.za) het daar wel ook ’n kort uiteensetting verskyn oor die Vrymesselaars. Sleutel “Vrymesselaars” by die soekblokkie in en die artikel van prof Francois Malan sal verskyn.

Ek vertrou dat bogenoemde inligting die vraagsteller se vrae oor die Vrymesselaars sal beantwoord.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Vrymesselaars

Die Vrymesselaars – Francois Malan

Jan Smith vra:

Baie simbole wat jou geestelik kan beïnvloed: Corne se vraag verwys: ‘n Tyd gelede gee iemand my ‘n stel DVD’s waarin ‘n persoon volledig en met fotobewyse uitwei oor Vrymesselaarstekens in omtrent al wat ‘n kerk is in Suid Afrika. So word beweer dat hierdie die gevolg is van geestelike en politieke leiers in die verlede (en by implikasie ook huidige) se invloed in die onderskeie groeperings, kerk en staat. As bewys word foto’s van boustrukture vertoon wat met die organisasie verbind word asook persone wat op sekere maniere vir die foto’s poseer, ‘n boekrol in die hand of ‘n hand op die hart of op ‘n boek en al dergelike. Selfs kerklike logo’s het verskeie simbole wat met die betrokke organisasie verbind word. Wat sê mens nou hiervan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Ek is bevrees hier kan ek bitter min help. Dit lê nie regtig op die terrein van Bybelkennis nie, en van die Vrymesselaars weet ek bitter min.

Vrymesselaars (freemasons) het blykbaar aan die begin ‘n soort vakbond of gilde gestig van vakmanne wat werk met sandsteen, wat na alle kante toe bewerk kan word sonder om af te splinter (freestone). Omdat hulle rondgetrek het om werk te kry, het hulle onderskeidingstekens gehad om hulle van onopgeleide klipwerkers en baksteenmesselaars te onderskei.

Later het die groep meer soorte bouwerkwers ingesluit wat as lede van die vakbond of gilde vry was om hulle dienste aan munisipaliteite en konings te lewer, en die nodige kundigheid en vaardigheid gehad het, en so nuwe inhoud aan die woord ‘freemason’ gegee.

In die 17e en 18e eeu het die beweging egter verander met al minder bouwerkers as lede, met al meer meesterbouers sowel as besigheidsmanne betrokke by die boubedryf en later van die hoë lui wat die leiding geneem het. Lidmaatskap van die Roomse kerk en later van die Anglikaanse kerk was verpligtend. Lede moes getrou wees aan god en die heilige Kerk sonder oortreding of kettery. In 1730 is dié vereistes geskrap, en is ‘n morele lewe as vereiste gestel, met die veronderstelling dat ‘n lid nie ‘n dwase ateïs of ongodsdienstige libertyn sou wees nie, maar toegewy aan ‘n godsdiens waarin alle mense saamstem, en kan behoort aan enige denominasie of oortuiging. Jode is toe ook toegelaat, terwyl ateïste en agnostici (ongelowiges) uitgesluit was. Maar teen die einde van die 18e eeu het dié vereiste ook verslap en was sommige losies vyandig teenoor die kerk. Toe het pous Clemens XII vrymesselary veroordeel. Die Kommuniste en Nazi’s het vrymesselary onderdruk. Terwyl die Engelse vir eers nog die vereiste van geloof in ‘n Groot Argitek van die Heelal behou het, het die Franse dit ook verwerp, en al gaande het dié vereiste oral vervaag, en het die morele plig om barmhartigheidsdienste te lewer oorgebly.

Dit is duidelik dat die geloof in die Skepper-God en verlossing van sonde deur Jesus Christus as die Seun van God al dunner geword het in die vrymesselary.

Die gebruik van simbole in die kerk en kerkgeboue is weer ‘n ander saak. Dit hang af van die waarde wat daaraan geheg word deur die gelowiges. So het ons bv. die heidense woord ‘god’ in die Germaans-Dietse woordeskat oorgeneem en ‘n ander betekenis daaraan geheg om die drie-enige God mee aan te dui – ‘Deus’ in Latyn van die heidense ‘deus’ vir die Romeine se god en gode. So het ons die Sotho woord ‘modimo’, die Zulu ‘unkulunkulu’, Xhosa ‘utixo’ gevul met Christelike inhoud om God aan te dui, soos die Griekse ‘theos’ gebruik is om die Hebreeuse ‘el’ en ‘elohim’ in die Ou Testament mee te vertaal, wat ook eers ‘n heidense term was vir die Kanaäniete se god en gode.

Die kruis as simbool van die Christendom kom van die skandelike dood van slawe en rebelle wat die Romeine toegepas het, terwyl Deuteronomium 21:23 sê dat elkeen wat aan ‘n paal/hout hang vervloek is (vgl. Galasiërs 3:13). So is die Romeinse heidense feesdag vir die ‘Onoorwinlike Son’ as god op 25 Desember wanneer die son in die noordelike halfrond begin terugkeer na die winter, deur die Christene tot Kersfees verander om die geboorte van die Son van Geregtigheid (Maleagi 4:2  NAV son van redding) te vier.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Kruis-en-die-Kroon(2)

Die Kruis-en-die-Kroon Deel 2

Binne die heiligheidsbeweging is daar verskeie groepe wat die kombinasie van die kruis-en-kroon as wapen of logo gebruik.  Pastoor Ollie Raper vertel so dat hy twintig jaar gelede in Edinburgh, Skotland in ‘n boekwinkel op ‘n kerkgroepering, Christian Mission, wat sterk op sendingwerk ingestel is, se wapen afgekom het.Die groepering het noue bande met Andrew Murray, Nederduits Gereformeerde predikant en bekende in heiligheidskringe as spreker by die Keswick-konferensies.  En hulle wapen is die kruis-en-kroon.  Ook by ander groepe is die wapen gebruik.

Uit die heiligheidsbeweging groei (onder andere) die kerk wat John Alexander Dowie stig, die Christian Catholic Church in Zion.  Dowie preek teen die gebruik van alkohol, tabak en varkvleis, en plaas groot klem op die leerstelling van goddelike genesing.  Hy verbied sy mense om enige medikasie te gebruik.  John G Lake word ‘n ouderling in hierdie kerk, en Dowie stel hom aan as bestuurder oor die boubedrywighede van die stad wat rondom die kerk groei.  Later word Lake ontnugter deur die grootheidswaan wat al meer by Dowie voorkom, en hy bedank uit die kerk.

Dowie stuur Johannes Büchler, en later Daniel Bryant na Suid-Afrika om Sionistegemeentes te stig.  Uit hulle werk ontstaan gemeentes in Johannesburg, Benoni en Krugersdorp.  Wanneer Bryant terugkeer na Amerika, vaar sy skip verby dié van Lake en Thomas Hezmalhalch wat op pad is om die Pinksterboodskap na Afrika te bring.  En die Sionistegemeente in Johannesburg ontvang die twee Amerikaanse sendelinge gulhartig, en hulle gemeente word die AGS se eerste gemeente.

Ook Dowie se Sionistebeweging gebruik die kruis-en-kroon as wapen, naas verskeie ander.

Sover in die geskiedenis van die AGS teruggegaan is, kom die wapen voor.  Waarskynlik het Lake dit reeds gebruik.  Die amptelike maandblad van die AGS, Comforter and messenger of hope, het reeds in 1913 die wapen op sy voorblad vertoon.  Heel moontlik is die wapen van die Sionistebeweging van Dowie oorgeneem, wat dit weer by die breër heiligheidsbeweging geleen het.

Die ouer AGS-lidmate bring die wapen in verband met die slagspreuk, ‘Geen kruis, geen kroon’.

In die eerste helfte van die tagtigerjare doen die AGS aansoek by die Heraldiese Vereniging om die wapen amptelik te registreer.  In antwoord op ‘n advertensie wat die Vereniging plaas, teken ‘n kerk van die Aposteltradisie in Amerika beswaar aan en verduidelik dat dit grootliks met hulle wapen ooreenstem.  Die direkteur van die Vereniging stel voor dat ligstrale (‘n son) saam met die kruis gebruik word, en die wapen word dan ook so geregistreer.

 

KRUIS-EN-KROON EN VRYMESSELAARS?

Die kruis, kroon en son speel ‘n belangrike rol in die simboliek van Vrymesselary.  Die Vrymesselaars skryf die oorsprong van hulle tekens toe aan die antieke Egiptenare, en verduidelik dat elke teken vier onderskeie betekenisse het wat elk in die ander opgesluit is: ‘n morele, politieke, filosofiese en geestelike betekenis.  Die simbole word byvoorbeeld polities geïnterpreteer in terme van ‘n magstryd teen enige vorm van politieke of godsdienstige despotisme.

Die kruis het vir die Vrymesselaars nie ‘n spesifieke Christelike betekenis nie, maar is eerder embleem van die natuur en ewige lewe.  Die X-teken is die teken van kreatiewe wysheid of Logos, wat ook na die Seun van God kan verwys.  Die teken van die son verwys weer na die herskepping wat die son se strale vir die natuur inhou na die lang wintermaande, en verteenwoordig heilige vuur, wat waarheid en liefde is.  Die Vrymesselaar wat die dertigste graad bereik, trap op die kroon as teken dat hy hom wreek op kerklike en politieke gesag wat mense onderdruk.

Alhoewel die tekens van die kruis, kroon en son dikwels in Vrymesselaargeskrifte voorkom, kon die kombinasie van die drie nêrens opgespoor word nie.  En in elk geval verskil die betekenis wat hulle aan die tekens heg, soveel van die Christelike kerk dat daar nie van enige verband tussen die twee gepraat kan word nie.

 

Skrywer: Dr Marius Nel