Hoe lees teoloë die Bybel?

Hoe lees teoloë die Bybel? – Marius Nel

Jan Smith vra:

In Rapport van 13 April 2014 skryf dr Abel Pienaar, direkteur van die Sentrum vir eietydse Spiritualiteit, ‘n artikel na aanleiding van ‘n onlangs uitgereikte rolprent oor Noag se ark. Hy vra die vraag oor hoe verstaan ‘n mens antieke tekste in ‘n modern wêreld? Hy skryf: Die verhaal van Noag en die ark(Genesis 6-9) is natuurlik ‘n Bybelse verhaal.

Die meeste gelowiges sal dit wil verstaan as ‘n letterlike en feitelike verhaal. Dan sê hy baie Christene glo nog aan die inspirasieleer dat elke woord in die Bybel letterlik en “waar” is. Die volgende aanhaling is vir my veral ontstellend: “Sodra daar na die Bybel as ‘n antieke skrif gekyk word, vol tipiese mitiese gebeure soos donkies wat praat, mense wat op water kan loop, reuse en maagdelike geboortes, kan duidelik gesien word die Bybelskrywers het uit ‘n voorwetenskaplike wêreldbeeld gedink en geskryf”. Noag kon nie 600 jaar oud gewees het nie. Hulle het geen begrip van ouderdom gehad nie en die menslike fisiologie was beperk en gegrond op bygeloof en legende. Volgens hierdie man is die Bybel en sy inhoud sommer ‘n klomp bogstories. Ek weet nie van watter bladsy af lees hy of vanwaar af hy bel nie. Hoe sou u deelnemende professore hieroor reageer ten einde die ou leke soos ek nie die spoor byster te laat raak nie, asseblief?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Daar is breedweg twee paradigmas waaruit die Bybel deur teoloë gelees word: ‘n belydenis- en streng-wetenskaplike paradigma. Die eerste paradigma laat ruimte dat die Skrif die Woord van God bevat, ook aan die adres van moderne mense. Ons bely dat ons glo in God wat in ons lewens ingryp en binne ons werklikheid ons ontmoet en ons gebede beantwoord. Dit laat ruimte vir wonderwerke, selfs in ons moderne dag maar ook in Bybelse tye. Die ander paradigma stel dat natuurwette bepaal wat in ons wêreld plaasvind en dat God daaraan onderwerp is. Hy tree nie op buite die natuurwette nie en daarom moet wonderwerke in die Bybel as mites en premoderne verklaringswyses afgemaak word. Die implikasie is natuurlik dat Hy vandag ook nie gebede beantwoord deur in ons lewe en werklikheid in te gryp nie. Ek meen die betrokke teoloog skaar hom by die laaste sienswyse terwyl kerklike teoloë eerder die eerste roete volg.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 




Ek ken jou op jou naam?

Ek ken jou op jou naam? – Marius Nel

Francois vra:

Eksodus 33: 12 en 17. “Ek ken jou op jou naam”. Vrae: a)Vir wie is dit bedoel en vir wie nie? (Net die volk van God of ander volke ook?) b)Na die aanbidding van die goue kalf(Eks 32) was(moes) daar enige skuld erkenning en/of sondebelydenis voordat bogenoemde belofte gemaak is? (geen juwele gedra nie?) c) Wat is die betekenis van hierdie belofte vir ons vandag?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die spesifieke gedeelte is in die eerste plek gerig aan die adres van mense wat in die Sinaiwoestyn was. Om enigsins te verstaan wat dit vir ons beteken, is dit nodig om te hoor wat die boodskap aan hulle was. U is korrek dat die gedeelte afspeel ná die goue-kalfepisode en daardeur bepaal word. Die spesifieke woorde is aan Moses gerig: Ek het jou by die brandende bos op jou naam geroep en gestuur, en daarom sal Ek steeds by jou wees. Wanneer ons as gestuurdes van die Here leef, geld dié belofte ook vir ons: Ek het jou na die sendingveld gestuur waarin jy leef en Ek is saam met jou wanneer jy daar werk.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




My medemens sondig

My medemens sondig – Francois Malan

Awie vra:

êrens in die Bybel staan geskryf dat as jou medemens sondig en jy hom nie teregwys nie, jy skuldig sal wees as hy in die verderf beland. Waar asb.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Esegiël 33:1-20 word die verantwoordelikheid van die mens as wagter oor die stad of oor mense uitgespel. Die wagter wat nie gewaarsku het nie, word deur die Here verantwoordelik gehou vir die dood van mense (v6); so ook vir die profeet as hy nie die goddelose waarsku nie (v8).  In Galasiërs 6:1-2 sê Paulus aan die gemeentelede: ‘as iemand in een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aa die wet van Christus’ – nl. dat ons mekaar moet liefhê soos wat Hy ons liefhet (Johannes 13:34). 1 Petrus 4:8 sê: ‘Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.’

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Word Jabes se gebed oorbeklemtoon

Word Jabes se gebed oorbeklemtoon? – Marius Nel

‘n Leser vra:

Kan u my asb. inlig aangaande die Jabesgebed . Wat is die belangrikheid hiervan in die lig van die feit dat Jesus die “Onse Vader” gekies het as modelgebed toe Hy sy dissipels leer bid het?               

Is die  belangrikheid van hierdie gebed oorbeklemtoon deur baie  mense, na aanleiding van Bruce Wilkinson se boek daaromtrent, of nie ? 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Ek kan slegs my eie opinie hieroor met u deel wat, so vermoed ek, met u gedagte ooreenstem.

 

Na my denke is ‘n ietwat selfsugtige gebed opgeblaas as die modelgebed vir (uiters) selfsugtige en materialistiese (Noord-)Amerikaners wat graag wil hoor dat die Here daar vir hulle is, en spesifiek om hulle te seën en alles vir hulle te laat reg loop.

 

Ja, ons modelgebed begin met ‘n geheel ander toonaard: Vader, laat u Naam hier op aarde heilig wees soos in die hemel, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied. En dan: gee ons wat ons nodig het, een dag op ‘n slag. En vergewe ons, maar eers as ons leer om te vergewe sodat ons gesond kan word. En bewaar ons van versoeking en verlos ons van die Bose.

 

Ek stem heelhartig saam met u aanvoeling.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel