Die vroeë kerk

Die vroeë kerk – Jan van der Watt

Vraag:

Johann van Aswegen vra:

Ek sal graag meer te wete wil kom oor die vroeë kerk en veral bronne wat deur nie-Christene geskryf is en waar moontlik foto’s van die geskrifte met hulle vertalings.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dankie vir jou vraag. Uit jou vraag lei ek af dat jy belangstel om boeke te lees oor die vroeë kerk en wat mense in daardie tyd geskryf het. Dit is natuurlik ‘n baie breë vraag en daar is baie boeke. In so geval is dit altyd die beste om eers baie breed te begin, met ander woorde om iets te lees wat jou vertel van die geskiedenis sodat jy kan weet waar die skrywers inpas. (Die Bybel A-Z het so oorsig oor die geskiedenis agter in). Jy kan ook maklik Encarta, Encyclopedia Britannica of Wikepedia probeer. Hulle sal vir jou goeie oorsigte gee. Jy sal dan agter kom dat daar apostoliese vaders, kerkvaders en ander groepe soos die gnostici was. Dan gaan lees jy artikels oor hulle. Op die web sal jy dan ook (as jy hulle name intik) hulle boeke of ten minste vertalings daarvan kan kry.

Ek hoop dit help jou so bietjie.

Outeur : Prof Jan van der Watt

 




Abraham se offer

Abraham se offer – Marius Nel

Paul vra:

As mens Genesis 15:10-17 lees, en ook Esegiël 43:25 sien mens die ooreenkoms tussen die verbond en die tempel seremonie. In Esegiël 46:12 word gepraat van die regeerder wat vrywillig kan offer, is hierdie regeerder Jesus? M.a.w. het hierdie gedeelte van Esegiël, `n duidelike verband tussen God se verbond met Abraham en Jesus se nuwe bedeling? `n Ander opmerking: in Esegiël word hier gepraat van die regverdigheid ten opsigte van maatstawwe. Kan mens sê dat die maatstaf van die nuwe Jerusalem in Openbaring, `n simbool is van die feit dat almal met dieselfde maatstaf gemeet word?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Abraham se offer en die offer in die nuwe tempel wat Esegiël voorsien, stem ooreen in soverre dit offers betref.

Die regeerder verwys in die eerste plek na die prerogatief dat die regeerder ‘n spesiale offer mag bring maar ook die plig het om dit te doen.

Die gedeelte in Esegiël sluit aan by Openbaring omdat albei na ‘n tempel verwys wat gaan kom. Openbaring leun baie swaar op Esegiël vir sy beelde en metafore.

Regverdigheid as maatstaf is verseker ook in Openbaring en die oordeel ter sprake.

Dankie vir jou navraag!

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Teman en Paran – Vraag

Teman en Paran – Marius Nel

Liza vra:

Twee navrae asb:

1) Waar is Teman? Habakuk  3:3

2) Waar is Paranberg? Habakuk 3:3

3) Was dit gebruik in Bybelse tye dat mense na berge (heuwels) moet gaan om JHWH se aangesig te soek?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Teman en Paranberg roep vir die leser die assosiasie op van die uittog uit Egipte en die gebeure by Sinai. Albei plekke word slegs met dié gebeure in verband gebring en lê op die roete vanuit Egipte na die Beloofde Land. In dié sin moet die gedeelte verklaar word. Die presiese ligging van albei, soos meeste plekke wat rondom die uittog genoem word, is nie meer bekend nie. Trouens, ons weet nie eens presies waar Horeb/Sinai geleë was nie maar raai maar.

Dankie vir jou navraag!

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Jeremia 31:22 – Vraag

Jeremia 31:22 – Vraag – Marius Nel

Kriek de Beer vra:

In Jeremia 31:22 vind ek verskeie bewoordings in verskeie Bybels. Byvoorbeeld in die NLV staan daar”….’n vrou sal ‘n man beskerm.” Wat beteken hierdie “profesie” in vers 22, as dit een is ?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Letterlik staan daar in Jeremia 31:22:  ‘n vrou sal ‘n man omhels.

Die betekenis hiervan is nie meer duidelik nie. Meeste navorsers aanvaar dat die vrou “Israel” verteenwoordig en die man “die Here”. So het die Nuwe Afrikaanse Vertaling dan ook gedoen.

Outeur: Dr Marius Nel