Weet wie jy is – ’n oproep tot volharding in die Judasbrief

Weet wie jy is – ‘n oproep tot volharding in die Judasbrief

1.    Inleiding:

Die kerk ken die eeue oue stryd om oorlewing te midde van vervolging baie goed.  En hanteer dit baie goed.  Dit is die subtiele dwaallering wat baie keer die kerk se grootste krisisse meebring.  Dit toets die kerk se ware identiteit.  In die Judasbrief word lesers gevra om hulle identiteit duidelik te ken en te leef te midde van dwaalleraars wat die kerk probeer ontspoor.

2.    Die kerk is God se eiendom:

Judas lê baie sterk klem op die gelowiges as geroepenes deur God.  Deur hulle ook as geliefdes aan te spreek, bevestig hy dat God se liefde en genade vir hulle geld.  Dit is deur God se liefde en genade dat hulle uitverkies en gered is.  So belangrik is hierdie geloofsidentiteit van die gelowiges dat Judas sy brief daarmee begin en afsluit (vers 1 en 24).  Dit is die grondslag van die kerk se bestaan.  Judas verwys sy lesers terug na die apostoliese oorlewering aangaande die evangelie.  As hulle na hierdie basis toe terugkeer, of daarby hou, sal hulle nie meegevoer word deur dwaalleringe wat hulle probeer mislei nie.  Hulle het dus nie ingewikkelde teologie nodig om staande te bly nie.  Die suiwer evangelie van liefde en genade is al wat nodig is.  Wie daarin volhard, sal die geloofstryd kan stry.  Wie vashou aan God se uitverkiesing in liefde, sal nooit deur God verlaat word nie.  Hy is magtig om ons van struikeling te bewaar en ons onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou (v. 24).

3.    Die kerk se stryd:

Die kerk se grootste krisis is nie die bedreiging van buite af (bv. vervolging) nie, maar van binne.  Daar is dwaalleraars wat die gelowiges probeer verlei met vleeslike dinge (dinge van hierdie wêreld).  Judas ontmasker hierdie dwaalleringe in vers 5-16 deur gebruik te maak van ‘n aantal argetipes (voorbeelde uit die verlede).  As die gelowiges egter vashou aan die evangelie, sal hulle hierdie mense kan ontmasker.  Dit is immers duidelik dat hulle werke nie van die Gees is nie (vgl. vers 20).  Wat hierdie mense eintlik besig is om te doen, is om die genade van God te misbruik (vers 4).  Judas voel so sterk oor die bestryding van hierdie dwaalleraars dat hy sterk by sy lesers aandring dat hulle hierdie dwaallering aktief moet bestry.  (vgl. vers 3b).  Trouens, Judas sê dat hy verplig voel om gelowiges hiertoe op te roep.  In antwoord op die dwaallering moet gelowiges hulle krag op God alleen bou (vgl. vers 17).  Judas voel so sterk oor die probleem dat hy sy oorspronklike boodskap oor die verlossing (vers 3) eenkant toe skuif om oor hierdie bedreiging vir die kerk te skryf.  Judas vlek hier eintlik ‘n probleem oop wat die kerk deur al die eeue mee sukkel: die bedreiging van dwalinge binne die kerk.  Die gevaar is gewoonlik groter omdat die dwaalleraars hulle invloed van binne gebruik om gelowiges oor te haal.  Vervolging het eintlik nog nooit die kerk se voortbestaan ernstig bedreig nie.  Trouens, die kerk groei gewoonlik sterker waar dit die meeste vervolg word.

Die kerk kan hierdie stryd stry deur vas te hou aan die basis van die evangelie soos dit aan hulle oorgelewer is (vers 20-23).  Verder moet hulle in die liefde bly wat God aan hulle gegee het (vers 21a).  En dan, belangrik: hulle moet onthou waar hulle vandaan kom (vers 3, 17).

4.    Die kerk se hoop:

Judas ken sy lesers.  Hy weet dat hulle wel op die oomblik op die regte pad is.  Sy brief is allermins ‘n bekeringsoproep.  Reg aan die begin bevestig hy dat hulle saam deel het aan die evangelie van verlossing (vers 3).  Die ware gelowiges verwerp nie die enigste Here en Meester, Jesus Christus, nie (vgl. vers 4).  Die klem op die “enigste” bevestig dat daar nie ‘n ander boodskap is nie (vgl. Joh. 14:6).  Dit weet die lesers.  En daaraan moet hulle altyd vashou.

Die gelowiges se wapen in die stryd teen die dwaalleraars is die krag van die Heilige Gees.   In vers 20 word hulle opgeroep om altyd te bid “deur die krag van die Heilige Gees.”  So sal hulle in staat wees om, onder die kragveld van die Gees, die dwaallering te ontmasker en te weerlê.

Verder moet die gelowiges hulle ontferm oor daardie deel van die gemeente wat nie sterk genoeg is om die dwaalleraars te weerstaan nie (vers 22).  Die wat reeds hulle vingers verbrand het, moet uit die vuur geruk word (vers 23).  Solank hulle onder die kragveld van die Gees staan, kan hulle altyd verseker wees van God se seën en beskerming in hulle lewens.  God is immers magtig om hulle van struikeling te bewaar en hulle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou (vers 24) 

 

Skrywer: Fanie Rudolph