1

Jakobus 2:1–4: Waar kom hulle bymekaar? Dalk ʼn huis?

Jakobus 2:1–4: Waar kom hulle bymekaar? Dalk ʼn huis?

Christene het ook in huise byeengekom, veral nadat verhoudings met die Jode in die sinagoges versuur het.

Die woord “sinagoge” verwys nie noodwendig na ‘n gebou nie, maar kan ook op mense wat godsdienstig saamkom, dui – al is dit in ‘n huis. Mense wat met die Jodedom vertroud is of uit Judea kom, het voortgegaan om hulle vergaderinge “sinagoges” te noem. Dit blyk dus dat “sinagoge” ’n idiomatiese uitdrukking vir die Christelike bymekaarkoms is.
As dit ‘n huis is, hoe moet die plekke waarna in die teks verwys word, verstaan word?

i) Is daar voetbanke in huise, want daar word pertinent na ‘n voetbank in die teks verwys? Daar was wel voetbanke in huise, veral in groter of ryker huise wat dikwels deur Christene gebruik is vir hulle byeenkomste.

Voetbanke is by twee soorte meublement in huise gebruik – die een is by ’n lêbank wat in ’n sitkamer gebruik is waarop twee persone kon lê (figuur 2). Die voetbank moes dan waarskynlik onder andere gebruik gewees het as ’n soort van ’n trap. Dit kan uit die voorstelling gesien word.  Die ander tipe voetstoel is by ’n enkele stoel – die figuur met die vrou toon duidelik dat sy op ’n soort rottangstoel sit en dat haar voete op ’n voetbank rus (figuur 3). In die geval van die enkele stoel gaan dit om ‘n privaat situasie wat nie pas by ‘n byeenkoms van mense nie. Die beter moontlikheid is die bank waarop twee mense kon sit en wat vir ’n sitkamer bedoel is.

figuur2_jakobus


figuur3_jakobus

Figuur 3

 

Figuur 2

ii) Waarna sou die “voetstoel” verwysing van die gasheer wees?
Die tweede opsie wat die arm man gebied word, is om onder by die gasheer se voetstoel te gaan sit.  Hy word wel in die vertrek toegelaat en inderdaad naby die huisheer, maar moet op die grond – nie eers op die voetstoel nie – gaan sit.  Terwyl die ryke gemaklik sit, word die arm man gedegradeer om op die grond in die sitkamer te gaan sit.

iii) Waar is die “daar” waar die arm man moes gaan staan?
Die “daar” waar die arm man moes gaan staan verwys na waar iemand moet gaan staan. Waar sou dit in ‘n huis moontlik wees. ‘n Mens moet veral in gedagte hou dat daar verskillende tipes huise was, maar een argitektoniese eienskap was baie algemeen.  Feitlik alle huise was om ’n binneplein gebou wat as deel van die huis gesien is.

Die aaneenskakeling van die sitkamer met die binneplein kan in die meegaande illustrasie goed gesien word.  Die plan van die huis wys ook hoe die kamers op die binneplein uitloop.  Die binneplein is 2 gemerk en die sitkamer 1 – die twee kamers is in die boonste illustrasie uitgebeeld.

figuur4a_jakobus

figuur4b_jakobus

Figuur 43

“Trosbehuising”, waar verskeie families ’n kamer of kamers rondom ’n gemeenskaplike binneplein besit het, was tipies. Huise vir so 2-4 persone was omtrent so groot soos ’n hedendaagse motorhuis, terwyl die rykes heelwat groter huise gehad het, wat ook om ‘n binneplein gebou is. Soos uit figure 4-6 blyk, het die sitkamer gewoonlik op die binneplein uitgeloop. As jy in die binneplein staan sou jy kon sien en hoor wat in die sitkamer aangaan. Daar was nie onder normale omstandighede stoele of sitplekke in die binnehof nie.

Figuur 5 bevat ’n illustrasie van ’n “troshuis”.  Daar kan duidelik gesien word hoe die verskillende kamers om die binneplein gebou is.

figuur5_jakobus

Figuur 54

Veronderstel die gasheer wat die plekke aanwys, staan in die sitkamer. Vir die rykman sê hy: “Sit u hier op die lekker plek”.  Dit sou waarskynlik na die banke in die sitkamer verwys waarop die persone twee-twee gelê het – dit is die normale maar ook die beste plekke.
Nou sê die gasheer vir die arm dat hy “daar moet gaan staan”.  Die daar dui daarop dat dit weg is van die kamer waar die huisheer op die oomblik is.  As die argitektuur van die huis in ag geneem word, kan dit maar net die binneplein beteken – daar moet die arm man gaan staan, want daar was nie sitplek of banke nie. Hy sou nog kon hoor wat in die sitkamer aangaan. Dit was ook nie asof hy die persoon uit die huis uit jaag nie, want die binneplein was nog deel van die huis.
Skrywer: Prof Jan van der Watt

3Die illustrasies kom uit Connolly en Dodge.
4 Die illustrasie kom uit Bühlmann (1994:55) en toon ’n huis uit “wooneiland II” in Kapernaum.

 




Jakobus 2:1–4: Waar kom hulle bymekaar? Dalk ʼn sinagoge?

Jakobus 2:1–4: Waar kom hulle bymekaar? Dalk ʼn sinagoge?

In Jakobus 2:2 word daar gesê dat die persone in julle sinagoge (in Grieks – die Afrikaans vertaal dit met byeenkoms of vergadering) inkom.

n Eerste reaksie is om af te lei dat dit inderdaad hier om ’n Joodse sinagoge as letterlike gebou gaan – die vroeë Christene het immers nog vir ’n afsienbare tyd in sinagoges bymekaar gekom. Die posisies waarna verwys word, naamlik die “hier” en “daar” of die “staan” of “sitplek”, moet dus binne die konteks van die sinagoge gesoek word.  Interessant genoeg is die meeste kommentare wat hierdie keuse uitoefen, ietwat vaag oor waar die “hier” of “daar” presies is.  Die oplossing wat voorgestaan word, is dat dit uit die argeologiese opgrawings blyk dat daar bankies soos trappies langs die mure was, wat die sinagoge amper soos ’n arena laat lyk het.  Dit kan duidelik uit figuur 1 gesien word.  Die argument is dus dat die hoër plekke die beter plekke was en dat die onderste trap of selfs die grond voor die trap die plek was wat aan die arm man toegesê is.

figuur1_jakobus

Figuur 1

‘n Swakplek in die argument is dat daar nie met die “hier” of “daar”  rekening gehou word nie.  Die bankies (trappies) loop tog parallel met die muur in die rigting van die podium waarvandaan daar uit die Tora gelees is, wat natuurlik die mees eervolle plek in die gehou was.  Vir die teks om te “pas in die sinagoge” moet daar meer of minder eervolle plekke op die grond, asook op die hoër trappies moes gewees het, wat nie die geval was nie.

’n Verdere probleem is: Wat word met die staanplek waarheen die arm man verwys is, bedoel?  Daar was waarskynlik staanplek in die singagoge. Maar weereens geld dieselfde argument.  Die staanplek naby die podium waar die wet voorgelees is, sou meer eervol wees as die sitplek wat verder daarvan geleë was.  Dit beteken ook dat as die arm man gevra is om by die stoel van die voorsitter by die podium op die grond te kom sit, hy eintlik ook ’n meer eervolle plek sou gehad het as wat iemand sou hê wat verder terug op die trappies teen die mure sou sit.  Dit lyk dus onwaarskynlik of hier van ’n Joodse sinagoge (as gebou soos ons dit argeologies ken) sprake is.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Jakobus 2:1-4 Die probleem: Waar moes die gaste sit?

Jakobus 2:1-4 Die probleem: Waar moes die gaste sit?

Ou vertaling:
1MY broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie.

2Want as daar in julle vergadering (sinagoge) ’n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ’n pragtige kleed aan, en daar kom ook ’n arm man in met vuil klere aan; 3en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit — 4het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?

Nuwe vertaling:
1My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms (sinagoge) ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

Daar word aan die ryk man gesê dat hy hier op die goeie of gemaklike plek kan kom sit – dit dui op ‘n plek met die hoër status. Daarteenoor word daar aan die arm man gesê dat hy “daar” moet gaan staan of by wyse van ’n keuse, dat hy naby aan die persoon wat die plekke uitdeel kan gaan sit, maar dan “onder” sy voetbank.  Uit die konteks is dit duidelik dat beide die posisies plekke is wat die arm man oneer aandoen. Dit was immers die voorreg van die huisheer – wat waarskynlik ook die leier van die groepie Christene kon wees – om plekke aan te wys.  

Watter soort van bymekaarkomplek van die eerste gelowiges moet ’n mens jou voorstel waar die opsies wat hierbo genoem is, moontlik is? Lees die res van die artikels vir die moontikhede.
Skrywer: Prof Jan van der Watt




Vergifnis van sonde

Sondes

Wat is hierdie “sondes” waarvan Jesus in die Ons Vader praat?

Volgens Luther is dit die miskenning van God. Om in onsself gekeer te wees.

Prakties kan ons dit sien uit die gebed van Jesus. Wanneer ons daaglikse sondes doen wat verband hou met die eerste vier bedes: as ons God se Naam misbruik, die koms van sy heerskappy verhinder,  wanneer ons ons sondige wil stel teenoor sy heilige wil, of as ons ondankbaar is vir ons daaglikse brood (ML LC 118).

Vergifnis

Die vergifnis van God is ʼn Goddelike daad wat ons hele lewe vul met dankbaarheid, want dit help ons om te onthou hoe Christus gely en gesterf het. So seker is ons, dat ons as gelowiges die dood en hel kan trotseer met die woorde: “al het ek gesondig, my Christus het nie gesondig nie; dit is in Hom wat ek glo, alles wat syne is behoort aan my en alles wat myne is, is syne”. Volgens Lienhard(134) kan ons nie eintlik praat van ʼn ruil, asof twee vennote mekaar bevoordeel nie. Christus kry ons sonde – en word aan die kruis sonde gemaak, maar ons kry van Hom alles wat goed is. Al die voordele kom net van een kant af: van Christus na ons toe. Sy regverdigheid word aan ons geskenk en met hierdie vreemde kleed van sy geregtigheid, staan ons voor God. Christus alleen stel ons in die regte verhouding tot God deur hierdie vreugdevolle ruiling:

lewe vir ons, die dood vir Hom,

vergiffenis vir ons, oordeel vir Hom,

geregtigheid vir ons, ons sonde op Hom,

aanvaarding en verheerliking vir ons, verwerping en verguising vir Hom.

Hierdie regverdigheid van Christus bring mee dat ons deel in sy koningskap en priesterskap. Elke gelowige is daarom waardig om voor God te verskyn en te bid vir ander (Lienhard 135).

Luther het baie keer moed geskep as hy die psalms lees. Hy vind gereeld bemoediging uit Psalm 51 waar Dawid getuig dat God se hart oopgaan vir iemand met ootmoed en ʼn gebroke hart – “zerknirshtes Hertz”(LD 1, Die Anfange, 40). Psalm 6 se moedeloosheid het hy aan sy eie lyf ervaar: “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voor U uitkoms gee?”(LD 1, Die Anfange, 40).

“Soos ons vergewe…”

Die volgende sin: “soos ons ook vergewe” is volgens Luther ʼn baie nodige en troosryke sin.  God belowe ons volle kwytskelding en vergifnis, maar slegs in soverre ons ons naaste vergewe. Soos ons daagliks voor God en teen Hom sondig, en Hy ons uit genade vryspreek, so moet ons ook elke dag bereid wees om hulle wat ons seermaak deur woorde, geweld, nyd of onreg, te vergewe.

Wanneer ons ons skuldenaars vergewe, is dit ʼn agteraf bevestiging wat ons sekerheid versterk dat ons sondes inderdaad uit genade vergewe is (vgl. Lukas 6:37 en Matteus 6:14).

Vergewe ons nie, blokkeer ons God se vergewing in ons eie lewe…

Gebed van Luther:

“Liewe Vader, ek pleit by U: vergewe my, nie omdat ek deur my werke enigiets kan regmaak wat ek verbrou het of enigsins iets by U kan verdien nie, maar omdat U my belowe het dat U sal vergewe en U eie seël daarop geplaas het. So seker vergewe U my asof ek die woorde uit U eie mond hoor: ‘Jou sondes is vergewe…’ ” (ML LC 117).

Vind berusting hierin:  Jou sondes is vergewe…Jy hoef nie aflate te koop, of herdenkings te koop soos ʼn doring van Christus se doringkroon of van die 2000 ander relikwieë wat te Wittenberg by keurvors Frederik te koop was nie. Jy hoef ook nie die Dame te Loredo te besoek met die hoop op ʼn wonderwerk of ʼn heilige te soek wat vir jou kan bid nie.

Ek kan jou vandag, in 2009, hierdie troos uit die Woord bied: Jesus bid vir jou: Jesus die Hoogste Voorbidder, die grootste Heilige. Sy gebede werk wonders in jou lewe… soos die wonder van ʼn kinderlike geloof, van genesing, van berusting in God se groter plan…

 

Skrywer: Dr Danie Malan VDM Kempton-Kruin NG Kerk


Bibliografie

 

Leeswerk oor Luther:

Afkortings aan einde van elke werk

Martin Luther:

Luther Deutsch Die Werke Martin Luthers, Hg K Aland, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen, 1983(2 Auflage), Band 1-10. [LD]

Band 1: Die  Anfänge

Band 2: Der Reformator

Band 3: Der neue Glaube. Insluitend Der Grosse Katechismus 1529 wat ook Das Vaterunser bevat p. 96 -116.

Band 4: Der Kampf um die reine Lehre

Band 5: Die Schriftauslegung

Band 6: Kirche und Gemeinde

Band 7: Der Christ in der Welt

Band 8: Die Predigten

Band 9: Tischreden

Band 10: Die Briefe

 

Martin Luther’s Works, 21, The Sermon on the Mount, ed. J Pelikan.Concordia, Saint Louis, Missouri, s.a. (LW)

Luther’s large cathecism, tr J N Lenker, Augsburg, Minnesota, 1967. (ML LC). Vertaling van dele van Band drie van Luther se versamelde werke.

Martin Luther Spiritual Classics (ML SC), Red Robert van de Weyer, Fleming Revell, New York, 1991.

Martin Luther’s basic theological writings,ed Lull T F, Fortress Press, Minneapolis, 1989 (BTW).

 

Ander outeurs:

Cunningham, W, The Reformers and the Theology of the Reformation, Banner of Truth, Edinburgh, 1862 (eerste uitgawe) – derde uitgawe 1979.

Gritsch, EMartin – God’s Court Jester. Luther in Retospect, Fortress, Philadelphia, 1983.

Hanegraaf, H The prayer of Jesus, W Publishing Group, Nashville, 2001.

Jonker, WD Bevrydende Waarheid, Hugenote Uitgewers, Wellington, 1994.

Köstlin, J Martin Luther, the Reformer, tr by EP Weir, Cassel, Parys, 1884 (4de uitgawe).

Liardon, R, God’s Generals II, The roaring Reformers, Whitaker House, Laguna Hills, California, 2003.

Lienhard, M, Luther, witness to Jesus Christ, tr.by EH Robertson, Augsburg, Minneapolis, 1982

Praamsma, De kerk van alle tijden, IV, Wever, Franeker, 1981.

Von Loewenich, Walter, Martin Luther, The Man and his Work, tr by LW Denef, Augsburg, Minneapolis, 1982.