Die Apokriewe Boeke (10)

image_pdfimage_print

Die Apokriewe Boeke (10) – Jan van der Watt

Die Openbaring van Petrus (1)

Hoe lyk dit in die hemel? Omdat daar in die Nuwe Testament nie veel detail oor die hemel gegee word nie, het Christene later verhale uitgedink waarin baie meer detail oor die hemel gegee word. Sulke boeke word “apokalipse” genoem. Een van die bekende Nuwe-Testamentiese apokalipse is Die Openbaring van Petrus (nie regtig deur Petrus geskryf nie!). Die uittreksel hieronder wys hoe die hemel in hierdie boek beskryf word.

4Die Here Jesus het verder gesê: “Kom ons gaan na die berg toe om te gaan bid.” 5Ons twaalf dissipels het saam met Hom gegaan en Hom gesmeek om vir ons een van sy volgelinge te wys wie se lewe reg was, maar wat al dood was. Ons wou graag sien hoe hulle lyk en dan moed skep sodat ons die mense wat na ons luister, kon aanmoedig. 6Toe, terwyl ons nog besig was om te bid, het daar skielik twee mans voor die Here gestaan! Ons kon nie na hulle kyk nie, 7want hulle gesigte het geskitter soos ‘n sonstraal, hulle klere het geblink soos iets wat geen mens nog ooit gesien het nie! Ja, geen mens kan beskryf of begryp hoe wonderlik hulle aangetrek was en hoe pragtig hulle gesigte was nie! 8Toe ons hulle sien, was ons verbaas, want hulle lywe was witter as die witste sneeu en rooier as die rooiste roos. 9Die rooi en die wit kleure het gemeng en was so mooi dat ek eenvoudig net nie kan verduidelik hoe mooi dit was nie! 10Hulle hare was gekrul en baie mooi. Dit het pragtig om hulle gesigte en oor hulle skouers gehang, soos ‘n krans wat gevleg is van nardusbloeisels en blomme van allerhande kleure of soos ‘n reënboog in die lug. Ja, hulle het pragtig gelyk! 11Toe ons sien hoe mooi hulle lyk, was ons verbaas, want hulle het sommer skielik net verskyn.

12Ek het na die Here toe gegaan en vir Hom gevra: “Wie is hierdie twee mense?” 13Hy het vir my gesê: “Dit is twee van my volgelinge wie se lewe reg was toe hulle op aarde was. Julle wou mos gesien het hoe hulle lyk.”

Die Openbaring van Petrus (2)

Hoe lyk dit in die hel? Omdat daar in die Nuwe Testament nie veel detail oor die hel gegee word nie, het Christene later verhale uitgedink waarin baie meer detail oor die hel gegee word. Sulke boeke word “apokalipse” genoem. Een van die bekende Nuwe-Testamentiese apokalipse is Die Openbaring van Petrus (nie regtig deur Petrus geskryf nie!). Die uittreksel hieronder wys hoe die hel in hierdie boek beskryf word.

21Maar reg oorkant daardie plek het ek nog ‘n plek gesien, ‘n donker, droewige plek. Dit is die plek waar mense gestraf word. Die mense wat daar gestraf word en die engele wat hulle gestraf het, het almal donker klere aangehad, net so donker soos die lug daar was.

22Party van die mense wat daar was, het aan hulle tonge gehang. Dit is die mense wat afskuwelike dinge gesê het oor mense wie se lewe reg was. Onder hulle is vuur gemaak wat hulle gebrand en gepynig het.

23Daar was ook ‘n groot meer vol brandende slyk. Binne-in die brandende slyk was mense wie se lewe op aarde net vir ‘n tyd reg was. Engele wie se werk dit was om hulle te straf, was oor hulle aangestel. 24Daar was ook ander mense, vrouens wat aan hulle hare opgehang was bokant die kokende slyk. Dit is die vrouens wat hulleself mooi gemaak het om met mans te gaan seks hê. Die mans wat met hulle seks gehad het en hulleself onrein gemaak het, was ook daar. Hulle was aan hulle voete opgehang en hulle koppe was binne-in die slyk. Hulle het geskreeu: “Ons het nooit gedink ons sal in hierdie plek kom nie!”

Outeur: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...