Epiloog (21:1-25)

Epiloog (21:1-25) – Francois Malan

Hierdie Evangelie het begin met ‘n proloog of voorwoord wat ‘n overture is tot die res van die Evangelie, met temas wat in die res van die Evangelie uitgewerk is. Hoofstuk 20 is eintlik die slot van die Evangelie wat alles weer saamvat met ‘n kort opsomming in verse 30-31. Maar daarna verskyn hoofstuk 21 as ‘n epiloog, ‘n naskrif, met verskynings van Jesus aan sy dissipels wat nie in hoofstuk 20 vermeld is nie, en ‘n gesprek met Petrus  Dit kon later deur die skrywer aangeheg wees, of  is geskryf ná die skrywer van die Evangelie dood is, met ‘n regstelling van die verkeerde verwagting dat die geliefde dissipel nie sou sterf nie (21:23).

Jesus verskyn aan sy dissipels by die see van Tiberias (21:1-14)

 

21:1 Daarna – na die opstanding van Jesus en sy tweede verskyning aan sy dissipels (vgl. v14 wat verwys na hierdie as die derde verskyning; hy bedoel skynbaar  verskynings aan die dissipelgroep; die verskyning aan Maria word uitgesluit).

Die verhaal begin met die aankondiging ‘Jesus het homself aan sy dissipels geopenbaar,’ en sluit met die stelling ‘Jesus is aan sy dissipels geopenbaar’ (NAV: verskyn). Dit impliseer die besondere verskynings van Jesus, wat onverwags en onverklaarbaar verskyn, en  dui ook die tema van  hierdie paragraaf aan. Terwyl die eerste twee verskynings in Jerusalem agter slot en grendel plaasgevind het, is hierdie ‘n verskyning in Galilea in die oopte van die strand.

 

21:2 Petrus word eerste genoem, waarskynlik as leier van die groep (wat eerste in die leë graf ingegaan het, 20:6) ; Tomas, ook Didimus (tweeling) genoem, verbind die derde verskyning van hoofstuk 21aan  Jesus se  tweede verskyning, en aan Tomas se belydenis (20:26-29);

Natanael (Bartomeus van die ander Evangelies?) van Kana in Galilea, waar Jesus se eerste wonderteken plaasgevind het, sien die groter dinge van Jesus se belofte in 1:50;

die seuns van Sebedeus (Jakobus en Johannes volgens Mk 1:19; Mt 4:21; Lk 5:10) word nêrens in die res van die Evangelie genoem nie; die twee ander dissipels se name word nie genoem nie (raaiskote in die verlede was dat dit Andreas was, wat vir Petrus gaan sê het van Jesus; 1:40-41, en Filippus wat vir Natanael vertel het, 1:45; of, as die Geliefde dissipel nie Johannes was nie, dat hy een van die ander twee was, wat nie sy eie naam wou noem nie ).

Slegs sewe name word genoem van die elf uit die twaalftal, waarna 6:67,70,71; 20:24 verwys. Maar waarom slegs sewe gaan visvang word nie verder aangedui nie.

 

21:3 Volgens Mk 16:7 (Mt 28:7) het Jesus aan die dissipels, deur die engele, opdrag gegee om na  Galilea toe  te gaan om Hom te sien, waarheen Hy hulle vooruitgaan, terug na die land van hulle herkoms, om daar deur Hom gebruik te word as sy getuies. Om kos op die tafel te sit besluit Petrus om die nag weer te gaan visvang, en die ander ses gaan saam, maar die nag se arbeid lewer geen vis op nie.

 

21:4  Met dagbreek staan Jesus plotseling op die strand. Die dissipels sien die man staan, maar herken Hom nie, soos Maria nie vir Jesus herken het nie (20:14). Jesus lewe in ‘n ander bestaanswyse as sy vroeëre aardse bestaan, maar  vir sy kontak met sy dissipels, in die tyd tussen opstanding en hemelvaart, pas Hy telkens aan by hulle aardse bestaanswyse om Hom aan hulle te openbaar, en om hulle te verseker van sy opstanding en sy teenwoordigheid by hulle (Mat 28:20: ‘en onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die aarde’). 

 

21:5-6 Jesus spreek hulle aan met ‘n lieflingswoord (paidia)  my liewe kinders/my liewe vriende/geliefdes. Hy vra: ‘het julle dan nog nie toekos nie?’ – vis was die gebruiklike toekos saam met brood, wat die hoofbestanddeel van die ete was. Jesus se vraag verwag ‘n negatiewe antwoord, Hy weet hulle het niks gevang nie, en hulle antwoord met ‘n moeë ‘nee!’ Hulle het ‘n vrugtelose nag gehad, waarin hulle vir hulleself wou sorg. Jesus ken egter nie slegs die mens deur en deur nie, Hy is ook die skepper en onderhouer van die visse, en gee die opdrag om die net aan die regterkant van die skuit  uit te gooi, met die versekering dat hulle dan vis sal kry. Dit word ‘n geweldige wonder. Soos by Kana waar daar nie meer wyn was nie (2:3), word die niks ‘n oorvloed. In 15:5 het Jesus gesê: sonder My kan julle niks doen nie. Maar met Hom…baie vrug.

 

21:7 Soos op Paasmôre (20:3-6) besef die geliefde dissipel eerste dat die onbekende man op die strand  die opgestane Here is, wat vir die wonder verantwoordelik is. Hy sê vir Petrus wat sy oortuiging is, en impulsiewe Petrus, wat  eerste die plan gehad het om te kom visvang, en wat by die graf ingestorm het, spring ook eerste uit die skip in die see om so vinnig moontlik by Jesus te kom.

 

21:8  Die ander ses dissipels roei om die swaar net die 200 el (ongeveer 100 treë) met die boot land toe te trek.     

 

21:9-10 ‘n Nuwe wonder wag vir hulle op die strand: vis wat op die kole braai, en brood gereed vir die oggendmaal. Jesus stuur hulle om ook van die vis van die groot vangs te bring. Jesus kan self genoeg voorsien, sonder die hulp van mense, maar gebruik tog mense om te help met die voorbereiding van die maaltyd wat Hy wil aanbied.

 

21:11 Petrus verstaan die wenk van Jesus; hy gaan help met die intrek van die net en die tel van die vis, soos gebruiklik sodat elke visser sy aandeel kan kry vir sy gesin: 153 groot visse, ‘n massiewe vangs wat hulle gesinne kan onderhou. Jesus sorg oorvloedig in hulle behoefte. Nog ‘n wonder: die net het nie geskeur nie!

 

21:12-13 Jesus nooi hulle uit om die oggendete saam met Hom te kom geniet, soos Hy altyd as die huisvader die brood en vis aan hulle uitgedeel het (6:11). Maar daar is ‘n huiwering by die dissipels. Dit is wel Jesus, soos hulle Hom geken het, maar Hy is tog heel anders, ‘n misterie. Daarom waag  niemand om Hom te vra: wie is U? nie. Hulle weet Hy is die Here, die goddelike Here. Soos met die Emmausgangers van Luk.24:30 is hulle daarvan seker toe Jesus die brood en die vis breek en aan hulle uitdeel – aan sy kinders wat uit sy hand saam eet in die gemeenskap van ‘n hegte gesin. Die belangrikheid van kameraadskap, die liefdevolle saamwees in vrede en vreugde word deur die ete gekommunikeer: ‘my vrede gee Ek vir julle’ (16:33); ‘sodat julle vrede kan vind in My’ (16:33); ‘dat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees…Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet’ (15:11-12). 

 

21:14  Die derde verskyning van Jesus aan die dissipelgroep, in Galilea, op pad na die ‘uithoeke van die wêreld’ (Hand.1:8).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Hoekom is Dawid oorgeslaan?

Hoekom is Dawid oorgeslaan? – Marius Nel

Leser vra:

 

Ek het verskillende opinies ontvang, en sal graag julle opinie ook wil hoor – hoekom het Dawid se pa hom nie saam met sy broers voor Samuel laat verskyn nie – toe hy gekom het om hulle te salf. Ja hy was die jongste en moes skape oppas, maar dit klink amper of sy pa van hom vergeet het. Is dit moontlik, het sy pa van hom vergeet(nie eintlik aan hom gedink)of was hy te jonk om aan te dink?

Antwoord

Prof Marius nel antwoord:

Die antwoord wat gewoonlik op jou vraag gegee word, is dat Dawid nog klein was, heelwat te klein om in aanmerking te kom vir oorweging wanneer die profeet na die seuns kyk. Kyk na Psalm 78:70-71.

 

Dawid was waarskynlik ‘n laatlammetjie. ‘n Mens sien dit in die wyse waarop sy broers hom behandel wanneer sy pa hom stuur om vir hulle kos te neem terwyl hulle teen die Filistyne veg. Hy is die kleinboetie wat lastig is en in hulle pad beland, is die indruk wat ‘n mens kry. Lees gerus 1 Samuel 17. 

 

Let op vv. 38-39. Dawid is klein en onbekwaam. Hy het geen ervaring van oorlog nie omdat hy nog ‘n kind was. Jongmense so oud as 15 moes aanmeld vir oorlog.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Die doel van die Evangelie (20:30-31)

Die doel van die Evangelie (20:30-31) – Francois Malan

Die verse  is ‘n eerste afsluiting van die boek, wat begin met die Woord van God wat self God is (1:1) tot die hoogtepunt van Jesus se bediening met Tomas se belydenis en erkenning van Jesus as sy God.

20:30 Uit ‘n groot getal verhale van Jesus se wondertekens en sy woorde, wat mondelings oorgelewer is en sommige opgeteken is, het elke Evangelis ‘n keuse gemaak wat vir die doel van sy Evangelie besondere insig verskaf. Soos Lukas sy werkwyse beskryf het (Luk.1:1-4), beskryf Johannes hier iets van sy metode. Hy het nie alles neergeskryf wat hy van Jesus weet nie. Uit die oorvloed gegewens oor wat Jesus tydens sy aardse omwandeling gedoen het, het hy ‘n keuse gemaak om sy beoogde doel te bereik (v31; 21:25). Hy verwys na ‘baie ander wondertekens’  (2:23; 4:45; 12:37) . maar by die sewe wat hy gekies het word hulle gepaardgaande uitgebreide prediking ingesluit. Dit is dinge wat ‘voor die dissipels’ gedoen en gesê is. Hulle is die oog- en oorgetuies daarvan, wat die waarheid daarvan kan bevestig.

 

20:31  Die doel van Johannes se keuse van wonderdade en woorde van Jesus is ‘dat julle kan  glo’ pisteusête (aoritus konjunktief)  – vir ongelowiges om die besluit te neem om in Jesus te glo (in die meeste en oudste manuskripte; pisteuête (sonder die ‘s,’ teenwoordige konjunktief) –  dat julle voortgaan in die geloof. Die Afrikaanse ‘kan’ dui waarskynlik beide aan, soos die woord in Johannes waarskynlik albei gedagtes wil oordra. Die Evangelie is eerstens geskryf vir die gemeentes in en om Efese om hulle op te bou in die geloof, maar is deur die eeue as die begin van die sendingprediking gebruik as ‘n oproep aan ongelowiges tot geloof. Geloof kan egter nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie, maar moet deurerntyd vernuwe word, en moet voortdurend deur die woord gevoed word.

            Die belydenis wat die skrywer van die onbetrokkenes  verwag,  en wat die betrokkenes moet handhaaf,  is: Jesus is die Christus, die Seun van God. Vir die Jode was die Messias en die seun van God dieselfde persoon, as seun aangeneem soos die koning in Ps.2. Maar in hierdie Evangelie is die term Seun van God verbind aan Joh.1:1,3  dat die Seun self God is, deur wie alles gemaak is. Daarom is sy Messiasskap, sy Koningskap, die reddende heerskappy van die God van liefde, wat aan die kruis verhoog is om almal na Hom toe te trek om Hom te volg. Dié tipe geloof in Jesus beteken om deel word van, en deel wees van die lewe in gemeenskap met Hom (soos Paulus se ‘in Christus’ as die ruimte waarin ons lewe en sterf). ‘Sodat hulle wat glo die lewe in sy Naam kan hê’ – in die ruimte van sy Naam, sodat jou lewe die Naam van Christen kan dra, wat in die ruimte van Christus as God se Seun lewe. Nie wondergeloof nie, maar geloof en verbondenheid aan die Persoon van Jesus.   

            Die Johannes-Evangelie wil nie ‘n geskiedenis-kroniek wees nie, maar die oordra van ‘n boodskap; nie ‘n verhaal nie, maar ‘n getuienis; nie ‘n verhandeling nie, maar ‘n prediking; nie ‘n teoretiese besinning nie, maar ‘n noodsaaklike redding – dit gaan om die lewe, die nuwe soort lewe uit liefde, die ewige lewe, wat nou reeds begin vir die kind van God

 

Skrywer: Prof  Francois Malan

 




Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie?

Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie? – Kobus Kok

Willie vra:

My vraag handel oor die vrede waarna die Bybel in Filippense 4 verwys. Moet oor niks bekommerd wees nie maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God terwyl julle Hom dank vir alles wat Hy doen . As julle so bid sal julle God se vrede beleef . Hoe werk hierdie vrede? Of anders gestel , is dit uit en uit ‘n geloofsoefening waarby geen gevoel betrokke is nie . As ek bekommerd raak oor iets hanteer ek dit baie sleg ( bv die firma waarvoor ek gewerk het, is gelikwideer weens grootskaalse bedrog deur topbestuurslede- ek is 58 jaar oud – U weet wat dit beteken , vrees , ergste bekommernis denkbaar . In so ‘n geval is “moet oor niks bekommerd wees nie ” baie moeilik, want n mens ervaar die bogemoemde emosies fisies in jou lyf – in so n geval is my vraag hoe werk die vrede waarna hier verwys word. Ek neem dit na God toe en sê vir hom hoe ek voel en hoe ek dinge ervaar , maar dit wat ek ervaar gaan nie net weg nie , dit bly by my. Ek hoop ek het myself verstaanbaar verduidelik want ek wil so graag die vrede beleef en so nader aan God kom.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wees altyd bly in die Here en moenie bekommer nie?

Prof. Kobus Kok

Op die plattelandse dorpie waar ek grootgeword het, en op die plaas waar ons destyds kinderkrans gehou het, eggo die kinderlike deuntjie van die bekende liedjie:

Filippense 4:4 sê verbly jul in die Heer…

Filippense 4:4 sê verbly jul in die Heer…

Verbly jul, verbly jul, verbly jul in die Heer….

Liedjies soos hierdie het as kunstige draers van die implisiete waardes van die Christendom gefunksioneer. Toe ons jonk was, het ons besef dat hierdie abstrakte begrippe waarde het, maar ons het dit nie altyd verstaan nie. In ons gedagtes het ons gedink dat dit beteken dat Christene altyd bly en vriendelik moet wees. Min het ons geweet wat die ware diepte van hierdie tekste in werklikheid behels.

Met tyd het die ontblotende realiteit van die lewe ons kinderlike vertroue op die proef gestel. Op skool ervaar mens die gewone mislukkings en teleurstellings – van liefde en ander dergelike verliese. Soos ons groter geword het, het die kwantiteit en intensiteit van die verliese geïntensiveer. Die lewe ontmasker dikwels die naïewe hart en die hoopvolle gees. Ons projekteer drome en verwagtings en beleef dikwels die vernietigende effek van lewensrealiteit. Ons maak ons bed, en moet daarin slaap. Eerste naïwiteit verdwyn soos ons gestroop word van ons jongmensvel.

In die tyd se laaie ontdek ons wie ons is. Soms is die ontdekking goed en mooi, en soms is die ontdekking seer en lelik. Dit laat baie mense met ‘n kliniese realisme wat neig na pessimisme. En dan, op ‘n goeie dag, word die mat onder ons uitgeruk en staan ons gestroop. Wanneer realiteite soos skielike dood, egskeiding of werksverlies ons tref, ruk dit ons fondamente. Dit laat ons voel of ons magteloos is. Ons kyk om ons heen en die lewe gaan net aan, maar vir ons voel dit of die lewe onherroeplik verander het of tot stilstand gekom het. Skielik verdwyn enige hoop, soos mis voor die somerson.

In sy boek, The shaking of the foundations skryf die bekende geleerde Prof. Paul Tillich dat stroop-tye soos hierdie ironies genoeg die ruimte skep waarin nuwe hoop uitkristalliseer. Dit is nie maklike of goedkoop teologie nie. Dit is teologie wat uit kontekste van wanhoop gebore is. Tillich se argument is dat ons in taamlike goeie tye maklik pessimisties kan raak. Maar as ons alles verloor het en gestroop is, is daar nie meer plek vir wanhoop en pessimisme nie. Die donkerste diepte is dikwels die plek waar die lig die sterkste sigbaar word, en die meeste waardeer word. Mens kan die krag van hierdie beginsel alleen verstaan as jy self daar was. Tillich was ‘n Duitse teoloog wat deur die Nazis uitgeban is, en sy werk as professor verloor het. Hy ontwikkel sy insigte in die moeilike depressiejare van die vorige eeu. In sy boek skryf hy dat die “skud van die fondasies” mens juis by die ontdekking van die fondasie uitbring. Dit is in die kontraservaring van pyn dat mens ‘n vorm van genesing ontvang en ontdek. Dit is diep insigte wat net sin maak as mens deur die pyn groei en op ʼn stadium op die kruin terugkyk na die pad wat mens moes stap. Soos ‘n kompas word hierdie wyse Bybelse insigte  rigtingwysers op die pad vorentoe.

Paulus het ook iets hiervan verwoord as hy in die konteks van die tronk sy Filippense brief skryf. Dit is in die lokval van die lewe, in die sinkgat-ervaring waar hy ontdek dat nie pessimisme nie, maar hoop en blydskap wat in God gewortel is, die enigste antwoord tot sin, betekenis en oorlewing is. Dit is hier waar hy sê dat hy deur dit alles heen geleer het dat die enigste fondasie wat oorbly in tye van vernietiging en pyn, die enigste hoop in lewe en dood, die Here is. Dit was juis daardie konteks wat hom geruk het om te besef hoe dankbaar hy kon wees vir dit wat hy gehad het. Hoe ironies dat ons eers besef hoe gelukkig ons was om gesondheid te hê as ons siek word, of hoe lekker ons kon eet as ons nie meer die geld het om kos te koop nie. Dit is in stil gebed waar God ons beelde kom gee van wie Hy is, hoe Hy wil hê ons moet verander in die betrokke konteks, en waar ons die antwoorde kry wat ons die wysheid skenk om vorentoe te beweeg.

Ons het dit persoonlik ook onlangs opnuut weer beleef nadat my vrou swanger was met ‘n tweeling, ons een kindjie verloor het en my vrou vir drie maande bedlêend was weens komplikasies met die swangerskap, en ons skielik reuse verliese in inkomste moes beleef. Tog was dit in hierdie tyd dat ons God se genade en liefde die sterkste beleef het in ʼn lang tyd. ʼn Vreemde vrede het ons in ons pyn en stryd ontmoet. Prioriteite het geskuif in ʼn beter rigting. Ons het geleer om dankbaar te wees vir gesondheid wat mens vanselfsprekend neem. Ons het geleer om God te vertrou en aan Hom vas te hou in die moeilikste tye. Uit hierdie lewenservaring het dankbaarheid uitgekristalliseer—dankbaarheid vir die kleinste dingetjies wat ons op ʼn goeie dag gewoon net gemis het. Ons het geleer om weer blydskap te ervaar. Blydskap en dankbaarheid lê baie naby aan mekaar. Dit is twee kante van dieselfde munt. Ongelukkig het ons in ons pyn ook ʼn munt in die ander hand. Die munt se twee kante is vrees en erge bekommernis. Met daardie twee munte in die hande moet mens konstruktief kies om nie toe te laat dat die verlammende effek van bekommernis die oorhand kry nie. In sulke tye kort mens kreatiwiteit. Die hand vol vrees en bekommernis inhibeer gesonde kreatiewe denke. Dit bewys die nuutste navorsing in sielkundige studies ook. Daardie hand help ons nie om geleenthede raak te sien nie. Dit sien net doodloopstrate. Aan die ander kant staan ons met die munt van dankbaarheid en blydskap in die hand – daardie hand is vol hoop en soek na kreatiewe geleenthede. Met die munt in daardie hand gaan ons oë oop vir dankbaarheid wat as vrug vrede skenk. Op ʼn goeie dag gaan ons gedagtes in ʼn stryd gewikkel wees tussen hierdie twee simboliese hande. Werk elke dag daaraan om die regte hand die stryd te laat wen. Oefen die regte hand. Maak keuses wat daardie waardes versterk. Rig jou denke, soos Paulus sê, op daardie geestelike en emosionele waardes wat jou energeer.

Paulus se blydskap strook nie met die kinderkrans liedjies nie. Paulus se blydskap groei uit dankbaarheid en is gebou op die fondasie van ʼn God wat intens betrokke is by die lyding van sy mense—ʼn God wie se hart klop om ons ʼn lewe in oorvloed te skenk (Joh 10:10). Kinders kan dit nie verstaan nie. Mens kan dit net verstaan as jy in die konteks van pyn daardie geestelike lewenswaarhede ontdek. Mag God, soos hy met sy volk ook gedoen het, vir u kom wys wat sy plan is met u lewe. In tekste soos Jeremia 29:11, waar die volk in krisis verkeer het, skenk God die profetiese woord “Ek weet wat ek vir jou beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir jou ʼn toekoms gee, ʼn verwagting…”. 

Ons bid dat God in sy rykdom vir u en u gesin sal voorsien.

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok