Die Groot Geloofswoordeboek: Ewigheid

Ewigheid – Adrio König

Dit is ’n apokaliptiese begrip (*Apokaliptiek) wat ons ons moeilik kan voorstel omdat dit nie deel van ons ervaringsveld is nie. Ons kan dit wel negatief stel teenoor ons ervaring van eindigheid en tydelikheid wat weldeeglik deel van ons ervaring is. Ons sien mense doodgaan; trouens, omtrent alles om ons vergaan, en ons word self stadigaan oud. Die ewigheid sal dus iets soos die teendeel hiervan wees: om nie oud te word en dood te gaan nie, om nie deur die tyd aangetas te word nie. Baie mense meen dan ook dat die ewigheid die teenoorgestelde van die tyd is. In die ewigheid sou daar geen tyd of tydsbelewing wees nie. En veral omdat ons lees dat God ewig is en in die ewigheid woon, meen ons dat Hy bo en buite die tyd staan. Sommige meen dit beteken byvoorbeeld dat Hy alreeds op die nuwe aarde is en dat Hy alreeds ervaar en geniet dat ons daar saam met Hom is.

Allereers moet ons nie te veel maak van ons negatiewe voor­stellings oor die ewigheid nie. Om te meen dit is tydloosheid sê nog nie wat dit werklik is nie, net wat dit nie is nie. Ons kan ons geen voorstelling maak van tydloosheid nie, net so min as van ruim­teloosheid omdat ons onherroeplik in tyd en ruimte be­staan. En die gedagte dat God bo en buite tyd en ruimte bestaan en daarom geen tydsbelewing het nie, is nie goed gefundeer in getuienis in die Bybel nie. Die Bybel sê dikwels dat God op ’n sekere tydstip nog nie ’n bepaalde ding gedoen of ’n besluit geneem het nie. In die woestyn sê Hy vir Moses: “Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen” (Eks 33:5) en as Hy Jeremia met ’n boodskap na die volk toe stuur, voeg Hy by: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3). Hy wag dus self om te sien wat gaan gebeur.

Daar is mense wat oortuig is dit is maar net “menslike” voor­stellings van God om ons in staat te stel om te verstaan. (*Mens­vormige spreke oor God) Maar waar sou hulle die inligting kry om dié duidelike uitsprake só te interpreteer? Waarom kan ons dit nie aanvaar soos dit daar staan nie? Dan beteken dit dat God inderdaad ’n belewing van tyd het. Uit ander Skrifgegewens weet ons natuurlik wel dat sy belewing heeltemal anders is as ons s’n. Ons lees dat “een dag vir Hom soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Pet 3:8).

Dit is dus die minimum wat ons oor die ewigheid behoort te sê: dit is heeltemal anders as die tyd, maar ons weet nie regtig hoe anders nie.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König




Esegiël 39

Esegiël 39 – Marius Nel

Jan Smith vra:

Volgens Esegiël 39 sal Israel vir 7 jaar kan vuurmaak met die verslane leërs se skilde, boë, pyle, knopkieries en spiese. Verder sal hulle die dooies vir 7 maande lank begrawe. Die roofvoëls en wilde diere sal ook na hartelus kan eet. Met die tegnologie wat so gevorder het, kan mens kwalik dink dat oorlog met hierdie tipe wapens gevoer sal word en die lyke van die gevallenes sal seker ook net oor ‘n beperkte gebied versprei lê. Om vir 7 maande lyke wat reeds ontbind/opgevreet is te begrawe klink met in agneming van die reuke, na ‘n taak wat baie gouer afgehandel behoort te word. U kommentaar hieroor sal op prys gestel word.

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Wanneer dit by profesieë kom, is een van die belangrikste verstaansbeginsels om te onthou dat dit met woordspel en beelde werk. Wanneer Esegiël wil verduidelik hoe groot die omvang van die vernietiging was, gebruik dit twee beelde. In albei gevalle gebruik hy die getal 7, wat vir Jode die betekenis van volkomenheid en volledigheid bevat. Op dié manier demonstreer hy dat die vyand volledig verslaan sal word. Beelde in profesieë, wat ‘n vorm van digkuns is, kan derhalwe nie letterlik opgeneem word nie.

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid lê na aan die hart van Protestantse gelowiges. Dink maar net aan die dae van die Kerkhervorming toe die Pro­testantse geloof deur die Katolieke Kerk en sommige regerings in Europa verbied is. Dink net hoe ons voorouers in Frankryk vervolg en gemartel is en veral na Holland gevlug het van waar hulle na die destydse Kaap van Goeie Hoop geëmigreer het. Dit is waar baie van die Franse name, soos De Villiers, Du Toit en Le Roux, vandaan kom. Daarom is die vryheid van geloof en die vryheid van ons gewete baie kosbaar vir Protestante.

Verder is die evangelie meer werd as om op mense afgedwing te word. God wil hê dat ons Hom in vryheid sal liefhê en dien. Trouens, gedwonge liefde is nie die naam liefde werd nie.

En tog is daar ook weer ‘n ander kant van waar ons moet kyk. Terwyl mense die vryheid behoort te hê om die geloof van hul oortuiging te beoefen, gaan dit ons as Christene ten diepste aan watter God hulle dien. As daar net een ware God is, en as die mensdom se heil in sy hande lê, is ons dit om menslikheidsredes aan hulle verskuldig om dit vir hulle te sê.

Trouens, daar is ‘n sin waarin God self juis nie mense vrylaat om ander gode te dien nie, maar hulle dringend oproep om Hom te dien. En ons is sy gesante. Ons glo dat hierdie mense alles mis solank hulle nie vir Jesus ken nie. En ons glo verder ook nog dat hulle Hom nie kies nie juis omdat hulle in ‘n sekere sin nie vry is nie, maar gebonde in hulle eie godsdiens of ongeloof. Eers as die Seun ‘n mens vry gemaak het, is jy werklik vry (Joh 8:36). Ons moet dus alle “ordentlike”, beskaafde druk op mense uitoefen om die regte keuse te maak (*Sending) terwyl ons staatkundige godsdiensvryheid ten volle eerbiedig en onderskryf.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke

Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke

Die groot vraag is wat die waarde van goeie werke is. Tydens die Kerkhervorming (*Hervorming) was dit ‘n belangrike verskil. Volgens die Kerkhervormers het die Katolieke Kerk geleer dat ‘n mens deur jou goeie werke ‘n bydrae lewer om gered te word. Dit sou dan beteken dat Christus nie regtig aan die kruis ge­noeg gedoen het nie. By ons geloof in Hom moet ons goeie wer­ke ook bykom. Daarteenoor het die Hervormers geleer dat Christus se kruis­dood genoeg was om die *sonde van die hele wêreld te versoen (*Ver­soening) sodat ons net uit genade gered word as ons glo, dit beteken as ons ons vertroue op Christus stel. (*Gere­for­meerd)

Onder die bespreking van Gereformeerd is die vraag gevra of dit ‘n korrekte interpretasie van die Katolieke Kerk se standpunt is. Maar hier gaan dit nou oor ‘n ander vraag: Wat is regtig die belang en die waarde van goeie werke?

Daar is mense wat beweer dat daar ‘n groot verskil is tussen die Ou Testament en die Nuwe, en ander meen weer dat daar eintlik twee verskillende standpunte in die Nuwe Testament is.

 

Ou Testament: Gered deur werke?

Wat die eerste verskil betref, meen hulle dat mense in die Ou Tes­tament gered is deur die wet te hou, dus deur hulle goeie werke, terwyl ons volgens die Nuwe Testament uit genade gered word en nie deur ons goeie werke nie. Dit is egter nie ‘n goeie interpretasie van die Ou Testament nie. Die Here het nie die wet by Sinai vir heidene gegee en hulle beveel dat hulle dit moet hou en só sy volk word nie. Hy het die wet vir sy volk gegee en hulle beveel om daarvolgens te leef. Hulle was dus klaar in ‘n verhouding met Hom, en moes as sy volk sy wet hou. Hulle moes nie deur die wet te hou sy volk word nie.

Natuurlik was daar die waarskuwing dat hulle verplig is om die wet te hou, anders sou sy strawwe hulle tref (Deut 28:15 ev). Maar dit is nie soveel anders as die Nuwe Testament nie waar die gemeente ook verplig is om die wet van die Here te hou. Dink maar net aan die waarskuwings van Paulus in sy briewe waar hy telkens bepaalde gebooie aanhaal om hulle te vermaan oor hoe hulle moet leef (bv Ef 4:25 ev; Kol 3:5 ev). Maar nêrens kry ‘n mens die indruk dat mense die wet moet hou om gered te word nie. Gereddes, die volk van God, moet in gehoorsaamheid aan die Here en uit dankbaarheid die wet hou. Goeie werke was dus in geeneen van die Testamente die manier om die saligheid te verdien nie.

 

Twee standpunte in die Nuwe Testament?

En nou die gedagte dat daar eintlik twee standpunte in die Nuwe Testament is. Jakobus word teenoor Paulus gestel. Paulus het geleer dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar net deur in Jesus te glo, terwyl ons by Jakobus lees dat die werke by die geloof moet bykom. Paulus skryf duidelik: “Ons weet dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Mo­ses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie” (Gal 2:16).

Maar Jakobus skryf: “dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie” (Jak 2:24). Net ‘n paar verse vroeër lees ons oor Abraham: “Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.”

Het ons hier twee teenoormekaarstaande standpunte: (1) “Net deur geloof,” (2) “Nie net deur geloof nie, maar deur geloof én werke”?

As ‘n mens noukeurig lees, lyk dit nie regtig so nie. Paulus en Jakobus skryf in twee verskillende situasies waar verskillende pro­bleme aangespreek moes word.

Paulus skryf teen die Judaïste wat wou hê dat die heidene nie net in Jesus moes glo nie, maar ook die wet moes hou deur byvoor­beeld besny te word. Hulle het dus gemeen die geloof in Jesus is nie genoeg nie, die onderhouding van die wet moes bykom.

Jakobus skryf in heeltemal ‘n ander situasie. Daar is mense wat sê hulle glo, maar hulle lewe wys niks daarvan nie. Jakobus sê dat so ‘n geloof dood is en ‘n mens nie kan red nie. Die geloof moet goeie werke voortbring om te wys die geloof is lewendig en eg.

Paulus skryf teen mense wat meen die geloof is nie genoeg nie, maar Jakobus teen mense wat meen die geloof hoef nie iets te verander in ons lewe nie. As Paulus van “geloof” praat, bedoel hy die soort geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal 5:6), maar Ja­kobus veroordeel dié soort geloof wat niks doen nie, wat glad nie ‘n mens se lewe verander nie. Daarom verwys hy ook na die duiwels: hulle “glo” ook, maar dit het geen invloed op hul lewe nie. Dit is dus onnodig om ‘n spanning tussen Jakobus en Paulus te probeer skep. Goeie werke dra nie by tot ons redding nie, maar dit wys dat ons geloof eg is.

‘n Mens kan in dié verband onthou dat dieselfde *Calvyn wat gesê het dat ons nie deur goeie werke gered word nie, ook gesê het dat ons ook nie sonder goeie werke gered word nie.

 

Wetswerke en geloofswerke

‘n Mens kan hierdie saak nog beter verstaan as jy ‘n ander on­derskeid in ag neem. Daar is ‘n verskil tussen wetswerke en ge­loofswerke. As mense die wet hou om daardeur gered te word, noem ons dit wetswerke. Maar as ons uit dankbaarheid vir ons verlossing goeie werke doen, is dit werke wat ons in die geloof doen, en dus geloofswerke. Dit kan oor presies dieselfde dade gaan, maar die motief is totaal verskillend. En dit beteken dat die waarde van die werke ook heeltemal verskil.

 

Outeur: Prof Adrio König