Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (1)

Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (1) – Adrio König

1.2 God se verbond met Abraham

Die begrip “verbond” is dwarsdeur die Bybel bekend. Maar heel spesifiek die verbond van God met Abraham is een van die sentraalste sake in die Bybel, en dit loop ook dwarsdeur die Bybel. Die sinnetjie wat verreweg die meeste in die Bybel voorkom, is die verbondsformule: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.”

 

Dit klink alles miskien net te maklik. Daar is tog van meer as een verbond in die Bybel sprake, en die verbond van die Ou Testament word tog in die Nuwe Testament vervang deur die nuwe verbond. Of is dit regtig so?

 

Daar is inderdaad meer verbonde in die Bybel. God maak met Noag ’n verbond, met Abraham, later met Israel by Sinai, dan die verbond met Josua, met Dawid, en uiteindelik lees ons van die ou verbond en die nuwe verbond. Hoe kan ons dan so maklik van “die verbond” praat? Omdat daar een verbond is wat deurloop tot op die nuwe aarde: die verbond met Abraham. Dit is die verbond wat in die Nuwe Testament na vore kom as dié verbond. Die ander verdwyn almal heeltemal of byna heeltemal langs die pad. Maar Jesus kom as die vervulling van die verbond met Abraham (Luk 1:54-55, 72-75), Hy is die “nakomeling” van Abraham (Hand 3:25; Gal 3:16), deur sy kruis maak Hy die Abrahamverbond vir die heidene oop (Gal 3:14); die doop lyf ons in die Abrahamverbond in (Gal 3:26-29), en op die nuwe aarde sal God die verbond met Abraham finaal vervul (Op 21:3). Om nog een punt te maak: Terwyl Dawid in die Ou Testament baie belangriker is as Abraham, word daar in die Nuwe Testament meer as twee keer soveel na Abraham verwys as na Dawid.

 

Die laaste rede waarom ons juis God se verbond met Abraham as dié verbond beskou en behandel, is omdat dit sonder meer die genadeverbond is. In die verbond met Noag gaan dit om die bewaring van die natuur, in die verbond by Sinai om die wyse waarop die volk in die verbond moet leef, in die verbond met Dawid om die koms van die Messias, maar in die verbond met Abraham om die geloof en die regverdiging/aanneming deur die geloof. Daarvoor is Paulus ons hoofgetuie (Rom 4). As Paulus ’n voorbeeld wil noem van regverdiging uit genade en deur die geloof, dié manier waarop Paulus ons redding verstaan, is Abraham die voorbeeld wat hy kies (Rom 4:1 ev).

 

Maar voor ons by die verbond met Abraham kom, eers die vraag: Wat dan voor die tyd? As die mens ’n verbondswese is (hoofstuk 5), hoe is dit dat mense nie van die begin af in ’n verbond met God geleef het nie? Ons moenie te vinnig tot hierdie konklusie kom nie. Dit is wel waar dat die woord “verbond” nie in die eerste hoofstukke van Genesis voorkom nie, maar kom die saak nie dalk wel daarin voor nie? Kom ons kyk na Genesis 2 (hoofstuk 4). Op ’n dor aarde waar dit nog nooit gereën het nie, skep God die mens en maak dadelik vir hom die allermooiste tuin. En as die mens nie onder die diere ’n maat kry nie, maak God vir hom iemand net soos hy, sy gelyke. En dan kom kuier die Here smiddags vir hulle. Intussen verwag Hy van hulle om Hom te gehoorsaam. Is dit nie die wesenlike trekke van die verbond wat later in meer besonderhede in die verbond met Abraham gestalte gaan kry nie? Bestaan hierdie verbond van die begin af in ’n ander vorm?

 

Die verbond

As eerste punt moet ons kyk na die feit dat ons van ’n “verbond” praat, en nie net ’n verhouding of ’n ooreenkoms nie. Die mens is ’n verhoudingswese, daaroor sal ons nog baie skryf (hoofstuk 5). Maar daaroor praat sosioloë ook, en baie sinvol. Maar die vraag is wat die aard en inhoud van die verhoudings is/behoort te wees waarin die mens leef. Hieroor sal die sosioloë en ander vakwetenskappe hulle nie uitspreek nie. Maar dit is juis wat ons in die Bybel kry. Ons gaan kyk na die drie belangrikste verhoudings waarin die mens leef:

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Inleiding

Alle Paaie lei na Jesus: Inleiding – Adrio König

Inleiding

Is die Bybel regtig so ’n deurmekaar boek? Kan ’n mens regtig die Bybel gebruik om net omtrent enige standpunt te (probeer) verdedig? Ek weet mense doen dit. Maar laat hulle daarmee reg aan die Bybel geskied?

 

Is die teendeel nie waar nie? Lees hierdie boek en kry die belewenis dat daar merkwaardige lyne in die Bybel loop, dat bepaalde temas sinvol ontwikkel word oor ’n tydperk van eeue. Miskien die grootste onreg wat moderne radikale kritici aan die Bybel kan doen, is om dit te versnipper in klein, losstaande eenhede. Daar is samehang, ontwikkeling, interafhanklikheid in die Bybel.

 

Maar meer nog. Daar moes in Jesus se lewe en optrede ’n merkwaardige rykdom en verskeidenheid gewees het. Hoe anders kon die skrywers van die Nuwe Testament Hom in soveel verbande plaas, soveel profesieë in Hom in vervulling sien gaan, soveel aansprake maak oor sy oorweldigende betekenis? Daar is ’n sin waarin Hy die groot verskeidenheid temas van die Ou Testament soos ’n magneet saamtrek in Homself. ’n Mens kan skaars dink aan enige belangrike saak in die Ou Testament wat nie op een of ander manier in die Nuwe met Hom in verband gebring word nie.

 

Was Luther regtig so verkeerd toe hy gesê het die kanon, dit wat gesaghebbend is in die Bybel, is dit wat met Hom in verband staan (was Christum treibet)? Nie dat alles regtig so maklik en eenvoudig verloop nie. ’n Mens kry telkens die gevoel dat die skrywers van die Nuwe Testament soms die Ou Testament gebruik op maniere wat nie vir ons aanvaarbaar is nie. Ook hulle gebruik van geskiedenis sou in ons tyd tereg onder skerp kritiek kon deurloop. Maar dan moet ons onthou ons kyk van 2 000 jaar later terug. Dit is moeilik (onmoontlik?) om regtig in hulle skoene in te klim en te besef watter metodes in hulle tyd aanvaarbaar was. Hulle was tog kinders van hulle tyd. Hulle het tog nie (kon tog nie) werk met ons denkraamwerk nie.

 

Wat opnuut vir my ’n ontnugtering was, is die radikale manier waarop daar met gebruike in die Ou Testament gebreek is, soos die tempelkultus (Hebreërs). Vir getroue Jode wat God se eeue oue voorskrifte oor offers en feeste ernstig geneem het, was dit ’n onvoorspelbare skok om dit alles die drein te sien afgaan. Om dit te kon hanteer, moes hulle vooraf op ’n oorweldigende manier deur Jesus gegryp gewees het. Hulle liefde vir Hom moes hulle as ’t ware blind gemaak het vir hulle eeue oue godsdienspleging in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

 

Hierdie navorsing en skrywe was ’n opwindende ervaring. As dit vir jou net die helfte soveel beteken om dit te lees, sal jy klaar voel dit was oor en oor die moeite werd.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Leef uit jou Doop: 8.4 Besware teen die bekeringsdoop

Leef uit jou Doop: 8.4 Besware teen die bekeringsdoop – Adrio König

8.4 Besware

Daar sal seker besware wees teen so ’n bekeringsdoop. Die sterkste beswaar sal seker wees dat dit verwarring sou kon skep asof die kerk iemand “twee keer doop”. Dit sal natuurlik die waarheid wees, maar die bekeringsdoop is nie ’n herhaling van die Christelike doop nie.

Dit kan nie in beginsel verkeerd wees om iemand twee keer te doop nie. Wat dan van Paulus? (Hand 19:1-6) Dit is net verkeerd om die Christelike doop te herhaal omdat dit daarin gaan om God se werk in ons lewe.

 

Trouens so ’n doop in ’n erediens sou die heerlikste geleentheid skep om die verskil te verduidelik tussen ’n doop wat ’n sakrament is omdat God daarin handel, en ’n doop wat net ’n mens se reaksie op God se genade is. Dit sou ook ’n geleentheid wees om die verbond te verduidelik: twee kante: God en mens, maar die inisiatief kom altyd van Hom. Daarom eers die Christelike doop, en dan die bekeringsdoop.

 

Dit moet egter duidelik wees dat dit net gaan om mense wat die volle waarde van hulle eerste (Christelike) doop erken. En dit geld twee groepe:

♦   lidmate van die historiese kerke wat deur ’n tweede doop wil getuig van hulle oorgawe aan die Here,

♦   en lidmate van Pinkster-, Charismatiese, of Baptistekerke wat ook probleme met hulle eerste (Christelike) doop ontwikkel het en deur ’n tweede doop wil getuig dat hulle nou in die regte verhouding met die Here is.

 

Intussen moet dit duidelik wees dat hierdie oproep om mense ’n tweede keer te doop, nie uit ’n suiwer teologiese motief kom nie, en daarom nie as noodsaaklik beskou kan word en ’n algemene reël behoort te word nie. Dit kom uit ’n pastorale bewoënheid met lidmate wat oortuigings het wat nie mooi inpas in dié van hulle kerkgenootskap nie. Dit is iets soos ’n noodmaatreël om hulle tegemoet te kom sodat hulle deel van die gemeente kan bly en sinvol verder begelei kan word op hulle pad met die Here, miskien ook tot selfs nog ’n voller verstaan van die doop.

 

 

leefuitjoudoop

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Abram en Sara – Vraag

Abram en Sara – Marius Nel

Erika vra:

Was Sara Abram se halfsuster of nie? In Genesis 20 sê hy tog dat sy sy suster is aan vaderskant. Hy sê nie hy het gejok nie, sy is so en so se dogter nie.

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Dis heeltemal reg. Sara is Abram se pa se dogter maar hulle het nie dieselfde ma nie. In die tyd van die aartsvaders was dit duidelik nie ʼn probleem nie, wel later.

 

Skrywer: Prof Marius Nel