Die Siel

image_pdfimage_print

 

Integrity deserves no praise if no one has either the power or the will to corrupt it – Cicero

 

Die Siel

John Ortberg het ‘n belangrike artikel oor die siel geskryf. Hy sê dat almal van ons ‘n uiterlike en innerlike lewe het. Die uiterlike lewe is die openbare, sigbare lewe. Dit wat ek bereik het, my werk en my reputasie lê daar. Soms verander ons uiterlike lewe – ons word bevorder, mense vra ons mening, ens. Ons uiterlike lewe word groter, besiger en meer ingewikkeld as vantevore.

 

Dikwels gaan dit gepaard sonder enige groei in ons innerlike lewe – daar waar my geheime gedagtes en hoop en wense lê. Omdat dit onsigbaar is, is dit baie maklik om te verwaarloos. Abraham Lincoln was ‘n briljante regsgeleerde, maar was maar ongeorganisserd. Hy het ‘n dik lêer gehad waarop geskryf was: “As jy dit nêrens anders kan vind nie, soek hier.” My innerlike lewe kan soms net so chaoties soos Lincoln se lêer lyk.

 

Ortberg sê dat hy geglo het dat ‘n verandering in sy uiterlike lewe onmiddellik ook meer vervulling sou bring. Dit gebeur nie – inteendeel, dit word meer chaoties. Hy besluit om Dallas Willard te besoek, want hy het hom beskou as iemand wat sy innerlike lewe bemeester het. Hy vra vir Dallas Willard: “Hoekom is ek nie gelukkiger nie, want ek het ‘n droom werk? Ek werk in ‘n kerk waar my taak onder andere die verlossing van siele behels.” Maar wat is ‘n siel. Min mense kan sê presies wat dit is – of is dit maar net ‘n woord wat Christene rondgooi.

 

Willard antwoord: “Hoekom is daar soveel waarde en misterie in jou bestaan? Die werklike rede is as gevolg van hierdie klein, breekbare, kwesbare ding wat ons siel noem. God het die mens uit stof gemaak en sy lewensasem in die mens geblaas. So word die mens ‘n lewende siel. Jy is ‘n siel gemaak deur God, gemaak vir God en gemaak om God nodig te hê. Jy is nie gemaak om selfonderhoudend te wees nie.”

 

In een van sy boeke sê Willard dat op enige gegewe oomblik jou lewe deur jou siel beheer word. Nie eksterne omstandighede nie; nie jou gedagtes nie; nie jou gevoelens nie, maar jou siel. Jou siel is daardie aspek van jou wese wat die verskillende dimensies van jouself korreleer, integreer en lewend maak. Dit is die sentrum van die lewe van alle mense.

 

Almal het twee lewens – ‘n uiterlike lewe wat sigbaar is en ‘n innerlike lewe wat chaoties en donker of pragtig skoon kan wees. Uiteindelik vervaag die uiterlike lewe en ons word met die innerlike lewe gelaat. Dit is wat ons saam met ons sal neem.

 

image_pdfimage_print