Alle nasies – wie is dit? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra;

 Waarom verskil gelowiges oor die kwessie van wie “alle nasies” is? Sommige sê hulle is net afkomstig van die 12 stamme van Israel met wie God ’n ou en nuwe verbond gesluit het. Ander het dit dat dit alle mense op die aarde is: vervloektes, verdelgdes, voorvadergeesaanbidders, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, alle afgodsdienaars van die son, maan, sterre, water, aarde, ensovoorts. Laastens, waar oral in die ganse Bybel word verwys na “alle nasies”?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek verstaan die vraag so: Word met “alle nasies” werklik alle mense op aarde bedoel, of net sekeres? Anders gestel: Is die evangelie van redding in Jesus Christus net vir sekere mense bedoel of is letterlik alle mense op aarde hierby ingesluit? Dit gaan dus oor hoe inklusief die evangelie van Christus is. In my antwoord gaan ek op hierdie kwessie fokus.

My antwoord sal hopelik ook die vraag beantwoord oor waar in die Bybel oral na “alle nasies” verwys word. Daar is talle tekste wat na “nasies” en “alle nasies” verwys, maar ek sal slegs die sleuteltekste betrek wat handel oor die kwessie dat God se heil vir alle nasies bedoel is.

As mens die Bybel van voor af begin lees, wil dit lyk of die genadeverbond wat God met Abraham en sy nageslag aangaan, eksklusief is, dit wil sê, beperk tot Israel. Want God sluit spesifiek met Abraham, die vader van die Joodse nasie, ’n verbond. God beloof om vir die nageslag van Abraham ’n God te wees, en hulle sal vir Hom ’n volk wees (Gen 12:3). Dit klink dus of die Jode ’n uitverkore volk is, met uitsluiting van die ander nasies; net Israel is God se volk en net hulle aanbid die ware God; alle ander mense hou hulle met afgode besig.

Maar nou is dit ewe waar dat dit reg van die begin af God se bedoeling met hierdie “eksklusiewe” verbond met Israel was dat Hy deur hulle uiteindelik met alle nasies ’n heils- of genadeverbond wou aangaan. Hy is dus nie net die God van Israel nie, maar van alle nasies. Daarom dat reeds vir Abraham gesê word dat in hom (Abraham) al die nasies van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3). God maak Israel juis ’n groot nasie sodat hulle ’n sigbare teken vir die hele wêreld kan wees dat God ’n genadige God is. En asof God dit wil inskerp by Abraham en sy nageslag dat hulle nie die enigstes is wat aan Hom behoort nie maar dat hulle instrumente in God se hand sal wees om alle nasies op aarde in te sluit by hierdie genadeverbond, kom hierdie gedagte herhalend voor in die geskiedenis van die aartsvaders (vgl Gen 18:18; 22:18; 26:4). Die gedagte dat al die volke van die aarde God se eiendom is en Hom moet dien, word ook bevestig in die profeteboeke waar vergesigte geopen word oor ’n tyd wanneer alle volke die lewende God, die God van Israel, sal dien. Selfs Egipte en Assirië, daardie gehate nasies van Israel, sal vir die aarde ’n seën wees (Jes 19:24-25). Israel moet dus so optree dat hulle ’n lig vir die nasies is sodat God se redding die uithoeke van die aarde sal bereik (Jes 49:6) en sodat al die nasies en taalgroepe kan bymekaarkom om op te trek na Jerusalem en eer aan die Here te bring. Dan sal daar inderdaad ’n nuwe hemel en aarde tot stand kom, soos in Jesaja 66:18-23 in die vooruitsig gestel word.

Ons moet egter byvoeg dat Israel eintlik maar selde hulle taak en roeping ten opsigte van die nasies verstaan het. Die feit dat hulle deur God met sy genadeverbond bevoorreg is, het hulle eerder trots en verwaand gemaak as nederig, eerder na binne laat keer as na buite. Hulle het hulleself as inherent beter as die nasies gesien. Veral na die terugkeer uit die ballingskap het hulle God se genadeverbond al meer eksklusief verstaan as net vir Israel bedoel, met uitsluiting van die nasies.

En dit is ongeveer die situasie wat mens aantref wanneer Jesus, gebore uit die Joodse volk, sy Vader se koninkryk op aarde begin vestig. Aanvanklik lyk dit asof Jesus net op Israel fokus (Matt 10:5-6), maar algou word dit duidelik dat God se koninkryk vir alle nasies bedoel is. Jesus beweeg byvoorbeeld buite die grense van Palestina na die stede Tirus en Sidon en genees ’n Kanaänitiese vrou se dogter (Matt 15:21-28). Hy genees ook ’n besetene van Gerasa, wat semi-heidense gebied was, en so versprei die evangelie in die hele Dekapolisgebied (Mark 5:1-20). En net voordat Jesus na die Vader terugkeer ná sy opstanding, gee Hy aan die dissipels die opdrag om na al die nasies toe te gaan, hulle sy dissipels te maak en hulle te leer om al sy gebooie te onderhou. Hierdie opdrag word ook bevestig in Lukas 24:46 – dat bekering en vergifnis van sonde aan al die nasies verkondig moet word. Dié gedagte word deur Handelinge 1:8 herhaal wanneer Jesus die dissipels uitstuur na die uithoeke van die wêreld, beginnende in Jerusalem. Die boek Handelinge beskryf ook hoe die Joodse volgelinge van Jesus gaandeweg bekeer moes word van hulle beperkte visie oor hoe wyd die genade van God strek. Petrus moes oortuig word deur ’n hemelse gesig dat daar nie so-iets is soos mense wat die evangelie waardig is (Jode) en ander wat dit nie waardig is nie (heidene) (Hand 10), en die Jode-Christene in Jerusalem moes hoor dat die heidene (die nasies) nie nodig het om eers kulturele Jode te word voordat hulle toegelaat word tot die nuwe verbond nie; hulle hoef maar net in Jesus te glo (Hand 15). Paulus moes ook hard praat met die Galasiërs dat mens nie nodig het om al die Joodse wette na te kom om goeie Christene te wees nie. Trouens, hy sê ronduit dat die belofte wat God aan Abraham gemaak het, in Christus in vervulling gegaan het. Al die nasies het nou in Christus vrye toegang tot die genadeverbond (Gal 3:8).

So gaan die belofte van God aan Abraham in vervulling dat al die nasies van die aarde geseën sal wees. Ja, God is inderdaad die God van alle mense – ryk en arm, goed en sleg, geseëndes en vervloektes. Openbaring sluit ook af met die gedagte dat wanneer die nuwe hemel en aarde aanbreek en die nuwe Jerusalem op die aarde neerdaal, die nasies in die lig van die stad sal lewe en die mense die rykdom van die nasies daarheen sal bring (Op 21:24-26). Die bedoeling is dat die evangelie dan reeds oor die hele aarde versprei het en al die nasies die geleentheid gehad het om hulle tot die lewende God te bekeer. Want die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word voordat die einde kom, sê Matteus 24:14. Alle mense moet die geleentheid kry om deur die lewende God geseën te word, soos aan Abraham lank tevore belowe. Dit was God se bedoeling van die begin af.

Die punt van bogenoemde oorsig is: Daar is geen aanduiding in die Bybel dat enige nasie of groep uitgesluit word by God se heil nie. “Alle nasies” beteken alle nasies, alle mense. Die goeie nuus van God se redding in Jesus Christus is bedoel vir alle nasies, groepe, volke en individue. Enigeen wat probeer om “nasies” of “volke” te beperk as sou sekeres by hierdie universele aanbod van genade uitgesluit is (soos mens bv kry by die sg Brits-Israel-beweging), is nie besig met die Bybelse boodskap van genade nie maar met sy of haar eie ideologie.

Naskrif:

Indien die vraagsteller verdere inligting wil bekom oor die sogenaamde Israelvisie- (ook Brits-Israel-beweging genoem), kan hy op die webblad van Bybelkennis.co.za ingaan en die skrywes van prof Adrio König lees. Hierdie stukke handel spesifiek oor die toekoms van Israel. Dit kan gevind word onder die volgende opskrifte: “Alle paaie lei na Jesus: Die toekoms van Israel (1)”; en: “Geloofsvrae: Die toekoms van die Jode”.

Voorts is daar ook ’n ander stuk op die internet wat oor die Israelvisie-beweging handel en die vals teologie hiervan uitwys. Dit is te vinde by:

https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=1&ved=2ahUKEwiBmteN4q3lAhXYilwKHTV9C_gQFjAAegQIAhAB&url=https%3A%2F%2Fwww.ankura.net%2F2006%2F05%2F02%2Fdie-israelvisie1%2F&usg=AOvVaw2rMqO94FdXDgK5S2sCxRyw

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Waarom word Jesus nie duideliker verkondig nie – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Hier is Christus alles en in almal

Hierbo is Kol3:11 b

Hoekom word dit nie wyd en hard verkondig nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jou vraag is die vraag wat ons almal het – waarom word Jesus dikwels nie duideliker verkondig nie, amper of mense skaam is om dit te doen (Dit laat my nogal dink aan Jesus se woorde dat as mense hulle vir Hom skaam, sal Hy Hom ook vir hulle in die hemel skaam). Jy verwys na Kolossense. In Kol 2:3 staan daar dat God se geheim/ misterie die volgende is: Christus: in Hom is al die skatte – dinge wat voorheen verborge was vir mense – van wysheid en kennis te vinde). In die konteks van die gemeente van Kolosse was die baie belangrike woorde, want in Kolosse het verskillende ‘misteriegodsdienste’ ‘n baie belangrike rol gespeel. Die misteriegodsdienste was godsdienste waarin ‘n mens in ‘n geheime groep ingelei is. Die groep het beweer dat hulle geheime kennis het wat jou in kontak met god(e) sou bring. As jy dan ingelyf is in so groep het jy dan die geheime wysheid en kennis gekry wat jou in kontak met god(e) gebring het. Dit was waaroor jou godsdiens gegaan het. Nou kom Paulus en se dat hulle nie meer na al die godsdienste toe hoef te hardloop om van God te leer nie. God se misterie, sy geheim, is Christus. As jy Christus ken, wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het, het ons al die wysheid en kennis wat ons nodig het. By Hom leer ons alles wat God wil he ons moet weet, of dit nou oor die manier van lewe (die lewensspel – wysheid) gaan of oor dieper kennis van God self gaan.

As ons dus nie meer ons fokus op God se bron van kennis nie, sy geheime kennis wat ons deel van sy familie maak, wat het ons dan? Net ons eie mensgemaakte idees en godsdiens (so se Kol 2:4, 8-9). Sulke mense sal nog volgens Paulus redeneer dat hulle godsdienstig is, maar Paulus waarsku hulle dat al wat hulle sonder Jesus het, is eintlik maar net ‘n klomp mensegemaakte opinies. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Rol van vrou in huwelik – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek lees van die rolle van man en vrou in die huwelik. My vraag is: Wat kan ek as vrou doen as my man net ons huis betaal maar verder moet ek vir alles sorg? Kos, kinders se klere, kinders versorg, huis versorg, man versorg (tot sy kosblik). Maar my man hou dronknes en geniet homself, en verwag sy bord kos as hy by die huis kom (wat daar elke keer is). Gaan ek my plig versuim as ek alles wegvat, sy “spoonfeeding” stopsit?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Oor die onderskeie rolle van man en vrou in die huwelik is daar al baie geskryf op die Bybelkennis-webblad. Ek wil die vraagsteller dus graag uitnooi om twee artikels te lees wat ek self hieroor geskryf het. Die titels is: “Die man en die vrou se rol in die huwelik”, en “God se orde in die huwelik”. Sleutel hierdie titels in by die soekblokkie op die tuisblad van Bybelkennis, druk “enter” en klik dan op die artikels soos hulle verskyn. Maar daar is ook baie ander artikels oor die huwelik wat haar sal help. Tik die woord “huwelik” in en hulle sal almal verskyn. Hulle behoort die vraagsteller te help om haar dilemma binne die konteks van God se wil vir die huwelik te verstaan en verdere aksie te neem.

Maar kan ek net kortliks spesifiek op die vraag van ons vraagsteller antwoord. Want wat sy nou nodig het, is aksie, nie net insig oor die rolle van man en vrou in die huwelik nie, hoewel laasgenoemde ’n belangrike begin is, veral ook vir die man om van kennis te neem.

Die situasie soos die vraagsteller dit bo beskryf, is beslis nie ideaal nie en vir seker nie God se wil vir haar huwelik nie. Dis duidelik dat sy uiters gefrustreerd is en nie langer kans sien om so voort te gaan nie. Wat nou nodig is, is dat sy die saak rustig en kalm, maar ook eerlik en opreg met haar man uitpraat en dat hulle tot ’n gesamentlike plan van aksie oorgaan omtrent ’n toekomstige rol- en werksverdeling wat vir beide bevredigend is. Haar man moet besef dat sy vrou ongelukkig is en voel dat sy nie na waarde geskat word vir die bydrae wat sy tot die huwelik lewer nie.

Baie mans verval in ’n patroon van onttrekking en gemaksugtigheid oor wat hulle verantwoordelikhede in die huwelik is, met die verskoning dat sekere take die vrou se verantwoordelikheid is. En ongelukkig ontstaan so ’n situasie soms omdat die vrou dit oor tyd toegelaat het om te ontwikkel. Aanvanklik was sy miskien huiwerig om haar man teen te gaan, uit vrees vir konflik, en kort voor lank ontstaan ’n situasie soos wat die vrou hierbo beskryf. En om uit hierdie patroon te kom, gaan openhartigheid, gesamentlike besluite en geduld vra. Die man sal moet besef dat dinge gaan verander, maar dat dit uiteindelik tot beide se beswil sal wees en hulle huwelik op ’n nuwe voet gaan plaas. En as persoonlike gesprek tussen die vrou en haar man steeds nie die gewenste uitwerking het nie, sal dit wenslik wees om professionele hulp in te roep, byvoorbeeld hulle pastoor of dominee, of ’n ervare huweliksberader.

Maar sy sal haar man se samewerking moet kry. Eerder dit as om drastiese stappe te neem. Moet veral nie wegspring met ultimatums en sperdatums nie. Dit sal hom net viervoet laat vasskop. Drastiese en veral eensydige maatreëls het gewoonlik allerlei negatiewe reaksies tot gevolg wat nie die langtermyndoel – ’n gelukkige huwelik – dien nie. Daar is verskillende maniere om die “spoonfeeding” stop te sit, maar ek sou verkies dat sy dit met die hulp van ’n professionele persoon doen én met haar man se instemming. Want dit vat twee om ’n huwelik te laat werk.

Baie sterkte.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die boom van die lewe – Marius Nel

‘n Leser vra:

My vraag gaan oor Genesis 2:9 “ook die boom van die lewe in die middel van die tuin”
Ons lees verder van die boom van alles kennis en die opdrag om nie van dit te eet nie en dan verder wat gebeur het en wat Satan gebruik om die mense van die boom te laat eet.

Maar wat word van die boom van lewe?
Hoekom is dit genoem?
Mag die mens (Eva en Adam) van dit eet?
Wat is die belangrikheid van die boom van lewe?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Pieter

 Hoe ‘n mens die boom van die lewe verstaan, hou verband hoe ‘n mens Gen 1-11 lees. Indien jy dit lees om dit letterlik te verstaan, met ander woorde, dat dit woord vir woord die waarheid is, kan ek jou nie antwoord nie omdat ek nie weet wat skrywer(s) bedoel het nie. Indien ‘n mens dit lees as ‘n verhaal wat ‘n teologiese waarheid wil verduidelik, dink ek dit bedoel om te beduie dat die mens toegang tot die (ewige) lewe gehad het maar deur die keuse van sonde uit die tuin gestuur is en dit verloor het. Dit maak dan ook sin wanneer Jesus van die evangelies later klem op die ewige lewe plaas.

Skrywer:  Prof Marius Nel