Geloofsvrae: Die toekoms van die Jode

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die toekoms van die Jode – Adrio König

Die toekoms van die Jode

Een van die heel bekendste tekens van die tye is die Jode. Baie Christene glo dat die Jode na Palestina moet terugkeer voor die Here weer kom, en daarom was die stigting van die staat Israel in 1948 vir hulle ‘n sterk getuienis dat die wederkoms van Christus naby moet wees. Dit sou dan natuurlik beteken dat ons hiermee inderdaad een teken het wat tot op daardie datum nog nie vervul is nie sodat die Here in elk geval nie voor 1948 kon gekom het nie.

Maar ‘n mens besef natuurlik dat dit ons voor ernstige probleme stel. As dit waar was, dan beteken dit dat die hele NT verkeerd was met die dringende boodskap aan die vroeë Christene dat die Here enige oomblik kon kom, trouens dat sou beteken dat die kerk dié boodskap van die NT nooit voor 1948 met reg sou kon verkondig het nie.

Oor die toekoms van die Jode lees ons nie baie in die NT nie. Die belangrikste deel is Romeine 11 (as deel van 9-11). Daar lees ons nie van dinge wat die apostel verwag vir die verre toekoms van die Jode nie, maar dinge waarby hyself in bewoënheid betrokke was. God het hom as apostel vir die heidene aangestel, maar hy gebruik hierdie geleentheid om sy eie mense (die Jode) jaloers te maak en te red (:14). Deur die Jode se verharding het die evangelie na die heidene gegaan, maar as hulle nie in hul ongeloof volhard nie, sal hulle weer aangeneem word (:23). Trouens dit sal veel makliker wees om hulle terug te ent op hulle eie olyfstomp as vir die heidene wat van ‘n wilde olyfboom af kom (:24). Die verharding het net oor ‘n deel van Israel gekom. Dit sal voortduur `totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het’ en dan sal Christus kom. Die Jode se verharding tot by die wederkoms van Christus beteken nie dat niemand van die Jode gered sal word nie. Dié wat deur die gelowige heidene jaloers gemaak word, sal saam met die gelowige heidene inkom, `en op hierdie manier sal die hele Israel gered word’ (:25,26).

Wie is die “hele israel”?

Dit help as ‘n mens weet wie `die hele Israel’ is. Onthou dat die kerk die voortsetting van Israel is . In die NT bestaan `Israel’ dus uit gelowige heidene én gelowige Jode. Volgens Paulus word `die hele Israel’ gered as beide heidene en Jode ingekom het, en dit geskied terwyl die verharding `oor ‘n deel van Israel’ (die Jode) voortduur. Dit is ‘n proses wat onafgebroke voortgaan tot die Here weer kom. Die voortgaande verharding van die Jode, en die feit dat heidene én Jode gelyktydig gered word, is dus die teken dat die Here enige oomblik kan kom.

Daar is ‘n paar ander uitsprake in die NT (Mat 10:23; 19:28; 23:39; Luk 21:24; Hand 3:19-20) wat bevestig dat die deur nog oopstaan vir die Jode, dat hulle Jesus as Messias moet aanvaar om gered te word. Daar is nie sprake van ‘n buitengewone toekoms waarin hulle as volk ‘n rol sal speel nie, eenvoudig omdat die kerk (dus alle gelowige Jode en heidene saam) nou Israel, die volk van God is. Dit beteken ook dat die beloftes aan Israel in die OT vir Israel in sy nuwe gestalte geld – die kerk. Netsoos Rom 11:25 sê ook Lukas niks verder oor wat sal gebeur nadat `die tyd van die nasies’ verby is nie omdat Christus dan kom. Daar is geen aanduiding van ‘n nuwe tyd vir die ou Jerusalem nie, eenvoudig omdat die NT net weet van die tyd van die nuwe Jerusalem (Open 21-22).

En die vyeboom?

Heelwat Christene gebruik Jesus se verwysing na die vyeboom as getuienis dat daar in die NT ‘n afsonderlike toekoms vir die Jode voorsien word (Mat 24:32ev). Die argument is dat die vyeboom ‘n verwysing na die Jode is en dat die nuwe blare hulle terugkeer na Jerusalem is. Dit kan egter nie werk nie omdat Luk 21:29 ook verwys na `al die ander bome’ sodat dit dan sou moes beteken dat al die ander volke na hul oorspronklike woonplek sou moes teruggaan! In hierdie uitspraak van Jesus het die vyeboom dus nie op die Jode betrekking nie. Dit is ‘n beeld wat sê dat as die tekens plaasvind waarna Jesus verwys het (Mat 24:15-31), dit ‘n aanduiding is dat sy koms naby is.

Daar is dus nie enige gronde in die NT om aan te neem dat daar ‘n spesiale, aparte toekoms vir die Jode is nie. Die Jode se terugkeer na Palestina was nie die vervulling van ‘n profesie nie, wat ook daaruit blyk dat daar nie by hulle die bekering was wat die Here in die OT van sy volk verwag het voordat Hy hulle lot verander nie.

Die deur staan oop …

Het die Jode dan ‘n toekoms? Inderdaad, want God se roeping staan vas (Rom 11:29). Die deur staan oop vir hulle. As hulle Jesus as Messias aanvaar, word hulle deel van Israel in sy nuwe gestalte van gelowige Jode en heidene saam. Dit is waarvoor Paulus gewerk het, en dit is waarvoor die Christelike kerk moet werk.

‘n Mens sou aan nog meer van die tekens van die tye aandag kon gee soos die groot verdrukking, maar hierdie tekens is almal staande oproepe en waarskuwings dat die einde op hande is, dat die Here enige oomblik weer kan kom. Juis daarom is daar ook nie net een groot verdrukking wat nog moet plaasvind nie. Dit sou onmiddellik weer beteken dat die Here nog nie regtig vandag of môre kan kom nie omdat die verdrukking eers moet plaasvind. Soos die Antichris telkens in ‘n verskeidenheid van persone en instansies verskyn het, was daar alreeds talle voorbeelde van die groot verdrukking, sodat Christus al voor die einde van die eerste eeu kon gekom het omdat alle tekens toe alreeds in vervulling gegaan het, en sedertdien net oor en oor vervul is en nog altyd vervul word, as ‘n staande oproep aan alle mense om gereed te wees. `Om dieselfde rede moet julle altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie’ (Mat 24:44).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...