1 Petrus 1:20

1 Petrus 1:20 – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor 1 Petrus 1:20. As n mens die gedeelte vanaf vers 17 lees dan gaan dit hier oor ons lewe van dankbaarheid teenoor God omdat Hy losgekoop het deur Christus se bloed. Christus het dus vir ons verlossing verdien met Sy bloed aan die Kruis. Wat ek graag beter wil verstaan is hoekom God Hom reeds voor die skepping hiervoor bestem het. Het God dan reeds voor die skepping geweet die mens gaan in sonde verval of verwys die vers na iets anders?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Petrus 1:19-21 is eintlik ‘n belydenis deur die gelowige gemeente van God se grootheid en sy wysheid en sy liefde wat uitgeloop het op sy skepping van die wêreld en die mensdom om Hom te dien en te eer. Van 1:17 af word gelowiges opgeroep om te lewe in eerbied vir God. So sê Paulus ook in Efesiërs 1:4 dat God, voor die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees. En so sê Petrus ook dat ons moet lewe in eerbied vir die God wat reeds voor die skepping van die wêreld alles vooruit geweet en bepaal het – die Griekse woord wat in 1 Petr. 1:20 gebruik word, proginooskoo,word gebruik vir ‘om vooruit te weet’ en ‘om vooraf te besluit.’ Vir God is sy wete en sy besluit dieselfde.

 

Petrus en Paulus sê duidelik, soos Johannes 1:1-3, dat Jesus God is, die ewige Seun van God, wat mens geword het om God se plan met sy skepping en met die mens uit te voer. Dit was egter nie ‘n plan wat uit nood gebore is toe die mens in sonde geval het nie. God se alwyse beplanning was reeds van ewigheid af gereed, ook vir die sondeval van die mens, die mens wat Hy geskep het om vir Hom te lewe. Maar toe die mens besluit om vir homself te lewe – om self soos God te wees (Genesis 3:5-6), het die mens sy rug op God gedraai en op homself vertrou. Daarom het Jesus gekom sodat ons deur Hom weer kan lewe soos God ons gemaak het om vir Hom te lewe (vgl. 1 Kor 8:6). Jesus is God se plan vir die hele skepping, ook vir die mens. Van ewigheid af is Hy die openbaarder van God, die Woord van God (Joh 1:1), sodat ons deur Hom in God kan glo en vir Hom kan lewe.

 

Jesus het die wese van God aan ons kom openbaar, nl. dat God liefde is. Die Vader en Seun en Heilige Gees is één deur hulle absolute liefde vir mekaar. God het die mens geskep om deel te word van die liefdesgemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Gees (vgl. Johannes 17:20-23). Reeds van voor die val van die mens is die wêreld aan alle kante omring deur die ewige Seun van God en deur die liefde van God in en deur Hom. God het ons met ‘n ewige liefde lief. Hierin is daar ‘n grens aan die sondeval gestel. Daarom kan die Seun ons red uit die net van die sonde. Aan die kruis het Hy ons gewys hoe God se liefde lyk, deur sy selfverloënde offer van Homself om ons te verlos van ons sondeskuld en van die sondemag in ons; sodat ons soos Hy in nederigheid en selfverloëning kan lewe in eerbied en vertroue op God alleen.

 

Sy Gees, wat in ons kom woon, lei ons tot geloof in God as die Vader van Jesus, en tot geloof in Jesus as ons Verlosser, om ons deur geloof aan Jesus se Seunskap te verbind, sodat ons kinders van God word deur ons verbondenheid aan Jesus (vgl. Romeine 8:9-17).

 

Daarom kan ons met vertroue bely dat God ons voor die skepping van die wêreld reeds bestem het om, in gemeenskap met sy Seun, in liefdesoorgawe vir God en vir sy mensdom te lewe. Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge is om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) deur sy lewe vir ons af te lê (Johannes 15:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (3)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (3) – Adrio König

2.3 Terugkeer na die Sabbat?

Waarom is daar dan die terugkeer na die Sabbat? Is dit nie duidelik nie dat, alhoewel die Sabbat nog uitdruklik gegeld het in die Ou Testament en tydens Jesus se aardse bediening, dit verdwyn het ná sy opwekking? En is dit nie hoe dit gegaan het met baie ander uiters belangrike dinge in die Ou Testament soos die tempel, die offers, die priesters, die besnydenis en die feeste nie? (Hoofstukke 3 en 4.)

Die Christene wat wil terugkeer na sekere Ou Testamentiese gebruike, is oortuig dat daar voldoende rede is, selfs dwingende redes, waarom die Sabbat nog net so (moet) geld as in die tyd van die Ou Testament. 

  • Die Sabbat is ‘n ewige instelling.
  • Jesus het self die Sabbat gevier. Daarom kan ons nie daaraan twyfel dat die Christene ná Jesus se opwekking daarmee aangehou het nie, al word daar nie spesifiek daarna verwys nie.
  • Die Sabbat is deel van die tien gebooie, en Jesus verklaar self dat niks daarvan sal verander nie (Matt 5:17-20).
  • Die Here sê self dat almal op die nuwe aarde elke sabbat voor Hom sal buig (Jes 66:23), en Jesus impliseer dat die Sabbat kort voor sy wederkoms nog steeds gevier sal word (Matt 24:20).   

 

Kom ons kyk een vir een na hierdie argumente.

 

2.3.1 Die sabbat is ‘n ewige instelling

Hier word verwys na Eksodus 31:16, 17 waar ons uitdruklik in die 1953-vertaling lees dat “die kinders van Israel” die sabbat moet vier “as ‘n ewige verbond”, en weer: die Sabbat moet vir hulle “vir ewig ‘n teken wees”. Dit sou tog nie iets anders kon beteken nie as dat die Sabbat vir ewig onderhou moet word.

 

Dit is opvallend dat die 1983-vertaling nie meer die woord “ewig” hier gebruik nie. Daar lees ons van ‘n blywende verpligting wat altyd ‘n teken sal wees.

 

Kom ons doen twee dinge: Ons kyk na hierdie Hebreeuse woord wat met “ewig” vertaal word, en ons kyk na ander sake wat ook vir “ewig” moet geld.

 

Die Hebreeuse woord wat hier in die 1953-vertaling met “ewig” vertaal is, word nogal dikwels gebruik. Maar dis opvallend hoe selde ook die 1953-vertaling dit regtig met “ewig” vertaal het. In al die voorbeelde wat hieronder volg, het die Hebreeus dieselfde woord wat in verband met die Sabbat in Eksodus 31:16, 17 met “ewig” vertaal is, maar wat nou anders in die 1953-vertaling vertaal word.

 

“Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon” (Jos 24:2).

“Want van ouds af het jy jou juk verbreek” (Jer 2:20).

“Kyk en vra na die ou paaie” (Jer 6:16).

“Die profete wat … van ouds af was” (Jer 28:8). 

“Die mense van die voortyd” (Eseg 26:20).

Die Here bring “‘n eeue-oue nasie” teen Israel (Jer 5:15).

 

In al die gevalle is dit duidelik dat dit sinloos sou gewees het om hierdie Hebreeuse woord met “ewig” te vertaal. Trouens die een ander keer wat die 1953-vertaling dit wel gedoen het, lees ons dan van die tempel se “ewige” deure (Ps 24:7, 9). Maar die deure was tog net baie oud. 

 

Die woord wat in Eksodus 31:16, 17 met “ewig” vertaal is, het dus eintlik die betekenis van ‘n lang tyd.

 

Maar iemand sou natuurlik tog nog daarop kon aandring dat juis wanneer dit vir die Sabbat gebruik word, dit werklik “ewig” moet beteken.

 

Maar wat dan van die besnydenis? Net soos die Sabbat, is die besnydenis ook ‘n “ewige verbond” (Gen 17:13). Maar ons weet dat Paulus baie sterk daarop aangedring het dat die besnydenis ná Christus nie kan voortgaan nie (Gal 5:2).

 

Maar kom ons kyk ook na die “tent van samekoms”, die tent wat tydens die uittog as ontmoetingsplek met die Here gedien het. Die ou mense het dit nog geken as die “tabernakel”, wat die Hebreeuse woord is wat net in ons letters oorgeskryf is, soos “halleluja”. Hierdie tent was natuurlik net ‘n tydelike ontmoetingsplek solank Israel in die woestyn was tydens die uittog. Maar omtrent elke bepaling en reëling oor hoe die priesters en die volk in hierdie tent moes optree, word ‘n “ewige instelling” genoem (1953-vertaling). Hier volg net ‘n paar van die talle voorbeelde (Lev 6:18, 22; 7:34, 36; 10:9, 15; 16:29, 31; 17:7; 23:14, 21, 31, 41; 24:3). Trouens in een geval het selfs hierdie vertaling nie “ewig” gebruik nie, maar “vir altyd”, eenvoudig omdat “ewig” geen sin sou maak nie (Lev 25:30).

 

In al hierdie voorbeelde kan die Hebreeuse woord nie “ewig” beteken nie omdat die tent net vir ‘n bepaalde tyd gebruik is. Daarom vertaal die 1983-vertaling dit met “’n vaste instelling”. 

 

‘n Mens kan dus nie sondermeer aanvaar dat die Sabbat regtig vir ewig gehou sal moet word nie. Dan sal ons ook moet teruggaan na die besnydenis en al die gebruike in die tabernakel. Maar uit die gebruik van hierdie woord vir die tent van samekoms, die besnydenis en talle ander dinge, is dit duidelik dat die woord eerder sien op ‘n bepaalde (lang) tyd. 

 

Volgende keer kyk ons na die argument dat Jesus self die Sabbat gehou het en daarom moet ons dit ook doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (2)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (2) = Adrio König

2.2 Die Nuwe Testament

Daar is in verhouding baie meer verwysings na die Sabbat in die Nuwe Testament as in die Oue. Hierdie verwysings is beperk tot die Evangelies en Handelinge met net een uitsondering: die negatiewe verwysing in Kolossense 2:16.

Die Evangelies  Die meeste verwysings in die Evangelies is oor Jesus se optrede. Daar is

  • “onskuldige” insidente soos wanneer Jesus wonderwerke doen met positiewe reaksie by die skare (Mark 1:21-28 en Luk 4:31-37) of waar die skare negatief reageer maar sonder dat die negatiwiteit in verband staan met die Sabbat (Mark 6:2-6; Luk 4:16-30),
  • konfrontasies oor sy genesings op die Sabbat (Matt 12:9-14; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17; 14:1-6),
  • en die konfrontasie oor die dissipels wat op die Sabbat koringare pluk – ‘n insident wat in al drie die Sinoptiese Evangelies opgeteken is (Matt 12:1-8; Mark 2:23-28; Luk 6:1-5).
  • Dan is daar die verwysings na die Sabbat in verband met Jesus se kruisiging, begrafnis en opwekking (Matt 28:1; Mark 15:42; 16:1; Luk 23:56; 24:1).
  • En die verwysing na die toekoms wanneer sy volgelinge sal moet vlug vir die verdrukkers en moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie (Matt 24:20).

 

Handelinge  In Handelinge is daar  nege verwysings na die Sabbat. Drie het nie verband met wat mense in Handelinge op die Sabbat doen nie (Hand 1:12: ‘n sabbatsreis, en 13:27 en 15:21 waar eers Paulus en dan Jakobus verwys na die profete en die wet van Moses wat elke Sabbatdag voorgelees word).

 

In die ander ses gaan dit almal oor dieselfde saak: Paulus se sendingreise (Hand 13:14, 42, 44; 16:13; 17:3; 18:4). Paulus was oortuig dat die evangelie eers vir die Jode, en dan vir die heidene bedoel was (Rom 1:16). Daarom het hy in elke stad waar hy gekom het en waar daar ‘n sinagoge was, op die Sabbat sinagoge toe gegaan om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3; 18:4).

 

En dan die enkele verwysing na die Sabbat in die Briewe. Dit is ‘n negatiewe verwysing  waar ons lees dat gelowiges hulle nie moet laat voorskryf dat hulle die Sabbatdag moet vier nie (Kol 2:16).

 

Uiteindelik kry ons dan die een merkwaardige verwysing na die “Sabbatsrus” wat oorbly vir die volk van God (Heb 4:9).     

 

Dit alles is ‘n oorsig oor die verwysings na die Sabbat in die Bybel.

 

As ‘n mens so vinnig hierna kyk, lyk dit asof die Sabbat in die Bybel baie belangrik is tot op ‘n sekere punt, die kruisiging en opwekking van Jesus. Dit kom egter nie daarná voor in die lewe van die vroeë Christene nie. 

 

Dit is opvallend dat ons nooit lees van Christene wat die Sabbat hou of iets op die Sabbat doen nie. In Handelinge gaan dit oor Paulus wat Jode op die Sabbat in die sinagoge probeer oortuig dat Jesus die verwagte Messias is. Hierdie byeenkomste op die Sabbat was nie Christene wat bymekaar gekom het om die Here te aanbid nie, maar sendingsituasies waar Paulus met die Jode geredeneer het om hulle van Jesus te oortuig (Hand 17:1-2, 17; 18:4). Die Sabbat was natuurlik die dag waarop hy Jode bymekaar sou kry.

 

Ons lees eintlik selde in Handelinge van Christene se byeenkomste. Daar is wel die een keer waar ons spesifiek lees dat hulle op die eerste dag van die week (Sondag) bymekaar is wanneer Paulus preek (Hand 20:7).

 

In die Briewe, waar dit oor die lewe van die Christene gaan, verdwyn die Sabbat eenvoudig, behalwe die een keer waar daar negatief na die Sabbat verwys word (Kol 2:16).

 

Skynbaar het die Sabbatdag eenvoudig uit hulle lewe verdwyn.

 

Onder 2.4 sal ons breedvoerig daarna kyk hoe belangrik dit is dat daar geen verwysings in die Briewe is dat Christene die Sabbat gevier het nie. Dit is nie maar net “toevallig” dat dit nie vermeld word nie. Dit beteken eenvoudig dat hulle nie die Sabbat gevier het nie. 

 

Volgende keer kyk ons na die terugkeer na die Sabbat.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




God wou Moses doodmaak

God wou Moses doodmaak – Marius Nel

Willie vra:

My vraag handel oor Eksodus 4:24,25 en 26. God wou Moses doodmaak – is dit uit en uit net omdat hy nie sy seuns besny het nie? ‘n Mens wonder hoekom God nie vroeër al so streng opgetree het nie, want die seuntjies moes tog op 8 dae oud besny gewees het. Dit gebeur nou op pad Egipte toe nadat hy reeds die opdrag gekry het om die volk uit te lei. Kan ‘n mens aflei dat die Midianiete die gebruik geken het ( ek neem so aan omdat hulle ook maar afstam van Abraham af) en dit wel toegepas het.

Hoekom was Moses en Sippora dan so “ agterlosig”. God wou hier n daad van ongehoorsaamheid met die dood straf . Hoekom die betrokke aksie of gebrek daaraan so streng hanteer as n mens sou dink dat hulle tog ander sondes ook gehad het en dit was nie op dieselfde manier hanteer nie. Hoe het Sippora geweet dat dit God was wat daar was en vir Moses wou doodmaak ? Ons leef vandag in n tyd waar ons weet Jesus Christus vir al ons sondes betaal het . In daardie tyd het Jesus Christus dit nog nie gedoen nie . Hoe het God sonde hanteer voor Sy offer aan die kruis?

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Willie

 

Die verhaal herinner aan Jakob se ervaring by Bet-El (Gen. 28:10-22) en Pniël (Gen. 32:22-32). Dié verhale vertel van God se raaiselagtige optrede wat ons nie verstaan nie, en wat dalk as waarskuwing dien dat ons nie moet dink dat ons God in ons denke bevatlik kan maak nie.

 

Die verhaal van Sippora wat haar kind besny, bring die Here se optrede verseker in verband met die gebruik van die besnydenis.

 

Moses het as Egiptenaar groot geword en was verseker nie besny nie; hy het dus nie die teken van die verbond in sy liggaam gehad nie. Hoe kon hy die volk lei met wie God ‘n verbond gehad het as hy self nie die teken daarvan in sy liggaam gedra het nie? Deur die aanraking aan sy seun se bloederige voorhuid kry Moses deel aan die verbond met God en dit spaar sy lewe. Sippora word een van die vroue in Eksodus wat lewe gee en lewe in stand hou.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel