Ons daaglikse werk

Ons daaglikse werk – Francois Malan

Sonde versteur God se doel met die mens om Hom en sy skepping met ons arbeid te dien. Christus herstel die arbeidsverhoudings tussen ons en God, ons en ons medemense, ons en arbeid, ons en ons arbeidsveld. 

1.    God se doel met die mens en sy arbeid

Jesus sê: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook’ (Johannes 5:17). Genesis 1:27 sê ‘God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God…’. God gee opdrag aan sy volk: ‘ses dae moet jy werk’ en die sewende dag rus (Eksodus 20:9-11). Die mens se bekwaamhede en potensiaal ontwikkel deur sinvolle arbeid as ‘n weergawe van God se skeppingswerk en die vreugde daarvan. Die mens is bedoel om God te dien, en alles tot eer van God te doen (1 Korintiërs 10:31). Dit sluit in dat ons ons medemense dien, en God se skepping bewaar en bewerk.

2.    Christus kom herstel die arbeidsverhoudings wat deur die sonde verbreek word

a.    Ons verhouding met God

Die mense eet die verbode vrug om soos God te word, en ons begin net vir onsself leef. Ons word ons eie god (Genesis 3:4-6). Omdat ons nie na sy wil wil luister nie, ontbeer ons ook God se wyse leiding, wat alles voorspoedig laat verloop (Jesaja 28:29; Deuteronomium  28:15-68). Israel hou aan om hulle verbond met God te verbreek. So verloor hulle Hom en sy seënende teenwoordigheid (Hosea 9:15-17).

Met sy bloed beseël Jesus God se nuwe verbond met sy gelowiges. In die nuwe verbond is die Here weer ons God, en as ons in Christus bly, dra ons baie vrug (Lukas 22:20; Hebreërs 8:10; Johannes 15:1-8). Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my (Galasiërs 2:20). Sy Gees van liefde lei my. Daarom begin ek vir God lewe, en kan ek elke alledaagse takie sien as diens aan God en sy skepping, en die mense wat Hy gemaak het (1 Korintiërs 10:6).

b.    Ons verhouding met ons medemense      

In plaas van saam te werk op God se aarde, vermoor Kain vir Abel. Mense is jaloers op mekaar en misbruik mekaar, veral hulle ondergeskiktes. Hulle soek mag, en vertrap die armes en die swakkes (Genesis 4:8-12; Esegiël 18: 10-13).

In noue gemeenskap met Christus kan ons mekaar begin vergewe, mekaar liefhê en barmhartig en regverdig optree teenoor my man of vrou, gesin, familie, bure, mede-arbeiders, werkgewers en werknemers (Efesiërs 5:21-6:9).     

c.    Ons verhouding met ons arbeidsveld

Die verband tussen die mens en die aarde waaruit hy gevorm is, is versteur deur hulle ongehoorsaamheid aan God. Die aarde bring gevaarlike dorings en lastige distels voort en dit verg harde arbeid om te kan lewe (Genesis 2:7; 3:18,19). In plaas van die aarde te bewerk en op te pas, misbruik die mens die aarde se grondstowwe en omgewing (Genesis 2:15; 11:3,4).

Ons arbeid in gemeenskap met die Here is egter nie meer tevergeefs nie (1 Korintiërs 15:58). Dit is nie meer gevaarlik nie, want ons offer ons nie meer op aan ons werk nie, maar is self lewende offers vir God (Romeine 12:1). Die Here is ons Beskermer (Psalm 121:4). En nou kan ons met nuwe oë kyk na die natuur as God se skepping wat ons bewaar, skoonmaak en bewerk.

d.    Ons verhouding met ons arbeid

Na die sondeval word werk die mens se god. Hy word ‘n slaaf daarvan, soek sekuriteit in werk en geld. Rykes word deur hebsug gedryf; armes deur bekommernis. Hulle dien mammon en nie meer vir God nie (Matteus 6:19-34). Daarom is die mens se arbeid tevergeefs (Prediker 1,2). Luiheid en werkskuheid is egter ook sonde. As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie (2 Tessalonisense 3:10).

God het Israel uit die slawehuis van Egipte se harde arbeid bevry, om by Hom rus te kry, en uit dankbaarheid vir Hom en sy skepping te werk (Eksodus 20:2,8-11). Christus bevry ons van sonde en van die slawerny van werk. Ons hoef nie ons toekoms met besittings te verseker nie, want ons lewe is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie (Lukas 12:15). Ons Vader in die hemel weet wat ons nodig het, en ons vra ons daaglikse brood van Hom (Matteus 7:7-11; 6:11). Maar ons moet werk om ons eie brood te verdien (1 Tessalonisense 4:11; 2 Tessalonisense 3:12), en mededeelsaam te wees (Hebreërs 13:16).

Werk is ʼn manier om God te dien. Dit sluit die bewaring en ontwikkeling van God se skepping in, en is altyd diens aan mense, in die huis tot in die kombuis, in ons werkplek, op alle terreine van die lewe. Jesus kom bevry ons om met ons werk vir God en ons medemens met vreugde en toewyding te dien. 

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Vroue van die Bybel (1) – Eva

Vroue van die Bybel (1) – Eva – Francois Malan

Haar eerste naam, ‘vrou’ (ishah) sê: ‘uit die man geneem’, as sy beeld en gelyke. Haar tweede naam, ‘Eva’ (lewe), kry die ‘moeder van al die mense’ na die sondeval as teken van hoop. 

Vrou, uit die man (Genesis 2:18-23)

Vir die eerste keer sê God dat iets nie goed is nie, naamlik dat die mens (Hebreeus: adam) alleen is, sonder die wedersydse hulp wat gemeenskap bied. God soek vir die mens ʼn helper wat teen hom opgewasse is. Diere is onbekwaam daarvoor. In digterlike taal beskryf Genesis die skepping van die vrou uit die ribbebeen (sela) as die man se beeld (selem), sy gelyke. God bring haar na die man toe om haar te benoem. Adam sê:

Hierdie een (vroulik) is been van my bene (uit myself), vleis van my vleis (soos ek),

Sy sal vrou (ishah) genoem word, want sy is uit die man (ish) geneem.

Ish kom van ʼn woord wat ‘swak’ beteken: die vrou is swakker as die man; die man is swakker as God (vgl. 1 Korintiërs 11:3,11,12; 1 Petrus 3:7). Genesis beskou egter die huweliksband sterker as die ouer-kind-verhouding (2:24), en volgens Efesiërs is dit die spieëlbeeld van die verhouding tussen Christus en sy kerk (5:21-32). 

Haar tweede naam, Eva, word op vier plekke in die Bybel genoem.

Eva, moeder van al die mense (Genesis 3:15-20)

Die naam Eva (gawwah) beteken ‘lewe’. Nadat God die straf oor die sonde van die mense aangekondig het, gee Adam aan sy vrou haar tweede naam ‘Lewe’, ten spyte van die mens se sterflikheid, van haar pyn met kindergeboorte, en van haar nageslag se stryd teen die slang. Genesis verklaar die naam: ‘want sy was die moeder van al die mense.

In haar gesprek met die listige slang verminder sy God se mildheid. Sy praat van die vrugte van die bome wat hulle mag eet (3:2), nie van al die bome behalwe een nie (2:16). Soos die slang verwys sy na God as die veraf Skepper (3:1,2,5), en nie as die Here wat met die mens ʼn intieme verbond het nie (2:15,18,19,21; 3:1). God word as ʼn hardvogtige onderdrukker geteken, wat selfs weier dat hulle die vrug van die boom van kennis aanraak (3:3; vgl. 2:17). Die boom van kennis van goed en kwaad, om soos God te word, het vir haar die middelpunt van die tuin geword, en nie meer die boom van die lewe en gehoorsaamheid aan die Here nie (3:3; vgl. 2:9). So is sy die moeder van alle sondaars, want so lewe alle mense vir hulleself en nie vir God nie. Onder kruisverhoor skuif die ‘moeder van al die mense’ tipies die blaam op die slang wat haar verlei het. Die harmonie in die skepping, tussen mens en dier, mens en mens, mens en God is versteur deur die mens se ongehoorsaamheid aan God se genadige gebod wat die kennis van kwaad van hulle af weghou. 

Eva wat verlei is (2 Korintiërs 11:3; 1 Timoteus 2:13)

Vir Paulus is die kerk die bruid van Christus, vir wie valse leraars probeer weglei van die onverdeelde en suiwer toewyding aan Christus – net soos Eva verlei is om kennis te kry deur die listigheid van die slang (2 Korintiërs 11:2-3). Maar al kennis wat Eva en Adam gekry het, was dat hulle kaal is en onbekwaam om die Here te ontmoet (Genesis 3:7-8).

In die gemeente van Efese was daar vroue wat gebruik is om ʼn valse leer te versprei. Paulus vermaan hulle om stil te wees in die erediens omdat Eva na Adam gemaak is en haar laat verlei het om die Here se gebod te oortree (1 Timoteus 2:9-15).

Eva, die moeder in die huis (Genesis 4:1,2,25)

Eva noem haar eerste seun Kain (qajin) en sê met trots en dankbaarheid: met die hulp van die Here het ek ʼn man in die wêreld gebring (qaniti – verkry). Haar tweede seun is Abel (habel – seun). Maar toe hulle groot word, vermoor Kain vir Abel uit jaloesie, en Kain word uit die land verban. Met Set (Sheet) se geboorte praat Eva in droefheid oor Abel wat deur Kain vermoor is. God het vir haar ʼn ander nakomeling (saad) daargestel (shat), wat die slang se kop sal vermorsel (vgl. 3:15). Dit is haar hoop dat Set die geslagslyn sal voortsit en die kwaad sal oorwin. In een sin onthou Eva haar moordenaarseun Kain, haar vermoorde seun Abel, en haar troosterseun Set: haar trots, haar smart, haar hoop. Sy is Eva ʼn tipiese moeder. 

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5

God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 4 en 5 is ‘n sentrale gedeelte in die Boek Openbaring.  Die boodskap van hierdie kernhoofstukke bepaal die oorkoepelende boodskap na vorentoe en agtertoe in Openbaring.  Die kern van hierdie hoofstukke is: die God wat skep, is die God wat regeer, is die God wat red, is die God wat die geskiedenis beheer.

Die God wat skep, is die God wat regeer (Openb. 4):

Die beeld van God wat Johannes in Openbaring 4 sien, is dié van God se almag en heerskappy.  God word gereeld in Openbaring beskryf as Iemand wat sit (vgl. vers 3).  Dié benaming wil God se totale beheer beklemtoon.  Hy is só in beheer dat Hy nie nodig het om ‘n vinger te verroer om te regeer nie.  Alles gebeur rondom Hom terwyl Hy net kan sit.  Sy grootheid word verder beklemtoon deurdat almal rondom Hom voortdurend voor Hom neerval in aanbidding (vgl. vers 8-11).  Die ganse skepping besing sy heiligheid, sy skeppingsmag, en sy ewige heerskappy.  Alles en almal in die troonsaal oorweldig die leser met die grootheid en heiligheid van God.  Elke ding wat Johannes sien, elke aksie wat plaasvind, roep God se heerskappy en skeppingsmag uit.  Sy grootheid skitter so geweldig dat ‘n mens dit amper nie kan beskryf nie (vers 3).  Meer nog: die reënboog rondom sy kop herinner aan Noag en beklemtoon sy getrouheid aan sy verbond.  Hierdie onmeetbare groot God is getrou aan dit wat Hy in die verlede belowe het. 

God is in beheer.  Ongeag wat gelowiges in Klein-Asië beleef in hulle moeilike omstandighede, Johannes kry die bevestiging, en gee dit deur, dat God steeds die Koning is.  Nie een oomblik word sy heilige, almagtige regeerskap geraak deur die wêreld se swak regeerskap nie.  Sy Koningskap wankel nie vanweë die storms wat in die wêreld woed nie.  God bly altyd in beheer, want God is (vgl. Eks. 3:14).

God red en beheer die geskiedenis (Openb. 5):

Openbaring 5 bou voort op die boodskap van Openbaring 4.  Johannes sien steeds vir God wat op die troon sit, met ‘n boekrol in die hand.  Hierdie boekrol bevat die geskiedenis van die wêreld tot met die wederkoms.  Dat die boekrol in God se Hand is, bevestig dat Hy die geskiedenis beheer.  Let wel: dit is nie ‘n deterministiese beheer wat menslike besluite uitsluit nie.  In Openbaring 6:1-8 lees ons van talle geskiedenis-gebeure wat beslis nie in lyn met God se wil is nie.  Tog bly God in beheer ten spyte van hierdie gebeure. 

Die krisis vir die mense in Openbaring 5 is die soeke na ‘n Verlosser wat in staat is om in die geskiedenis in te gryp, ten spyte van wat gebeur.  Die een wat na vore kan tree, moet waardig genoeg wees in die oë van God om die boekrol te kan neem, i.e. hy moet volmaak wees.  Net wanneer Johannes van moedeloosheid wil huil omdat niemand gevind is nie, word sy aandag gevestig op die Lam van God (vers 5-6).  Hy kan wel red.  Hy het oorwin en Hy is waardig om die boekrol oor te neem by God.  Sy redding kom nie deur oorlog en vernietiging nie, maar deur geslag te word, i.e. deur te sterf aan die kruis van Golgota (vgl. Openb. 12:11).  Hy word waardig deur Homself prys te gee. 

Daarom kan Hy die boekrol neem.  Sy oorwinning bevestig uiteindelik dat God steeds die geskiedenis beheer, ook tot in die ewige toekoms in.  God se beheer oor die geskiedenis word herbevestig in die oorwinnende sterwe van die Lam van God. 

Uiteindelik word die plot voltooi wanneer die hele skepping ook in aanbidding voor die Lam buig.  Hulle besing die Lam se grootheid met dieselfde woorde waarmee hulle die grootheid van God in Openbaring 4 besing het (vgl. vers 9-14).  Die Lam van God is uiteindelik niemand anders nie as God self wat deur die persoon van Jesus Christus in die geskiedenis van die wêreld ingegryp het nie.  Daar is uiteindelik net een God om te aanbid (vgl. Openb. 3:21 en 22:3).  Die enigste, ware, lewende God beheer voorwaar die geskiedenis in ewigheid. 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12

Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 12:7-12 skets ‘n mitologiese oorlog in die hemel.  Die uitslag van hierdie oorlog bevestig dat God steeds Alleenheerser in die hemel is.  Satan is uit die hemel uitgegooi.  Alhoewel Migael die oorlog veg en die Satan verslaan, word hy nie as oorwinnaar erken nie.  Die oorwinning word toegeken aan die Lam van God, i.e. Jesus Christus.

Oorlog in die hemel (Openb. 12:7-9):

In hierdie paar verse sien ons die mitologiese oorlog in die hemel.  In die Judaïsme was daar mitologiese verhale in omloop oor die val van die Satan.  Johannes sluit waarskynlik by van hierdie verhale aan met sy mitologiese vertelling alhier.  In hierdie oorlog lees ons dat die Satan in ‘n oorlog gewikkel is met Migael in die hemel.  Migael en sy engele het egter die Satan verslaan, en hy is uit die hemel gegooi.  Hy kon God nie onttroon nie.  Trouens, in hierdie verhaal kom Satan nie eers naby God nie.  God tree op die oog af ook nie eers self met Satan in stryd nie.  Hy is so magtig dat Hy net sy aartsengel Migael stuur om die taak te verrig.  Die resultaat is dat die Satan geen toegang meer tot die hemel het nie.  Hy word finaal uitgesluit van God se ryk.  God bly regeer in ewigheid.

Dan lees ons dat die Satan op die aarde beweeg.  Hy probeer die vrou vervolg wat ‘n kind in die wêreld gebring het (verwysend na Jesus).  Hiermee wil Johannes bevestig dat die kerk se stryd teen die magte van Satan voortgaan hier op aarde.  Dit is Satan se nuwe (“sagte”) teiken.

Die oorwinning klink so evangelies (Openb. 12:10-12):

In hierdie verse kry ons ‘n oorwinningslied wat in die hemel opklink.  Dit besing die oorwinning van God in die oorlog (Openb. 12:10), asook wie die Oorwinnaar is (Openb. 12:11-12).  In vers 10 kom duidelik na vore dat God die oorwinning moontlik maak.  Hy is die Een wat verlossing meebring deur die Satan te verslaan.  Die loflied bevestig ook opnuut God se heerskappy en Koningskap, en dat hierdie heerskappy ewig is.  God sal nooit van die troon verwyder word nie.  Hy is en bly die enigste, ware, lewende God.

Maar dan gaan die gedeelte voort om te vertel van die eintlike Oorwinnaar.  Alhoewel Migael en sy engele die oorlog geveg het, is hulle nie die oorwinnaars nie.  Die oorwinnaars vanweë hierdie stryd is die gelowiges, want hulle word bevry van die Satan se mag.  Maar die eer vir die oorwinning self word aan die Lam van God toegeken (vgl. Openb. 12:11).  Hy is die Oorwinnaar in die oorlog teen Satan (vgl. ook Openb. 19:11vv).  En spesifiek word vermeld dat die oorwinning deur die bloed van die Lam behaal word.  Dit verwys na Jesus se verlossende sterwe aan die kruis.  Die bloed van Jesus waarna verwys word, is ‘n algemene verlossingsmetafoor in die Nuwe Testament (vgl. Matt. 26:26-28; Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25; Heb. 13:12; 1 Pet. 1:19; 3:18; Openb. 5:6).  Deur die bloed van Jesus word ons van ons sonde bevry, ooreenstemmend met die bloed van die offerlam in die Ou Testament.  Dit is net dat Jesus se Offer die finale en volmaakte offer is wat geen herhaling nodig het nie (vgl. Heb. 9:14-15; 10:12, 19). 

Dit is dan deur die bloed van die Lam (Jesus) dat die Satan verslaan word.  Alhoewel ‘n ironiese oorwinning (i.e. deur self te sterf), is dit die deursalggewende oorwinning wat die Satan se lot verseël.  Gelowiges se oorwinning oor die Satan is afhanklik van hierdie oorwinning van Christus.  Gelowiges kry slegs deel aan hierdie oorwinning deur die bloed van die Lam.  Verder word die verlossende sterwe van Christus die sleutel vir gelowiges om hulle eie lyding vanweë hulle geloof te verstaan. 

Voeg hierby die vinnige verwysings na Jesus se geboorte en hemelvaart (as ‘n breukdeel in tyd) in Openbaring 12:5, en Openbaring 12 word die evangelie in ‘n enkele hoofstuk opgesom (vir Johannes gaan dit nie oor Jesus se aardse lewe nie, maar oor sy verlossende sterwe en die gevolge daarvan).  Openbaring 12 wil bevestig dat die Messias wat in die Ou Testament voorspel is, wel die finale Oorwinnaar is.  En omdat Hy oorwin het, kan gelowiges hoop hê, ongeag die stryd wat hulle nog op aarde moet stry.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph