Maria se Loflied

Maria se Loflied – Coen Slabber

Elmien vra:

Waar in die bybel kry ek die lofsang van Maria?

Antwoord

Coen Slabber antwoord:

Ons kry Maria se loflied in Lukas 1:46 – 55.

 

Nadat Maria volle sekerheid gekry het, word sy ook deur die Heilige Gees aangespreek en sing sy ‘n loflied uit tot eer van God. Hier het ons een van die grootste lofliedere van alle tye – die Magnificat – na aanleiding van die eerste woord in die Latynse vertaling van hierdie lied (Magnificat anima mea Dominum). Dit word dikwels gebruik as vertrekpunt vir koormusiek en liedere. Dit is deurweek met die Ou Testament, en is soortgelyk aan die loflied van Hanna, Samuel se moeder (1 Samuel 2:1 – 10). Dit bevat ook grepe uit ander uitsprake in die Ou Testament. In sy inhoud en vorm oortref dit die loflied van Hanna. Die lied val in twee dele uiteen:

Deel 1: Dit druk Maria se lof oor God se genade aan haar uit (vs 47 – 50).

Deel 2: Maria spits haar lof toe op God se groot dade aan Israel (vs 51 – 55).

 

Skrywer:  Dr Coen Slabber

 




Seuns van God en vroue van die aarde

Seuns van God en vroue van die aarde – Marius Nel

Christo vra:

Veduidelik vir my Gen 6 waar die seuns van God die vroue van die aarde geneem het as vroue en daar is reuse gebore. Hoekom sou God dit toelaat en waarom?

Antwoord:

Prof Marius Nel antwoord:

 

Genesis 6:1-8 handel oor die verval van die mensdom.

 

6:1-4 Die vergoddeliking van mense.

 

Presies wat met hierdie vier verse bedoel word, is onseker. Daarmee word dit een van die mees omstrede dele in die Bybel.

 

Die woord hemelwesens is letterlik “seuns van God/gode”. Die woord vir “God/gode” word in die Ou Testament vir gode in die algemeen, maar ook vir God gebruik. Het ons te doen met ander hemelse wesens, byvoorbeeld engele of ’n hemelse vergadering (vgl Job 1:6; 2:1) of ander gode (Ps 82:2,6; 89:7) of bloot hemelliggame (Job 38:7), of besondere mense (Eks 4:22, vgl 2 Sam 7:14)? 

Na aanleiding hiervan word die volgende verskillende verklarings teëgekom:

(a) Dis engele wat met mensedogters getrou het. Daarteenoor word gesê dat volgens Matteus 22:30 engele nie kan trou nie.

(b) Omdat Israel in Eksodus 4:22 “seun van God” genoem word, verwys dit na die afstammelinge van Set. Maar hoe kan ’n mens sommer Israel met Set gelykstel?

(c) Die hemelwesens is afstammelinge van Set, terwyl die dogters van die mense afstammelinge van Kain is. Die probleem is dat dit nêrens pertinent  so gesê word nie.

(d) ’n Joodse interpretasie lui dat dit konings of vername mense van destyds is (vgl 2 Sam 7:14, hy sal vir my ’n seun wees). Die beswaar is dat die oordeel van 6:3 dan onverstaanbaar is.

(e) Ons het met ’n mite* te doen wat ’n bepaalde verskynsel op ’n bonatuurlike wyse wil verklaar. In hierdie verband word gevra of ’n mens dan van mites in die Bybel kan praat.

 

Uitsonderings het nog altyd mense se aandag getrek. In die antieke tyd het mense sulke voorwerpe en persone aan die bomenslike verbind. So byvoorbeeld is bome of rotsformasies met ’n vreemde voorkoms beskou as met krag belaai. Geleidelik het mense gedink iets goddeliks kleef daaraan. Mettertyd het dit selfs oorgegaan in die aanbidding van die voorwerpe.

Die ou verhale van die antieke wêreld vertel van sulke besonder dapper, sterk, groot of bekwame figure wat beskou is as deels mens en deels goddelik. Gewone mense is nie so nie, daarom kan so ’n persoon nie ’n gewone mens wees nie, het hulle gedink. ’n Goeie voorbeeld kry ons in die bekende Babiloniese vertelling oor Gilgamesj in die sogenaamde Babiloniese vloedverhaal. Daarvolgens was Gilgamesj ’n besonder sterk en dapper persoon omdat hy een derde mens en twee derdes godheid sou gewees het.

 

Hierdie opvattings was ook in Israel aan die orde van die dag. Daarvan getuig die talle profetiese vermanings teen die vergoddeliking van kragte, voorwerpe en mense.

Wanneer daar in die Bybel teen ’n populê­re opvatting standpunt ingeneem word, word die opvatting dikwels gestel en dan opgevolg deur die profetiese vermaning. Omdat daar in Hebreeus egter nie so iets soos aanhalingstekens is wat die populêre aanhaling sou aantoon, nie, is dit vir ons moeilik om die onderskeid raak te sien. Voorbeelde is Hosea 9:7b-9 (waar die vertaling geen aanhalingstekens gee nie), Hosea 12:5-7 en Miga 2:6-7 (waar die vertaling wel aanhalingstekens gee).

Die antieke literatuur gebruik verskillende metodes om ’n saak te beklemtoon. Een manier is om die teenoorgestelde vóór en ná die saak te stel en dit so as ’t ware te omkring. Dit is wat in 6:1-4 gebeur. In 6:1-2 en in 6:4 word die populêre opvattings weergegee, terwyl 6:3 die weerspreking is en die klem dra. Die populêre opvatting is dat reuse … , sterk mense … en manne van naam nie bloot mense is nie. Hulle is die resultaat van die verbintenis tussen mense en hemelwesens.  Maar sulke gedagtes druis in teen alles wat die Bybel verkondig oor God, hemelwesens en die mens. Dis maar net ’n ander weergawe van die heidense “heilige huwelik” (tempelprostitusie) tussen die priesteres en die priester as verteenwoordiger van die godheid. Dit vergoddelik mense, in plaas daarvan dat die besondere gawes as God se gawes erken word. Daarom moet dit afgekeur word. Mense is nie halfgode nie. Om dit te bevestig, word die mens se lewensduur beperk tot 120 jaar. So word die dood van die mens, en met name die dood van besondere mense, ’n teken: hoe wonderlik iemand ook mag wees, hy of sy bly ’n mens, sterflik. Daarmee sê die Bybel ’n groot NEE! vir menseverheerliking. Of dit politieke figure of sporthelde of popsterre is – geen mens mag selfs in die volksmond die sweem van goddelikheid kry nie. Dit kom net die Here toe.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Die rooi letter Bybel

Die rooi letter Bybel – Kobus Kok

Petro vra:

Ek wil graag meer weet oor die gebruik en ontstaan van die rooi letter Bybel.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Op 19 Junie1899 het Louis Klopsch, die redakteur van “The Christian Herald” die idee gekry om die woorde van Jesus in die NT in rooi te laat druk nadat hy Lukas 22:20 gelees het. Die eerste rooi letter Bybel word rondom 1901 gedruk. 

Bron: http://en.m.wikipedia.org/wiki/Red_letter_edition besoek op 9 Jul 2014 om 11:11am

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Disney Fairies

Disney Fairies – Kobus Kok

Anneke vra:

Goeie dag, Ek wil weet wat die Bybel sê van feëtjies? My kinders is mal oor Disney Faeries op TV en die klere is baie oulik, maar iemand het my gesê dat dit met toordery te doen het en dat jy die bose in jou kind se lewe toelaat?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Fairies is nie deur Disney uitgedink nie. Fairies kom uit die Keltiese mitologiese volksverhale. Eintlik sou mens kon sê dat dit dan “heidense” oorsprong het. Daar is verskillende verhale rondom die afkoms van Fairies en hoe hulle interaksie met mense daarna uitsien. As Christene glo ons nie dat sulke wesens bestaan nie. Wanneer kinders binnne gesonde verbeeldingsvlugte van Fairies praat, is dit seker nie verkeerd nie. Ek weet egter ook van sommige tieners en studente wat in hulle poging om met die geestelike wêreld te kommunikeer wel in Fairies glo, maar diep in die mitologie daarvan ingaan. Dit is egter binne Christelike perspektief nie gesond nie. Lees maar net Kol 2 om te sien hoe Paulus waarsku teen interaksie met geestelike magte buite die dampkring van die Christelike grense. Ouers sal wel weet wanneer hulle kinders se oriëntasie gesond of ongesond is. Wees egter baie sensitief oor die saak en raadpleeg spelterapeute indien dit problematies is. In die meeste gevalle is jong kinders se belangstelling in Fairies en seuns se belangstelling en assosiasie met spiderman en superman tydelik en nie ongesond nie. Dit kom en gaan. Die ouer het die verantwoordelikheid om telkens ook die verhale van die Christendom te vertel en seker te maak dat die verhale van die Christendom ‘n integrale deel is van jou kind se mondering.

Vir meer mitologiese oorsprong en agtergrondinligting oor Fairies sien: http://en.m.wikipedia.org/wiki/Fairy 

 

Skrywer:  Prof Kobus