Jesus se nuwe liefdesgebod (13:33-35)

Jesus se nuwe liefdesgebod (13:33-35) – Francois Malan

13:33 Hier begin ‘n lang gesprek (13:33-16:33) wat meer vertel van Jesus se weg tot verheerliking en die lewe en gedrag van sy volgelinge op hulle weg tot verheerliking. Hulle word aangespreek as ‘my kindertjies/my geliefdes’ – die enigste keer in die vier Evangelies word die verkleinvorm van ‘kind’ gebruik om daarmee Jesus se innige liefde vir sy volgelinge te betuig.

Hy is nog net ‘n klein rukkie by hulle voordat Hy doodgemaak word. Hulle sal Hom soek maar hulle kan nie saam met Hom kom nie. Vir die ongelowige Jode het Hy dit ook gesê, maar vir hulle bygevoeg dat hulle Hom nie sal kry nie (7:34) en: julle sal in julle sonde sterwe (8:21). Vir Petrus sê Hy: later sal jy My volg (3:36), vir die hele groep verseker Hy dat Hy vir hulle plek gaan regmaak in die Vaderhuis (14:2-3), hulle sal Hom binnekort weer sien (14:19),  en aan elkeen wat Hom liefhet sal Hy Hom openbaar (4:21) en Hy en die Vader sal by elkeen wat Hom liefhet woon (4:23). Maar nou kan hulle Hom nie in sy offerdood vir die sonde volg nie – lyding en dood vir die evangelie sal wel later ook vir hulle kom.        

 

13:34-35 Hier in die inleiding tot hoofstukke 13-20 word die ‘nuwe liefdesgebod’ gestel en in 15:12-17 word daarop uitgebrei. Die liefdesgebod is reeds in Levitikus 19:18 aangekondig, en in Matteus 22:34-40 vir die Fariseërs uitgebrei deur Deutr. 6:5 voorop te stel. Die nuwe liefdesgebod se maatstaf  is nie ‘soos jouself’ in Mt 22 nie, maar ‘soos Ek julle liefgehad het’ – deur sy lewe vir ons te gee. Dit is die kenmerk van die nuwe verbond wat God met ons maak – uit liefde vir die wêreld gee Hy sy lewe vir ons, en ons aandeel aan die verbond is liefde vir mekaar as teken vir almal om te sien dat julle dissipels van My is – volgelinge van Jesus as ons Leier en ons Voorbeeld/ rolmodel. Die onderlinge liefde van God se kinders is die maatstaf vir die nuwe lewe as burgers van die koninkryk van God, in God se nuwe wêreld. So ‘n gemeenskap wat mekaar liefhet soos Christus ons liefhet, wat bereid is om selfs hulle lewe vir mekaar af te lê, sal aan die wêreld die waarheid van die verlossing deur Christus openbaar.  Dit word vir ons moontlik om so lief te hê omdat God ons so liefhet en self in ons kom woon. Van die nuwe verbond het die Here gesê: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (Jer 31:33; in Lk 22:20 het Jesus gesê: Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word; Mt 26:28 voeg by: tot vergewing van sondes). Die kenteken van Christen-wees is hulle liefdesband (Kol.3:14), nie ‘n opwelling van gevoel nie, maar ‘n morele wilsbesluit om myself te verloën en ander te dien (vgl. Flp 2:2-5; selfs my vyande lief te hê, Mat.5:43-48 ).

 

Petrus sal Jesus verloën (13:36-38)

13:36 Petrus het nie vrede met Jesus se woord in 13:33 dat hulle nie kan kom waarheen Hy nou gaan nie. Hy wil weet waarheen. Jesus herhaal wat Hy in 13:33 gesê het, maak dit persoonlik op Petrus van toepassing, maar dit geld ook vir al die dissipels, en voeg by: waarheen Ek gaan kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg; nie nou saam met Hom gekruisig en verhoog tot die hemel nie, maar later sal Petrus as martelaar vir sy geloof in Christus doodgemaak word (21:18-19), en verhoog word tot die hemel (1 Petr.1:3-4). Jesus moet sy lydensweg alleen loop. Vir Petrus het die tyd nog nie gekom nie.

 

13:37 Petrus begryp nie die situasie nie. Selfversekerd verklaar hy dat hy bereid is om sy lewe vir Jesus af te lê (soos die goeie herder, 10:11,15). Petrus wil weer die orde van verlossing omkeer, soos in 13:8: U sal in ewigheid nie my voete was nie! Hy wil sy lewe vir Jesus aflê terwyl Jesus op pad is om sy lewe vir Petrus af te lê (vgl. Mt 16:22-23). Niemand kan in Jesus se plek die sonde van die wêreld dra nie. Later sou Petrus sy lewe aflê as gevolg van  sy getuienis oor Jesus (Eusebius 3.1 skryf in 311 n.C. dat Petrus in Rome gekruisig is met sy kop na onder omdat hy gevra het om so te ly).

 

13:38 Maar daardie moed om getrou vir Jesus te getuig in hopelose omstandighede het Petrus nog nie gehad nie. Plegtig verklaar Jesus dat Petrus Hom drie maal gaan verloën nog voor die haan daardie nag kraai. Maar ten spyte van die ernstige waarskuwing was hy nie op sy hoede toe hy op die proef gestel is nie (18:15-18; 25-27). Petrus se vraag, waar Jesus heengaan (v36), word deur Jesus omgedraai in ‘n beslissingsvraag, en Petrus se selfoorskatting en voorbarigheid (v37) word ontmasker.  Die hanekraai, wat die aankondiging is van die nuwe dag, sal die nag waarin almal Jesus verlaat, afsluit, nadat Petrus naby aan die optrede van die verraaier sou kom, met die verskil dat Petrus vir Jesus van harte liefhet, en in Lk 22:31 sê Jesus vir Petrus: Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie…). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Judas word uitgewys (13:26-30)

Judas word uitgewys (13:26-30) – Francois Malan

13:26 In aansluiting by v18 se aanhaling uit Ps 41:10  ‘hy wat my brood eet’ gee Jesus ‘n aanduiding van wie die verraaier is. Soos Hy gesê het, breek Hy ‘n stukkie brood, doop dit in die bitter kruiesous van die paasmaal en gee dit vir Judas, seun van Simon, die man Kariot – ‘n teken van intieme tafelgemeenskap wat aan Judas aangebied word, as ‘n laaste beroep op Judas om van sy plan af te sien (Judas het waarskynlik net agter Jesus of regoor Hom gelê, binne reikafstand).

13:27 Die teken van intieme gemeenskap plaas Judas op die mespunt om te besluit of Hy Jesus se liefdesaanbod aanvaar of verwerp. Die finale daad van liefde word ‘n beslissende oomblik van oordeel (die Griekse woord vir ‘oordeel’ is krisis,en kom in Johannes voor in 3:19; 5:22,24,27,29,30; 7:24; 8:16; 12:31; 16:8,11 – wie in Jesus glo word nie veroordeel nie, wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie, 3:18). Toe Judas die stukkie brood by Jesus neem,  sonder wederliefde vir Jesus, neem hy die finale besluit om met sy plan voort te gaan en vaar die Satan in hom in, ‘n moordenaar van die begin af, die vader van die leuen (8:44; Romeine 1:18-32 sê: God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid  deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk…deur hulle aan die drange van hulle hart oor te gee…aan o.a. hebsug en gemeenheid, moord en kwaadwilligheid, hulle dink kwaad uit, is onbetroubaar, liefdeloos). Jesus neem as Heer van die paasmaal oor en beveel Judas: wat jy besig is om te doen, doen dit baie gou! (gouer as wat hy beplan het – die Griekse woord tachion kan ‘gouer’ of  ‘baie gou’ beteken). Jesus bepaal die tyd van sy verraad. Hy is in beheer van sy eie lydensweg.

 

13:28-29 Die ander dissipels verstaan nie wat hier aangaan  nie, omdat Jesus nie vir Judas openlik beskuldig nie. Omdat Judas die geldsake van die apostelgroep hanteer het, meen hulle dat Jesus ‘n opdrag gegee het om iets vir die feestyd te gaan koop, of vir die versorging van die armes, waaroor Judas skynbaar so bekommerd was (12:4). Eers na die tyd het die dissipels agter die kap van die byl gekom.

 

13:30 Judas neem die stukkie brood aan, en die teken van tafelgemeenskap word die aanwysing van die verraaier, die simbool van liefde word die kenteken van haat. Judas aanvaar die tafelgemeenskap, maar verbreek dit onmiddellik en finaal. Hy verlaat die gemeenskap met Jesus en sy volgelinge. ‘En dit was nag’ – buite skyn die volmaan met paasfees, maar Judas verwerp die ware lig wat elke mens verlig (1:9; 8:12; 11:10 sê: maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie; 3:19 sê: En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg). Ook vir Jesus is dit die nag van die dood wat op Hom wag., maar die duisternis kon sy lig nie uitdoof nie (1:5).

 

Vertrek en terugkeer van Jesus (13:31-14:31)

 

Die tweede gesprek begin as ‘n meer intieme gesprek met die dissipels, nadat Judas weg is. Dit word ingelei in 13:31-38. Daarop volg die gesprek oor Jesus se weggaan en terugkoms (14:1-26) en ‘n epiloog waarin Jesus vir hulle sy vrede gee (14:27-31).

 

Inleiding: verheerliking van Jesus  (13:31-38)

 

13:31-32 Jesus se reaksie op Judas se vertrek stem ooreen met sy reaksie op die Grieke se versoek om Hom te sien: die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word (12:23) en ‘Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik’ (13:31). Die einde het gekom. Jesus se verheerliking is sy verhoging aan die kruis, die hoogste offer van sy liefde, dat Hy sy lewe aflê vir sy vriende (15:13). God het die Seun verheerlik deur sy liefdesoffer aan die kruis vir sonde van die wêreld te aanvaar. God is deur die Seun se volmaakte gehoorsaamheid en selfopofferende liefde verheerlik, en God verheerlik die Seun onmiddellik in sy dood en opwekking uit die dood. In die gekruisigde en opgestane Christus word ons verhouding met God reggestel (Rom 1:17 dikaiosune), word ons verlos (Ef 1:7  apolutroosis), met God versoen (2 Kor 5:19 katallage). Christus Jesus het vir ons geword die wysheid wat van God kom, die vryspraak (regverdiging dikaiosune), die heiliging (hagiasmos) en die verlossing (apolutroosis, 1 Kor 1:30) – dit is sy verheerliking, so trek Hy almal na Hom toe as Hy verhoog word (12:32).   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Poligamie: Dawid en Salomo

Poligamie: Dawid en Salomo – Marius Nel

Alwyn vra:

Ek wil graag weet – Dawid was ‘n groot Bybelse figuur en Godsman, soveel so dat Jesus uit sy nageslag gebore was. Waarom het het hy en Salomo so baie vroue gehad ten spyte van die feit dat God vir Adam net Eva gegee het as vrou en vir Noag en sy seuns elk net een vrou in die ark toegelaat het. Waar het die reg geword om meer as een sielsverbintenis te mag hê.

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Alwyn

 

Jy is heeltemal reg dat aan die heel begin monogamie duidelik die norm was.

 

Tog weet ons dat Abraham ook ‘n tweede vrou, sy vrou se slavin, as vrou geneem het. En daarna lees ‘n mens telkemale weer van poligamie, selfs in terme van die mees gewaardeerde geloofshelde in die Bybel.

 

Die norm was egter steeds monogamie.

 

Die Midde-Oosterse konings het in baie gevalle vele vroue gehad omdat hulle huweliksverbintenisse hulle politiek-diplomatieke verbintenisse met ander volke voltrek het. In dié sin het Dawid en Salomo ook met vroue getrou wat aan koningshuise van ander volke verbind was. Dit sluit Dawid se verbintenis met Batseba uit, wat uit-en-uit ‘n sondige verbintenis was.

 

Dat die Skrif dit nie duidelik afwys nie, beteken dat die Bybelse skrywers die feitelikheid daarvan erken sonder om ‘n waarde-oordeel daaroor te vel. Waar die Here aan die woord kom, soos in die profeteboeke, is dit egter duidelik dat hy sulke verbintenisse as egbreuk en huweliksontrou beskou.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 




Jesus weet van die verraaier (13:18-24)

Jesus weet van die verraaier (13:18-24) – Francois Malan

13:18 Soos 13:10 se ‘maar nie almal van julle (is rein nie)’, word hier dieselfde uitsondering gemaak: ‘Ek praat nie van julle almal (as gelukkiges/geseëndes) nie.’ Ps 41:10 wat aangehaal word, beskryf heel gepas die vreeslike waarheid dat dit niemand anders is nie as een ‘wat my brood eet’ (Vaticanus 4e eeu; volgens papirus 66 van 200 n.C., Sinaiticus 4e eeu: ‘wat met my brood eet’ ), m.a.w. ‘n intieme metgesel, wat sy hakskeen teen sy Leermeester/Eienaar/ Sender opgelig het  (1983-vertaling: in die rug gesteek het) – aan sy vyande oorgegee het.

Om saam met iemand brood en sout te eet word in die Oosterse kultuur beskou as ‘n band wat mense aan mekaar verbind tot ‘n verbond om mekaar te ondersteun. Om die verbond te verraai dui op die diepste verdorwenheid. In Israel openbaar die ‘oplig van jou hakskeen teen iemand’ jou veragting, troueloosheid en verbittering teen die persoon – soos ‘n dier wat sy weldoener wat hom kos gee, onverwags en gemeen skop. Dit sou kon beteken dat Judas sy hele tyd saam met Jesus sy Meester se optrede en lering geminag het. Ook hierdie ontroue dissipel was deur Jesus gekies as sy volgeling en helper. Jesus het van die begin af geweet wie en wat Judas is. Dit is deel van sy lyding, ‘n werktuig van die duiwel wat Hy in sy intieme kring opgeneem het (6:70) as vervulling van Ps 41:10.

 

13:19 Jesus het dit alles geweet, en voorspel wat nou gaan gebeur, sodat sy dissipels oortuig kan wees Jesus is ‘Ek is’ – dat Jesus God is, wat sy Naam aan Moses geopenbaar het (Eks 3:14), die God wat sy volk verlos. Die verraad van Judas is nie die finale woord nie. Dit is deel van God se reddingsplan vir sy volk. Daarom moet die dissipels nie begin twyfel nie, maar getrou bly aan hulle Leermeester/Eienaar/Sender.

 

13:20 Moses moes eers met die verraderlike Farao gaan onderhandel, en nie ontmoedig word deur die Farao se verraad  nie, omdat die onveranderlike God, ‘Ek is,’ met hom was. Soos Moses kry die dissipels met ‘n plegtige verklaring die opdrag  om bevryding te gaan verkondig. Wie Jesus se gestuurdes ontvang, ontvang vir Jesus en die Vader, Jesus se opdraggewer. Hulle sal met verraad en teenstand te doen kry, selfs deur een van hulle twaalf. Maar hulle Sender is ‘Ek is’, God self, wat hulle begelei om sy boodskap uit te dra deur ‘n lewe van liefdesdiens, selfs aan hulle vyande (vgl. Mat 5:41-48), soos Jesus ook Judas se voete gewas het.

 

13:21 Soos in 12:27 is Jesus weer hewig ontsteld (vgl. Getsemane, waar Jesus drie maal in gebed was; Mt 26:36-46). Nou  is Hy weer ontsteld voordat Hy Judas aanwys  en hom uitstuur om Hom te gaan verraai. Met ‘voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle’ kondig Hy aan: ‘Een van julle sal My verraai.’ Judas weet nou dat Jesus sy bose hart ken, en sonder om doekies om te draai noem Jesus die plan van Judas vir wat dit is, nl. verraad. Die verraaier is ontmasker, maar word op so ‘n manier gekonfronteer dat hy self die besluit moet neem: óf om sy dodelike bedoeling te los, óf dit sonder versuim te gaan uitvoer.

 

13:22  Die dissipels het verward en ontsteld na mekaar gekyk om te sien of iemand se lyftaal of sy oë aandui  wie dit kan wees. Maar Judas speel sy rol so goed, dat niemand hom verdink nie.

 

13:23-24  Vir die eerste keer word ‘die geliefde dissipel’ genoem (daar word steeds gegis of dit die apostel Johannes of ‘n onbekende dissipel was: Johannes word nêrens in hierdie Evangelie by die naam genoem nie; slegs een maal word die twee seuns van Sebedeus genoem; in Jn 21:2 word die geliefde dissipel van 21:7 genoem as een van die sewe wat gaan visvang het). Die geliefde dissipel het ‘naby die bors van Jesus gelê’ (1983-vertaling: het net langs Hom aan tafel gesit). By feesgeleenthede het die Jode die Grieks-Romeinse gebruik gevolg deur op rusbanke of kussings langs ‘n lae tafel te lê (nie soos Leonardo da Vinci se skildery van die laaste avondmaal met die groep op stoele nie). Hulle het op hulle linkersy gelê, gestut deur die linkerarm, om met die regterhand te kan eet. Johannes het voor Jesus gelê, op die ereplek, die vertrouensposisie (dieselfde uitdrukking ‘naby die bors van’ word ook in 1:18 gebruik; 1983-vertaling: wat die naaste aan die Vader is). Soos die Seun na aan die hart van die Vader is, word die geliefde dissipel geskilder as na aan die hart van Jesus.

Petrus beduie vir Johannes om vir Jesus te vra wie sy verraaier is. Johannes leuen oor teen die bors van Jesus en vra wie dit is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan