JESUS verander water in wyn – Jan van der Watt

’n Leser vra

Hoekom is die eerste wonderwerk wat Jesus doen die veradering van water na wyn? Het die wyn alkohol bevat en is dit wyn soos ons dit ken hier in Afrika? Wyn is vir baie mense iets waaraan hulle verslaaf word, dit is glad nie gesond vir mense om te gebruik nie…wonder net hoekom dit juis wyn moes wees??

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie vraag verwys na die gebeure in Kana in die provinsie Galilea, waar Jesus ’n bruilof saam met sy ma en dissipels (beste vriende) bygewoon het (Johannes 2:1-11). Om die vraag te kan beantwoord moet ons eers na die Griekse woorde wat gebruik word kyk. Tweedens moet ons die gebruike in daardie tyd in ag neem en derdens moet ons kyk wat die teologiese boodskap van die gedeelte is.

  1. Die Griekse woord: vir wyn word die tipiese Griekse woord oinos gebruik wat na gegiste wyn verwys. Dit het inderdaad alkohol bevat. Om die probleem te omseil dat Jesus alkoholiese wyn sou maak beweer sommige dat dit om druiwesap gaan, maar daar is geen bewys uit die Grieks of die gebruike van die ou tyd vir die siening nie. As daar van druiwe aan die begin van die gistingsproses gepraat is (wat met ander woorde nog naby druiwesap was) is die woord ‘nuwe wyn’ gebruik. Ons kry dit ook in die Bybel (Mk 2:22). Die feit dat in Joh 2:10 van ‘goeie wyn’ gepraat word beteken dat die wyn al deur die gistingsproses is en volgens die wynmakers reg is om te drink.
  2. Die agtergrond: In die Bybelse tyd was dit algemeen om wyn by jou ete te drink (byna soos ons koffie of tee na ete drink). Terloops, daarom is wyn ook een van die twee tekens by die nagmaal, want dit was deel van elke ete, nes brood. Die wyn is gewoonlik met water gemeng (1 deel wyn tot 3 of 4 dele water), so die alkoholinhoud was baie laag. Mense het dus ’n ander houding teenoor wyn gehad as wat ons vandag het. Hulle het dit nie so nou met alhokoholisme verbind nie. Dit beteken nie dat die Bybel nie te veel alkohol inneem ken en dit inderdaad as probleem beskryf nie (1 Kor 6:10). Wat gebruik word, moet matig gebruik word, dit bly maar die goue reël?
  3. Die teologiese agtergrond van Joh 2:1-11: Jesus se eerste wonderwerk by Kana is ryk aan simboliek, wat nie hier volledig behandel kan word nie. Die wyn maak wel ’n belangrike deel van die simboliek uit. Jesus maak baie wyn (ses klipkanne vol) en maak die beste wyn. Die boodskap van Johannes hieragter is dat as Jesus iets doen doen Hy dit in oorvloed. As hy ’n blinde genees is die persoon van sy geboorte af blind, die lam man is 38 jaar lank lam (veel langer as die gemiddelde lewensverwagting daai tyd), as Hy Lasarus opwek, stink hy al (m.a.w. hy is al besig om te ontbind). Jesus se wonderwerke is dus almal GROOT wonderwerke om so sy krag en mag baie duidelik te beklemtoon.

Hoewel die teks deur sommige mense in die debat oor alkoholisme gebruik word om Jesus se houding teenoor wyn te illustreer, moet ons in die lig van die eie manier waarop wyn in die ou tyd gebruik is, soos hierbo genoem, nie daaruit aflei dat Jesus die misbruik van wyn goedgekeur het nie, soos in die res van die Nuwe Testament bevestig word. Dit lyk ook nie of Hy heeltemal teen wyn gekant is nie. As wyn egter vir iemand ’n ‘vyand’ wat sy lewe in ’n greep kry en hom sy slaaf maak, het daardie persoon gelowiges (en spesialiste) se hulp nodig. Een ding is egter seker, in die proses van worsteling met die mag waarmee gestoei word, moet die persoon nooit vergeet dat as hy of sy aan Jesus behoort daar ook ’n oorvloed van genade en krag beskikbaar is. Los net nooit Jesus se hand nie, want dit is ’n hand vol genade.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Hoe leef ’n mens in die woestyn “sonder water”?

Hoe leef ‘n mens in die woestyn “sonder water”? – Jan van der Watt

Sonder water kan ‘n mens nie leef nie. Kom ‘n mens egter in Israel by plekke soos Kumraan of Masada wonder jy hoe die mense aan die lewe gebly het, want dit is in die middel van ‘n woestyn. Waar het hulle water vandaan gekry? Ons weet dat in die woestyn “oases” ‘n mens aan die lewe gehou het (Jerigo is byvoorbeeld so ‘n oase). By Masada of Kumraan is daar nie oases nie. Die Dooie See is wel naby, maar daardie sout water kan ‘n mens nie drink nie. Tog het groepe mense in dié stede aan die lewe gebly. By Masada het Herodes selfs ‘n pragtige paleis met tuin en al gebou. Dit lyk dus of daar selfs genoeg water was vir ‘n tuin.

Alles het gegaan oor waterbeheer. In die woestyn het daar net een of twee maal per jaar reën geval. Dit was gewoonlik donderstorms wat nie lank geduur het nie. In die kort tydjie wat die storm geduur het, het die hemel oopgeskeur en duisende liter water het neergestort.

As ‘n mens mooi na die plekke kyk, sien jy interessante dinge: Oral is vlakkerige vore (wat ‘n mens soms nie eers opmerk nie). Die vore loop na sekere punte in die nedersettings toe en daar kry jy massiewe opgaartenke wat in die rots uitgekap is. Die vore is so georganiseer dat feitlik al die water wat in die area geval het, in die opgaartenke beland het. Die water wat die een of twee keer geval het, was so baie dat dit die nedersettings die hele jaar kon hou. Die water was so baie dat die mense van Kumraan selfs elke dag rituele baddens kon vat.

Skrywer: Prof Jan van der Watt