Staan op, staan op vir Jesus

image_pdfimage_print

Bible without the Holy Spirit is a sundial by moonlight. —D.L Moody

 Staan op, staan op vir Jesus

In die lente van 1858 vind daar ‘n herlewing in die Amerikaanse stad van Philadelphia plaas. Die beweging het uit gebedsbyeenkomste, gekoördineer deur die Young Men’s Christian Association (YMCA), gevloei.  Eerwaarde Dudley A. Tyng, ‘n jong Episkopale leraar, word erken as die leier. Daar was geskille oor sy prediking teen slawerny, maar hy was bekend en geliefd vir sy ywer vir die werk van God. Van die leiers van ander denominasies wat om hom vergader het, was onder andere George Duffield, Jr, ‘n Presbiteriaanse leraar.

 

 Op Dinsdag 13 April 1858 was Tyng besig om by sy huis in die platteland te studeer. Hy gaan na die skuur om te sien of alles reg was – sy muil was besig om ‘n masjien  wat mielies gedors het, te trek. Toe hy die dier op sy boud klop, word Tyng se jas in die ratte van die masjien vasgevang.  Sy arm was ernstig beseer en moes later geamputeer word. Sepsis volg en binne ‘n week in Tyng dood. Voor sy dood vra sy vriende of daar ‘n boodskap is wat hy vir sy medewerkers aan die herlewingswerk wil gee.

Tyng se antwoord: “Sê vir hulle: Laat ons almal opstaan vir Jesus.”

 Mense het hierdie woorde van Tyng gereeld herhaal in die dae na sy dood. Toe George Duffield, Jr,  die volgende week in sy eie gemeente preek, gebruik hy Efesiërs 6:13 as teksvers: Staan dan vas, julle lende met die waarheid omgord (OAV). Hy sluit sy preek af met ‘n lied wat hy geskryf het: “Staan op, staan op vir Jesus.” Baie gou word dit ‘n gevestigde lied in baie denominasies.

 Net soos “Voorwaarts Christenstryders” was dit ‘n baie gewilde lied by soldate wat aan die Amerikaanse Vryheidsoorlog deelgeneem het – moontlik weens die militêre taal en beelde wat Duffield gebruik het. Die verband met wêreldse oorloë was glad nie Duffield se bedoeling nie – dit gaan oor geestelike oorloë.

 

As kind was dit ‘n lied wat ons uit volle bors gesing het. Hier is die lied:

 

1. Staan op, staan op vir Jesus,    O helde van die kruis!

   verhoog sy krygsbaniere    deur al die strydgedruis!

   deur stryd lei tot oorwinning    die Heiland keer op keer,

   tot hy oor elke vyand   vir ewig heers as Heer.

2. Staan op, staan op vir Jesus!    Die krygsgeroep weergalm;

   begeef u in die strydperk,    volg hom met vreugdepsalm!

   kom, stryders, wees dan moedig,    weerstaan met al u mag;

   die bose moet terugval,    want Jesus gee u krag!

3. Staan op, staan op vir Jesus!    Steun enkel op sy krag;

   u eie arm is hulp’loos,    hoe dikwels u ook trag.

   neem aan Gods wapenrusting,    en waak en bid en stry;

   roep plig u in gevare,    weet, Jesus staan u by!

4. Staan op, staan op vir Jesus,    al is die stryd hoe bang!

   na al die stryd op aarde    volg eens die segesang.

   aan stryders, trou en moedig,    gee Jesus dan ‘n kroon;

   hul heers daar ewig met hom,    rondom sy glorietroon.

image_pdfimage_print