Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea(Inleiding)

Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea

Paulus is een van die medewerkers wat ‘n hulpfonds na die gelowiges in Jerusalem moet neem, nadat ‘n hongersnood daar uitgebreek het. Die fondse is deur die gemeente in Antiogië ingesamel, en die oorhandiging daarvan word relatief vinnig afgehandel. Later versoek die apostels in Jerusalem dat die gemeentes in Klein-Asië “nie die armes onder [die Judese gelowiges] moet vergeet nie”. So word Paulus die organiseerder van ‘n grootskaalse fondsinsamelingspoging, wat oor jare gemeentes uit ‘n wye area betrek het.

Paulus was mettertyd die organiseerder van ‘n grootskaalse fondsinsamelingspoging, wat oor ‘n aantal jare gestrek het en verskeie gemeentes betrek het uit ‘n wye geografiese area (veral in ag genome die beperkinge ten opsigte van vervoer en kommunikasie in die eerste eeu n.C.)

Dit het alles begin toe die gemeente in Antiogië besluit het om hulle medegelowiges in Judea by te staan, nadat ‘n hongersnood daar uitgebreek het.  Die Antiogiërs het dus ‘n hulpfonds ingesamel, en Paulus (Saulus) en Barnabas na Jerusalem gestuur om dit aan die ouderlinge daar te gaan oorhandig (Hand. 11:27-30).  Hierdie fase van die fondsinsameling is redelik vinnig suksesvol voltooi (Hand. 12:25), en Paulus was toe nog net ‘n medewerker (afgevaardigde) daarin, nie die organiseerder daarvan nie.

Die tweede fase, waartydens Paulus die leidende rol in die fondsinsameling gespeel het, het aangebreek toe die apostels en ouderlinge in Jerusalem sy werk onder die heidennasies erken het, onderhewig aan enkele gebruike wat deur die nie-Joodse gelowiges nagekom moes word (Hand. 15:20, 29; 21:25).  By hierdie geleentheid het hulle versoek dat die gelowiges uit die heidennasies “nie die armes onder [die Judese gelowiges] moet vergeet nie” (Gal. 2:10).  Paulus onderneem gevolglik om homself steeds vir hierdie liefdesdiens te beywer.  So word hy dus die organiseerder van ‘n hernude fondsinsameling.  Dit sou etlike jare deel uitmaak van sy bediening onder die gemeentes in Klein-Asië.

Die mees ooglopende doel van die fondsinsameling was die verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea.  Die fondse is ingesamel onder die gemeentes vanuit die heidennasies, wat (grootliks) deur Paulus gestig is of ten minste ook deur hom besoek en bearbei is.  Uiteindelik is die fondse wel aan die apostels en ouderlinge in Jerusalem oorhandig en so is die hele poging afgehandel voordat Paulus in Jerusalem gevange geneem is (Hand. 24:17).

Die fondsinsameling het egter nie in alle opsigte glad verloop nie.  Voordat dit afgehandel is, was dit vir Paulus nodig om eers die gemeente in Korinte opnuut en breedvoerig te motiveer om met die fondsinsameling voort te gaan (2 Kor. 8 – 9), aangesien hulle dit vir ‘n tyd lank agterweë gelaat het, as gevolg van spanning tussen Paulus en die gemeente.  Dit wil voorkom asof die aankoms van sekere vals apostels in Korinte ‘n groot rol gespeel het in hierdie spanning (2 Kor. 11:1-15, 12:11) en die wisselvallige verhouding wat as gevolg daarvan tussen die gemeente en die apostel ontstaan het.  Met tye het die vals apostels daarin geslaag om Paulus onder verdenking te plaas by die gemeente (onder meer ten opsigte van sy hantering van finansies – 2 Kor. 2:17, 11:7-15, 12:14-18) en hulle eie idees te bevorder, wat teenstrydig was met Paulus se boodskap en beginsels.  Ander kere weer het Paulus en sy medewerkers daarin geslaag om hulleself te verduidelik en was daar versoening tussen hulle en die gemeente (vgl. 2 Kor. 7:5-16).  Dit is nie duidelik of die fondsinsameling in Korinte uiteindelik suksesvol afgehandel is en of hulle toe wel ‘n aandeel gehad in die “geldelike bydrae” waarmee Paulus sy mense in Jerusalem gaan help het nie (Hand. 24:17).

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: Die agtste aansporing – die gewer kan ook ‘n opbrengs te wagte wees

Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: Die agtste aansporing – die gewer kan ook ‘n opbrengs te wagte wees

Die “gewer se opbrengs”-argument. Deur die metafoor van saaiery in te span, maak Paulus in 2 Kor. 9:6-15 die punt dat die gewer ook ‘n opbrengs kan verwag vanuit dit wat hy gegee het – hy sal seën daaruit put, wat verskillinde vorme aanneem. Hierdie punt vorm deel (die agtste) van sy aansporings aan die Korintiërs om die fondsinsamelingspoging ten bate van die arm gelowiges in Judea, af te handel.

Deur die metafoor van saaiery in te span, maak Paulus in 2 Kor. 9:6-15 die punt dat die gewer ook ‘n opbrengs kan verwag vanuit dit wat hy gegee het.

Paulus redeneer dat die opbrengs wat die gewer te wagte kan wees, in direkte verhouding staan met die gesindheid van seën-uitdeling waarmee die gewer gegee het.  God, die Gewer van die saad, is immers ook die Gewer van die seën wat die gesaaide saad sal oplewer.  En vir Hom is die gesindheid van die gewer, nie die grootte van die gawe nie (vgl. Mark. 12:41-44), die belangrikste.  Daarom is Hy byvoorbeeld besonder toegeneë tot hulle wat met ‘n gesindheid van blymoedigheid gee (9:7).  Sal die Korintiërs dus suinig en terughoudend wees wanneer hulle gee?  Dan moet hulle nie veel terugverwag nie.  Dit openbaar immers ‘n verkeerde gesindheid.  Sou hulle egter bydra met die gesindheid van blymoedigheid en mildelikheid, omdat hulle ander oorvloediglik wil seën, dan kan hulle veel seën daaruit terugverwag.  Dus, hoe meer dit die gewer se gesindheid is om met sy gawes tot oorvloedige seën vir ander te wees, hoe ‘n groter “opbrengs” van seën kan die gewer te wagte wees.

Hierdie verwagte seën-opbrengs sal, volgens Paulus, die volgende vorme aanneem:

  • God sal steeds voorsien ten opsigte van hul eie materiële behoeftes, vergestalt deur Paulus se verwysing na “brood om te eet” (9:10). Let egter daarop dat daar nie hier sprake is van ‘n welvaartsteologie, met ‘n belofte dat God die een wat bygedra het sal verryk nie, maar dat Hy sal voorsien in die basiese behoeftes, en dat hulle genoeg sal hê om weg te gee (9:11).
  • Hulle geleenthede en middele om op dié wyse ‘n bydrae te kan lewer, sal deur God vermeerder word, as uitdrukking van sy guns aan hulle (9:10). Dit kom uiteindelik neer op die eksponensiële groei van die opbrengste uit dit wat hulle gee. Hoe meer hulle gee, hoe meer sal hulle hê om te gee (9:11), tot toenemende seën vir dié wat hulle gawes ontvang (omdat dit veronderstel word dat hulle dan steeds meer met die hulpbehoewendes sal deel!) Terwyl die belofte van middele hier onmiskenbaar is, is die doel waarvoor dit toegeken word ook onmiskenbaar, naamlik om dit weer oorvloedig uit te deel. Die moontlikheid om die eerste maal vrygewig te gee met die doel om die seën wat daaruit voortkom dan selfsugtig op te gaar, is dus uitgesluit.
  • Die voorreg en geleentheid om te gee is opsigself alreeds deel van die gewer se seën-opbrengs, aangesien hy op dié manier deelkry aan die genadige werking van God (9:10-11a). Die Bydraers is reeds geseën, aangesien hulle genoeg het om te kan gee.
  • God sal vanweë hulle gedank en verheerlik word deur die Judese gelowiges (9:11-13). Hy sal “geseën” word deur die dank wat aan Hom gebring word. Hulle sal Hom verheerlik, spesifiek oor die Korintiërs se gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat hulle ook bely, en oor die Korintiërs se vrygewigheid as uitdrukking van die gemeenskaplikheid tussen hulself en die Judese gelowiges. Deel van die Korintiërs se “opbrengs” is dus die dank wat, vanweë hulle gawes, aan God gebring sal word.
  • Die Judese gelowiges sal vir hulle bid en met toegeneëntheid (“verlange”) aan hulle dink (9:14). As sodanig is gemeenskap (koinonia) tussen die gelowiges (9:13) deel van die seën wat die gewers uit die projek sal put. Die verhoring van die Jerusalem-gelowiges se gebede vir die Korintiërs, sal natuurlik ook vir hulle tot seën wees!

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Wanneer en waar is 1 Petrus geskryf?

Wanneer en waar is 1 Petrus geskryf?

Alles in aggenome kan ons met goeie rede aanvaar dat Petrus die apostel die brief 1 Petrus tussen 60 en 65 n.C. geskryf het terwyl hy in Rome was. Daar is egter navorsers wat redes het om ander datums voor te stel vir die ter skrifstelling van 1 Petrus.

Die vraag oor die datum waarop hierdie brief geskryf is, hang ten nouste saam met die vraag oor die outeur van die brief.  [Lees gerus die twee artikels wat hierdie vraag bespreek].  Navorsers wat nie die outeurskap van Petrus die apostel aanvaar nie, bereken verskeie moontlike datums (selfs tot so laat as 95 n. C.), elkeen met hul eie motiverings.

Sommige navorsers (bv. Elliott, 2000:137) plaas die brief byvoorbeeld na 70. n.C., en gevolglik is Petrus se outeurskap van die brief vir hulle uitgesluit.  Hoe kom hulle aan 70 n.C.?  “Babilon” in 1 Pet. 5:13 verwys baie waarskynlik na Rome, soos algemeen in ander Christelike en Judese geskrifte.  Hierdie ander geskrifte dateer egter (volgens hierdie navorsers) almal later as 70. n.C., dit wil sê na die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur die Romeine, soortgelyk aan dit wat die Babiloniërs vroeër gedoen het (vandaar die gelykstelling tussen Rome en Babilon).  Gevolglik moes 1 Petrus ook later as 70 n.C. geskryf gewees het (en kon Petrus dit nie geskryf het nie).

Hierteenoor voer Marshall (1990:23) aan dat dit reeds oortuigend bewys is dat daar wel voor 70 n.C. gevalle bestaan waar daar na Rome as “Babilon” verwys word.  Gevolglik blyk hierdie belangrike veronderstelling vir Elliott se argumente rondom die outeurskap en datum van die brief, ongeldig bewys te wees.

As dit dan wel aanvaar word (soos baie vroeg reeds in die Christelike tradisie) dat Petrus die apostel die brief geskryf het, behoort dit waarskynlik nie later gedateer te word as 64/65 n.C. nie.  Die rede hiervoor is dat daar ‘n algemeen aanvaarde tradisie bestaan dat Petrus in daardie tyd onder Nero tereggestel is in Rome.  ‘n Aantal navorsers dateer die brief ietwat vroeër op grond van 1 Pet. 2:13-17 se oproep tot onderwerping aan die owerhede.  Dit lyk onwaarskynlik dat Petrus Christene op so ‘n kalm wyse daartoe sou oproep om hulle aan die keiser te onderwerp nadat Nero Christene op ‘n wreedaardige manier in Rome laat teregstel het.  Hierdie keiserlike aksie teen die Christene het in 64 n.C. plaasgevind, en gevolglik kan die brief voor 64 n.C. gedateer word, maar waarskynlik steeds na 60 n.C.

Navorsers is dit egter omtrent almal eens dat “Babilon” in 1 Pet. 5:13 wel na Rome verwys, en dat die brief dus daar geskryf is.  Ten minste twee kerkvaders, naamlik Papias en Clemens van Aleksandrië, bevestig hierdie siening.  Die brief maak ook melding daarvan dat Markus aan die geadresseerdes groete stuur (5:13).  Daar is ‘n sterk tradisie dat Markus en Petrus saam in Rome was voordat Petrus (ongeveer 65 n.C.) hier gesterf het.

Alles in aggenome sou ons dus met goeie rede kan aanvaar dat Petrus die apostel die brief 1 Petrus tussen 60 en 65 n.C. in Rome geskryf het.


Lees gerus in die volgende boeke meer oor die onderwerp:

  • ELLIOTT, J.H. 2000. 1 Peter – A New Translation with Introduction and Commentary. (The Anchor Bible, v. 37B.) New York: Doubleday.

MARSHALL, I.H.   1990.   1 Peter.   Downers Grove, Ill.: InterVarsity Press.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van die brief 1 Petrus, het in Klein-Asië gewoon, verspreid “in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1 Pet. 1:1), wat in hierdie volgorde genoem word omdat dit die roete is wat die draer van die omsendbrief sou volg.

In die briefaanhef word dit uiteengesit dat die eerste lesers, vir wie hierdie omsendbrief oorspronklik geskryf is, “verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1:1).  Hierdie vyf name verteenwoordig, in die tyd wat die brief geskryf is, in werklikheid net vier amptelike Romeinse provinsies aangesien “Bitinië-en-Pontus” toe deur ‘n enkele provinsiale administrasie hanteer is.  Die twee was egter vantevore onderskeie streke en daar is nog dikwels, soos hier, afsonderlik na hulle verwys.  Gevolglik kan daar veralgemeen word deur te sê dat die geadresseerdes in Klein-Asië gewoon het (min of meer die moderne Turkye), en wel noord en wes van die Taurus-bergreeks wat deur die Suide van Klein-Asië loop.  Klein-Asië het voorheen uit ‘n aantal onafhanklike koninkryke (van Anatolië) bestaan, maar het tussen 133 v.C. en 17 n.C. stelselmatig onder Romeinse beheer gekom.  Die vier bogenoemde provinsies was reeds teen 17 n.C. gekonstitueerd en het ongeveer 8,500,000 inwoners van uiteenlopende kulture gehad.  Die area hier tersprake beslaan ongeveer 330 000 vierkante kilometer.

Paulus het baie tyd in hierdie selfde streke gespandeer en die evangelie hier verkondig.  Gevolglik is daar oorvleueling tussen die geadresseerdes van 1 Petrus en sommige van die briewe van Paulus, byvoorbeeld aan die Galasiërs, Efesiërs en Kolossense (lg. twee beide in die provinsie “Asië”).  Die sewe gemeentes aan wie die boodskappe in Openbaring 2 en 3 gerig is, is ook almal in die provinsie Asië.

Daar blyk ‘n goeie rede te wees waarom die provinsies in hierdie betrokke volgorde genoem word en waarom Pontus en Bitinië afsonderlik en skynbaar agterstevoor genoem word.  (Die Romeinse provinsie wat as “Bitinië-en-Pontus” bekend gestaan het, is opgemaak deur Bitinië meer oos, nader aan Rome, en Pontus meer wes).  Die volgorde waarin die name voorkom, blyk die roete te verteenwoordig wat die omsendbrief deur Klein-Asie sou volg.  Die draer van die brief sou dus per boot vanaf Rome arriveer in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter