Die Apokriewe Boeke – Hermie van Zyl

Liesll vra:

 Verskaf asb redes, met voorbeelde, hoekom die apokriewe boeke nie opgeneem is in die kanon van die Bybel nie.

Antwoord

Prof Hemie vn Zyl antwoord:

Hierdie vraag word reeds volledig beantwoord op Bybelkennis.co.za. Sleutel asb die woorde “Die Apokriewe Boeke” in by die webblad se soekfunksie en lees dan die talle artikels wat deur prof Jan van der Watt hieroor geskryf is. Voorbeelde word ook gegee. Die artikel deur prof Hermie van Zyl gaan ook spesifiek in op die redes waarom die apokriewe nie opgeneem is in die kanon nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




“Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) – Hermie van Zyl

Clifford vra:

Wat is die betekenis van hierdie woorde van Jesus?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van die sogenaamde sewe kruiswoorde van Jesus. Die kruiswoorde verwys na die sewe keer toe Jesus gepraat het terwyl Hy aan die kruis van Golgota gehang het. ‘n Mens kan sê dat dit Jesus se sterfbedwoorde was. Daarom dra dit besondere gewig. Dit trek die gordyn effens weg en gee ons ‘n kykie in die siel van Jesus – hoe Hy Self in daardie oomblikke sy lyding en naderende dood ervaar het.

Die kruiswoorde is egter baie meer as ‘n selfonthulling van Jesus se sielestryd. Dit laat ons ook die betekenis van sy dood vir ons beter verstaan. Wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit immers nie as gevolg van sy eie oortredinge nie, maar juis ter wille van ons (2 Kor 5:14-15, 21).

Die sewe kruiswoorde kom nie almal in elkeen van die vier Evangelies voor nie. Hulle lê verspreid: drie kom uit die Lukasevangelie, drie uit die Johannesevangelie en een uit Matteus en Markus gesamentlik. Dit is dus nie moontlik om te sê in presies watter historiese volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Want ondanks die onderlinge ooreenstemming tussen die Evangelies, gee elkeen sy eie weergawe van die kruisgebeure. Die volgorde van die kruiswoorde soos dit soms voorgehou word, is dus eerder ‘n samestelling deur die kerk wat baie ver in die geskiedenis teruggaan.

Na alles is dit egter nie belangrik om te weet presies in watter volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Wat wel belangrik is, is of ons die boodskap daarvan in die geloof toe-eien.

Die kruiswoord “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46), is volgens kerklike tradisie die laaste van die sewe kruiswoorde. Volgens die Lukasevangelie was Jesus se eerste woorde aan die kruis ’n gebed: “Vader, vergeef hulle ….” (23:34). Dieselfde Evangelie berig dat sy laaste woorde ook ’n gebed was. Daar is vier momente van hierdie gebed wat uitstaan:

Eerstens, bloot die feit dat dit ‘n gebed was. Seer sekerlik is gebed ‘n gepaste manier om jou lewe mee af te sluit. Maar om dit te kan doen, moes jy saam met God gelewe het. En dit was by uitstek waar van Jesus. Hoeveel maal lees ons nie dat Hy die aangesig van sy Vader in gebed opgesoek het nie. En nie net in krisistye nie (Matt 26:36,39), maar dit was sy gewoonte (Matt 14:23; Mark 1:35; Luk 3:21; 9:18, 29; ens).

Tweedens is hierdie gebed ‘n aanhaling uit die Skrif – Psalm 31:6. Soos gebed natúúrlik by Jesus gekom het, het die Skrif ook. Hy het gelewe vanuit die Woord van God. Kleintyd al het Hy die Skrifgeleerdes verbaas met sy kennis (Luk 3:46-47). Verder, die ooreenkoms tussen Jesus en Stefanus se laaste woorde is opmerklik. Handelinge 7:59 sê dat Stefanus met dieselfde gebed op sy lippe gesterf het, behalwe net dat hy sy gees aan Jesus toevertrou het en nie aan die Vader nie. Maar wesenlik is daar geen verskil nie. Verder, Stefanus bid ook vir sy vyande terwyl hy sterf (“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie”, Hand 7:60), net soos Jesus dit aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle …”.

Wat geld van gebed, geld ook hier: as jy wil sterf met die Skrif op jou lippe, moet jy leef met die Skrif in jou hart.

Derdens spreek hierdie gebed van vertroue. Van kleinsaf was dit die vrome Jood se aandgebed. In die aand vertrou jy jou gees aan God toe sodat Hy dit in die môre weer aan jou kan teruggee. Wanneer Jesus dit hier aan die kruis doen, is dit met die volle vertroue dat sy Vader weer sy lewe aan Hom sal teruggee. Wat ook op die derde môre na sy dood gebeur het toe sy Vader Hom opgewek het uit die dood om nooit weer te sterf nie. Dis treffend dat Jesus op die negende uur (d w s omtrent 15:00, Luk 23:44; Mark 15:33), op dieselfde tyd dat die basuingeskal in die tempel die volk oproep tot die aandgebed, ook sy aandgebed tot die Vader rig. In hierdie stadium, net voor sy dood, vind Hy ook weer vrede en rus by sy Vader, nadat Hy volgens Matteus en Markus in sterwensangs was en deur God verlate gevoel het (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”). In sy ervaring van Godverlatenheid bly Hy egter steeds aan God vashou (My God …). Dit is dus nie vreemd dat Hy sy Gees aan sy Vader toevertrou nie. Verder, Jesus se opregte Godsvertroue word bevestig in die volgende vers (Luk 23:47) wanneer die toesighoudende Romeinse offisier opmerk dat Jesus “werklik onskuldig” was. Daar staan letterlik dat Jesus “regverdig” was – sonder skuld voor God. Jesus is by uitstek die waarlik vrome of onskuldige mens omdat Hy Homself ten volle aan sy Vader se wil oorgegee het, selfs toe Hy deur sy Vader verlate gevoel het.

Laastens, in Christus is God ook my Vader. Aan Hom kan ek my ganse lewe toevertrou. Daarom kan ek aan die einde daarvan my gees in die dood aan God oorhandig, in die volle vertroue dat Hy, net soos met Jesus, dit in die opstanding aan my sal teruggee. Soos die pragtige aandgesang se laaste vers lui:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,

al wissel dan ook dag en nag;

ek ken die Rots op wie’k gebou het,

van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe

sal ek, van dood en sonde vry,

vir al u seën en goedheid, Here,

U nuut my dank- en loflied wy.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Israel visie – Hermie van Zyl

Kobus vra:http://www.bybelkennis.co.za/geloofsvrae-die-toekoms-van-die-jode/

Ek kry kry al hoe meer met verskillende vlakke van Israel Visie te doen. Ek sê sonder enige skaamte direk aan die groepe dat ek nie ‘n “Israel Visie” of “Israeliet” is nie. Hulle sê die Europeërs is afstammelinge van die stamme van Israel, en as ek vra vir bewyse kry ek dit nie of is dit vaag soos dat die Nederlanders die stam Zebulon is, met baie voorbeelde uit die Bybel. Op my stelling aan dié wat sê dat hulle Israel Visie is, sê sommige dat hulle nie Israel Visie is nie, maar sê hulle dat dit SLEGS ISRAEL is wat uitverkies is en nie ALLE VOLKE nie. Ek gee aan hulle al die gedeeltes uit die Bybel, maar dan sê hulle eenvoudig die HEIDENE is slegs die ongelowige Israeliete wat bekeer moet word. Dus sê hulle dat jy SLEGS uitverkies is as jy ‘n ware liggaamlike Israeliet of afstammeling is. Dit voel vir my asof al die teksverse in die Nuwe Testament wat ek vir hulle gee om te lees geen ingang vind by hulle nie. Ek het dus opgehou om met hulle daaroor te praat. Dit het tog ‘n positiewe resultaat op my gehad, dit het gemaak dat ek my Bybel meer lees.

Ek sal bly wees as daar ‘n baie groot uitgebreide stuk hieroor geskryf kan word.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller is blykbaar goed ingelig oor die sogenaamde Israelvisie-beweging, maar wil nogtans hê dat daar ’n uitgebreide stuk hieroor op die webblad van Bybelkennis.co.za geskryf sal word. Daar is egter reeds deur verskeie teoloë uitvoerig oor hierdie beweging geskryf, ook in Afrikaans. Twee daarvan verskyn op die webblad van Bybelkennis.co.za, geskrywe deur prof Adrio König. Hierdie stukke gaan spesifiek oor die toekoms van Israel. Dit kan gevind word onder die volgende opskrifte: “Alle paaie lei na Jesus: Die toekoms van Israel (1)”; en: “Geloofsvrae: Die toekoms van die Jode”. Die vraagsteller kan dit met behulp van Bybelkennis.co.za se soekfunksie opspoor.

Voorts kan die vraagsteller ook ondergenoemde stuk raadpleeg wat na my mening ’n goeie oorsig gee oor die teologie en interpretasies van die Israelvisie-beweging (klik net op onderstaande skakel of kopieer dit na jou soekenjin se soekfunksie en druk “enter”): https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=1&ved=2ahUKEwiBmteN4q3lAhXYilwKHTV9C_gQFjAAegQIAhAB&url=https%3A%2F%2Fwww.ankura.net%2F2006%2F05%2F02%2Fdie-israelvisie1%2F&usg=AOvVaw2rMqO94FdXDgK5S2sCxRyw

Ek vertrou dat ons vraagsteller hiermee gehelp sal word in sy verdere ondersoek na die Israelvisie-beweging.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Jesus besoek die doderyk – Hermie van Zyl

Lizette vra

In watter boek van die Nuwe Testament besoek Jesus die doderyk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die gedeelte wat ter sprake is, is 1 Petrus 3:19-20. Letterlik staan daar: “So het Hy (Christus) gegaan en ook vir die geeste in die tronk gepreek, wat destyds ongehoorsaam was, toe God in Noag se dae geduldig gewag het terwyl die ark gebou is, waarin min, naamlik agt persone, deur die water gered is.” Soms word 1 Petrus 4:6 ook by dié saak betrek. Daar staan: “Want hiervoor is die evangelie ook aan dooies verkondig sodat hulle soos gewone mense geoordeel kan word wat die liggaam betref, maar in die gees kan lewe, soos God lewe.”

Die vraag is hoe dié gedeeltes verstaan moet word. Wat 1 Pet 3 betref, is die verklaring wat vandag deur die meeste Bybelkenners aanvaar word, die volgende: Die “geeste in die tronk” is die gevalle, sondige engele waarvan ook in 2 Pet 2:4 en Judas v6 sprake is. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van destyds, soos 1 Henog, wat goed bekend en baie gewild was onder die Jode, word ook melding gemaak van hierdie geeste of gevalle engele wat deur God in gevangenskap gehou word tot en met die oordeel. En die plek van aanhouding is waarskynlik die doderyk. Daar was destyds die siening dat die doderyk ook ’n plek van aanhouding was (vgl Op 20:1-7; 2 Pet 2:4). Volgens 1 Henog moes Noag aan die bose engele God se oordeel gaan aankondig.

Die agtergrond van hierdie sondige engele lê in Gen 6:1-4, waar gepraat word van die “hemelwesens” wat met die dogters van die mense getrou het, en waaruit die “reuse” ontstaan het. Dit was in die tyd net voor Noag op die toneel verskyn het. Daarom dat 1 Pet 3:20 melding maak van die geeste wat destyds in Noag se tyd ongehoorsaam was toe hy die ark gebou het. God het volgens Joodse denke egter hierdie gevalle engele veroordeel en hulle gevange gehou tot die eindoordeel. Maar tog was daar die vrees by baie Jode en latere Jode-Christene dat hierdie engele of “geeste” steeds gevaar inhou vir gelowiges.

Petrus het waarskynlik by hierdie bekende tradisie aangesluit. Wat hy nou doen, is om te sê dat Christus se oorwinning oor die dood so kragtig en allesomvattend is dat dit selfs gevolge inhou vir hierdie bose engele in die gevangenis. Na sy dood het Christus gegaan en aan hierdie geeste aangekondig dat Hy die oorwinning behaal het oor alle magte, ook oor die dood en bose engele. En die troosboodskap vir die lesers van 1 Petrus is dat hierdie bose engele nou geen gevaar meer inhou vir die gelowiges nie. Hierdie “prediking” van Christus aan die “geeste in die gevangenis” het dus niks te make met die evangelieprediking om hulle tot bekering te bring nie, maar is bloot daarop gemik om Christus se oorwinning oor alle bose magte aan te kondig.

Vervolgens sluit Petrus aan by die vloedwater in die tyd van Noag en laat slaan dit simbolies op die doopwater (v20-21). Net soos wat die vloedwaters vir dié binne die ark redding gebring het, so bring die doopwater vir die huidige gelowiges ook redding, deurdat hulle nou ’n skoon gewete het voor God. Vers 22 sluit dan af met die gedagte dat Christus nou aan die regterhand van God is en dat alle engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is, dieselfde gedagte wat hy in v19 wou belig.

Wat 1 Pet 4:6 betref, moet dit nie met 1 Pet 3:18-19 in verband gebring word nie. Die “dooies” van 4:6 is gewoon die gelowiges wat eens geleef het maar nou dood is. Al wat Petrus hier sê, is dat aan hierdie gelowiges die evangelie verkondig is toe hulle nog op aarde geleef het. En hoewel hulle gesterf het, leef hulle nou by God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl