‘n Nuwe Kategismus: Vraag 46

“If your friend becomes your enemy, he will be your enemy for life.” ~ Joodse spreekwoord

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 46

Vraag:

Wat is die Nagmaal?

 Antwoord:

Christus het alle Christene beveel om brood te eet en uit die beker te drink in dankbare herinnering aan Hom en sy dood. Die Nagmaal is ‘n viering van die teenwoordigheid van God in ons midde; dit bring ons in gemeenskap met God en met mekaar; dit voed en versorg ons siele. Dit kyk ook vooruit na die dag wanneer ons met Christus in sy Vader se koninkryk sal eet en drink. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 Skrifgedeelte:

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem, en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.

Net so ook het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit,elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1 Korintiërs 11:23 – 26).

 Kommentaar:

Die Nagmaal … word doelbewus deur die Koning van die Heiliges voorsien vir … sy familie, ter verfrissing van dié wat afgemat is en om die hartseer siel bly te maak. Die aand voor sy bittere dood, het Hy die sakramentele fees ingestel. Hy laat die dissipels saam met Hom aansit, en nadat hulle aan die paasfees, die sakrament van belofte, deelgeneem het, en nadat hulle die ou wyn geproe het, gee Hy aan hulle die nuwe, die sakrament van die beter verbond en van die voller evangeliegenade. Hy leer vir hulle dat sy dood lewe vir hulle is; en wat sy bitterste lyding is, is hulle fees; en sy hartseer is hulle blydskap … die geslagte Lam van God ons paasfees wat vir ons geoffer is, wat die sondes van die wêreld verwyder, was die voedsel wat Hy self sakramenteel aan hulle gegee het en wat Hy die volgende dag vir hulle geoffer het … O watter skatte van genade word hier vir ons in ‘n sakrament aangebied. Hier het ons gemeenskap met ‘n versoende God en ons word in sy teenwoordigheid gebring deur die groot Versoener. Hier het ons gemeenskap met ons Verlosser, gekruisig en verheerlik en aan ons gebied as ons lewegewende, versterkende en instandhoudende Hoof. Hier het ons gemeenskap met die Heilige Gees, wat aan ons siele versoening bied, wat ons na die Seun toe aantrek en wat lig, lewe en krag van Hom na ons toe kommunikeer; wat sy gawes aan ons vermeerder en ‘n werklikheid in ons maak. Hier het ons gemeenskap met die liggaam van Christus, sy heilige mense en die erfgename van die lewe … Die verseëlde boodskap van God se versoening met ons en ‘n verseëlde vryspraak vir al ons sondes en ‘n verseëlde gawe van ewigdurende lewe. Die sakrament wat dit oordra is soet. Alhoewel ons onvolmaakte heiliges is en slegs in ‘n spieël sien, en maar net  klein onvolmaakte bietjies  wat ons in hoop verwag, proe, is dit meer  as alles wat die aarde en vlees kan lewer.

 

Hierdie kommentaar is deur Richard Baxter (1615 – 1691) geskryf.  Hy was ‘n Puritein en dien as kapelaan in die leër  van Oliver Cromwell en as pastor in Kidderminster. Toe James II afgesit is as koning, word Baxter vervolg en vir 18 maande in die tronk gegooi.  Hy hou aan preek en skryf:I preached as never sure to preach again, and as a dying man to dying men.” Hy was ook ‘n digter en skrywer van liedere. Hy het ook sy eie Family Catechism geskryf.

Hierdie kommentaar kom uit  “A Saint or a Brute” in The Practical Works of Richard Baxter, Volume 10 (London: Paternoster, 1830), 316–320.

 

Verdere leesstof:

  “The Lord’s Supper” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Aan U, Here, bied ons ons hele lewe en hoop. Teer Here, ons pleit by U en bid en smeek U: Maak ons waardig om aan hierdie Tafel deel te neem met ‘n skoon gewete, vir vergewing van sondes, vir gemeenskap met die Heilige Gees, om die koninkryk van die hemel te erf – nie vir oordeel of veroordeling nie. Maak ons waardig om U, die hemelse God, as Vader aan te spreek.

 

Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrissostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore en kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie gebed kom uit The Divine Liturgy of St. John Chrysostom Archbishop of Constantinople (London: Joseph Masters, 1866), 70–71.

  

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.

 




Poligamie: Dawid en Salomo

Poligamie: Dawid en Salomo – Marius Nel

Alwyn vra:

Ek wil graag weet – Dawid was ‘n groot Bybelse figuur en Godsman, soveel so dat Jesus uit sy nageslag gebore was. Waarom het het hy en Salomo so baie vroue gehad ten spyte van die feit dat God vir Adam net Eva gegee het as vrou en vir Noag en sy seuns elk net een vrou in die ark toegelaat het. Waar het die reg geword om meer as een sielsverbintenis te mag hê.

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Alwyn

 

Jy is heeltemal reg dat aan die heel begin monogamie duidelik die norm was.

 

Tog weet ons dat Abraham ook ‘n tweede vrou, sy vrou se slavin, as vrou geneem het. En daarna lees ‘n mens telkemale weer van poligamie, selfs in terme van die mees gewaardeerde geloofshelde in die Bybel.

 

Die norm was egter steeds monogamie.

 

Die Midde-Oosterse konings het in baie gevalle vele vroue gehad omdat hulle huweliksverbintenisse hulle politiek-diplomatieke verbintenisse met ander volke voltrek het. In dié sin het Dawid en Salomo ook met vroue getrou wat aan koningshuise van ander volke verbind was. Dit sluit Dawid se verbintenis met Batseba uit, wat uit-en-uit ‘n sondige verbintenis was.

 

Dat die Skrif dit nie duidelik afwys nie, beteken dat die Bybelse skrywers die feitelikheid daarvan erken sonder om ‘n waarde-oordeel daaroor te vel. Waar die Here aan die woord kom, soos in die profeteboeke, is dit egter duidelik dat hy sulke verbintenisse as egbreuk en huweliksontrou beskou.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Jesus weet van die verraaier (13:18-24)

Jesus weet van die verraaier (13:18-24) – Francois Malan

13:18 Soos 13:10 se ‘maar nie almal van julle (is rein nie)’, word hier dieselfde uitsondering gemaak: ‘Ek praat nie van julle almal (as gelukkiges/geseëndes) nie.’ Ps 41:10 wat aangehaal word, beskryf heel gepas die vreeslike waarheid dat dit niemand anders is nie as een ‘wat my brood eet’ (Vaticanus 4e eeu; volgens papirus 66 van 200 n.C., Sinaiticus 4e eeu: ‘wat met my brood eet’ ), m.a.w. ‘n intieme metgesel, wat sy hakskeen teen sy Leermeester/Eienaar/ Sender opgelig het  (1983-vertaling: in die rug gesteek het) – aan sy vyande oorgegee het.

Om saam met iemand brood en sout te eet word in die Oosterse kultuur beskou as ‘n band wat mense aan mekaar verbind tot ‘n verbond om mekaar te ondersteun. Om die verbond te verraai dui op die diepste verdorwenheid. In Israel openbaar die ‘oplig van jou hakskeen teen iemand’ jou veragting, troueloosheid en verbittering teen die persoon – soos ‘n dier wat sy weldoener wat hom kos gee, onverwags en gemeen skop. Dit sou kon beteken dat Judas sy hele tyd saam met Jesus sy Meester se optrede en lering geminag het. Ook hierdie ontroue dissipel was deur Jesus gekies as sy volgeling en helper. Jesus het van die begin af geweet wie en wat Judas is. Dit is deel van sy lyding, ‘n werktuig van die duiwel wat Hy in sy intieme kring opgeneem het (6:70) as vervulling van Ps 41:10.

 

13:19 Jesus het dit alles geweet, en voorspel wat nou gaan gebeur, sodat sy dissipels oortuig kan wees Jesus is ‘Ek is’ – dat Jesus God is, wat sy Naam aan Moses geopenbaar het (Eks 3:14), die God wat sy volk verlos. Die verraad van Judas is nie die finale woord nie. Dit is deel van God se reddingsplan vir sy volk. Daarom moet die dissipels nie begin twyfel nie, maar getrou bly aan hulle Leermeester/Eienaar/Sender.

 

13:20 Moses moes eers met die verraderlike Farao gaan onderhandel, en nie ontmoedig word deur die Farao se verraad  nie, omdat die onveranderlike God, ‘Ek is,’ met hom was. Soos Moses kry die dissipels met ‘n plegtige verklaring die opdrag  om bevryding te gaan verkondig. Wie Jesus se gestuurdes ontvang, ontvang vir Jesus en die Vader, Jesus se opdraggewer. Hulle sal met verraad en teenstand te doen kry, selfs deur een van hulle twaalf. Maar hulle Sender is ‘Ek is’, God self, wat hulle begelei om sy boodskap uit te dra deur ‘n lewe van liefdesdiens, selfs aan hulle vyande (vgl. Mat 5:41-48), soos Jesus ook Judas se voete gewas het.

 

13:21 Soos in 12:27 is Jesus weer hewig ontsteld (vgl. Getsemane, waar Jesus drie maal in gebed was; Mt 26:36-46). Nou  is Hy weer ontsteld voordat Hy Judas aanwys  en hom uitstuur om Hom te gaan verraai. Met ‘voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle’ kondig Hy aan: ‘Een van julle sal My verraai.’ Judas weet nou dat Jesus sy bose hart ken, en sonder om doekies om te draai noem Jesus die plan van Judas vir wat dit is, nl. verraad. Die verraaier is ontmasker, maar word op so ‘n manier gekonfronteer dat hy self die besluit moet neem: óf om sy dodelike bedoeling te los, óf dit sonder versuim te gaan uitvoer.

 

13:22  Die dissipels het verward en ontsteld na mekaar gekyk om te sien of iemand se lyftaal of sy oë aandui  wie dit kan wees. Maar Judas speel sy rol so goed, dat niemand hom verdink nie.

 

13:23-24  Vir die eerste keer word ‘die geliefde dissipel’ genoem (daar word steeds gegis of dit die apostel Johannes of ‘n onbekende dissipel was: Johannes word nêrens in hierdie Evangelie by die naam genoem nie; slegs een maal word die twee seuns van Sebedeus genoem; in Jn 21:2 word die geliefde dissipel van 21:7 genoem as een van die sewe wat gaan visvang het). Die geliefde dissipel het ‘naby die bors van Jesus gelê’ (1983-vertaling: het net langs Hom aan tafel gesit). By feesgeleenthede het die Jode die Grieks-Romeinse gebruik gevolg deur op rusbanke of kussings langs ‘n lae tafel te lê (nie soos Leonardo da Vinci se skildery van die laaste avondmaal met die groep op stoele nie). Hulle het op hulle linkersy gelê, gestut deur die linkerarm, om met die regterhand te kan eet. Johannes het voor Jesus gelê, op die ereplek, die vertrouensposisie (dieselfde uitdrukking ‘naby die bors van’ word ook in 1:18 gebruik; 1983-vertaling: wat die naaste aan die Vader is). Soos die Seun na aan die hart van die Vader is, word die geliefde dissipel geskilder as na aan die hart van Jesus.

Petrus beduie vir Johannes om vir Jesus te vra wie sy verraaier is. Johannes leuen oor teen die bors van Jesus en vra wie dit is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

 

 




Satan se gesag

Satan se gesag – Francois Malan

Hans vra:

In Lukas 4 vers 5 en 6 bevestig Satan aan Jesus, met verwysing na die koninkryke, dat al hierdie mag aan hom (satan) oorgegee is. Is dit soos hy beweer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Johannes 12:31 verwys Jesus na die Satan (satan beteken ‘teenstander;’ duiwel ‘aanklaer’) as ‘die owerste oor hierdie wêreld,’ Jesus het juis gekom om hierdie wêreld te oordeel en sy owerste uit te gooi buitentoe, deur die sonde van die wêreld op Hom te neem aan die kruis. In Joh 14:30 sê Jesus dat Hy nie meer lank met sy dissipels kan praat nie, want die ‘owerste van die wêreld’ is aan die kom (om Hom gevange te laat neem). Die duiwel, het egter geen mag oor Jesus nie, Jesus gee Homself oor om gekruisig te word. In Joh 16:11 sê Jesus: die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel. Wie God nie as Koning van sy lewe ken nie, het die duiwel as heerser oor hom. In Markus 3:22 word hy Beëlsebul (god van alle onreinheid wat van jou besit neem) genoem; in 2 Kor 4:4 ‘die god van hierdie wêreld’ wat die ongelowiges se verstand verblind – wat sy groot mag aandui oor mense, wat nie in ‘n geloofsverbondenheid met God lewe nie.

 

In Joh 8:44 sê Jesus: die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen. Daarom het Jesus ook nie geval vir die Satan se aanbod van die wêreld se mag en glorie uit die aardsleuenaar se hand nie, omdat Jesus in gehoorsaamheid God alleen erken en dien (Lk 4:8)

 

‘My vraag is net, wie het hierdie mag en of glorie aan satan oorgegee soos hy beweer?’

 

Elke mens wat toegee aan die Satan se versoekings en leuens, gee aan hom die seggenskap oor sy lewe. Daarvan was Eva die voorbeeld: toe sy sien dat die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad begeerlik is omdat dit kennis kan gee, om soos God te wees, het sy haar rug op God gedraai en haar eie god geword. So lewe elke mens vir homself; is elke mens sy eie god wat eerste kom in sy lewe. Daarmee het die duiwel vir haar en elke mens wat vir homself lewe met sy leuen gevang (Genesis 3:4-6).

 

So wou Satan ook met sy aanbod van wêreldoorheersing vir Jesus vang om voor hom te buig en hom te aanbid. Die sondigheid van die mens is sy smag na eie roem en mag, terwyl God die mens met bepaalde vermoëns geskep het om God en die mense wat God geskep het, uit liefde met jou lewe en vermoëns te dien. Daarom sê Jesus vir die Jode, wat geglo het hulle is kinders van Abraham en kinders van God, dat hulle eintlik kinders van die duiwel is, omdat hulle vir Jesus, wat God aan hulle kom openbaar, wil doodmaak. Vir sy lewe van liefdesdiens sien hulle nie kans nie (Joh 8:33-47).

 

Maar omdat God sy wêreld met al sy mense, wat Hy goed geskep het, liefhet, ten spyte van hulle verwerping van Hom, het Hy sy Seun gegee om ons van die mag van die sonde en die bose en van onsself te verlos, deur ons straf te dra, en ons van die mag van die bose te verlos. Sodat elkeen wat glo dat Jesus God is, wat vir ons verlossing gesterf het, en as oorwinnaar oor die bose en die dood opgestaan het, die ewige lewe kan hê, deurdat die liefde van God in ons kom woon deur die Heilige Gees, en ons aan Jesus verbind in die geloof (vgl. Joh 3:16; 14:16,17).

 

Maar dit vra ook van ons om die stryd teen die Bose en teen onsself te stry met die wapens wat Hy vir ons gee (vgl. Efesiërs 6:10-18: met die waarheid, die regte verhouding tot God, bereid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof in Christus, ons verlossing deur Christus, die woord van God, gebed tot God, waaksaam bly).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan