Wat gebeur na die dood?(1)

Wat gebeur na die doood?(1) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:
Wat met ons gebeur na die dood, is dalk net so ‘n geheimenis as wat die uitverkiesing is (vgl. 1 Korintiërs 15:51).

Daar is dinge rondom die dood, en wat daarna gebeur, wat ons nie kan weet nie. Dit is eenvoudig bo ons mense se verstaan. Tog gee die Bybel vir ons in ‘n paar tekste insig oor wat gebeur na die dood. Dit is geensins detail beskrywings nie, en is ook nie bedoel om te wees nie. Hierdie inligting moet telkens gesien word as troos vir gelowiges. Dit is hoekom dit gegee is. Verder moet in gedagte gehou word dat gelowiges in die vroeë kerk Jesus se wederkoms baie gou verwag het, en dus in daardie lig na die opstanding gekyk het.

2. 1 Korintiërs 15:
Hierdie teks ontvou in drie dele: Jesus se liggaamlike opstanding bevestig (vers 1-11), Jesus se opstanding beteken ons sal ook liggaamlik opstaan (vers 12-34), gesprek oor die liggaam met opstanding (vers 35-58). Vir Paulus is daar geen twyfel nie dat Jesus werklik liggaamlik opgestaan het nie. Vir gelowiges is daar dus ook ‘n opstanding wat wag. Volgens vers 23-24 gaan hierdie opstanding plaasvind met die wederkoms. Die vraag is: wat gebeur in die tussentyd. Op ander plekke gee Paulus skynbaar teenstrydige antwoorde op hierdie vraag. Hier handel hy bloot met die feit dat ons wel sal opstaan, en dan ook in ‘n nuwe, verheerlikte liggaam. Paulus vergelyk dit met saad wat in die grond gesit word (ons dood), en wat dan weer (met dieselfde saad) in ‘n nuwe liggaam opstaan (opstanding).

3. Filippense 1:23:
Een interpretasie is dat ons direk na ons dood by Jesus sal wees. Paulus het beslis hierdie hoop as hy aan die gemeente in Filippi skryf. Hy verwag beslis nie om ‘n klompie jare in die graf dood te wees alvorens hy by Christus kom nie. Anders sou daar by hom sekerlik nie die wens gewees het om vinniger dood te gaan nie. Filippense 1:23 impliseer dat gelowiges vir seker direk na hulle dood in die hemel sal wees. Hierdie gedagte word ook sterk ondersteun deur Johannes in Openbaring, wanneer hy die gestorwe gelowiges telkens by God sien. Wanneer Jesus die gelykenis van die ryk man en Lasarus vertel (Lukas 16:19-31), impliseer Hy ook dat gelowiges direk na hulle dood by God is. Hulle is ook herkenbaar, aangesien die ryk man vir Lasarus en Abraham herken. Dit mag wees dat Paulus, in die lig van sy volgorde in 1 Korintiërs 15, verwag om in die gees by Christus te wees. Die liggaamlike opstanding kom dan later, wanneer weer liggaam en gees herenig sal word. As ons direk na ons dood by Christus gaan wees, maak dit eintlik nie saak of dit met of sonder die liggaam is nie. Die belangrikste is die boodskap: ons gaan deel hê aan die ewige lewe saam met Christus, van direk na ons dood af.

4. 1 Tessalonisense 4:13-18:
Dit wil voorkom asof Paulus homself hier weerspreek (in kontradiksie met Filippense 1:23). Dit wil lyk asof ons na ons dood, en tot met die wederkoms, in die graf sal wees. Hier sal ons moet wag tot die wederkoms. Dan sal ons opgewek word uit die dood, en saam met al die ander gelowiges voor God verskyn. Ons moet egter hierdie teks eerstens lees teen die agtergrond waarvoor dit geskryf is. Gelowiges het bekommerd geraak omdat hulle medegelowiges gesterf het. Gaan hulle dan ‘n agterstand hê met die wederkoms? Nee, sê Paulus. Hulle gaan net soveel in die heerlikheid deel as gelowiges wat dan nog sal lewe. Paulus troos dus gelowiges dat, sou hulle sterf voor die wederkoms, hulle steeds deel sal hê aan die heerlikheid van die hemel. Oor die “tussentyd” spreek hierdie teks hom eintlik nie uit nie. As ons egter Paulus se teologie in Filippense 1:23 in ag neem, kan ons aanneem dat Paulus ook veronderstel dat gelowiges wat sterf in een of ander vorm (geestelik of in liggaam) by God sal wees tot met die wederkoms. Wanneer Christus dan kom, sal hulle dus nie agterweë gelaat wees nie, want hulle is eintlik reeds by Hom.

5. Gevolgtrekking:
Alhoewel die tekste oor wat na die dood gebeur, nie detail inligting gee nie, gee dit ons tog die hoop van ‘n lewe by God. En as Paulus in Filippense 1:23 wens om by Jesus te wees, is dit bedoel vir die onmiddellike. Ons kan dus seker wees dat ons, of dit nou liggaam of gees is, direk na ons dood by God sal wees. Die moontlikheid dat ons ook in liggaam by God sal wees, word veral in Openbaring belig. Hierdie moontlikheid word in ‘n volgende artikel bespreek. Miskien is dit net nodig om in gedagte te hou dat ons nie ons beperkte tydraamwerk met God se ewigheidsraamwerk probeer vergelyk nie. Dan sal ons nie so oor ons voete val om hierdie dinge uit te werk nie.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph