Nuwe Bladbaas vir Bybelkennis.co.za

Dit was vir die span van Bybelkennis.co.za ‘n groot hartseer dat dr Coen Slabber, die bladbaas (administrateur) van die begin van die webblad se bestaan af, ons ontval het.

Dr Johan Voges, emeritus predikant van die Ned Geref Gemeente Lynnwood, het egter goedgunstiglik ingewillig om die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za oor te neem. Die Bybelkennisspan sien daarna uit om met hom saam te werk. Wie meer oor hom wil weet kan gerus na sy lewensloop kyk wat elders op die webblad verskyn. Biografie




Huldeblyk – Dr Coen Slabber

Dit is met groot hartseer dat die Bybelkennis.co.za-familie “afskeid” neem van dr Coen Slabber (“oom Coen” soos hy by baie van ons bekend was), een van die stigters van Bybelkennis.co.za en die bladbaas van die begin van die bestaan van die webblad af. Hy is op 18 September 2023 na ’n langer periode van ongesteldheid oorlede. Ons gaan hom besonder baie mis.

Dr Slabber, ’n ginekoloog van beroep, later professor asook die dekaan van die Fakulteit Geneeskunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (soos dit destyds bekend gestaan het), en ook uiteindelik Direkteur-Generaal van die nasionale Departement van Gesondheid van Suid-Afrika, het absoluut onbaatsugtige diens aan die webblad gelewer. Ten spyte van die hoë profiel wat hy tydens sy lewe geniet het, het hy agter die skerms elke dag die administratiewe sake van Bybelkennis.co.za behartig, het ’n baie leersame blog, veral oor leierskap geskryf, en het gesorg dat al die lesersvrae by die regte medewerkers uitkom om te beantwoord. Dit het hy gedoen sonder enige vergoeding, maar eenvoudig omdat hy diens wou lewer aan mede-gelowiges.

Wat ’n voorbeeld was en is dit steeds vir elkeen van ons. Hy het geen erkenning gevra nie, het nie verwag dat iemand vir hom moet dankie sê of prys nie. Hy het eenvoudig elke dag net sy deel vir die Here gedoen. Ons gaan hom baie mis en is besonder dankbaar vir alles wat hy gedoen het en vir ons beteken het … en ja, veral vir die voorbeeld wat hy gestel het.

Ons eer sy nagedagtenis, en ons harte gaan uit na sy familie in hierdie tyd van rou en afskeid neem.

 

Die Bybelkennis-span




Dr Johann Voges

Johann Voges het in 2019 afgetree na 40 jaar in die bediening en woon tans in Knysna. Hy was voltyds leraar in Standerton moedergemeente en Lynnwood gemeente in Pretoria. Na sy aftrede was hy deeltydse leraar in Sabie, Graskop en Chrissiesmeer gemeentes. Hy was ook vir 18 jaar betrokke in sinodale werksaamhede in die Noordelike en Algemene sinode van die Ned Geref Kerk.

Tans is hy ingeskakel by Knysna gemeente betrokke by 3 Bybelstudiegroepe en preek elke maand by die Knysna VGK gemeente en Knysna Presbyterian Church.

Hy is ʼn pa van vyf eie kinders en drie aangetroudes en ʼn oupa van vyf klein­kinders en vir 47 jaar ge­troud met Martie, die ma en ouma van hulle almal. Sy is ongelukkig in April 2021 na ʼn 4 jaar sinkplaatpad aan kanker oorlede.

Na sy aftrede het hy meer voltyds begin skrywe en publiseer ‘Daarom kan ek sing’ (CUM Boeke 2016) en ‘Miskien is daar hoop’ (CLF 2020) en ‘Anderkant twyfel’ (CLF 2022) en ‘Jesus se preekstories’ (Groep 7 Drukkers 2023). Hy was ook mede­skrywer in ‘Praat met my’ (Dibukeng 1991), ‘ʼn Bietjie reën’ (BybelMedia 2019), ‘Mansgenoeg’ (Carpe Diem Media 2020) en ‘ʼn Hand vol hoop’ (Bybel­Media 2021).




Prof Hermie van Zyl

Hermie van ZylWeb

Lewensloop: Hermie van Zyl

Hermias Cornelius van Zyl (geb 6 Junie 1947) matrikuleer in 1965 aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria. Hy studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria en behaal die grade BA, BD en DD.

Hy dien vir vier jaar (1975-78) as predikant van die NG Kerk Farrarmere, Benoni. Daarna is hy vir ses jaar (1979-84) dosent in Nuwe Testament aan Unisa, Pretoria. In 1985 aanvaar hy ‘n pos as senior lektor in Nuwe Testament by die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. In 1987 word hy professor, en in 1988 hoof van die dept Nuwe Testament. Van 2003-2008 dien hy as dekaan van die Fakulteit. Hierna word hy vir vyf jaar op kontrakbasis aangestel, as hoof van die dept Nuwe Testament. In hierdie tyd is hy ook hoofredakteur van Acta Theologica, geakkrediteerde tydskrif van die Fakulteit. Hy emeriteer aan die einde van 2013, maar gaan steeds voort as navorsingsgenoot van die dept Nuwe Testament.

Van 1989-1995 was hy redakteur van Neotestamentica, vaktydskrif van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van SA, en van 1995-2000 voorsitter van die redaksieraad van Neotestamentica. Hy was betrokke by verskeie publikasies van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), naamlik die Verwysingsbybel: 1983-Vertaling (voltooi 1998); Die Afrikaanse Bybel vir Dowes (ook bekend as Die Bybel vir Almal) (voltooi 2007); en Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling (verskyn 2014). Hy is tans ook brontaal-kontroleur vir English Bible for the Deaf, nog ‘n projek van die BSA. Hy was ook medewerker aan die volgende publikasies van Christelike Uitgewersmaatskappy: Die Bybellennium: ‘n Eenvolume-kommentaar (bekroon met die Andrew Murrayprys in 2000); die hersiening van die Nuwe Lewende Vertaling (2011); die Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans (2012); en Die Bybel: Parallelle Nuwe Testament (2014). In 1996 bring hy ‘n navorsingstyd van drie maande deur aan De Katholieke Universiteit Leuven, België. Hy is lid van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika, sowel as van die internasionale vakvereniging, The Society of Biblical Literature.

Hy is tans Voorsitter van die Streekskomitee (Bloemfontein) van die BSA, en dien ook op die Raad van Direkteure van die BSA. Hy was programleier van Die Bybel in Perspektief, ‘n program oor die verstaan van die Bybel, by die streekradiostasie van Bloemfontein, Radio Rosestad, en skryf gereeld in die rubriek Woord en Perspektief van Volksblad.

Hy is getroud met Amanda, en hulle is die ouers van drie kinders (Debbie, Wikus en Nico) en die grootouers van drie kleinkinders, Bianca, Arend en Rossouw.