Rigters 19 en 20

Rigters 19 en 20 – Marius Nel

Theo Visser vra:

Rigters 19 en 20 is vir my een van die moeilikste gedeeltes om te verklaar. Dit is vir my asof alles wat ʼn mens glo omtrent God se goedheid en genade omver gewerp word. Die ou man in Gibea toon absoluut geen liefde teenoor sy dogter , en die Leviet nog minder oor sy vrou. Dit is so asof God dit goedkeur , miskien te sterk vertel , maar ons lees nie dat God hulle aanspreek daaroor nie. Die aanvalle op Gibea is net so onvoorspelbaar . God gee hulle toestemming om aan te val , maar twee keer word hulle oorwin , 40 000 manne aan hulle kant val . Hoe verklaar mens dit ? God gee toestemming , maar hulle verloor met groot verlies aan menselewens.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Wat belangrik is om dié gedeelte te verstaan, is dat dit grafies iets probeer demonstreer. Ja, dis ʼn aaklige storie. Dit gaan egter daaroor om te demonstreer hoe godsdienstige afgodery in Israel begin floreer Die verhale vertel van brutale stamoorloë en die brutale misbruik van ‘n byvrou, waaruit Israel se godsdienstige kompromis en sosiale barbarisme duidelik word. Die twee narratiewe word omraam deur 17:6 en 21:25, wat dui op wanorde in ‘n samelewing sodat die aanstelling van ‘n koning geregverdig kan word. 17: 6Israel het nog nie in daardie tyd ‘n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos hy wou; 21: 25In daardie tyd het Israel nog nie ‘n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos dit vir hom reg was.

 

Hoop dit help jou!

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




1 Korintiers (3)

1 Korintiërs (3)

 

Aanleiding tot die brief

Op sy tweede sendingreis, tydens ʼn verblyf van 18 maande, stig Paulus die gemeente in Korinte, die groot handelstad in Agaje, (Julie 50 – Maart 52; vergelyk Handelinge 18:11).

Op sy derde sendingreis werk Paulus vir drie jaar in Efese (somer 52 – Pinkster 55; vergelyk Handelinge 19:1-20; 20:31). Die verhouding tussen hom en die gemeente in Korinte raak gespanne oor ʼn aantal sake wat hy met drie briewe en ʼn blitsbesoek vanuit Efese probeer aanspreek (1 Korintiërs 15:32). In die eerste, ‘vorige’ brief skryf hy dat die gemeente nie met sogenaamde gelowiges moet omgaan wat onsedelik, geldgierig, of afgodedienaars, kwaadpraters, dronkaards of bedrieërs is nie (1 Korintiërs 5:9-11). In sy tweede brief, naamlik 1 Korintiërs, word al dié sake weer aangesny. Toe die verhouding nog verder versleg, besoek hy Korinte, maar dit loop uit op droefheid (2 Korintiërs 2:1) en hy stuur sy derde, ‘die trane’ brief saam met Titus (2 Korintiërs 2:9; 7:8,12), wat die verhouding herstel (2 Korintiërs 7:6,7,13-16).

In Efese ontvang Paulus nuus van Chloë se handelsreisigers oor die verdeeldheid in die gemeente in Korinte (1:11), kry ʼn skriftelike antwoord op sy eerste brief (7:1) en ontvang besoek van gemeentelede (16:17). Sostenes skryf neer wat Paulus vir hom voorsê, en Paulus sluit 1 Korintiërs af in sy eie handskrif (1:1; 16:21).

Verdeeldheid in die gemeente deur hulle roem op eie wysheid en geestelikheid (1-4)

Na die seëngroet en dank aan God vir die rykdom van sy gawes aan die gemeente, veral die gawes van woord en kennis (1:4-7), is Paulus teleurgesteld dat hulle trots misbruik daarvan maak, asof hulle dit nie ontvang het nie (4:7).

Omdat hulle hooghartig is oor hulle eie wysheid en geestelikheid, twis hulle onder mekaar, die gemeente is verdeeld oor leiers, en hulle sien neer op Paulus se evangelie-verkondiging. Christus is tog nie in stukke geskeur nie! Sy kinders behoort daarom tot ʼn eenheid aanmekaar geweef te wees (1:10-17).

God se liefdeskrag word geopenbaar deur Jesus wat aan die kruis vir ons sterf. Vir die Jode wat wonders vra om te kan glo, is dit swakheid. God se wyse verlossing deur sy offer van Homself aan ʼn kruis, is weer ʼn dwaasheid vir die Grieke, wat die sin van die lewe in menslike wysheid soek. In sy wysheid het God juis die veragte, swak dwase in Korinte geroep sodat Hy hulle verhouding tot Hom regstel deur hulle verbondenheid aan die gekruisigde Christus, hulle vir Hom heilig, en van hulle sonde verlos (1:18-31). Die kern van Paulus se boodskap is Christus wat vir ons gekruisig is, wat Paulus in swakheid vir hulle gebring het, sodat hulle sou glo nie omdat Paulus se welsprekendheid hulle oortuig het nie, maar omdat die krag van God se Gees hulle tot geloof in Christus gebring het en steeds in Hom laat glo (2:1-5).

God het sy Gees aan die gelowiges gegee om hulle oë te open vir die diepe wysheid van God se verlossing deur Christus se kruisdood. Daarom lewe hulle, en beoordeel hulle alles vanuit Christus se liefde, wat met selfverloëning ander dien (2:6-16).

Die verdeeldheid in die gemeente bewys egter dat hulle nog klein kindertjies in die geloof is, wat met melk gevoer moet word, omdat hulle nog nie die Gees se leiding volg nie, maar dink dat hulle ‘geestelik’ is (3:1-4). Die apostels is bloot dienaars aan wie God spesifieke take gee. Om oor húlle te spog, is dwaas. Die gemeente is God se saailand, en God laat die saad groei. Paulus het die gekruisigde Christus as die enigste fondament van God se gebou gelê, en elke bouer se werk moet daarby pas. Elkeen se werk sal met vuur getoets word, want die gemeente is God se tempel waarin sy Gees woon om hulle aan Christus alleen te verbind, nie aan sy werkers nie. Bouwerk wat nie by die gekruisigde Christus pas nie, gaan tot niet, hoewel die bouer uit genade gered sal word. Hy is die Regter wat alles deursien. Alles wat ons het, kom steeds van God. Moenie daaroor roem asof dit uit jou self kom nie. Ons kan slegs dankbaar lewe teenoor die Gewer en sy Gawe (3:5-4:7).

Die Korintiërs roem dat hulle reeds in hierdie bedeling wys, sterk en geëerd is. Dit is ʼn valse geestelikheid. Die apostels se nederige lewe wys dat die Gees ons tot nou toe aan die kruis van Christus se lyding, dwaasheid, swakheid en skande verbind. As hulle geestelike vader doen Paulus ʼn dringende beroep op hulle om sy lewenswyse in gemeenskap met die gekruisigde Christus, na te volg (4:8-21).

Skrywer: Dr Francois Malan

 




Israel

Israel – Jan van der Watt

Jan Smith vra:

In Matteus 15: 24 sê Jesus: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Hierna kom die Kanaänitiese vrou en vra dat Hy die duiwel uit haar dogter verdryf. Dan sê Hy: dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. Sê sy: Die hondjies eet reeds die krummels wat gemors word. In Matteus 10 stuur Jesus sy dissipels op ‘n sending, vers 5: Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; vers 6 maar gaan liewer na die verlore skape van Israel. Johannes 10: 16: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na My stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. VRAAG: Hoekom sê Jesus vir die vrou so, wie is die heidene hier en wie is die ander skape wat vermeld word, asb? Was dit net die stamme van Juda en Benjamin wat op daardie tydstip as die huis van Israel betrokke was? Baie dankie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons vergeet dikwels dat Jesus en sy dissipels Jode was. Hulle het tussen ander Jode gewoon en die profesieë van die Ou Testament saam met die ander Jode saam met die Hebreeuse Bybel ingekry. Daarvolgens sou God sy volk, die Jode, uit hulle onderdrukking red deur ʼn Messias (gesalfde koning) te stuur. (Daar was ook ander verwagtings van hoe God dit sou doen). Sy volk, die Jode, sou dan bevry wees en as volk in die beloofde land leef. Die beloftes is dus verstaan as spesifiek vir die Jode bedoel. Hierdie Jode is die volk van God wat teruggekom het uit ballingskap en weer die tempel en Jerusalem kom opbou het. (Dit was hoofsaaklik die stamme van Juda en Benjamin, maar nie eksklusief nie. Na die ballingskap het die stamme nie meer so prominente rol gespeel as voor die tyd nie.).

As Jesus dus kom, kom Hy in die eerste plek vir die Jode. Onder die Jode begin Hy sy boodskap van verlossing – vir hulle is dit in die eerste plek bedoel. Maar daar stop dit nie. Dit is wat die verhaal in Matteus 15 wil sê. Die heidene (= nie-Jode van geboorte) gaan ook deel kry daaraan. In die Evangelies sien ons dat Jesus se verlossing wyer gaan – van Jerusalem na Samaria tot aan die eindes van die aarde. Dit is ook die implikasie van die woorde in Johannes 10:16 – dit verwys na die Grieke (wat in hoofstuk 12 in die Evangelie by kom). Die Grieke is egter hier die simbool vir almal wat nie-Jode is nie. Ten spyte daarvan was dit in die eerste plek vir die Jode bedoel.

Tydens die ballingskap het daar ingrypende veranderinge in die volk Israel se struktuur gekom. Die Noordryk (10 stamme) is eerste deur die Assiriërs weggevoer. Die twee suidelike stamme (Benjamin en Juda), met Jerusalem as hulle setel, kon toe ooreenkomste met die Assiriërs maak sodat dieselfde lot hulle nie ook tref nie. Byna twee eeue later het die Babiloniërs toe die twee stamme van die suidelike ryk in ballingskap kom wegvoer en in Babel was die stamme van Israel dus vermeng. Die koning van die Perse (wat die Babiloniërs intussen verslaan het) het die mense van Israel toe toegelaat om hulle tempel en Jerusalem weer te gaan opbou (sien Esra en Nehemia). Hulle is nie as stamme terug nie, maar as ‘n eenheid en van toe af word hulle JODE genoem. (In ‘n sekere sin is dit die begin van die JOODSE volk). In Palestina tref hulle toe mense soos die Samaritane aan (dit is die mense wat met die ballingskap nie goed genoeg was vir die Babiloniërs om saam te neem nie. Hulle is agter gelaat en het ondertrou, sodat hulle dus ook nie meer suiwer stamme was nie). Van toe af is die land nie meer in stamme verdeel nie, maar Jerusalem was die hoofstad van die Joodse volk wat uit die ballingskap teruggekeer het. Die ‘Joodse volk’ sluit al 12 stamme in – Jesus is in Jerusalem, die sentrum van die Joodse volk – gekruisig deur die Joodse volk.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




21 Desember 2011

21 Desember 2011 – Jan van Der Watt

W van Wyk vra:

Wat is die betekenis van 21 Desember 2011?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is nie heeltemal duidelik wat jy oor die datum wil weet nie. Natuurlik is daar herhaling van 1 en 2 in patrone. Die Bybel sê egter niks daaroor nie. As ons probeer om iets oor sulke datums uit die Bybel af te lei, kan dit suiwer afleidings wees wat ons self maak en moet ons versigtig wees om dit nie aan die Bybel te koppel nie. In die Bybelse tyd het die datums soos ons die skryf nog nie eers bestaan nie. Dit het eers baie later gekom.

Dit bring ons by soortgelyke vraag, naamlik die voorspelling van dinge wat op spesiale datums sou gebeur. Dit is deur die eeue baie bekend.

Deur die geskiedenis was daar baie sogenaamde ‘profete’ wat gesê het: ‘ek het ‘n visioen gehad, of die Here het dit aan my openbaar. Ander gebruik weer hulle vindingrykheid om hulle voorspellings oor datums waarop daar spesiale dinge gaan gebeur, geloofwaardig te maak.

Hulle kry ook altyd ‘n groepie mense wat glo wat hulle sê en tot op hede nog elke keer hulle fout agtergekom het. Ons weet al baie lank van mense wat probeer voorspellings maak:

* Tukonius het in die vierde eeu geleef. Hy het gesê dat die wederkoms in 381 gaan plaasvind. Drie en ‘n half is natuurlik ‘n belangrike getal in Openbaring. Dit dui ook gewoonlik op ‘n tydperk waarin die bose gaan moeilkheid maak. Wel, drie en ‘n halwe eeue is 350 jaar. Jesus was 31 wat ‘n mens 381 gee. Die jaar 381 moet dus die jaar van die wederkoms wees. Waarom dit drie en ‘n half eeue is, is maar net om in te pas by Tykonius. Hy het in daardie tyd geleef.

* Joagim van Fiore (1135-1202) het ook nie op hom laat wag nie. Drie en ‘n half jaar is 1260 dae (dertig dae in ‘n maand). Daarvan praat Openbaring (byvoorbeeld 11:3 of 12:6). Daarom is ‘n goeie tyd 1260 nC. Sy voorspelling het ook nie gewerk nie.

* Daar het dikwels sterk emosie met die voorspellings saamgegaan. In die noorde van Duitsland het Hoffmann (1500-1543) sy volgelinge oortuig dat die wederkoms in 1533 gaan plaasvind. Die mooi universiteitsdorpie Münster, in Noord-Duitsland, is as die nuwe Jerusalem geïdentifiseer. Daar was groot konflik waarvan die tekens vandag nog daar is. As ‘n mens langs die kerk staan sien ‘n mens nog die staalhokke aan die toring hang waarin mense opgehang is vir die aasvoëls om te vreet.

* Miller (1782-1849) het die wederkoms op 1843 gestel. Hy het Daniël 8:14 as basis gebruik: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.” Die 2,300 dae het hy omgeskakel in jare en toe van Daniël se lewe af vorentoe getel. Dit het by 1843 uitgekom. Sy volgelinge, wat hierdie voorspelling meer as die Bybel geglo het, moes sien dat hulle groot profeet ook maar net voete van klei het.

* Die Jehova-getuies is ook bekend vir hulle voorspellings. Russell, hulle stigter, het gesê die 1000 jaar van Jesus se heerskappy sal in 1914 begin. Toe dit nie sigbaar gebeur het nie, het hulle gesê dit is onsigbaar. Later het hulle 1975 as die datum aangewys, maar ook sonder sukses.

* Daar is nog ritse ander voorspellings. Daar is al glad gesê dat God op Kanaal 18 sal verskyn op 31 Maart 1998. En dan is daar die jaar 2000. Die millenium is besig om te draai! Dit is mooi afgerond en alles is reg vir groot veranderings. Tekens van oorloë, aardbewings, magte en rekenaars wat ons lewens gaan oorneem word ywerig nadergehark. Dit moet nou wees! reken baie. Kyk maar net op die internet na die profete wat hulle opinies en voorspellings via die satelliet en rekenaar tot in die huise van elke potensiële leser stuur. Jy moet net ‘n ding genoeg herhaal, dan glo mense jou…

Die probleem is egter dat hierdie voorspellings deurgaans nie net verkeerd was nie, maar dat baie mense ook baie seergemaak is daardeur. Mense het al hulle lewens daarvoor opgeoffer, letterlik en figuurlik. As jy vas geglo het iets kom van God af en God se ‘profeet’ sê dit vir jou en niks werk uit nie, bly daar min van jou geloof oor. Dit is amper asof jy voor moet begin, maar hierdie keer is dit net baie swaarder.

Wees dus versigtig om met datums te speel.

Outeur: Prof Jan van der Watt