Wat gebeur na die dood?(2)

Wat gebeur na die dood?(2) – Fanie Rudolph

Inleiding:

In ‘n vorige artikel het ons gekyk na Paulus se beskrywing van die bestaan na die dood.  In hierdie gedeelte gaan ons kyk wat Johannes in Openbaring daaroor skryf.   In Openbaring sien Johannes gelowiges by talle geleenthede lewendig in die hemel na hulle dood.  Johannes se visioene hieroor kan veral teen die agtergrond van Openbaring 1:18 verstaan word: “Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Wie dood gaan, lewe:

Johannes troos gelowiges regdeur Openbaring met bevestiging dat gelowiges wat sterwe, beslis sal lewe.  Gelowiges moes baie ly, en soms sterf, vir hulle geloof in die tyd rondom die draai van die eerste eeu.  Hulle kan egter hoop hê dat hulle by God sal wees na hulle dood.  Openbaring maak nooit ‘n tyd-onderskeid tussen dood, opstanding en wederkoms nie.  Johannes sien gelowiges wat gesterf het, in die hemel rondom God.  Hulle staan, wat bevestig dat hulle lewe (vgl. Openbaring 7:9; 14).  Gelowiges in die sewe gemeentes word ook die lewe na die dood belowe as hulle getrou bly.

Johannes se bedoeling is telkens ‘n onmiddellike deelname aan hierdie ewige lewe.  Hy maak nêrens melding van dooies wat wag vir die wederkoms nie.  Die enigste stukkie wat die gedagte van wag impliseer, is Openbaring 6:9-11.  Hier wag die siele van die gelowiges onder die altaar.  Tog is hulle lewend en by God.  Selfs in die gees is gelowiges dus lewend na hulle dood.  Hulle wag nie om lewend te word nie, maar dat God in sy regverdigheid hulle dood sal wreek.

Wie lewe, sal lewe:

Lewe volgens Openbaring is ‘n kontinue bestaan.  Dit word nie onderbreek nie.  Nie eers deur die dood nie.  Jesus beheer die sleutels van die dood.  Hy sluit die deur van die dood oop vir gelowiges wat sterf (Openbaring 1:18; 3:8).  Die gevolg is dat die dood vir gelowiges net ‘n deurgang is na ‘n nuwe lewe.  Hulle het geen wagtyd in die dood nie.  Verder word gelowiges se lewe hier op aarde reeds ‘n deel-wees van die lewe in ewigheid.  Wie nou lewe tot eer van God, sal ook na haar dood vir ewig lewe by God.  Die oproep en beloftes aan elkeen van die sewe gemeentes bevestig dit (vgl. Openbaring 2:7; 2:11; 2:17; 2:28; 3:5; 3:12; 3:21).  Hierdie hoop en lewe kom alleen deur die bloed van die Lam (vgl. Openbaring 7:14; 12:11; 22:14).  Om die waar-word van die beloftes te bevestig, word die simbole vir lewe wat in die sewe briewe belowe is, in die nuwe hemel en aarde aangetref.

Die eerste opstanding:

In Openbaring 20:4-6 praat Johannes van die eerste opstanding.  Die eerste opstanding geld eintlik net vir al die gelowiges wat sterf.  Daar is geen aanduiding dat hierdie opstanding iewers in die toekoms sal wees nie (onthou dat Openbaring se hemelse visioene nie tydgebonde is nie.  Hulle is gesetel in die ewigheid waar tyd nie ter sprake is nie).  Alles in ag genome kan ons aanvaar dat gelowiges óf in die liggaam (vgl. Openbaring 7:14), óf ten minste in die gees (vgl. Openbaring 6:9-11 en Openbaring 20:4), opstaan direk na hulle dood.  Wat ook al die situasie, die eindresultaat is dieselfde: gelowiges is direk na hulle dood by God!

Niks word gesê van ‘n tweede opstanding nie, alhoewel die term “tweede dood” in Openbaring 20:6 en 14 dit veronderstel.  As ons egter na Openbaring 20:11-15 kyk, sien ons dat die dooies (by implikasie die ongelowiges) wat nie lewend geword het nie, deur die dood teruggegee (let wel nie lewend gemaak word) word vir die oordeel.

Gevolgtrekking:

Eintlik is die vraagstuk van liggaamlik of geestelik opstaan nie so ‘n groot saak vir God as vir ons nie.  Die belangrikste is dat ons na ons dood by God sal wees.  Johannes bespreek eintlik nie die konsep van ‘n liggaam in ‘n graf wat wag vir die opstanding nie of die wederkoms nie.  Vir hom is die kern gelowiges se teenwoordigheid by God in die hemelse troonsaal na hulle dood.  Dit is die troos wat hulle in die moeilike dae van die eindtyd kan hê.  Ons hoef ons dus nie te bekommer oor wat gebeur na ons dood nie.  Ons kan vrede hê, want ons sal by God wees.

Outeur: Dr Fanie Rudolph