Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke Interessante Bybelgedeeltes

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Woonplekke Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Jesus is die deur

Johannes 10:9. Baie moderne vertalings vertaal hierdie vers so “Ek (Jesus) is die deur”. Eintlik is hierdie vertaling baie misleidend aangesien die fokus hier nie is op die “deur” wat ‘n toegang toesluit of blokkeer nie, maar veel eerder op die “opening” waarin die deur pas, m.a.w. die ingang self. Jesus gebruik derhalwe hierdie term figuurlik om aan te dui dat Hyself die enigste toegang tot die hemelse koninkryk is.

 

Haar lamp brand heelnag

Spreuke 31:18. In hierdie vers word ‘n deugsame vrou besing as een “wie se lamp heelnag brand’. Ons weet dat dit selfs vandag nog in die Oosterse wereld die gebruik is om jou lamp die hele nag

te laat brand. Moontlik het dit ontstaan uit ‘n geloof dat dit die magte van die duisternis sou uithou, of moontlik was dit bloot ‘n praktiese reeling wat ‘n mens in staat gestel het om die volgende oggend sonder ‘n gesukkel jou vuur te kon aansteek aangesien die antieke mens nie die gerief van vuurhoutjies gehad het nie. Hierdie gebruik het selfs aanleiding gegee tot ‘n spreuk wat lui “hy slaap in die donker” met die betekenis van “hy het geen sent in die huis nie”. Dit is egter ‘n vraag of Spreuke 31:18 hierbo letterlik of figuurlik opgeneem moet word. Indien dit letterlik verstaan moet word, beteken dit dat ‘n deugsame vrou iemand is wat onder andere toesien dat haar lampie nie gedurende die nag doodgaan nie. Maar ons sou dit ook figuurlik kon interpreteer. Soos ons gesien het in die afdeling onder “beligting”, is die frase “lamp wat brand” dikwels as simbool van voorspoed geinterpreteer, terwyl “die blus van ‘n lamp” weer ondergang simboliseer het. ‘n Mens sou derhalwe hierdie vers ook figuurlik kon verklaar as “sy is baie voorspoedig” en dit is dan ‘n verduideliking op die eerste deel van dieselfde vers wat van haar handelsvermoe praat.

 

Skoene en eiendomsreg

Psalm 60:10; 108:10. Hier lees ons dat God sy skoen op Edom werp. Hierdie handeling van God kan baie maklik verkeerd interpreteer word veral aangesien die “gooi van skoene” in ons kultuur dikwels met woedebuie geassosieer word. Maar ons het vroeer in hierdie hoofstuk gesien dat die uittrek van ‘n skoen beskou is as teken van eienaarskap. Bogenoemde twee verse beteken dus bloot dat God verklaar dat Edom Sy besitting is.

 

Vurige kola op sy hoof

Romeine 12:20. Ons is vandag nie seker na presies wafter kulturele gebruik hierdie frase verwys nie (sien ook Spreuke 25:21-22), maar dit het in ieder geval ‘n idioom geword wat waarskynlik lets soos “iemand skaam maak” beteken.

 

Petrus bid op die dak

Handelinge 10:9. In ons kultuur lyk dit inderdaad na ‘n baie eksentrieke handeling om op die dak te klim om te gaan bid. Nou dat ons egter gesien het dat die dak van ‘n huis eintlik ‘n baie gerieflike plek was en dat dit verskeie gebruiksmoontlikhede gehad het, kan ons begryp waarom dit so algemeen was om dit ook vir verskillende godsdienstige handelinge te benut (vgl ook Nehemia 8:16-17).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die oorblyfsel van Israel

Die oorblyfsel van Israel – Marius Nel

Jan vra:

In die OT lees mens telkens van ‘n “oorblyfsel” van Israel as hulle in ‘n oorlog was of eerder van ‘n bannelingskap vrygelaat word waarmee God dan voortgaan om met hulle te deel. In Romeine 10 sê Paulus dat Israel God se geregtigheid verwerp en hulle eie geregtigheid probeer oprig het met ‘n ywer vir God maar sonder kennis.

In hoofstuk 11 sê hy dat God die volk wat Hy vantevore geken het nie verstoot het nie. Elia het hulle destyds by God verklae maar vers 4 sê: Ek het vir Myself 7000 manne soos jy laat oorbly wat hulle knieë voor Baal nie gebuig het nie. Dan vers 5: Net so is daar in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van genade, ens.

Vers 25 sê dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het (v26) en so sal die hele Israel gered word.

Rom 9: 27 : En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word.

Sou mens kon sê dat die “oorblyfsel” waarna Jesaja verwys vooruit wys na die “oorblyfsel” in Romeine 11? Indien so, wie is die oorblyfsel in die teenwoordige tyd” en dan die “hele Israel” wat gered word? In die lig hiervan hoe sal Israel as volk figureer sodra die genadetyd vir die “heidene” tot ‘n einde kom? asb.

 

 Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

U raak ‘n belangrike kwessie aan wat vir Paulus belangrike emotiewe waarde het. Hy het onder die heidene gewerk en waarskynlik dikwels die verwyt van sy volkgenote gehoor, selfs van Joodse Christene, dat hy sy volk versaak het ten gunste van nie-Jode. Hy antwoord daarop dat die Here nie die Joodse volk afgeskryf het nie, alhoewel Hy in sy genade na die heidene uitgereik het.

 

Hy sluit aan by die profetiese gedagte dat God sy volk verwerp het as gevolg van hulle ongehoorsaamheid, maar dat Hy steeds ‘n verhouding met dié Jode het wat gehoorsaam aan Hom leef. Dit verwys na die oorblyfsel, die tak wat uit die stam groei nadat die stam afgekap is.

 

Dié groep bly steeds in ‘n verhouding met God, en God se genade reik nog steeds na die Jode uit, beklemtoon Paulus. En selfs nadat God die volle getal uit die heidene gered het, sal sy genade steeds oor die oorblyfsel van Israel wees om hulle te red.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Geld dit ook vir Suid-Afrika?

Geld dit ook vir Suid-Afrika? – Marius Nel

Jan vra:

Tydens die inwyding van die tempel in Salomo se tyd het die Here in die nag aan hom verskyn en vir hom gesê dat Hy sy gebed gehoor en hierdie plek vir Hom as ‘n offerhuis verkies het. En dan die bekende deel in 11 Kronieke 7: 14: en My volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en wat volg. Baie leraars en voorgangers en wie ookal beroep hulle op die teks ten behoewe/gunste van Suid Afrika en ek wonder of enige ander volk as die Israeliete hierop aanspraak kan hê?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

Ek meen u aanvoeling is korrek. Tekste in die Bybel is in die eerste plek gerig aan die adres van die eerste lesers en hoorders. En as ons wat agterna dit lees enigsins reg daaraan wil laat geskied, moet ons eers verstaan wat die eerste lesers gehoor het en wat dit in hulle situasie vir hulle gesê het.

 

Die tempel bestaan nie meer nie en daarom kan mense nie meer van daar bid nie. Die beginsel geld egter: wanneer mense in opregtheid na die Here roep, luister Hy en verhoor Hy.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Hoe onderskei ons?

Hoe onderskei ons? – Francois Malan

Mandie vra:

Noem die drie maniere wat God in sy Woord ons leer om te onderskei.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Ek is nie seker wat die vraag bedoel oor waaroor onderskei moet word nie, want dit sal tot ‘n mate die manier van onderskeiding bepaal.

 

Levitikus 10:10 sê bv. Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, tussen wat rein en wat onrein is. As maatstaf om die onderskeiding te maak sê Lev 10:11: Julle moet al die voorskrifte van die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer. Lev. 11:47 vra onderskeiding tusssen rein en onrein voedsel wat in die voorafgaande deel van die hoofstuk uitgespel is (vgl. ook Lev 20:25).

            In Esegiël 22:26 beskuldig die Here die priesters in die land dat hulle sy wet geweld aandoen en ontwy wat aan die Here gewy is, deurdat hulle nie onskeid maak tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en nie onderskeid ken tussen rein en onrein nie. Hulle moet eintlik die volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en ontrein is (Eseg 44:23).

 

In 1 Konings 3:9 vra Salomo van die Here ‘n ‘hart wat luister’ (1983-vertaling: gehoorsaamheid aan U) om u volk te rig/regeer, om te onderskei tussen goed en kwaad (1983-vertaling: in alles insig sal hê), want wie is tog in staat om u groot volk te regeer?

 

Maleagi 4:1-2 voorsien ‘n tyd waarin die volke na die huis van die Here sal stroom ‘sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.

 

Met Jesus se koms het daar ‘n groot verandering gekom. Hy gee ons ‘n nuwe wet: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het (Johannes 13:34) – met selfverloëning (Matteus 16:24-28) tot die dood toe vir mekaar liefhê, as vriende van Jesus wat doen wat Hy ons beveel (Johannes 15:12-17), selfs ons vyande liefhê as kinders van God (Matteus 5:43-48).

            Waar die onderhouding van die wette van die Ou Testament die manier was om te onderskei tussen goed en kwaad, word Jesus se nuwe wet van selfopofferende liefde soos Jesus, die maatstaf vir ons onderskeiding van God se wil (vgl. bv. Matteus 25:35-40 se toepassing daarvan).

            Jesus in sy persoon vervang die tempel as ons manier om by God uit te kom (Johannes 2:19-21); Hy verander die Sabbat as Here van die Sabbat  (Markus 2:27-28) wat soos sy Vader aan die werk is, ook op die Sabbat (Johannes 5:7). Hy het ook alle kos rein verklaar (Markus 7:15-19). Jesus se woorde en lewe word ons maatstaf vir onderskeiding.

            In Matteus 16:3-4 verwyt Jesus die Fariseërs en Sadusseërs wat van Hom ‘n wonderteken uit die hemel eis dat hulle die natuurtekens kan lees wanneer dit mooiweer of onweer sal wees, maar die nie tekens van die tye kan onderskei nie – nie kan insien dat Hy van God af kom nie, dat hulle geen teken sal kry behalwe die teken van Jona wat eers na drie dae weer lewend uit die vis gekom het – soos Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het soos Matteus 12:40 sê.

           

Verder het Jesus na sy hemelvaart die Vader gevra om die Heilige Gees in ons harte te stuur om in ons te bly (Johannes 14:16-17). Die Heilige Gees stel ons in staat om alle dinge te beoordeel/onderskei (1 Korintiërs 2:10-15).

 

Die Heilige Gees gebruik die woord van die Here om ons te lei in ons onderskeiding van die goeie en die kwade (Johannes 14:26 Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het). Ons moet luister na wat die Gees ons deur die woord van Jesus leer. Die woord van Jesus kom na ons toe deur mense wat van Hom getuig en deur wie se voorbeeld van ‘n lewe in liefde ons oortuig word. So werk die Gees deur mense om ons te lei in ons onderskeiding en beoordeling.

 

Die drie maniere wat God ons in sy woord leer om te onderskei is dus:

            Jesus! Sy woorde en sy voorbeeld van selfverloënende liefde soos dit in die Bybel opgeteken is

            Die Heilige Gees, wat in ons woon om ons te lei met die woord van God en die voorbeeld van Jesus

            Gelowiges, wat deur Jesus en die Gees gebruik word om, as kinders van God omdat hulle deur geloof aan sy Seun verbind is, met hulle woorde en lewe getuig van God se liefde vir die wêreld.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan