Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(3) – JP Louw

Die poort

In die vroegste tye was die hek of poort van ‘n muur om ‘n stad die kwesbaarste plek. Daarom is al gou baie aandag bestee om dit te versterk. Die Kanaäniete het selfs offers aan hulle gode gebring wanneer hulle die poort gebou het.

Die deure of hekke van ‘n poort was van dik hout gemaak en soms met koperplaat bedek (Psalm 107:16). Ysterskarniere het die deure in die mure vasgehou (Psalm 107:16, 1 Samuel 23:7) en yster sluitbalke (Jesaja 45:2) het die slotte gevorm. Met verbeterde oorlogsmetodes kon hekke soos hierdie nie stand hou nie. Een oplossing was om voor die poort nog ‘n ringmuur te bou met ‘n buitepoort. Soms is die ringmuur as ‘n lang ommuurde pad gebou sodat van bo of op die invallers geskiet kon word, of warm vloeistowwe afgegooi kon word. Hierdie dubbele hekke het ook die geleentheid gebied om die vyand se getalle te beperk as hulle op die hoofhek afkom. Torings is by die hekke aangebring om ver te kon sien (2 Samuel 18:24-26). ‘n Nog later metode was om die twee hekke nie teenoor mekaar te plaas nie sodat die vyand ‘n draai moes maak om by die tweede te kom. Die draai was na links sodat die regterkant van die, soldate wat die skild in die linkerhand gedra 11(.1 oop kon wees om raak to skiet. In uiterste gevalle, is selfs drie poorte met ‘n kronkelpad gebruik.

Damakuspoort

Die besige DamaskusPoort van die huidige Jerusalem

Die poort het so ‘n plek van toesprake en regspraak geword (Spreuke 1:21, 2 Kronieke 32:6, Jeremia17:19-20, Deuteronomium 21:18-21). Ongelukkig het leeglêeers ook die stadspoort misbruik (Psalm 69:13). In Ester 2:21 lees ons van Mordegai wat in n ander poort, die poort van die paleis gesit het-dalk het by op iemand gewag of wou by maar net die praatjies daar hoor, want ‘n poort was ook ‘n sosiale plek. So kon Mordegai hoor hoe die poortwagte teen die koning saamsweer. Dit is egter ook moontlik dat die uitdrukking “in die poort van die paleis sit” ‘n idioom geword het vir iemand wat ‘n belangrike posisie beklee het en dat Ester 2:21 verstaan moet word dat Mordegai vanweë sy posisie in die geleentheid was om van die sameswering te wete te kom.

 

Die stadspoort was altyd gedurende die nag gesluit. In die nuwe Jerusalem waarvan Openbaring 21:25 praat sal dit nie meer nodig wees nie, ook nie in die dag nie.




Verstand benewel of toor – Hermie van Zyl

Willie vra:

In Galasiërs 3:1 gebruik Paulus die woord “toor” ( NLV) . In die 1983 vertaling praat hy van “verstand benewel” maar ek dink die Grieks verwys ook na toor . Hoekom sou hy die woord “toor” gebruik ?

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Galasiers 3:1.

“Toor” is inderdaad die beste vertaalekwivalent om hier te gebruik – so die NLV, die nuwe Afrikaanse Direkte vertaling (BSA) en Afrikaanse Standaard Vertaling (CUM). Dit klink taamlik erg om ‘n Christelike gehoor so “by te kom”, maar Paulus is in Galasiërs besig om sy gehoor met ‘n hele paar retoriese strategieë te oortuig dat die sogenaamde evangelie wat hulle tans aanhang (om weer terug te verlang na die sekerheid van Joodse wet, 1:6-7; 2:15-16; 3:2-3) geen evangelie is nie, in elk geval nie die evangelie is wat hy aan hulle verkondig het nie. Daarom noem Paulus die Galasiërs in 3:1 ook “dwase”, nóg ‘n sterk uitdrukking om die pad wat hulle tans bewandel as ‘n weg te beskrywe wat tot vernietiging van die evangelie sal lei.

Wat hy verder doen in die gedeelte (3:1-5) is om die Galasiërs se eie ervaring van die evangelie wat hy aan hulle gebring het (Christus aan die kruis, 3:1; ontvangs van die Heilige Gees, 3:2,5; wonders beleef, 3:5) as argument in te span vir die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle het al hierdie dinge beleef sonder om die wet van Moses te onderhou. Watter bewyse wil hulle nog verder hê? Hulle eie ervaring kla hulle aan van dwaasheid.

In die lig hiervan is dit verstaanbaar dat hy hulle “dwaas” noem én dat hulle “getoor” is. Uiteraard gebruik hy laasgenoemde term metafories, maar nogtans is dit ‘n term uit die donker wêreld van heksery en towery, waar mense probeer het om ander in hulle mag te kry d m v swart magie, d w s, toorkuns waarby die duiwel betrokke is. In ons tyd sou ons dit selfs met satanisme in verband kon bring. Paulus suggereer dus dat die Judaïseerders in die gemeente (leraars wat die gemeente weer onder die wet van Moses wou indwing) vanuit hierdie agtergrond met die gemeente se “koppe smokkel”. Deur die leraars van toordery te beskuldig stel hy hulle dus in die swakste lig denkbaar om die gemeente terug te skok tot die waarheid van die evangelie.

Saamgevat: Met die retoriese tegnieke deur die lesers se eie ervaring van die evangelie teen hulle te gebruik, en om die teenstanders van die evangelie swart te smeer en met towery te assosieer, probeer Paulus sy lesers weer oortuig van die egtheid en waarheid van sy wetsvrye evangelie.

 

Prof Hermie van Zyl




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(4) – JP Louw

Die markplek

Die markplek het gewoonlik vanaf die poort gestrek. Hier het ook die owerhede hulle sittings gehad (Handelinge 16:19). Die inwoners het hier hulle ware verkoop en koopmanne van ver was hier bedrywig. Die mark was elke dag van die week oop (Nehemia 10:31), want sonder yskaste moes elke dag inkopies gedoen word.

 

Wanneer ‘n karavaan handelaars aankom, was so ‘n markdag baie spesiaal-byna ‘n fees. Baie poorte se werklike ingang was te klein om waens of selfs kamele in te laat. Die goedere moes per hand ingedra word. Dit is moontlik dat Jesus in Lukas 11:46 die vragte wat gedra moes word, as beeld van die Fariseërs se baie voorskrifte gebruik het. Miskien het Paulus ook hierby aangesluit toe by in Galasiërs 6:2 gesê het dat ons mekaar se laste moet dra. Hoe dit ook al sy: in die antieke wêreld is baie vragte maar oral op die skouers gedra.

Markdag

 

‘n Mark in Bybelse tye. Let op die kamele met hulle handelsgoedere, die handelaars met hul stalletjies en die bedelaar op die voorgrond

Die markplek was ‘n besige bedryf met baie mense wat daar doenig was. In Athene het Paulus elke dag op die stadsplein, die mark dus, met verbygangers gepraat (Handelinge 17:17). Die mark was ook ‘n plek waar kinders gespeel het (Matteus 11:16-17). Werkloses het daar gaan staan in die hoop om gehuur te word (Matteus 20:3).

 

Strate

In die Ou Testamentiese tye het die strate vanaf die mark uitgeloop. Dikwels was die strate maar baie smal sodat mens skaars twee langs mekaar kon loop. Die huise is baie na aan mekaar gebou en die strate was soms weinig meer as ‘n laning tussen die huise. Vandag nog is daar in Jerusalem baie van hierdie ou strate te sien. Uit die strate het dikwels nog kleiner lanings na agterdele van huise geloop. Dit was nogal moeilik om jou weg te vind as jy vreemd was. Die eerste strate was net van grond en is sommer ook gebruik om enigiets op weg te gooi. In Jesaja 5:25 word die gesneuweldes vergelyk met die vuilgoed op die strate. Dikwels lees ons in die Ou Testament van modder in die strate (Psalm 18:43, Jesaja 10:6, Miga 7:10, Sagaria 9:3, 10:5), want almal het enige water daar uitgegooi en as dit gereën het, was die modder nog erger. Omdat strate so modderig geword het, is later plaveisel aangebring wat ‘n groot verbetering was. Strate het soms name gehad (Jeremia 37:21, Handelinge 9:11), maar die was aanvanklik min.

smalstraat

‘n Smal straat in die ou deel van Jerusalem

 

Omdat die strate smal en donker was, veral snags, was hulle ook gevaarlik. In die antieke wêreld was honde meestal op die strate aangewese vir kos en het so bygedra tot die gevaar. Psalm 59:7 vergelyk die ongeregtiges met honde wat snags op straat ronddwaal. Honde was nie hoog geag nie en was simbool van onsedelike mense (Openbaring 22:15). Eers ten tye van die Nuwe Testament is honde ook as huisdiere gebruik.

Stede wat deur die Grieke en Romeine gebou was, het heelwat anders gelyk. Hulle was beplan en die strate het plaveisel gehad. Voor groot geboue was oop pleine en waar groot strate kruis, is dikwels ook oop pleine gemaak. Sesarea wat deur Herodes gebou is as hawestad om die Romeine na Judea to bring, het ‘n hoofstraat gehad met winkels aan beide kante en met baddens en teaters. Huise is in Sesarea in blokke van vier gebou en daar was groter administratiewe geboue. Die ouer Ou Testamentiese stede was egter meestal maar redelik primitiewe woonplekke. Daarteenoor het Antiogië, waar Paulus dikwels vertoef het, selfs straatligte gehad. Die verskil is basies een van tyd. Dit het lank geduur voordat samelewings ‘n geordende geheel met beplanning en toesig geword het. Die oudste stede het meer spontaan ontwikkel.

Skrywer:  Prof PJ Louw

 




Hoe oud is die aarde – Marius Nel

Johan vra:

Wil graag weet hoe oud die skepping werklik is as ons na die wetenskap kyk , of is die aarde regtig in ses dae (ons dag) geskape ?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die Bybel bied nêrens ‘n antwoord oor die ouderdom van die aarde nie.  Onthou, die Bybel bevat verkondiging oor God wat Hom aan mense openbaar en gee nie voor om ‘n wetenskaplike of historiese handboek te wees nie. Die Bybel noem ook nie dat die aarde sesduisend jaar oud is nie.  Wat belangrik is, is dat ons die Bybel gebruik waarvoor die Here bedoel het, om Hom te ontmoet en in ons kennis van Hom te groei. En stel ons belang in sy skepping, steek ons kers op by die wetenskap.

Skrywer:  Prof Marius Nel