Weet wie jy is – ’n oproep tot volharding in die Judasbrief

Weet wie jy is – ‘n oproep tot volharding in die Judasbrief

1.    Inleiding:

Die kerk ken die eeue oue stryd om oorlewing te midde van vervolging baie goed.  En hanteer dit baie goed.  Dit is die subtiele dwaallering wat baie keer die kerk se grootste krisisse meebring.  Dit toets die kerk se ware identiteit.  In die Judasbrief word lesers gevra om hulle identiteit duidelik te ken en te leef te midde van dwaalleraars wat die kerk probeer ontspoor.

2.    Die kerk is God se eiendom:

Judas lê baie sterk klem op die gelowiges as geroepenes deur God.  Deur hulle ook as geliefdes aan te spreek, bevestig hy dat God se liefde en genade vir hulle geld.  Dit is deur God se liefde en genade dat hulle uitverkies en gered is.  So belangrik is hierdie geloofsidentiteit van die gelowiges dat Judas sy brief daarmee begin en afsluit (vers 1 en 24).  Dit is die grondslag van die kerk se bestaan.  Judas verwys sy lesers terug na die apostoliese oorlewering aangaande die evangelie.  As hulle na hierdie basis toe terugkeer, of daarby hou, sal hulle nie meegevoer word deur dwaalleringe wat hulle probeer mislei nie.  Hulle het dus nie ingewikkelde teologie nodig om staande te bly nie.  Die suiwer evangelie van liefde en genade is al wat nodig is.  Wie daarin volhard, sal die geloofstryd kan stry.  Wie vashou aan God se uitverkiesing in liefde, sal nooit deur God verlaat word nie.  Hy is magtig om ons van struikeling te bewaar en ons onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou (v. 24).

3.    Die kerk se stryd:

Die kerk se grootste krisis is nie die bedreiging van buite af (bv. vervolging) nie, maar van binne.  Daar is dwaalleraars wat die gelowiges probeer verlei met vleeslike dinge (dinge van hierdie wêreld).  Judas ontmasker hierdie dwaalleringe in vers 5-16 deur gebruik te maak van ‘n aantal argetipes (voorbeelde uit die verlede).  As die gelowiges egter vashou aan die evangelie, sal hulle hierdie mense kan ontmasker.  Dit is immers duidelik dat hulle werke nie van die Gees is nie (vgl. vers 20).  Wat hierdie mense eintlik besig is om te doen, is om die genade van God te misbruik (vers 4).  Judas voel so sterk oor die bestryding van hierdie dwaalleraars dat hy sterk by sy lesers aandring dat hulle hierdie dwaallering aktief moet bestry.  (vgl. vers 3b).  Trouens, Judas sê dat hy verplig voel om gelowiges hiertoe op te roep.  In antwoord op die dwaallering moet gelowiges hulle krag op God alleen bou (vgl. vers 17).  Judas voel so sterk oor die probleem dat hy sy oorspronklike boodskap oor die verlossing (vers 3) eenkant toe skuif om oor hierdie bedreiging vir die kerk te skryf.  Judas vlek hier eintlik ‘n probleem oop wat die kerk deur al die eeue mee sukkel: die bedreiging van dwalinge binne die kerk.  Die gevaar is gewoonlik groter omdat die dwaalleraars hulle invloed van binne gebruik om gelowiges oor te haal.  Vervolging het eintlik nog nooit die kerk se voortbestaan ernstig bedreig nie.  Trouens, die kerk groei gewoonlik sterker waar dit die meeste vervolg word.

Die kerk kan hierdie stryd stry deur vas te hou aan die basis van die evangelie soos dit aan hulle oorgelewer is (vers 20-23).  Verder moet hulle in die liefde bly wat God aan hulle gegee het (vers 21a).  En dan, belangrik: hulle moet onthou waar hulle vandaan kom (vers 3, 17).

4.    Die kerk se hoop:

Judas ken sy lesers.  Hy weet dat hulle wel op die oomblik op die regte pad is.  Sy brief is allermins ‘n bekeringsoproep.  Reg aan die begin bevestig hy dat hulle saam deel het aan die evangelie van verlossing (vers 3).  Die ware gelowiges verwerp nie die enigste Here en Meester, Jesus Christus, nie (vgl. vers 4).  Die klem op die “enigste” bevestig dat daar nie ‘n ander boodskap is nie (vgl. Joh. 14:6).  Dit weet die lesers.  En daaraan moet hulle altyd vashou.

Die gelowiges se wapen in die stryd teen die dwaalleraars is die krag van die Heilige Gees.   In vers 20 word hulle opgeroep om altyd te bid “deur die krag van die Heilige Gees.”  So sal hulle in staat wees om, onder die kragveld van die Gees, die dwaallering te ontmasker en te weerlê.

Verder moet die gelowiges hulle ontferm oor daardie deel van die gemeente wat nie sterk genoeg is om die dwaalleraars te weerstaan nie (vers 22).  Die wat reeds hulle vingers verbrand het, moet uit die vuur geruk word (vers 23).  Solank hulle onder die kragveld van die Gees staan, kan hulle altyd verseker wees van God se seën en beskerming in hulle lewens.  God is immers magtig om hulle van struikeling te bewaar en hulle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou (vers 24) 

 

Skrywer: Fanie Rudolph

 




DIE NUWE VERBOND EN DIE NUWE TESTAMENT

DIE NUWE VERBOND EN DIE NUWE TESTAMENT

Die Griekse woord vir verbond kom 33 keer in die Nuwe Testament voor. As Jesus die laaste maaltyd saam met sy dissipels hou, gebeur die volgende: “27Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink

almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” (Matteus 26:27-28.

Sien ook die ander Evangelies). Met sy kruisdood en bloed begin Jesus dus ‘n nuwe verbond (lees o.a. Jeremia 31:31vv) waardeur mense van hulle sonde gered sal word. Dit is egter veral die boek Hebreërs wat heelwat oor die nuwe verbond te sê het. Met die verbond van Sinaï is daar ‘n ooreenkoms met die volk gemaak dat hulle die Wet moet nakom. Dit het egter nie gebeur nie, wat natuurlik beteken dat hulle nie hulle deel van die verbondsooreenkoms nagekom het nie en dus gestraf moet word vir verbondsbreuk. God het egter ‘n ander plan gemaak. Hy gaan nie meer die vereistes wat met die Sinaï-verbond gestel is, afdwing nie. Hy gaan ‘n nuwe ooreenkoms maak. Hierdie keer sluit Hy vir Jesus as deel van die ooreenkoms in. Die vereistes van die verbond moet wel nagekom word, maar Jesus kom dit namens ons na. Hy is soos die kaptein van ‘n span – as die kaptein die loot wen en eerste kolf geld dit van en vir sy hele span. Kom ons kyk na hoe Hebreërs dit stel: Hebreërs 8:7vv.:

“6Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes (ooreenkomste van die kant van God) gegrond is. 7As daar aan die eerste verbond (die verbond van Sinaï wat wetsnakoming vereis) niks kortgekom het nie, sou ‘n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. 10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 11Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. 12Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” 13Deur van ‘n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar (die vereistes van die Sinaï-verbond geld nie meer nie), en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn”.   

In Hebreërs 9:15 word nou verduidelik wat die nuwe verbond behels: “15Daarom is Hy (Jesus) ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.”

Lees ook Galasiërs 4:24-5:1 waar Paulus verduidelik dat die ou verbond met die nuwe verbond vervang word.

Die nuwe verbond se ooreenkoms is dat God ons God sal wees en dat ons sy volk kan wees, maar dat Hy nie van ons verwag om die Wet presies na te kom soos die Jode nie. Nee, ons moet in Jesus glo. Dit word vereis. Natuurlik sal ons as gelowiges probeer leef soos die Here dit wil hê, maar as ons foute maak en dit bely, sal dit vergeef word. Dit kanselleer nie ons geloof uit nie. Die nuwe verbond sê dus, om dit so te stel, dat God ons God sal wees en ons sy gelowiges in Jesus. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERBOND VAN ABRAHAM EN DIE NUWE TESTAMENT

DIE VERBOND VAN ABRAHAM EN DIE NUWE TESTAMENT

a) Wat is ‘n verbond? ‘n Verbond, soos ons dit in die Bybel sien, is ‘n ander woord vir ‘n ooreenkoms, maar dan ‘n bindende ooreenkoms met sekere voorwaardes tussen twee partye – elkeen moet iets doen of het ‘n verantwoordelikheid wat vasgelê word.

Byvoorbeeld, God sou sê dat Hy vir sy volk sal sorg (sy bydrae), maar dan moet hulle volgens sy wet lewe (hulle bydrae). Daar kan dus ook meer as een verbond gesluit word, afhangende van die situasie, sonder dat die een verbond die ander verbond ongeldig maak.  

b) Die verbond met Abraham: Daar is heelwat “verbonde” waarvan ons in die Ou Testament lees, byvoorbeeld met Noag (Genesis 9), met Abraham (Genesis 15), met die volk by Sinaï (Eksodus 24) en so meer. Dit is God wat met sy mense ooreenkomste op verskillende tye in die geskiedenis maak. Waar pas Abraham in die geskiedenis in? God maak eers die eerste mense en hoop om so met die mensdom ‘n pad saam te loop. Adam en Eva sondig egter gou en word uit die tuin uitgesit. Die sonde bou egter so op dat God besluit om “weer voor te begin”. Hy sonder vir Noag af om pare (manlik en vroulik) van alles bymekaar te maak sodat daar weer voortgeplant kan word. Die res van die sondige skepping word met ‘n vloed weggevee. Skaars het Noag sy voete op droë grond gesit, of hy en sy kinders sondig weer. Dit alles loop op die bou van die toring van Babel uit waar die mense soos God wou wees. Dan verwar God die mense en hulle bars in alle rigtings. God maak nou ‘n nuwe plan – Hy sonder vir Hom een man en een familie uit om syne te wees. Nie met al die mense van die mensdom nie, maar spesifiek met hierdie familie wil Hy nou ‘n pad stap. God roep vir Abraham (12:1-4) en as die stamvader, maak Hy met hom ‘n ooreenkoms. Hy sal vir hulle ‘n God wees en hulle moet vir Hom ‘n volk wees (Lees van Genesis 12 af die verhaal van Abraham, maar veral in Genesis 17 kry ons die werklike verbondstaal). Deur hierdie verbond het God homself dus verbind aan mense wat uit Abraham stam, mits hulle natuurlik hulle deel van die verbond nakom. 

c) Abraham in die Nuwe Testament: In die Nuwe Testament verander wat presies onder “Abraham” verstaan word. Daar is natuurlik baie plekke waar dit duidelik word, maar kom ons konsentreer op twee:

  •          Lees Johannes 8:31-41 waar Jesus met sy opponente argumenteer. Hulle beweer hulle is die nageslag van Abraham (8:33 – en natuurlik van sy verbond). Jesus gee dit ook toe (8:37), maar maak dan ‘n belangrike opmerking: Hulle is nie meer kinders van Abraham nie en hy is nie meer hulle vader nie, met ander woorde, hulle is nie meer die familie van Abraham nie en deel daarom ook nie meer aan die voorregte van Abraham en sy verbond nie. Waarom nie? Omdat hulle optrede en die feit dat hulle nie in Jesus, die Seun van God, wil glo nie, wys hulle staan nie meer in die lyn van die mense met wie God die verbond gesluit het nie. Menslik gesproke is hulle nog nageslag, maar geestelik gesproke is hulle nie meer nageslag nie. Die nageslag van Abraham is almal wat in Jesus glo. Hulle is nou die werklike (geestelike) kinders van Abraham. (Kyk ook hoe Jesus sy en Abraham se verhouding beskryf in 8:54-58).
  •          In Romeine 4 is die vraag of ‘n mens deur geloof gered kan word en of die Wet nie nodig is nie. Paulus argumenteer dat Abraham deur geloof vrygespreek is lank voor daar ‘n Wet (Sinaï) was. Geloof is die sleutel (lees Romeine 4:1-12) tot redding en vryspraak en nie die Wet of besnydenis nie. Daarom is almal wat GLO “nakomelinge” van Abraham. Die nageslag van Abraham is dus hier almal wat glo en nie noodwendig die wat fisies as sodanig gebore is nie (lees tog ook Romeine 9-11 oor die Jode). Daar is dus ‘n verbreding van wie die nakomelinge van Abraham is. Almal wat in God deur Jesus glo (sien Romeine 3:21vv.) is nakomelinge van Abraham en die nuwe volk van God. Uit hierdie deel is dit ook duidelik dat besnydenis nie nodig is nie, maar wel geloof.
  •          Lees ook nou Galasiërs 3:4vv: “4Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! 5Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? 6So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 7Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. 8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word… 14Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het”.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Veertig jaar van toenemende kommer oor die toekoms van planeet aarde

Veertig jaar van toenemende kommer oor die toekoms van planeet aarde

Verlede jaar was dit presies veertig jaar sedert die Club of Rome gestig is met sy destydse opspraakwekkende eerste publikasie (“Limits to Growth”) en is dit ook presies twee honderd en elf jaar na Thomas Malthus sy geskrif, “An Essay on the Principle of Population” (1798), uitgegee het en waarin hy voorspel het dat die bevolkingsaanwas die ekonomie so sou verlam, dat maatskaplike ellende toenemend die gevolg sou wees.

Twee en dertig internasionale akademici, navorsers en nyweraars het in April 1968 in ‘n villa buite Rome, onder leiding van die Italiaanse nyweraar Aurelio Peccei en die Skotse wetenskaplike, Alexander King, die sogenaamde Club of Rome gestig. Hulle het die volgende uitgesproke oogmerke daargestel:

  • Navorsing oor die kwantitatiewe en kwalitatiewe samehang van die wêreldprobleme.
  • Die wêreld op die ekologiese krisis bedag te maak.
  • Regerings en nyweraars aan te moedig om die situasie te verbeter.
Met die veertigste herdenking van hulle bestaan (wat saamgeval het met die jubileum herdenking van die geboorte van Aurelio Peccei), het die Club of Rome toe op 14-17 Junie 2008 in Rome bymekaar gekom. Teenwoordig was 90 volle lede, etlike ere- en geassosieerde lede, verteenwoordigers van 33 internasionale organisasies, waarnemers, dosyne hoogwaardigheidsbekleërs en natuurlik ook heelwat van die jong “think tank” navorsers (die sogenaamde tt30). Almal mense wat die wel en die wee van die omgewing op die hart gedra het. 

Die Club of Rome se eerste publikasie, Limits to Growth, het wyd opslae gemaak. Dertig miljoen kopieë is verkoop en dit is in sewe en dertig verskillende tale wêreldwyd vertaal. Dit het die eerste 70 jaar van die vorige eeu as basis geneem en bepaalde projeksies vir die toekoms gemaak. Die ontwikkeling sedert die Renaissance het getoon om ‘n illusie te wees en dat vooruitgang tegelyk ook agteruitgang beteken het. Die volgende terreine was in samewerking met die Massachusetts Institute of Technology (MIT) geïdentifiseer as die brandpunte van die ekologiese krisis:

  •          Bevolkingsaanwas
  •          Industrialisasie
  •          Besoedeling
  •          Uitputting van natuurlike hulpbronne
  •          Voedselproduksie

Die gevolgtrekking uit die ekstrapolasie was dat die kwaliteit van lewe radikaal sou versleg binne die volgende aantal dekades. Dit sou ook nie net alleen ‘n geleidelike afname inhou nie, maar ook ‘n skielike en onbeheerbare draaipunt tot gevolg het. Daar is ook verwys na die sogenaamde “grusame kurwe” wanneer die vraag- die aanbodkrommes mekaar sou kruis. Kyk meegaande grafiese aanduiding daarvan. Om dit in tegniese taal uit te druk, die ekologiese voetspoor oorskry dan die produktiewe kapasiteit van die biosfeer.

Die oliekrisis van 1973 het die aktualiteit en erns van hierdie waarskuwing met ‘n skok onder almal se aandag gebring. In 1974 gee hulle toe ‘n tweede publikasie uit, Mankind at the Turning Point. Hierdie publikasie het ‘n ietwat positiewer gees geadem omdat dit wel gemeen het dat die mens nog in beheer is en net daadwerklik iets moet doen aan die omgewing en bewaring daarvan.

Die outeurs van die eerste publikasies van die Club of Rome, Donella en Dennis Meadows en Jorgen Randers, het in 1992 ‘n opdatering gedoen en hulle nuwe boek, Beyond the Limits, genoem. Hierin het hulle aangetoon dat die mens in baie opsigte die wasdom-grense totaal oorskry het en het die uitdaging toe volhoubare ontwikkeling geword.

‘n Derde opdatering het in 2004 gevolg met die publikasie, Limits to Growth: The 30-Year Update. Meegaande ook die titelblad van die boek. Die rekenaar-program wat die ekstrapolasies doen, World3, is ook aansienlik verfyn om die proses nog meer wetenskaplik te maak. Die gevolgtrekking was egter verdoemend en helaas, baie meer pessimisties as voorheen. Waar in 1972 nog gesê was, “slow down”, word nou dringend geëis, “get back down”.

Die positiewe van die opdateringsverslag was o.a. dat hulle ‘n omgekeerde eweredigheid in welvaart en bevolkingsaanwas aangetoon het wat beteken dat soos wat mense armoede oorkom en ryker word, die aantal geboortes by daardie groep dienooreenkomstig ook afneem. Die ander stukkie goeie nuus was dat tegnologie die kosproduksie aansienlik kon laat toeneem het en die voedselvoorsiening toe beter is as wat in 1972 voorsien was.

Die outeurs het wel tot die gevolgtrekking gekom dat die begrip “volhoubare ontwikkeling” ook uitgedien is. Die sleutelwoord sedert hierdie publikasie is nou oorlewingsontwikkeling (“Survivable Development”).

Wat opmerklik van die nuwe aanpak van die Club of Rome is, is hulle geïntegreerde aanpak. Dit word duidelik uitgespel dat ons nuwe waardes en kulturele norme sal moet ontwikkel. Die program vir die nuwe eeu sentreer derhalwe om die volgende eenhede (“clusters”):

  •          Omgewing en bronne
  •          Globalisasie
  •          Wêreldontwikkeling
  •          Sosiale transformasie
  •          Vrede en sekuriteit

Hulle stel dit ook duidelik dat die 21ste eeu ‘n eeu van versobering sal moet wees. Dit geld op alle terreine. In ‘n artikel wat pas van Anton van Niekerk van Stellenbosch verskyn het, toon hy ook wetenskaplik aan dat tevredenheid en sin by mense hoegenaamd nie afhanklik aan rykdom is nie. Vreugde onder ‘n land se mense is hoegenaamd nie eweredig aan die land se bruto-binnelandse produk nie!

Aan die begin van die twintigste eeu, was daar 1.6 miljard mense op die aarde. Aan die einde van daardie eeu, was dit 6 miljard. Op die oomblik raak dit aan 6.6 miljard! Die Verenigde Nasies projekteer ‘n getal van meer as 9 miljard vir die jaar 2050. En hierdie mense moet eet, woon, werk en ontspan. Een van die onrusbarendste gevolge hiervan is die vrystelling van koolstof in die atmosfeer. Dit lei tot globale verwarming met dodelike gevolge. Die huidige koolstof-emissie is 385 eenhede per miljoen (epm) en styg teen ‘n haas onbeheerbare tempo. Indien die styging tot ‘n maksimum van 450 epm beperk kan word, hoop sekere wetenskaplikes dat die globale verwarming onder 2 grade Celsius gehou kan word. Die ideaal is egter om dit te beperk tot 350 epm. ‘n Nobelpryswenner vir chemie, Paul Crutzen, verwys in terme van die mens se katastrofale invloed op die planeet aarde, as ‘n nuwe geologiese periode, naamlik die “antroposeniese tydperk”.

Dit is wyd aanvaar dat die Christene medeverantwoordelik is vir die ekologiese krisis. Ons het op grond van Genesis 1:28 (“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde …… onderwerp dit en heers…”) ‘n etiek ontwikkel wat inderdaad katastrofale gevolge vir die aarde ingehou het. Vandag weet ons dat ons Genesis se skeppingsverhale heeltemal anders moet verstaan. Die beginsel van onderwerping word onder andere vervang met die idee van rentmeesterskap. Die teoloog, Calvin B. DeWitt, het in 1995 die volgende vier prinsipiële uitgangspunte vir ‘n ekologiese skeppingsleer daargestel:

1      Die onderhoudingsbeginsel. Soos wat God die skepping onderhou, moet die mens dit ook doen.

2      Die Sabbatsbeginsel. Die skepping moet toegelaat word om te rus na menslike gebruik.

3      Die opbrengsbeginsel. Die mens kan inderdaad die skepping geniet en die vrug daarvan geniet.

4      Die beperkingsbeginsel. Daar is besliste grense aan die mense se betrokkenheid en benutting van die skepping.

Die mens is as beeld van God ook “mede-skepper”. Dit gee ons egter groot verantwoordelikheid en dit is elke Christen se taak om hieraan gestalte te gee. Geniet die skepping, maar onthou, dit is nie ons s’n nie. Ons leen dit net van ons nageslag! 

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag